Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 6/15 bl. 12-17
  • Volg Jehovah, ons onpartydige God, na

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volg Jehovah, ons onpartydige God, na
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Reaksies op Jehovah se roem
  • Sy handelinge met Abraham en Israel
  • Jesus, die onpartydige Leermeester
  • Positiewe resultate
  • Vooroordeel kan oorkom word
  • ‘Word verruim’
  • “Jehovah, ons god, sal ons dien”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Bybelboek nommer 6—Josua
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Josua en die Gibeoniete
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Laat Josua jou help om Jehovah moedig te dien!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 6/15 bl. 12-17

Volg Jehovah, ons onpartydige God, na

“Daar is geen partydigheid by God nie.”—ROMEINE 2:11.

1, 2. (a) Wat was Jehovah se voorneme met die Kanaäniete oor die algemeen? (b) Wat het Jehovah gedoen, en watter vrae laat dit ontstaan?

OP DIE vlaktes van Moab in 1473 v.G.J. het die Israeliete aandagtig na Moses geluister. Oorkant die Jordaanrivier het ’n uitdaging op hulle gewag. Moses het Jehovah se voorneme bekend gemaak dat Israel die sewe magtige Kanaänitiese nasies in die Beloofde Land moet verslaan. Hoe gerusstellend was Moses se woorde tog: “Jehovah jou God sal hulle beslis aan jou oorlewer, en jy moet hulle verslaan”! Israel moes geen verbond met hulle sluit nie, en hulle het geen genade verdien nie.—Deuteronomium 1:1; 7:1, 2.

2 Tog het Jehovah een familie gespaar in die eerste stad wat deur Israel aangeval is. Mense uit vier ander stede het ook God se beskerming geniet. Waarom? Wat leer die merkwaardige gebeure wat met die oorlewing van hierdie Kanaäniete verband hou, ons omtrent Jehovah? En hoe kan ons hom navolg?

Reaksies op Jehovah se roem

3, 4. Watter uitwerking het berigte oor die Israeliete se oorwinnings op individue in Kanaän gehad?

3 Gedurende Israel se 40 jaar in die wildernis, voordat hulle die Beloofde Land binnegegaan het, het Jehovah sy volk beskerm en vir hulle geveg. Suid van die Beloofde Land het Israel voor die Kanaänitiese koning van Arad te staan gekom. Met Jehovah se hulp het die Israeliete hom en sy volk by Horma verslaan (Numeri 21:1-3). Later het Israel om die land Edom getrek en noordwaarts gereis tot noordoos van die Dooie See. In hierdie gebied, wat voorheen deur Moab bewoon is, was daar nou Amoriete. Die Amoritiese koning Sihon het geweier om Israel deur sy gebied te laat trek. Hulle het oorlog gevoer by Jahas, blykbaar noord van die Arnonstroomvallei, waar Sihon gesneuwel het (Numeri 21:23, 24; Deuteronomium 2:30-33). Verder noord het Og as koning oor ander Amoriete in Basan regeer. Hoewel Og ’n reus was, kon hy nie teen Jehovah staande bly nie. Og is by Edreï om die lewe gebring (Numeri 21:33-35; Deuteronomium 3:1-3, 11). Berigte van hierdie oorwinnings tesame met verhale oor Israel se uittog uit Egipte het ’n kragtige uitwerking op individue in Kanaän gehad.a

4 Toe Israel die eerste keer in Kanaän gekom het nadat hulle die Jordaan oorgesteek het, het hulle by Gilgal kamp opgeslaan (Josua 4:9-19). Nie ver daarvandaan nie was die ommuurde stad Jerigo. Wat die Kanaänitiese vrou Ragab oor Jehovah se dade gehoor het, het haar beweeg om in geloof op te tree. Gevolglik is sy en diegene in haar huis gespaar toe Jehovah Jerigo vernietig het.—Josua 2:1-13; 6:17, 18; Jakobus 2:25.

5. Wat het daartoe aanleiding gegee dat die Gibeoniete skerpsinnig opgetree het?

5 Hierna het Israel van die laagland naby die rivier na die heuwels in die binneland getrek. In ooreenstemming met Jehovah se riglyne het Josua ’n hinderlaag vir die stad Ai gelê (Josua, hoofstuk 8). Berigte van die gevolglike nederlaag het baie van Kanaän se konings vir oorlog laat versamel (Josua 9:1, 2). Die inwoners van die nabygeleë Hewitiese stad Gibeon het anders gereageer. Josua 9:4 vertel ons dat “hulle heeltemal uit hulle eie met skerpsinnigheid opgetree” het. Soos Ragab het hulle gehoor hoe Jehovah sy volk verlos het tydens die uittog uit Egipte en met die oorwinning oor Sihon en Og (Josua 9:6-10). Die Gibeoniete het besef dat verset tevergeefs sou wees. Daarom het hulle namens Gibeon en drie nabygeleë stede—Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim—’n afvaardiging na Josua in Gilgal gestuur wat voorgegee het dat hulle van ’n verre land kom. Hulle plan het gewerk. Josua het ’n verbond met hulle gesluit wat hulle voortbestaan verseker het. Drie dae later het Josua en die Israeliete uitgevind dat hulle om die bos gelei is. Nietemin het hulle aan die verbond getrou gebly, aangesien hulle by Jehovah gesweer het (Josua 9:16-19). Het Jehovah dit goedgekeur?

6. Hoe het Jehovah gereageer op die verbond wat Josua met die Gibeoniete gesluit het?

6 Die Gibeoniete is toegelaat om houtkappers en waterdraers vir die Israeliete en selfs “vir Jehovah se altaar” by die tabernakel te word (Josua 9:21-27). Wat meer is, toe vyf Amoritiese konings en hulle leërs gedreig het om die Gibeoniete aan te val, het Jehovah op wonderdadige wyse ingegryp. Meer van die vyand is deur haelstene doodgemaak as deur Josua se soldate. Jehovah het selfs Josua se versoek toegestaan dat die son en die maan moet stilstaan sodat die vyand totaal verslaan kon word. “Geen dag was soos dié een, daarvoor of daarna”, het Josua vertel, “deurdat Jehovah na die stem van ’n man geluister het nie, want Jehovah het vir Israel geveg.”—Josua 10:1-14.

7. Watter waarheid wat Petrus erken het, was duidelik in die geval van sekere Kanaäniete?

7 Die Kanaänitiese vrou Ragab en haar familie, sowel as die Gibeoniete, het Jehovah gevrees en in ooreenstemming daarmee opgetree. Wat met hulle gebeur het, bewys ’n waarheid wat die Christenapostel Petrus later genoem het: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.

Sy handelinge met Abraham en Israel

8, 9. Hoe is Jehovah se onpartydigheid in sy handelinge met Abraham en met die nasie Israel getoon?

8 Die dissipel Jakobus het die aandag gevestig op God se onverdiende goedhartigheid in Sy handelinge met Abraham en sy nageslag. Dit was Abraham se geloof, nie sy etniese herkoms nie, wat hom “Jehovah se vriend” gemaak het (Jakobus 2:23). Abraham se geloof en liefde vir Jehovah het seëninge vir sy afstammelinge meegebring (2 Kronieke 20:7). Jehovah het Abraham beloof: “Ek [sal] jou gewis seën en [ek sal] jou saad gewis vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sandkorrels wat aan die seestrand is.” Maar let op die belofte in die volgende vers: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën.”—Genesis 22:17, 18; Romeine 4:1-8.

9 Die feit dat Jehovah met Israel gehandel het, kom beslis nie neer op partydigheid nie; hy het eerder daardeur getoon wat hy kan doen vir diegene wat hom gehoorsaam. Dit is ’n voorbeeld van hoe Jehovah lojale liefde teenoor sy getroue knegte betoon. Hoewel Israel Jehovah se “spesiale eiendom” was, het dit nie beteken dat ander volke nie by God se welwillendheid kon baat vind nie (Eksodus 19:5; Deuteronomium 7:6-8). Jehovah het Israel wel uit slawerny in Egipte teruggekoop en daarna verklaar: “Julle alleen het ek uit al die families van die aarde geken.” Maar deur die profeet Amos en ander het Jehovah ook vir mense van “al die nasies” ’n wonderlike vooruitsig gebied.—Amos 3:2; 9:11, 12; Jesaja 2:2-4.

Jesus, die onpartydige Leermeester

10. Hoe het Jesus sy Vader se voorbeeld van onpartydigheid nagevolg?

10 Gedurende sy aardse bediening het Jesus, wat die presiese afdruksel van sy Vader is, Jehovah se onpartydigheid nagevolg (Hebreërs 1:3). Sy hoofdoel was destyds om “die verlore skape van die huis van Israel” te vind. Nogtans het hy nie gehuiwer om vir ’n Samaritaanse vrou by ’n put te getuig nie (Matteus 15:24; Johannes 4:7-30). Hy het ook op versoek van ’n leëroffisier ’n wonderwerk verrig, al was die man blykbaar ’n nie-Jood (Lukas 7:1-10). Daarbenewens het hy deur sy dade sy liefde vir God se volk bewys. Jesus se dissipels het ook wyd en syd gepreek. Dit het duidelik geword dat dit nie mense se nasionaliteit was wat bepaal het of hulle Jehovah se seën sou ontvang nie, maar eerder hulle gesindheid. Nederige, opregte persone wat na die waarheid gehonger het, het aan die goeie nuus van die Koninkryk gehoor gegee. In teenstelling hiermee het dié wat trots en hoogmoedig was, Jesus en sy boodskap verag. “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde”, het Jesus gesê, “omdat u hierdie dinge sorgvuldig vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het. Ja, o Vader, want u het dit goedgevind om só te handel” (Lukas 10:21). Wanneer ons in liefde en geloof met ander handel, tree ons onpartydig op, in die wete dat Jehovah dit goedkeur.

11. Hoe is onpartydigheid in die vroeë Christengemeente getoon?

11 In die vroeë Christengemeente was Jode en nie-Jode gelyk. “Heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat goed doen”, het Paulus verduidelik, “eers vir die Jood, en ook vir die Griek. Want daar is geen partydigheid by God nie” (Romeine 2:10, 11).b Dit was nie hulle etniese agtergrond wat bepaal het of hulle by Jehovah se onverdiende goedhartigheid sou baat vind nie, maar hulle reaksie nadat hulle geleer het van Jehovah en die vooruitsigte wat deur die losprys van sy Seun, Jesus, gebied word (Johannes 3:16, 36). Paulus het geskryf: “Hy is nie ’n Jood wat dit uiterlik is nie, en ook is besnydenis nie dit wat uiterlik aan die vlees is nie. Maar hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en sy besnydenis is dié van die hart deur gees, en nie deur ’n geskrewe kode nie.” Dan gebruik Paulus ’n woordspeling op die term “Jood” (wat “van Juda”, dit wil sê geloof of geprys, beteken), en voeg by: “Die lof van so iemand kom nie van mense nie, maar van God” (Romeine 2:28, 29). Jehovah gee lof op onpartydige wyse. Doen ons dit?

12. Watter vooruitsig bied Openbaring 7:9, en aan wie?

12 Later het die apostel Johannes in ’n visioen gesien hoe die getroue gesalfde Christene uitgebeeld word as ’n geestelike nasie van 144 000, “verseël uit elke stam van die kinders van Israel”. Daarna het Johannes “’n groot menigte” gesien, “uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat voor die troon en voor die Lam staan, geklee in wit klere; en daar was palmtakke in hulle hande” (Openbaring 7:4, 9). Geen etniese groep of taal word dus uit die hedendaagse Christengemeente uitgesluit nie. Individue uit alle agtergronde het die vooruitsig om die komende “groot verdrukking” te oorleef en in die nuwe wêreld uit “fonteine van waters van die lewe” te drink.—Openbaring 7:14-17.

Positiewe resultate

13-15. (a) Hoe kan ons rasse- en kultuurverskille oorkom? (b) Noem voorbeelde wat die voordele van vriendelikheid toelig.

13 Jehovah ken ons goed, soos ’n goeie vader sy kinders ken. Wanneer ons ander dus beter leer ken deur belangstelling in hulle kultuur en agtergrond te toon, verdwyn verskille as ’t ware soos mis voor die son. Etniese skeidsmure word afgebreek, en bande van vriendskap en liefde word versterk. Eenheid word bevorder (1 Korintiërs 9:19-23). Dit word duidelik gesien in die bedrywighede van sendelinge wat in buitelandse toewysings dien. Hulle toon belangstelling in die mense wat daar woon, en gevolglik vind die sendelinge kort voor lank dat hulle goed by die plaaslike gemeente inpas.—Filippense 2:4.

14 Die positiewe resultate van onpartydigheid kan in baie lande gesien word. Aklilu, wat van Etiopië kom, was baie eensaam in Londen, Brittanje se hoofstad. Sy eensaamheid is vererger deur sy gevoel dat die mense daar oor die algemeen nie vriendelik is teenoor mense van ander lande nie, iets wat vandag in talle groot stede van Europa opgemerk word. Hoe anders was Aklilu se ondervinding tog toe hy ’n Christelike vergadering by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies bygewoon het! Diegene daar het hom verwelkom, en hy het spoedig tuis gevoel. Sy waardering vir sy Skepper het vinnig toegeneem. Hy het weldra na geleenthede begin soek om die goeie nuus van die Koninkryk aan ander in daardie streek bekend te maak. En eendag, toe Aklilu se velddiensmaat hom vra watter doelwitte hy nou in die lewe het, het Aklilu gesê dat hy graag eendag in ’n gemeente sou wou wees waar sy taal, Amharies, gepraat word. Toe die ouer manne van die plaaslike Engelse gemeente hiervan hoor, het hulle met graagte gereël dat ’n openbare Bybeltoespraak in Aklilu se moedertaal gehou word. Die uitnodiging na die toespraak het tientalle buitelanders en plaaslike mense vir die eerste openbare vergadering in Amharies in Brittanje laat byeenkom. Vandag is Etiopiërs en ander in daardie gebied verenig in ’n florerende gemeente. Baie van hulle het gevind dat niks hulle verhinder om hulle standpunt vir Jehovah in te neem en dit deur Christelike doop te simboliseer nie.—Handelinge 8:26-36.

15 Mense se karaktertrekke en agtergronde verskil. Dit maak hulle egter nie meerderwaardig of minderwaardig nie; dit is bloot verskille. Tydens die doopplegtigheid van pas toegewyde knegte van Jehovah op die eiland Malta, was plaaslike Getuies uitgelate van vreugde terwyl trane van blydskap in die oë van besoekers uit Brittanje opgewel het. Die Maltese sowel as die Britse groep het hulle gevoelens uitgedruk, maar op verskillende maniere, en hulle innige liefde vir Jehovah het die bande van hulle Christenbroederskap versterk.—Psalm 133:1; Kolossense 3:14.

Vooroordeel kan oorkom word

16-18. Vertel ’n ondervinding wat toelig hoe vooroordeel in die Christengemeente oorkom kan word.

16 Namate ons liefde vir Jehovah en vir ons Christenbroers toeneem, kan ons Jehovah noukeuriger navolg in ons beskouing van ander. Enige vooroordeel wat ons dalk voorheen teen sekere nasionaliteite, rasse of kulture gehad het, kan oorkom word. Beskou byvoorbeeld die geval van Albert wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Britse leër was en met die val van Singapoer in 1942 deur die Japannese gevange geneem is. Hy het later ongeveer drie jaar lank op die “spoorlyn van die dood” gewerk, naby die bekende brug oor die Kwai-rivier. Toe hy aan die einde van die oorlog vrygelaat is, het hy 32 kilogram geweeg, ’n gebreekte kakebeen en neus gehad, sowel as disenterie, omlope en malaria. Duisende van sy medegevangenes het slegter daarvan afgekom; baie het dit nie oorleef nie. Weens die gruweldade wat Albert gesien en ervaar het, het hy in 1945 teruggekeer huis toe as ’n verbitterde man wat niks met God of godsdiens te doen wou hê nie.

17 Albert se vrou, Irene, het een van Jehovah se Getuies geword. Om haar gelukkig te maak, het Albert ’n paar vergaderinge van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies bygewoon. Paul, ’n jong Christen in die voltydse bediening, het Albert besoek om die Bybel met hom te studeer. Albert het kort voor lank besef dat mense se hartstoestand bepaal hoe Jehovah hulle beskou. Hy het sy lewe aan Jehovah toegewy en is gedoop.

18 Paul het later na Londen getrek, Japannees leer praat en met ’n Japannese gemeente geassosieer. Toe hy ’n paar besoekende Japannese Getuies na sy vorige gemeente wou neem, het die broers daar onthou dat Albert ’n sterk vooroordeel teen mense van daardie agtergrond gehad het. Nadat Albert uit Brittanje teruggekeer het, het hy enige kontak met Japannese vermy, en daarom het die broers gewonder hoe hy die situasie sou hanteer. Hulle was verniet bekommerd—Albert het die besoekers met onvoorwaardelike broederliefde ontvang.—1 Petrus 3:8, 9.

‘Word verruim’

19. Watter raad van die apostel Paulus kan ons help om enige sweem van partydigheid te bowe te kom?

19 “Dit is nie goed om partydigheid te toon nie”, het wyse koning Salomo geskryf (Spreuke 28:21). Dit is maklik om geheg te wees aan diegene wat ons goed ken. Maar soms toon ons nie veel belangstelling in persone wat ons nie goed ken nie. Sulke partydigheid pas nie by ’n kneg van Jehovah nie. Dit sal beslis goed wees as ons almal Paulus se duidelike raad toepas om ‘verruim te word’—ja, dat ons verruim word in ons liefde vir mede-Christene uit verskillende agtergronde.—2 Korintiërs 6:13.

20. Op watter gebiede van die lewe moet ons Jehovah, ons onpartydige God, navolg?

20 Hetsy ons die voorreg van die hemelse roeping het of die vooruitsig het om vir ewig op die aarde te lewe, ons onpartydigheid stel ons in staat om die eenheid van een kudde onder een Herder te geniet (Efesiërs 4:4, 5, 16). As ons daarna streef om Jehovah, ons onpartydige God, na te volg, kan dit ons help in ons Christelike bediening, in ons gesin en in die gemeente, trouens, op alle gebiede van die lewe. Hoe so? Die volgende artikel sal hierdie onderwerp bespreek.

[Voetnote]

a Jehovah se roem het later die onderwerp van geestelike liedere geword.—Psalm 135:8-11; 136:11-20.

b Hier verwys die uitdrukking “Griek” na nie-Jode oor die algemeen.—Insight on the Scriptures, uitgegee deur Jehovah se Getuies, Deel 1, bladsy 1004.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe het Jehovah onpartydigheid teenoor Ragab en die Gibeoniete getoon?

• Hoe het Jesus onpartydigheid in sy onderrigting getoon?

• Wat kan ons help om enige kultuur- en rassevooroordeel te oorkom?

[Prent op bladsy 13]

Israel begin Kanaän verower

[Prent op bladsy 15]

Jesus het nie gehuiwer om vir ’n Samaritaanse vrou te getuig nie

[Prent op bladsy 16]

’n Openbare vergadering in Amharies in Brittanje

[Prent op bladsy 16]

Albert se liefde vir Jehovah het hom gehelp om vooroordeel te oorkom

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel