Reukwerk—Het dit ’n plek in ware aanbidding?
“GODE hou van geure.” Dit was ’n algemene gesegde onder die eertydse Egiptenare. Vir hulle was reukwerk ’n baie belangrike deel van hulle aanbidding. Omdat hulle geglo het dat die gode naby is, het die Egiptenare daagliks by hulle tempels en op huisaltare en selfs terwyl hulle sake gedoen het, reukwerk gebrand. Ander nasies het soortgelyke gebruike gehad.
Wat is reukwerk? Die term kan verwys na die rook of na die stof wat gebrand word. Dit word van geurige hars of gom gemaak, soos wierook en balsem. Dit word fyngestamp en dikwels met stowwe soos speserye, boombas en blomme gemeng om sekere geure vir spesifieke gebruike te skep.
Reukwerk was in die ou tyd so gesog, en gevolglik waardevol, dat die bestanddele daarvan belangrik geword het in die handel. Karavane wat handelsroetes gevolg het, het dit van verre lande af gebring. Jy onthou dalk dat Jakob se jong seun Josef aan Ismaelitiese handelaars verkoop is wat “uit Gilead gekom het, en hulle kamele het labdanum en balsem en harsagtige bas gedra, op pad om dit na Egipte af te neem” (Genesis 37:25). Die vraag na reukwerk het so groot geword dat mense gereeld op die wierookhandelsroete, wat ongetwyfeld deur die reukwerkhandelaars begin is, tussen Asië en Europa gereis het.
Reukwerk word vandag nog steeds gebruik in die seremonies en ritusse van baie godsdienste. Verder brand al hoe meer mense reukwerk in hulle huis bloot om die aangename geur daarvan te geniet. Hoe moet Christene die brand van reukwerk beskou? Is dit vir God aanvaarbaar in aanbidding? Kom ons kyk wat die Bybel hieroor sê.
“Iets heiligs vir Jehovah”
Onder die eertydse Israeliete was ’n belangrike deel van die priesters se pligte by die tabernakel om reukwerk te brand. McClintock en Strong se Cyclopedia sê: “Die Hebreërs het blykbaar die brand van reukwerk in so ’n mate met ’n daad van aanbidding of ’n heilige offerande geassosieer dat ons nêrens lees dat reukwerk onder hulle vir enigiets anders gebruik is nie.”
Jehovah God het vier bestanddele voorgeskryf wat by die tabernakel gemeng en gebrand moes word: “Neem vir jou welriekende stowwe: staktedruppels en onika en welriekende galbanum en suiwer wierook. Daar moet ’n gelyke hoeveelheid van elk wees. En jy moet daarvan ’n reukwerk maak, ’n speserymengsel, die werk van ’n salfmaker, gesout, suiwer, iets heiligs. En jy moet ’n deel daarvan tot fyn poeier stamp en ’n deel daarvan voor die Getuienis in die tent van samekoms sit” (Eksodus 30:34-36). Geleerdes meen dat rabbynse Jode later ander bestanddele bygevoeg het om by die tempel te gebruik.
Die reukwerk wat by die tabernakel gebrand is, was heilig en is uitsluitlik in die aanbidding van God gebruik. Jehovah het beveel: “Die reukwerk wat jy met hierdie samestelling sal maak, mag julle nie vir julle maak nie. Vir jou moet dit iets heiligs vir Jehovah bly. Enigiemand wat iets soortgelyks maak om die reuk daarvan te geniet, moet uit sy volk uitgeroei word” (Eksodus 30:37, 38). Priesters moes twee keer per dag op ’n spesifieke altaar reukwerk brand (2 Kronieke 13:11). En op die Versoendag het die hoëpriester reukwerk in die Allerheiligste gebrand.—Levitikus 16:12, 13.
Nie alle reukoffers was vir God aanneemlik nie. Hy het persone wat nie priesters was nie, gestraf as hulle dit op vermetele wyse geoffer het asof hulle priesters was (Numeri 16:16-18, 35-40; 2 Kronieke 26:16-20). Die reukwerk wat die Joodse nasie geoffer het, was vir Jehovah aanstootlik wanneer hulle ook aan dade van valse aanbidding deelgeneem het en hulle hande vol bloedvergieting was. Hulle huigelary het Jehovah laat sê: “Reukwerk—dit is vir my iets verfoeiliks” (Jesaja 1:13, 15). Die Israeliete het die voorgeskrewe aanbidding van Jehovah in so ’n mate verwaarloos dat hulle die tempel gesluit en reukwerk op ander altare gebrand het (2 Kronieke 28:24, 25). Jare later is die heilige reukwerk selfs gebruik in die verdorwe aanbidding van valse gode. Sulke gebruike het Jehovah gewalg.—Esegiël 16:2, 17, 18.
Reukwerk en die vroeë Christene
Die Wetsverbond, insluitende die priesterlike verordening om heilige reukwerk te offer, het tot ’n einde gekom toe Christus die nuwe verbond in 33 G.J. ingestel het (Kolossense 2:14). Daar is geen bewyse dat vroeë Christene reukwerk in hulle aanbidding gebruik het nie. McClintock en Strong se Cyclopedia sê hieroor: “Daar bestaan geen twyfel dat reukwerk nie [deur vroeë Christene] gebruik is nie. Trouens, die gebruik daarvan was kenmerkend van die heidendom . . . As ’n aanbidder ’n knippie reukwerk op ’n heidense altaar gegooi het, het dit neergekom op ’n daad van aanbidding.”
Die vroeë Christene het ook geweier om reukwerk te brand ter erkenning van die “goddelikheid” van die Romeinse keiser, al kon dit hulle lewe kos (Lukas 4:8; 1 Korintiërs 10:14, 20). In die lig van die afgodiese gebruik van reukwerk in daardie dae is dit nie verbasend dat die vroeë Christene nie eens by die reukwerkhandel betrokke wou wees nie.
Reukwerk vandag
Hoe word reukwerk vandag gebruik? In baie kerke van die Christendom word reukwerk geoffer in seremonies en in die liturgie. Baie Asiatiese gesinne brand reukwerk by tempels of voor huisaltare om hulle gode te vereer en die dooies te beskerm. In godsdiensoefeninge word reukwerk onder meer gebruik om ’n plek met geur te vul of om te genees, te reinig of te beskerm.
Reukwerk het onlangs ’n oplewing geniet, selfs onder diegene wat nie ’n godsdiens bely nie. Party brand reukwerk tydens meditasie. Een handleiding stel voor dat reukwerk gebruik word om “subtiele vlakke” en “kragte” hoër as die fisiese wêreld te bereik. Om oplossings vir die lewe se probleme te vind, beveel dit ook rituele aan waartydens reukwerk gebrand en kontak met “bonatuurlike wesens” gemaak word. Is sulke gebruike vir Christene?
Jehovah veroordeel ronduit diegene wat valse godsdiensgebruike met ware aanbidding vermeng. Die apostel Paulus het Jesaja se profesie aangehaal, dit op Christene toegepas en hulle aangespoor om afgeskeie te bly van die onrein invloed van valse godsdiens. Hy het geskryf: “‘Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak’; ‘en ek sal julle inneem’” (2 Korintiërs 6:17; Jesaja 52:11). Ware Christene sorg dat hulle enigiets vermy wat met valse aanbidding of die okkulte verband hou.—Johannes 4:24.
Beteken die feit dat reukwerk in godsdiensseremonies en in spiritisme gebruik word dat dit altyd verkeerd is om reukwerk te brand? Nie noodwendig nie. Dalk wil iemand graag reukwerk in sy huis brand om bloot die aangename geur daarvan te geniet (Spreuke 27:9). ’n Christen moet nietemin sekere faktore in ag neem wanneer hy besluit of hy reukwerk sal brand. Sal ander in die omgewing waar jy woon, reukwerk met ’n valse godsdiensgebruik verbind? Word reukwerk dikwels in jou gemeenskap met spiritistiese rituele verbind? Of word dit gewoonlik vir niegodsdienstige doeleindes gebruik?
As iemand besluit om reukwerk te brand, moet sy besluit sy eie gewete sowel as die gevoelens van ander in ag neem (1 Korintiërs 10:29). Die woorde van die apostel Paulus aan die Romeine is hier van toepassing. Hy het geskryf: “Laat ons dan die dinge nastreef wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is. Hou op om die werk van God bloot ter wille van voedsel af te breek. Alles is weliswaar rein, maar dit is skadelik vir die mens wat eet as dit tot struikeling aanleiding kan gee. Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets te doen waaroor jou broer struikel nie.”—Romeine 14:19-21.
Gebede wat ‘soos reukwerk berei is’
Reukoffers onder die Israeliete was ’n gepaste simbool van gebede waarna God geluister het. Gevolglik het die psalmis Dawid voor Jehovah gesing: “Mag my gebed soos reukwerk voor u berei word.”—Psalm 141:2.
Getroue Israeliete het dit nie as ’n leë ritus beskou wanneer hulle reukwerk geoffer het nie. Hulle het die reukwerk baie noukeurig voorberei en op die manier gebrand wat Jehovah voorgeskryf het. Christene gebruik nie vandag letterlike reukwerk nie, maar doen gebede wat diepe waardering en respek vir ons hemelse Vader weerspieël. Soos God behae geskep het in die aangename geur van die reukwerk wat die tempelpriesters geoffer het, verseker God se Woord ons ook: “In die gebed van die regskapenes skep hy behae.”—Spreuke 15:8.
[Prente op bladsy 29]
Reukwerk wat by die tabernakel en by die tempel gebrand is, was heilig
[Prent op bladsy 30]
Is die brand van reukwerk tydens meditasie vir Christene?