Hoe party onthou word
OMSTREEKS drieduisend jaar gelede het Dawid vir koning Saul van Israel gevlug. Dawid het manne gestuur na Nabal, ’n ryk man wat met skape en bokke geboer het, om kos en water te vra. Nabal het Dawid en sy volgelinge in werklikheid ’n guns geskuld omdat hulle Nabal se kuddes beskerm het. Maar Nabal het geweier om enige gasvryheid aan hulle te bewys. Hy het selfs teen Dawid se manne uitgevaar. Nabal het met vuur gespeel, want Dawid sou so ’n belediging nie duld nie.—1 Samuel 25:5, 8, 10, 11, 14.
Nabal se gesindheid was heeltemal in stryd met die Midde-Oosterse tradisie om gasvryheid teenoor besoekers en vreemdelinge te betoon. Watter soort naam het Nabal derhalwe vir hom gemaak? Die Bybelverslag sê dat hy “hardvogtig en sleg in sy handelinge” en ’n “deugniet” was. Sy naam beteken “verstandeloos”, en dit het beslis by hom gepas (1 Samuel 25:3, 17, 25). Sal jy so onthou wil word? Is jy hardvogtig en onbuigsaam in jou optrede teenoor ander, veral as dit lyk of hulle in ’n netelige posisie is? Of is jy vriendelik, gasvry en bedagsaam?
Abigail—’n verstandige vrou
Nabal was in die moeilikheid as gevolg van sy hardvogtige gesindheid. Dawid en 400 van sy manne het hulle swaarde aangegord en was op pad om Nabal ’n les te leer. Abigail, Nabal se vrou, het gehoor wat gebeur het. Sy het geweet dat ’n konfrontasie onvermydelik was. Wat kon sy doen? Sy het haar gehaas om genoeg eet- en drinkgoed voor te berei en toe vertrek om Dawid en sy manne te probeer keer. Toe sy hulle ontmoet, het sy Dawid gesmeek om nie sonder oorsaak bloed te vergiet nie. Dawid se hart het versag. Hy het na haar smekinge geluister en van sy planne afgesien. Kort na hierdie gebeure het Nabal gesterf. Dawid, wat Abigail se goeie eienskappe raakgesien het, het haar toe as sy vrou geneem.—1 Samuel 25:14-42.
Watter soort reputasie het Abigail opgebou? Sy was ’n vrou wat “goeie oordeel aan die dag gelê” het, of “intelligent” was, soos die oorspronklike Hebreeus dit stel. Dit is duidelik dat sy verstandig en prakties was en geweet het hoe en wanneer om die inisiatief te neem. Sy het lojaal opgetree om haar dwase man en sy huishouding teen rampspoed te beskerm. Sy het uiteindelik gesterf, maar met ’n uitstekende reputasie as ’n verstandige vrou.—1 Samuel 25:3; New International Version.
Watter naam het Petrus agtergelaat?
Kom ons gaan nou die eerste eeu G.J. en beskou Jesus se 12 apostels. Die mees uitgesproke en impulsiewe apostel was ongetwyfeld Petrus, of Sefas, wat voorheen ’n visserman in Galilea was. Hy was blykbaar ’n dinamiese man wat nie bang was om sy gevoelens uit te spreek nie. Dink byvoorbeeld aan die geval toe Jesus sy dissipels se voete gewas het. Hoe het Petrus gereageer toe Jesus sy voete wou was?
Petrus het vir Jesus gesê: “Here, was u my voete?” Jesus het geantwoord: “Wat ek doen, verstaan jy nie nou nie, maar ná hierdie dinge sal jy verstaan.” Petrus het gesê: “U sal so nimmer aste nooit my voete was nie.” Let op Petrus se besliste dog impulsiewe reaksie. Hoe het Jesus hierop gereageer?
“Tensy ek jou was”, het Jesus geantwoord, “het jy geen deel met my nie.” Simon Petrus het vir hom gesê: “Here, nie net my voete nie, maar ook my hande en my kop.” Nou gaan Petrus weer na die ander uiterste toe! ’n Mens het egter altyd geweet waar jy met Petrus staan. Daar was geen valsheid of geveinsdheid by hom nie.—Johannes 13:6-9.
Petrus word ook onthou vir sy menslike swakhede. Hy het Christus byvoorbeeld drie maal verloën voor mense wat hom daarvan beskuldig het dat hy ’n volgeling van die veroordeelde Jesus van Nasaret was. Toe Petrus besef wat hy gedoen het, het hy bitterlik gehuil. Hy was nie bang om uiting te gee aan sy droefheid en spyt nie. Dit is ook betekenisvol dat hierdie verslag van Petrus se verloëning van Jesus deur die Evangelieskrywers opgeteken is—heel waarskynlik op grond van inligting wat Petrus self verskaf het! Hy was nederig genoeg om sy swakhede te erken. Het jy hierdie goeie eienskap?—Matteus 26:69-75; Markus 14:66-72; Lukas 22:54-62; Johannes 18:15-18, 25-27.
Binne ’n paar weke nadat Petrus Christus verloën het, is hy met heilige gees vervul en het hy tydens Pinkster moedig getuig voor ’n menigte Jode. Dit was ’n besliste aanduiding dat die verrese Jesus vertroue in hom gehad het.—Handelinge 2:14-21.
By ’n latere geleentheid het Petrus in ’n ander strik getrap. Die apostel Paulus het verduidelik dat Petrus, voordat sekere Joodse broers in Antiogië aangekom het, vryelik met nie-Joodse gelowiges geassosieer het. Maar nou het hy hom van hulle afgesonder “uit vrees vir dié van die besnede klas” wat so pas uit Jerusalem aangekom het. Paulus het Petrus se dubbele standaard blootgelê.—Galasiërs 2:11-14.
Maar wie van die dissipels was bereid om op ’n kritieke tydstip iets te sê toe dit gelyk het of baie van Jesus se volgelinge op die punt was om hom te verlaat? By hierdie geleentheid het Jesus iets nuuts geopenbaar, naamlik dat dit belangrik was om sy vlees te eet en sy bloed te drink. Hy het gesê: “Tensy julle die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink, het julle geen lewe in julleself nie.” Die meeste van Jesus se Joodse volgelinge is gestruikel en het gesê: “Hierdie woord is skokkend; wie kan daarna luister?” Wat het toe gebeur? “As gevolg hiervan het baie van sy dissipels teruggegaan na die dinge wat hulle agtergelaat het en nie meer saam met hom gewandel nie.”—Johannes 6:50-66.
Op hierdie kritieke tydstip het Jesus na die 12 apostels gedraai en die treffende vraag gevra: “Julle wil nie miskien ook gaan nie?” Petrus het geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe; en ons het geglo en te wete gekom dat u die Heilige van God is.”—Johannes 6:67-69.
Watter soort reputasie het Petrus opgebou? Wanneer ’n mens die verslae oor hom lees, kan jy nie anders as om beïndruk te wees met sy eerlike, openhartige persoonlikheid, sy lojaliteit en sy bereidwilligheid om sy eie swakhede te erken nie. Wat ’n goeie naam het hy tog vir hom gemaak!
Wat het mense aangaande Jesus onthou?
Jesus se aardse bediening was net drie en ’n half jaar lank. Maar hoe het sy volgelinge hom onthou? Was hy afsydig en koel omdat hy volmaak, sondeloos, was? Het hy sy gewig rondgegooi omdat hy geweet het dat hy die Seun van God is? Het hy sy volgelinge geïntimideer en gedwing om gehoorsaam te wees? Het hy homself so ernstig opgeneem dat hy geen sin vir humor gehad het nie? Was hy so besig dat hy nie tyd vir die swakkes en die siekes of vir kinders gehad het nie? Het hy neergesien op mense van ander rasse en op vroue, soos mans van daardie tyd dikwels gedoen het? Wat vertel die verslag ons?
Jesus het in mense belanggestel. ’n Studie van sy bediening toon dat hy dikwels die kreupeles en die siekes genees het. Hy het moeite gedoen om die behoeftiges te help. Hy het belangstelling in kinders getoon en vir sy dissipels gesê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie.” Toe het Jesus “die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën terwyl hy hulle die hande opgelê het”. Maak jy tyd vir kinders, of is jy te besig om hulle selfs raak te sien?—Markus 10:13-16; Matteus 19:13-15.
Toe Jesus op aarde was, het die Joodse volk gebuk gegaan onder die las van godsdiensreëls en -voorskrifte wat nie deur die Wet vereis is nie. Die godsdiensleiers het die volk met swaar vragte belaai, terwyl hulle self nie bereid was om die vragte met een van hulle vingers te verroer nie (Matteus 23:4; Lukas 11:46). Hoe anders was Jesus tog nie! Hy het gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik.”—Matteus 11:28-30.
Mense is verkwik wanneer hulle met Jesus geassosieer het. Hy het sy dissipels nie geïntimideer sodat hulle bang was om hulle mening uit te spreek nie. Trouens, hy het vrae gevra om hulle uit te lok (Markus 8:27-29). Christenopsieners kan hulleself gerus afvra: ‘Het medegelowiges dieselfde indruk van my? Vertel ander ouer manne vir my hoe hulle werklik voel, of aarsel hulle om dit te doen?’ Hoe verkwikkend is dit tog wanneer opsieners genaakbaar is, na ander luister en buigsaam bly! Onredelikheid belemmer gewoonlik eerlike en openhartige bespreking.
Al was Jesus die Seun van God, het hy nooit sy mag en gesag misbruik nie. Hy het eerder met sy toehoorders geredeneer. Dit was die geval toe die Fariseërs hom probeer vastrek het met die strikvraag: “Is dit geoorloof om hoofbelasting aan die keiser te betaal of nie?” Jesus het vir hulle gesê om hom ’n munt te wys en hulle gevra: “Wie se beeld en opskrif is dit?” Hulle het geantwoord: “Die keiser s’n.” Toe het hy vir hulle gesê: “Betaal dan aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matteus 22:15-21). Eenvoudige logika was voldoende.
Het Jesus ’n sin vir humor gehad? Party lesers sien dalk ’n tikkie humor in Jesus se woorde dat dit makliker is vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die Koninkryk van God in te gaan (Matteus 19:23, 24). Die blote idee dat ’n kameel deur die oog van ’n letterlike naald probeer gaan, is heel komies. Nog ’n voorbeeld van so ’n hiperbool is dié van iemand wat ’n strooihalm in ’n broer se oog sien, terwyl hy nie die balk in sy eie oog raaksien nie (Lukas 6:41, 42). Nee, Jesus was nie ’n streng tugmeester nie. Hy was hartlik en vriendelik. Vandag kan ’n sin vir humor Christene help om minder bedruk te voel in stresvolle tye.
Jesus se medelye met vroue
Hoe het vroue in Jesus se teenwoordigheid gevoel? Hy het beslis talle lojale vroue as volgelinge gehad, onder andere sy eie moeder, Maria (Lukas 8:1-3; 23:55, 56; 24:9, 10). Vroue het soveel vrymoedigheid gehad om Jesus te nader dat selfs ’n vrou ‘wat as ’n sondares bekend gestaan het’, eenkeer sy voete met haar trane gewas en dit met welriekende olie gesalf het (Lukas 7:37, 38). ’n Ander vrou, wat jare lank aan bloedvloeiing gely het, het haar weg deur ’n skare gebaan om aan sy kleed te raak sodat sy genees kon word. Jesus het haar geprys vir haar geloof (Matteus 9:20-22). Ja, vroue het gevoel dat hulle Jesus kon nader.
By ’n ander geleentheid het Jesus met ’n Samaritaanse vrou by ’n put gepraat. Sy was so verbaas dat sy gesê het: “Hoe is dit dat u, hoewel u ’n Jood is, vir my ’n bietjie water vra om te drink, terwyl ek ’n Samaritaanse vrou is?” Sy het dit gevra omdat die Jode niks met Samaritane te doen gehad het nie. Jesus het haar toe ’n wonderlike waarheid geleer oor die ‘water wat opborrel om die ewige lewe te gee’. Hy was op sy gemak met vroue. Hy het nie bedreig gevoel nie.—Johannes 4:7-15.
Jesus word onthou vir sy talle menslike eienskappe, waaronder sy selfopofferende gees. Hy was die verpersoonliking van goddelike liefde. Jesus het die standaard vasgestel vir almal wat sy volgelinge wil wees. Hoe noukeurig volg jy sy voorbeeld na?—1 Korintiërs 13:4-8; 1 Petrus 2:21.
Hoe word hedendaagse Christene onthou?
In hedendaagse tye het duisende getroue Christene al gesterf, party op ’n hoë ouderdom, ander redelik jonk. Maar hulle het ’n goeie reputasie agtergelaat. Party, soos Crystal, wat op ’n hoë ouderdom gesterf het, word onthou vir hulle liefdevolle, gesellige geaardheid. Ander, soos Dirk, wat gesterf het toe hy in sy veertigerjare was, word onthou vir ’n vrolike geaardheid en gewillige gees.
Dan is daar die geval van José van Spanje. In die 1960’s, toe die predikingswerk van Jehovah se Getuies in daardie land verbied was, was José ’n getroude man met drie jong dogters. Hy het ’n bestendige werk in Barcelona gehad. Maar destyds was daar ’n behoefte aan bekwame Christen- ouer manne in die suide van Spanje. José het sy bestendige werk opgegee en saam met sy gesin na Málaga getrek. Hulle het moeilike ekonomiese tye beleef en was dikwels sonder werk.
Nogtans was José bekend vir sy getroue voorbeeld in die bediening en vir die goeie manier waarop hy, met die hulp van sy ondersteunende vrou Carmela, sy dogters grootgemaak het. Wanneer daar ’n behoefte was aan iemand wat Christelike byeenkomste in die gebied kon organiseer, het José altyd sy hulp aangebied. Ongelukkig het hy, terwyl hy in sy vyftigerjare was, ’n ernstige siekte opgedoen waaraan hy gesterf het. Maar hy het die reputasie opgebou dat hy ’n betroubare, hardwerkende ouer man en liefdevolle eggenoot en vader was.
Hoe sal jy dus onthou word? As jy gister gesterf het, wat sou mense vandag van jou gesê het? Dit is ’n vraag wat ons almal kan aanspoor om beter mense te wees.
Wat kan ons doen om ’n goeie reputasie te verkry? Ons kan altyd die vrugte van die gees—soos liefde, lankmoedigheid, goedhartigheid, sagmoedigheid en selfbeheersing—in groter mate aankweek (Galasiërs 5:22, 23). Ja, een ding is seker: “’n [Goeie] naam is beter as goeie olie, en die sterfdag as die dag dat iemand gebore word.”—Prediker 7:1; Matteus 7:12.
[Prent op bladsy 5]
Abigail word onthou vir die goeie oordeel wat sy aan die dag gelê het
[Prent op bladsy 7]
Petrus word onthou vir sy impulsiewe dog eerlike persoonlikheid
[Prent op bladsy 8]
Jesus het tyd gemaak vir kinders