Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 7/1 bl. 9-14
  • “Kyk! Dit is ons God”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Kyk! Dit is ons God”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Verhewe in krag”
  • “Jehovah het geregtigheid lief”
  • “O die diepte van God se . . . wysheid!”
  • Kan jy werklik ‘nader aan God kom’?
    Kom nader aan Jehovah
  • Watter soort persoon is God?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2019
  • “Al sy weë is geregtigheid”
    Kom nader aan Jehovah
  • Beskermingskrag – “God is ons skuilplek”
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 7/1 bl. 9-14

“Kyk! Dit is ons God”

Die inligting in hierdie twee studieartikels is gebaseer op die boek Kom nader aan Jehovah, wat vrygestel is by die streekbyeenkomste wat gedurende 2002/03 regoor die wêreld gehou is.—Sien die artikel “Dit het ’n leemte in my hart gevul”, op bladsy 20.

“Kyk! Dit is ons God. Ons het op hom gehoop, en hy sal ons red. Dit is Jehovah.”—JESAJA 25:9.

1, 2. (a) Hoe het Jehovah na die aartsvader Abraham verwys, en waaroor laat dit ons dalk wonder? (b) Hoe verseker die Bybel ons dat ’n intieme verhouding met God binne ons bereik is?

“MY VRIEND.” Dit is hoe Jehovah, die Skepper van hemel en aarde, na die aartsvader Abraham verwys het (Jesaja 41:8). Stel jou dit net voor—’n blote mens geniet ’n vriendskap met die Soewereine Heer van die heelal! Jy wonder dalk: ‘Is dit moontlik vir my om so na aan God te wees?’

2 Die Bybel verseker ons dat ’n intieme verhouding met God binne ons bereik is. Abraham het so ’n hegte band geniet omdat hy “geloof in Jehovah gestel” het (Jakobus 2:23). Ook vandag is Jehovah se “intimiteit . . . met die regskapenes” (Spreuke 3:32). In Jakobus 4:8 spoor die Bybel ons aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” Dit is duidelik: As ons stappe doen om nader aan Jehovah te kom, sal hy dieselfde doen. Ja, hy sal nader aan ons kom. Maar beteken hierdie geïnspireerde woorde dat ons—as sondige, onvolmaakte mense—die eerste stap moet doen? Hoegenaamd nie. Intimiteit met Jehovah is slegs moontlik omdat ons liefdevolle God reeds twee belangrike stappe gedoen het.—Psalm 25:14.

3. Watter twee stappe het Jehovah gedoen om dit vir ons moontlik te maak om ’n vriendskap met hom te geniet?

3 Eerstens, Jehovah het gereël dat Jesus “sy siel . . . gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Hierdie losprysoffer maak dit vir ons moontlik om na aan God te wees. Die Bybel sê: “Wat ons betref, ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19). Ja, aangesien God “ons eerste liefgehad het”, het hy die grondslag gelê sodat ons ’n vriendskap met hom kan aanknoop. Tweedens, Jehovah het hom aan ons geopenbaar. Enige vriendskapsband wat ons smee, is daarop gegrond dat ons die ander persoon waarlik ken en sy unieke eienskappe bewonder en waardeer. Dink aan wat dit beteken. As Jehovah ’n verborge God was wat niemand kon leer ken nie, sou ons nooit na aan hom kon wees nie. Maar hy verberg hom nie; inteendeel, Jehovah wil hê dat ons hom moet leer ken (Jesaja 45:19). In sy Woord, die Bybel, openbaar hy hom op maniere wat ons kan verstaan—’n bewys dat hy ons nie net liefhet nie, maar ook wil hê dat ons hom as ons hemelse Vader moet ken en liefhê.

4. Hoe sal ons oor Jehovah voel namate ons sy eienskappe beter leer ken?

4 Het jy al ooit ’n kindjie gesien wat vir sy maatjies wys wie sy pa is en dan met kinderlike vreugde en trots sê: “Dis my pappa daardie”? God se aanbidders het alle rede om dieselfde oor Jehovah te voel. Die Bybel voorspel ’n tyd wanneer getroue mense sal uitroep: “Kyk! Dit is ons God” (Jesaja 25:8, 9). Hoe beter ons Jehovah se eienskappe verstaan, hoe meer sal ons voel dat ons die beste Vader en die intiemste Vriend het wat ’n mens kan hê. Ja, insig in Jehovah se eienskappe gee ons baie redes om nader aan hom te kom. Kom ons kyk dus hoe die Bybel Jehovah se vernaamste eienskappe openbaar—naamlik krag, geregtigheid, wysheid en liefde. In hierdie artikel sal ons die eerste drie van hierdie eienskappe bespreek.

“Verhewe in krag”

5. Waarom is dit gepas dat Jehovah alleen “die Almagtige” genoem word, en op watter maniere gebruik hy sy ontsagwekkende krag?

5 Jehovah is “verhewe in krag” (Job 37:23). Jeremia 10:6 sê: “Daar is hoegenaamd niemand soos u nie, o Jehovah. U is groot, en u naam is groot in mag.” In teenstelling met alle skepsele het Jehovah onbeperkte krag. Daarom word hy alleen “die Almagtige” genoem (Openbaring 15:3). Jehovah gebruik sy ontsagwekkende krag om te skep, te vernietig, te beskerm en te herstel. Beskou net twee voorbeelde—sy skeppingskrag en sy beskermingskrag.

6, 7. Hoe kragtig is die son, en van watter belangrike waarheid getuig dit?

6 Wat voel jy op jou vel wanneer jy op ’n helder somersdag buite staan? Die hitte van die son. Jy voel in werklikheid die resultate van Jehovah se skeppingskrag. Hoe kragtig is die son? By die kern is die temperatuur omtrent 15 miljoen grade Celsius. As jy ’n stukkie van die son se kern so groot soos ’n speldekop kon neem en dit hier op die aarde kon neersit, sou jy nie binne 150 kilometer van daardie piepklein hittebron kon staan en ongedeerd daarvan afkom nie! Die son straal elke sekonde energie uit wat gelykstaande is aan die ontploffing van etlike honderdmiljoene kernbomme. Maar die aarde wentel op presies die regte afstand om daardie ontsagwekkende termonukleêre oond. As dit te naby was, sou die water op die aarde verdamp het; as dit te ver was, sou al die water gevries het. Enige van die twee uiterstes sou ons planeet onbewoonbaar gemaak het.

7 Hoewel mense nie sonder die son kan bestaan nie, beskou baie dit as vanselfsprekend. Gevolglik besef hulle nie wat die son ons kan leer nie. Psalm 74:16 sê van Jehovah: “U het die hemellig, ja die son, berei.” Die son verheerlik inderdaad Jehovah, “die Maker van hemel en aarde” (Psalm 146:6). Tog is dit net een van die tallose skeppingswerke wat ons van Jehovah se ontsaglike krag leer. Hoe meer ons van Jehovah se skeppingskrag leer, hoe groter word ons ontsag vir hom.

8, 9. (a) Watter tere illustrasie toon Jehovah se bereidwilligheid om sy aanbidders te beskerm en vir hulle te sorg? (b) Hoe het die herder van Bybeltye vir sy skape gesorg, en wat leer dit ons omtrent ons Groot Herder?

8 Jehovah gebruik ook sy ontsaglike krag om sy knegte te beskerm en vir hulle te sorg. Die Bybel gebruik ’n paar lewendige dog roerende illustrasies om Jehovah se beloftes van beskermende sorg te beskryf. Kyk byvoorbeeld na Jesaja 40:11. Hier vergelyk Jehovah homself met ’n herder en sy volk met skape. Ons lees: “Soos ’n herder sal hy sy kudde laat wei. Met sy arm sal hy die lammers bymekaarbring; en in sy boesem sal hy hulle dra. Dié wat soog, sal hy met sorg lei.” Kan jy jou voorstel wat in hierdie vers beskryf word?

9 Min diere is so hulpeloos soos skape. Die herder van Bybeltye moes dapper wees om sy skape teen wolwe, bere en leeus te beskerm (1 Samuel 17:34-36; Johannes 10:10-13). Maar daar was tye dat teerheid nodig was om die skape te beskerm en vir hulle te sorg. Hoe kon die herder byvoorbeeld, wanneer ’n skaap ver van die kraal af gelam het, die weerlose pasgebore lammetjie veilig hou? Hy het hom, soms dae lank, “in sy boesem” gedra—dit wil sê in die voue van sy bokleed. Maar hoe kom die lammetjie in die herder se boesem? Die lam kom miskien na die herder en stoot dalk selfs teen sy been. Dit is egter die herder wat moet afbuk, sy arms na die lammetjie uitsteek, hom optel en hom in die veiligheid van sy boesem sit. Wat ’n tere beeld tog van ons Groot Herder se bereidwilligheid om sy knegte te beskerm en vir hulle te sorg!

10. Watter beskerming voorsien Jehovah vandag, en waarom is sulke beskerming veral belangrik?

10 Jehovah het nie net beskerming beloof nie. In Bybeltye het hy op wonderdadige maniere bewys dat hy in staat is “om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos” (2 Petrus 2:9). Wat van vandag? Ons weet dat hy nie sy krag gebruik om ons nou teen alle rampspoed te beskerm nie. Maar hy voorsien wel iets baie belangriker—geestelike beskerming. Ons liefdevolle God beskerm ons teen geestelike skade deur ons toe te rus met wat ons nodig het om beproewinge te verduur en om ons verhouding met hom te bewaar. Lukas 11:13 sê byvoorbeeld: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” Daardie groot krag kan ons help om opgewasse te wees teen enige beproewing of probleem waarvoor ons dalk te staan kom (2 Korintiërs 4:7). Jehovah tree dus op om ons lewe te bewaar, nie net vir ’n paar jaar nie, maar vir ewig. Met daardie vooruitsig in gedagte kan ons inderdaad enige lyding in hierdie stelsel as “kortstondig en lig” beskou (2 Korintiërs 4:17). Voel ons nie aangetrokke tot ’n God wat sy krag so liefdevol ten behoewe van ons gebruik nie?

“Jehovah het geregtigheid lief”

11, 12. (a) Waarom laat Jehovah se geregtigheid ons aangetrokke tot hom voel? (b) Tot watter gevolgtrekking aangaande Jehovah se geregtigheid het Dawid gekom, en hoe kan hierdie geïnspireerde woorde ons vertroos?

11 Jehovah doen wat reg en billik is, en hy doen dit konsekwent, sonder partydigheid. Goddelike geregtigheid is nie ’n koue, hardvogtige eienskap wat ons afstoot nie, maar ’n innemende eienskap wat ons tot Jehovah aantrek. Die Bybel beskryf duidelik hoe verkwikkend hierdie eienskap is. Kom ons kyk nou na drie maniere waarop Jehovah sy geregtigheid uitoefen.

12 Eerstens, Jehovah se geregtigheid beweeg hom om getrou en lojaal aan sy knegte te wees. Die psalmis Dawid het self hierdie faset van Jehovah se geregtigheid ervaar. Tot watter gevolgtrekking het Dawid se eie ondervinding en sy studie van God se weë hom laat kom? Hy het gesê: “Jehovah het geregtigheid lief, en hy sal sy lojales nie verlaat nie. Tot onbepaalde tyd sal hulle beslis bewaar word” (Psalm 37:28). Watter vertroostende versekering tog! Ons God sal dié wat aan hom lojaal is, so nooit aste nimmer verlaat nie. Ons kan dus daarop staatmaak dat hy naby ons sal wees en liefdevol vir ons sal sorg. Sy geregtigheid waarborg dit!—Spreuke 2:7, 8.

13. Hoe kan Jehovah se besorgdheid oor minderbevoorregtes gesien word in die Wet wat hy aan Israel gegee het?

13 Tweedens, goddelike geregtigheid neem die behoeftes van die geteisterdes in ag. Jehovah se besorgdheid oor die minderbevoorregtes kan duidelik gesien word in die Wet wat hy aan Israel gegee het. Die Wet het byvoorbeeld voorsienings uiteengesit om te verseker dat daar na wese en weduwees omgesien word (Deuteronomium 24:17-21). Omdat Jehovah besef hoe moeilik die lewe vir sulke gesinne kan wees, het hý hulle vaderlike Regter en Beskermer geword (Deuteronomium 10:17, 18). Hy het die Israeliete gewaarsku dat hy die geroep van weerlose vroue en kinders sou hoor as iemand hulle onreg sou aandoen. “My toorn sal inderdaad ontvlam”, het hy gesê, soos opgeteken in Eksodus 22:22-24. Hoewel toorn nie een van God se vernaamste eienskappe is nie, word sy regverdige verontwaardiging deur opsetlike onregte gewek, veral wanneer die slagoffers weerlose mense is.—Psalm 103:6.

14. Wat is ’n werklik merkwaardige bewys van Jehovah se onpartydigheid?

14 Derdens, in Deuteronomium 10:17 verseker die Bybel ons dat Jehovah “niemand partydig behandel en ook nie ’n omkoopgeskenk aanvaar nie”. In teenstelling met talle mense wat mag of invloed het, word Jehovah nie deur materiële rykdom of uiterlike voorkoms beïnvloed nie. Hy is nie bevooroordeeld of partydig nie. ’n Werklik merkwaardige bewys van sy onpartydigheid is die volgende: Die geleentheid om ware aanbidders van hom te word, met eindelose lewe in die vooruitsig, is nie tot ’n paar uitgesoektes beperk nie. Inteendeel, Handelinge 10:34, 35 sê: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.” Enigiemand, ongeag sy stand in die samelewing, die kleur van sy vel of die land waarin hy woon, kan hierdie vooruitsig hê. Is dit nie ware geregtigheid in die volle sin van die woord nie? Ja, ’n beter begrip van Jehovah se geregtigheid laat ons beslis aangetrokke tot hom voel!

“O die diepte van God se . . . wysheid!”

15. Wat is wysheid, en hoe openbaar Jehovah dit?

15 Die apostel Paulus is beweeg om uit te roep, soos in Romeine 11:33 opgeteken staan: “O die diepte van God se . . . wysheid en kennis!” Ja, terwyl ons die verskillende aspekte van Jehovah se ontsaglike wysheid beskou, kan ons nie anders as om met ontsag vervul te word nie. Maar hoe kan ons hierdie eienskap omskryf? Wysheid kombineer kennis, onderskeidingsvermoë en begrip en pas dit toe. Weens sy ontsaglike kennis en sy omvattende begrip maak Jehovah altyd die beste besluite moontlik en voer hy hulle op die beste manier denkbaar uit.

16, 17. Hoe getuig Jehovah se skeppingswerke van sy ontsaglike wysheid? Gee ’n voorbeeld.

16 Wat is spesifieke bewyse van Jehovah se ontsaglike wysheid? Psalm 104:24 sê: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het.” Ja, hoe meer ons leer van die dinge wat Jehovah gemaak het, hoe groter word ons ontsag vir sy wysheid. Kyk net hoeveel wetenskaplikes al geleer het deur Jehovah se skeppingswerke te bestudeer! Daar is selfs ’n ingenieursveld wat biomimetika genoem word, wat ontwerpe in die natuur probeer naboots.

17 Byvoorbeeld, jy het dalk al met verwondering na ’n spinnerak gekyk. Dit is inderdaad ’n skeppingswonder. Party draadjies wat so dun lyk, is na verhouding sterker as staal, sterker as die vesels van ’n koeëlvaste baadjie. Presies wat beteken dit? Stel jou ’n spinnerak voor wat vergroot word totdat dit so groot is soos ’n net wat op ’n vissersboot gebruik word. So ’n web sou so sterk wees dat dit ’n passasiersvliegtuig in volle vaart kan stop! Ja, Jehovah het al hierdie dinge “in wysheid” gemaak.

18. Hoe kan Jehovah se wysheid gesien word in sy gebruik van mense om sy Woord, die Bybel, op skrif te stel?

18 Die grootste bewys van Jehovah se wysheid kan in sy Woord, die Bybel, gevind word. Die wyse raad daarin toon werklik vir ons wat die beste lewenswyse is (Jesaja 48:17). Maar Jehovah se onvergelyklike wysheid word ook gesien in die manier waarop die Bybel geskryf is. Hoe so? In sy wysheid het Jehovah besluit om mense te gebruik om sy Woord op skrif te stel. Sou die Bybel dieselfde byval by mense gevind het as hy engele gebruik het om dit te skryf? Engele sou Jehovah weliswaar vanuit hulle verhewe gesigspunt kon uitbeeld en hulle toegewydheid aan hom kon beskryf. Maar sou ons ons werklik kon vereenselwig met die beskouing van volmaakte geesskepsele, wat baie groter kennis, ondervinding en krag as ons het?—Hebreërs 2:6, 7.

19. Watter voorbeeld toon dat die gebruik van menseskrywers die Bybel ’n boek maak wat vol gevoel is en by mense ingang vind?

19 Die gebruik van menseskrywers maak die Bybel ’n boek wat vol gevoel is en by mense ingang vind. Die skrywers was manne met gevoelens soos ons s’n. Hulle was onvolmaak en het voor dieselfde soort beproewinge en druk as ons te staan gekom. In sommige gevalle het hulle in die eerste persoon oor hulle eie gevoelens en moeilikhede geskryf (2 Korintiërs 12:7-10). Hulle het dus woorde gebruik wat geen engel sou kon gebruik nie. Kyk byvoorbeeld na Dawid se woorde wat in Psalm 51 opgeteken is. Volgens die opskrif het Dawid hierdie psalm gekomponeer nadat hy ernstige sondes gepleeg het. Hy het sy hart uitgestort, sy diepe berou uitgespreek en God om vergifnis gesmeek. Verse 2 en 3 sê: “Was my deeglik van my ongeregtigheid, en reinig my selfs van my sonde. Want my oortredings ken ek, en my sonde is voortdurend voor my.” Let op vers 5: “Kyk! In ongeregtigheid is ek met geboortepyne voortgebring, en in sonde het my moeder my ontvang.” Vers 17 voeg by: “Die offerandes aan God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie.” Kan jy nie die skrywer se pyn voel nie? Wie anders as ’n onvolmaakte mens kan sulke intense gevoelens uitspreek?

20, 21. (a) Waarom kan daar gesê word dat die Bybel Jehovah se wysheid bevat, al is menseskrywers gebruik? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

20 Deur hierdie onvolmaakte mense te gebruik, het Jehovah ons presies gegee wat ons nodig het—’n verslag wat ‘deur God geïnspireer is’, maar wat nog die menslike element bevat (2 Timoteus 3:16). Ja, daardie skrywers is deur die heilige gees gerig. Hulle het dus Jehovah se wysheid neergeskryf, nie hulle eie nie. Daardie wysheid is heeltemal betroubaar. Dit is so ver verhewe bo ons wysheid dat God ons liefdevol aanspoor: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spreuke 3:5, 6). As ons aan hierdie wyse raad gehoor gee, kom ons nader aan ons alwyse God.

21 Die innemendste en pragtigste van al Jehovah se eienskappe is liefde. In die volgende artikel sal bespreek word hoe Jehovah liefde betoon het.

Kan jy onthou?

• Watter stappe het Jehovah gedoen om dit vir ons moontlik te maak om ’n intieme verhouding met hom op te bou?

• Wat is ’n paar voorbeelde van Jehovah se skeppingskrag en van sy beskermingskrag?

• Op watter maniere oefen Jehovah sy geregtigheid uit?

• Hoe kan Jehovah se wysheid in sy skeppingswerke sowel as in die Bybel gesien word?

[Prent op bladsy 10]

Soos ’n herder wat ’n lammetjie in sy boesem dra, sorg Jehovah liefdevol vir Sy skape

[Prent op bladsy 13]

Jehovah se wysheid kan gesien word in die manier waarop die Bybel geskryf is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel