Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 7/1 bl. 4-7
  • Hoe om opregte liefde aan te kweek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om opregte liefde aan te kweek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Leer jou kinders liefde deur jou voorbeeld
  • Hoe almal liefde kan aankweek
  • Geïnspireerde vaderlike leiding
  • Liefde—’n vrug van God se gees
  • Leer liefde by die Christenbroederskap
  • “Die liefde faal nooit nie”
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Liefde—’n Kosbare eienskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • Die grootste hiervan is die liefde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 7/1 bl. 4-7

Hoe om opregte liefde aan te kweek

“Liefde is die lewenselikser; liefde is lewe.”—Living to Purpose, deur Joseph Johnson, 1871.

HOE leer ’n mens om lief te hê? Deur sielkunde te studeer? Deur selfhelpboeke te lees? Deur romantiese rolprente te kyk? Nouliks. Mense leer in die eerste plek om lief te hê deur die voorbeeld en opleiding van hulle ouers. Kinders sal leer wat liefde beteken as hulle, in ’n milieu van hartlike geneentheid, sien hoe hulle ouers hulle voed en beskerm, met hulle kommunikeer en ’n opregte, persoonlike belangstelling in hulle toon. Hulle leer ook om lief te hê wanneer hulle ouers hulle leer om heilsame beginsels van wat reg en verkeerd is, te onderhou.

Opregte liefde is meer as net geneentheid of ’n oppervlakkige emosie. Dit beweeg ’n mens om voortdurend ander se belange op die hart te dra, selfs al besef hulle dit nie ten volle op daardie tydstip nie, soos dikwels die geval is met kinders wanneer hulle liefdevol gedissiplineer word. ’n Volmaakte voorbeeld van iemand wat onselfsugtige liefde betoon, is die Skepper. Die apostel Paulus het geskryf: “My seun, moenie die dissipline wat van Jehovah kom, geringag nie, en moet ook nie beswyk wanneer jy deur hom tereggewys word nie; want Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet.”—Hebreërs 12:5, 6.

Ouers, hoe kan julle Jehovah navolg in die betoning van liefde in julle gesin? En hoe belangrik is die voorbeeld wat julle stel in julle verhouding met mekaar as man en vrou?

Leer jou kinders liefde deur jou voorbeeld

As jy ’n man is, vra jou af: Waardeer ek my vrou en behandel ek haar met eer en respek? As jy ’n vrou is, vra gerus: Is ek liefdevol en ondersteun ek my man? Die Bybel sê dat ’n man en vrou mekaar moet liefhê en respekteer (Efesiërs 5:28; Titus 2:4). Wanneer hulle dit doen, sien hulle kinders eerstehands hoe Christelike liefde betoon word. Wat ’n kragtige en waardevolle les kan dit tog wees!

Ouers bevorder ook liefde in die huis wanneer hulle hoë standaarde in die gesin handhaaf wat dinge soos vermaak, sedelikheid, doelwitte en prioriteite betref. Mense regoor die wêreld het gevind dat die Bybel grootliks help om gesinstandaarde vas te stel, wat ’n lewende bewys is dat die Bybel waarlik ‘deur God geïnspireer is en nuttig is om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer’ (2 Timoteus 3:16). Trouens, die sedelike voorskrifte en riglyne vir die lewe wat in die Bergpredikasie alleen gevind word, word oor die algemeen as onoortreflik beskou.—Matteus, hoofstukke 5 tot 7.

Wanneer die hele gesin op God vertrou vir leiding en by sy standaarde bly, voel elke individu veiliger en is die kanse groter dat kinders meer liefde en respek vir hulle ouers sal aankweek. In teenstelling hiermee kan kinders in ’n huis met dubbele, gebrekkige of inkonsekwente standaarde vertoornd, geïrriteerd en opstandig raak.—Romeine 2:21; Kolossense 3:21.

Wat van enkelouers? Is dit vir hulle byna onmoontlik om hulle kinders te leer wat liefde is? Nie noodwendig nie. Hoewel daar geen plaasvervanger vir ’n goeie ma-en-pa-span is nie, toon ondervinding dat die gehalte van gesinsverhoudings in sekere mate kan vergoed vir die afwesige ouer. As jy ’n enkelouer is, moet jy daarna streef om Bybelbeginsels in jou huis toe te pas. Ja, een spreuk sê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak”—insluitende jou pad as ouer.—Spreuke 3:5, 6; Jakobus 1:5.

Talle goeie jongmense is deur ’n enkelouer grootgemaak en dien God nou getrou in duisende Christengemeentes van Jehovah se Getuies regoor die aarde. Dit bewys dat enkelouers ook suksesvol daarin kan wees om hulle kinders te leer om lief te hê.

Hoe almal liefde kan aankweek

Die Bybel het voorspel dat “die laaste dae” gekenmerk sal word deur ’n gebrek aan “natuurlike geneentheid”, dit wil sê ’n gebrek aan die natuurlike gehegtheid wat daar gewoonlik tussen gesinslede bestaan (2 Timoteus 3:1, 3). Maar selfs diegene wat dalk grootgeword het in ’n milieu waar daar nie veel liefde was nie, kan leer om liefde aan te kweek. Hoe? Deur te leer by Jehovah, die Bron van liefde, wat liefde en geneentheid aan almal betoon wat hulle heelhartig tot hom wend (1 Johannes 4:7, 8). “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem”, het een psalmis gesê.—Psalm 27:10.

Jehovah toon sy liefde vir ons op baie verskillende maniere. Dit sluit vaderlike leiding deur middel van die Bybel in, die hulp van die heilige gees en die liefdevolle ondersteuning van die Christenbroederskap (Psalm 119:97-105; Lukas 11:13; Hebreërs 10:24, 25). Kyk hoe hierdie drie voorsienings jou kan help om toe te neem in jou liefde vir God en jou naaste.

Geïnspireerde vaderlike leiding

As ons ’n hegte band met iemand wil ontwikkel, moet ons daardie persoon goed leer ken. Jehovah openbaar hom deur middel van die bladsye van die Bybel en nooi ons om nader aan hom te kom. Maar dit is nie genoeg om die Bybel net te lees nie. Ons moet die leringe daarin toepas en die voordele ondervind wat dit meebring (Psalm 19:7-10). “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel”, sê Jesaja 48:17. Ja, Jehovah, die verpersoonliking van liefde, onderrig ons tot ons voordeel—nie omdat hy ons vryheid met onnodige reëls en regulasies wil beperk nie.

’n Juiste kennis van die Bybel help ons ook om groter liefde vir ons medemens op te bou. Dit is omdat Bybelwaarheid ons leer wat God se beskouing van mense is en toon watter beginsels ons moet rig in ons handelinge met mekaar. Hierdie inligting gee ons ’n stewige grondslag om liefde vir ons naaste aan te kweek. Die apostel Paulus het gesê: “Dit is wat ek aanhou bid, dat julle liefde steeds oorvloediger mag word met juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë.”—Filippense 1:9.

Om toe te lig hoe liefde behoorlik deur “juiste kennis” gerig kan word, kan ons kyk na die fundamentele waarheid wat in Handelinge 10:34, 35 gevind word: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.” God beoordeel mense volgens hulle regverdige dade en godvrugtige vrees, nie volgens hulle nasionaliteit of ras nie. Behoort ons dan nie ons medemens met dieselfde onpartydigheid te beskou nie?—Handelinge 17:26, 27; 1 Johannes 4:7-11, 20, 21.

Liefde—’n vrug van God se gees

Net soos tydige reën tot ’n goeie vrugteoes bydra, kan God se gees eienskappe wat die Bybel as “die vrugte van die gees” beskryf, in ontvanklike mense voortbring (Galasiërs 5:22, 23). Die vernaamste van hierdie vrugte is liefde (1 Korintiërs 13:13). Maar hoe kan ons God se gees verkry? ’n Vername manier is deur gebed. As ons vir God se gees bid, sal hy dit vir ons gee (Lukas 11:9-13). ‘Hou jy aan’ om vir heilige gees te bid? As jy dit doen, moet die kosbare vrugte daarvan, insluitende liefde, al hoe duideliker in jou lewe na vore kom.

Maar daar is ’n ander soort gees wat teen God se gees werk. Die Bybel noem dit “die gees van die wêreld” (1 Korintiërs 2:12; Efesiërs 2:2). Dit is ’n bose invloed, en die bron daarvan is niemand anders as Satan die Duiwel nie, “die heerser van hierdie wêreld” van mense wat van God vervreemd is (Johannes 12:31). Soos die wind stof en rommel opwaai, wek “die gees van die wêreld” skadelike begeertes op wat liefde ondermyn en die swakhede van die vlees bevredig.—Galasiërs 5:19-21.

Mense laat daardie bose gees hulle oorheers wanneer hulle hulle blootstel aan materialistiese en selfsugtige denke, aan gewelddadige gesindhede en aan die verdraaide en dikwels verdorwe beskouing van liefde wat so algemeen is in die wêreld. As jy in opregte liefde wil toeneem, moet jy die gees van die wêreld met alle mag weerstaan (Jakobus 4:7). Moet egter nie op jou eie krag staatmaak nie; bid tot Jehovah om hulp. Sy gees—die sterkste krag in die heelal—kan jou versterk en jou help om sukses te behaal.—Psalm 121:2.

Leer liefde by die Christenbroederskap

Net soos kinders leer om liefde te betoon deur dit by die huis te ondervind, kan almal van ons—jonk en oud—in liefde toeneem deur met ander Christene om te gaan (Johannes 13:34, 35). Trouens, een van die vernaamste funksies van die Christengemeente is om ’n milieu te voorsien waarin individue ‘mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor’.—Hebreërs 10:24.

Hierdie liefde word veral waardeer deur diegene wat dalk “gestroop en rondgegooi” is in die liefdelose wêreld om ons (Matteus 9:36). Ondervinding het getoon dat baie van die slegte gevolge van liefdelose kinderjare oorkom kan word wanneer mense in hulle volwasse lewe liefdevolle verhoudings geniet. Hoe belangrik is dit tog dat alle toegewyde Christene nuwelinge in hulle midde hartlik en opreg verwelkom!

“Die liefde faal nooit nie”

Die Bybel sê: “Die liefde faal nooit nie” (1 Korintiërs 13:8). Hoe so? Die apostel Paulus sê vir ons: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie” (1 Korintiërs 13:4, 5). Dit is duidelik dat hierdie liefde nie ’n denkbeeldige begrip of ’n oppervlakkige gevoel is nie. Inteendeel—diegene wat dit betoon, weet en erken dat die lewe vol teleurstellings en pyn is, maar hulle laat nie toe dat dit hulle liefde vir hulle medemens laat afkoel nie. Hierdie liefde is waarlik “’n volmaakte band van eenheid”.—Kolossense 3:12-14.

Beskou die voorbeeld van ’n 17-jarige Christenmeisie in Korea. Toe sy Jehovah God begin dien het, het haar familie haar teëgestaan, en sy moes die huis verlaat. Sy was egter nie kwaad vir hulle nie, maar het eerder oor die saak gebid en toegelaat dat God se Woord en gees haar denke vorm. Daarna het sy dikwels briewe aan haar familie geskryf, waarin sy haar opregte liefde vir hulle uitgespreek het. Dit het tot gevolg gehad dat haar twee ouer broers die Bybel begin studeer het en nou toegewyde Christene is. Haar ma en jonger broer het ook Bybelwaarheid aangeneem. Laastens het haar pa, wat haar hewig teëgestaan het, sy gesindheid verander. Die Getuiemeisie skryf: “Ons het almal met mede-Christene getrou, en daar is nou 23 medeaanbidders verenig in ons familie.” Wat ’n oorwinning vir liefde!

Wil jy graag opregte liefde aankweek en ander help om dit ook te doen? Wend jou dan tot Jehovah, die Bron van hierdie kosbare eienskap. Ja, doen wat sy Woord sê, bid vir heilige gees en gaan gereeld om met die Christenbroederskap (Jesaja 11:9; Matteus 5:5). Hoe hartverblydend is dit tog om te weet dat alle goddeloses binnekort vernietig sal word en dat net diegene wat opregte Christelike liefde openbaar, behoue sal bly! Liefde is beslis die sleutel tot geluk en lewe.—Psalm 37:10, 11; 1 Johannes 3:14.

[Prente op bladsy 6]

Gebed en ’n studie van God se Woord sal ons help om opregte liefde aan te kweek

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel