Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 5/15 bl. 21-24
  • Bly standvastig, en seëvier in die wedloop om die lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly standvastig, en seëvier in die wedloop om die lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah wil hê dat ons standvastig moet wees
  • Pasop vir dinge wat jou van stryk kan bring
  • Christelike bedrywighede help ons om standvastig te bly
  • ’n Stabiliserende liefdevolle broederskap
  • God se beloftes—’n stabiliserende invloed
  • Hou aan om Jehovah met ’n standvastige hart te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • “Wees standvastig, onbeweeglik”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Wees standvastig, onbeweeglik!
    Sing vir Jehovah
  • Wees standvastig, onbeweeglik!
    Sing lofliedere voor Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 5/15 bl. 21-24

Bly standvastig, en seëvier in die wedloop om die lewe

AS JY deur ’n stormagtige see moes vaar, watter vaartuig sou jy verkies? ’n Klein bootjie of ’n stewige, goed geboude skip? Jy sal ongetwyfeld die skip verkies, aangesien dit die kragtige aanslae van die golwe beter sal kan trotseer.

Terwyl ons deur hierdie stormagtige en gevaarlike stelsel van dinge beweeg, kom ons voor uitdagings te staan wat ons van stryk kan bring. Byvoorbeeld, jongmense voel dalk onseker in ’n wêreld vol verwarrende idees en tendense. Persone wat onlangs op die Christelike weg begin wandel het, voel miskien nog effens onvas op hulle voete. Selfs vir sommige wat God al jare lank standvastig en getrou dien, kan die feit dat hulle verwagtinge nog nie heeltemal verwesenlik is nie, ’n toets wees.

Sulke gevoelens is niks nuuts nie. Getroue knegte van Jehovah, soos Moses, Job en Dawid, het soms verward gevoel (Numeri 11:14, 15; Job 3:1-4; Psalm 55:4). En tog is hulle lewenswandel gekenmerk deur onwrikbare toegewydheid aan Jehovah. Hulle goeie voorbeeld spoor ons aan om standvastig te bly, maar Satan die Duiwel wil ons laat struikel in die wedloop om die ewige lewe (Lukas 22:31). Hoe kan ons dus standvastig, “vas in die geloof”, bly? (1 Petrus 5:9). En hoe kan ons ons medegelowiges versterk?

Jehovah wil hê dat ons standvastig moet wees

As ons getrou aan Jehovah is, sal hy altyd daar wees om ons te help om standvastig te bly. Die psalmis Dawid het voor talle moeilike situasies te staan gekom, maar hy het op God gehoop en kon derhalwe sing: “[Jehovah] het my ook uit ’n bruisende kuil opgetrek, uit die modder van die afsaksel. Toe het hy my voete op ’n groot rots gestel; hy het my voetstappe stewig gevestig.”—Psalm 40:2.

Jehovah versterk ons om “die goeie stryd van die geloof” te stry sodat ons ‘’n stewige houvas op die ewige lewe kan kry’ (1 Timoteus 6:12). Hy voorsien ook wat ons nodig het om standvastig te bly en in ons geestelike oorlogvoering te seëvier. Die apostel Paulus het mede-Christene aangespoor om “aan [te hou] om krag te verkry in die Here en in die mag van sy sterkte” en om ‘die volle wapenrusting van God aan te trek, sodat hulle kon vasstaan teen die sette van die Duiwel’ (Efesiërs 6:10-17). Maar wat kan ons van stryk bring? En hoe kan ons sulke gevaarlike invloede afweer?

Pasop vir dinge wat jou van stryk kan bring

Dit is verstandig om hierdie belangrike feit te onthou: Die besluite wat ons neem, het uiteindelik ’n positiewe of negatiewe uitwerking op ons standvastigheid as Christene. Jongmense kom te staan voor besluite oor sake soos ’n loopbaan, verdere opleiding en die huwelik. Volwassenes moet dalk besluit of hulle na ’n ander plek gaan trek of nog ’n werk moet kry. Ons neem elke dag besluite oor hoe ons ons tyd gaan gebruik en oor baie ander sake. Wat sal ons help om verstandige besluite te neem wat tot ons standvastigheid as God se knegte sal bydra? Iemand wat al lank ’n Christen is, het gesê: “Ek vra Jehovah se hulp wanneer ek besluite neem. Ek glo dat dit belangrik is om die raad te aanvaar en toe te pas wat ons in die Bybel, by Christelike vergaderinge, by die ouer manne en in Bybelpublikasies kry.”

Wanneer ons besluite maak, kan ons ons gerus afvra: ‘Sal ek vyf of tien jaar van nou af gelukkig wees met die besluite wat ek vandag maak, of sal ek spyt wees daaroor? Probeer ek seker maak dat my besluite my nie geestelik sal laat wankel nie, maar tot my geestelike vordering sal bydra?’—Filippense 3:16.

Omdat party gedoopte individue voor versoekings geswig het of byna God se wette verbreek het, het hulle lewe geestelik onbestendig geword. ’n Paar wat uit die gemeente gesit is omdat hulle onberouvol ’n sondige weg gevolg het, het hard gewerk om herstel te word, maar is dan weer uitgesit—soms kort daarna—weens ’n soortgelyke oortreding. Kan dit wees dat hulle nie vir God se hulp gebid het om te ‘verafsku wat goddeloos is en vas te hou aan wat goed is’ nie? (Romeine 12:9; Psalm 97:10). Ons almal moet ‘aanhou om reguit paaie vir ons voete te maak’ (Hebreërs 12:13). Kom ons ondersoek dus ’n paar punte wat ons kan help om geestelik standvastig te bly.

Christelike bedrywighede help ons om standvastig te bly

Een manier waarop ons ’n bestendige pas in ons wedloop om die lewe kan volhou, is deur ’n goeie aandeel aan die Koninkrykspredikingswerk te hê. Ja, ons Christelike bediening is ’n waardevolle hulpmiddel wat ons harte en verstande gerig hou op die uitvoering van God se wil en op die ewige lewe as beloning. In hierdie verband het Paulus die Korintiërs aangespoor: “My geliefde broers, word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd baie het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid in verband met die Here nie tevergeefs is nie” (1 Korintiërs 15:58). “Standvastig” beteken ‘stewig gevestig op ’n plek’. “Onbeweeglik” kan beteken dat ‘iemand hom nie laat losmaak van waar hy geanker is nie’. As ons dus besig bly in ons bediening, kan dit ’n stabiliserende uitwerking op ons Christelike weg hê. Wanneer ons ander mense help om Jehovah te leer ken, maak dit ons lewe betekenisvol en gelukkig.—Handelinge 20:35.

Pauline, ’n Christen wat al meer as 30 jaar in die sendingdiens en ander voltydse predikingsbedrywighede deurgebring het, sê: “Die bediening is ’n beskerming, want wanneer ek vir ander getuig, verseker dit my dat ek wel die waarheid het.” Gereelde deelname aan ander Christelike bedrywighede, soos om vergaderinge vir aanbidding by te woon en ywerig persoonlike Bybelstudie te doen, gee ’n mens ook hierdie oortuiging.

’n Stabiliserende liefdevolle broederskap

Om deel van die wêreldwye organisasie van ware aanbidders te wees, kan ’n kragtige stabiliserende invloed op ons hê. Wat ’n seën is dit tog om met so ’n liefdevolle, wêreldwye broederskap om te gaan! (1 Petrus 2:17). En ons kan ’n stabiliserende invloed op ons medegelowiges hê.

Dink aan die opregte man Job se pogings om ander te help. Selfs die valse vertrooster Elifas moes noodgedwonge erken: “Jou woorde het enigiemand wat struikel, opgerig; en jy het knakkende knieë sterk gemaak” (Job 4:4). Hoe vaar ons in hierdie opsig? Elkeen van ons het die verantwoordelikheid om ons geestelike broers en susters te help om in God se diens te volhard. Ons kan ooreenkomstig die gees van hierdie woorde met hulle handel: “Versterk die swak hande en maak die wankelende knieë sterk” (Jesaja 35:3). Stel jou dit gerus ten doel om by elke vergadering een of twee mede-Christene te versterk en aan te moedig (Hebreërs 10:24, 25). Bemoedigende woorde van lof en waardering vir hulle volgehoue pogings om Jehovah te behaag, kan hulle werklik help om standvastig te bly sodat hulle in die wedloop om die lewe kan seëvier.

Dit is werklik goed as Christen- ouer manne nuwelinge aanmoedig. Dit kan gedoen word deur nuttige wenke en gegronde skriftuurlike raad te gee en deur saam met hulle in die veldbediening te werk. Die apostel Paulus het altyd geleenthede aangegryp om ander te versterk. Hy het verlang om die Christene in Rome te sien sodat hy hulle geestelik kon bemoedig (Romeine 1:11). Hy het sy geliefde broers en susters in Filippi as sy “vreugde en kroon” beskou en hulle aangespoor om “vas [te staan] in die Here” (Filippense 4:1). Toe Paulus hoor van die ontberinge van sy broers in Tessalonika, het hy Timoteus gestuur om ‘hulle standvastig te maak en hulle te vertroos, sodat verdrukkinge niemand sou laat wankel nie’.—1 Tessalonisense 3:1-3.

Die apostels Paulus en Petrus het die getroue pogings van hulle medeaanbidders erken en waardeer (Kolossense 2:5; 1 Tessalonisense 3:7, 8; 2 Petrus 1:12). Laat ons eweneens nie op die swakhede van ons broers konsentreer nie, maar eerder op hulle goeie eienskappe sowel as hulle suksesvolle stryd om standvastig te bly en Jehovah te eer.

As ons negatief of krities is, kan ons dit onbewustelik moeiliker maak vir sommige om standvastig in die geloof te bly. Hoe gepas is dit tog om te onthou dat ons broers “gestroop en rondgegooi” is in hierdie stelsel van dinge! (Matteus 9:36). Hulle verwag tereg om vertroosting en verkwikking in die Christengemeente te vind. Mag ons almal derhalwe ons uiterste bes doen om medegelowiges op te bou en hulle te help om standvastig te bly.

Ander behandel ons dalk soms op ’n manier wat ons kan laat wankel in ons standvastigheid. Sal ons toelaat dat ’n ongevoelige aanmerking of ’n onvriendelike daad ons laat verslap in ons diens aan Jehovah? Mag ons nooit toelaat dat enigiemand ons laat afwyk van ons standvastige weg nie!—2 Petrus 3:17.

God se beloftes—’n stabiliserende invloed

Jehovah se belofte van ’n wonderlike toekoms onder Koninkryksheerskappy gee ons hoop wat ons help om standvastig te bly (Hebreërs 6:19). En die oortuiging dat God altyd sy beloftes vervul, spoor ons aan om ‘wakker te bly en vas te staan in die geloof’ (1 Korintiërs 16:13; Hebreërs 3:6). Dit kan ’n toets van ons geloof wees as dit dalk lyk of van God se beloftes lank neem om vervul te word. Dit is dus noodsaaklik dat ons daarteen waak om deur valse leringe mislei te word en van ons hoop afgebring te word.—Kolossense 1:23; Hebreërs 13:9.

Die slegte voorbeeld van die Israeliete wat omgekom het omdat hulle nie geloof in Jehovah se beloftes gestel het nie, moet as ’n waarskuwing vir ons dien (Psalm 78:37). Laat ons nie soos hulle wees nie, maar eerder standvastig wees en God met ’n gevoel van dringendheid in hierdie laaste dae dien. “Ek lewe elke dag asof die groot dag van Jehovah môre gaan kom”, het ’n ervare ouer man gesê.—Joël 1:15.

Ja, die groot dag van Jehovah is op hande. Maar ons het geen rede om te vrees solank ons na aan God bly nie. As ons sy regverdige standaarde getrou volg en standvastig bly, kan ons die wedloop om die ewige lewe met welslae voltooi!—Spreuke 11:19; 1 Timoteus 6:12, 17-19.

[Prent op bladsy 23]

Doen jy alles in jou vermoë om mede-Christene te help om standvastig te bly?

[Foto-erkenning op bladsy 21]

The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel