Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 9/15 bl. 21-25
  • “Die wet van die wyse”—’n bron van lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die wet van die wyse”—’n bron van lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wees gewillig om te leer
  • Beheers jou tong!
  • Wees vlytig
  • Regverdigheid—’n beskerming
  • Moenie voorgee nie
  • Hou begeertes eenvoudig
  • Verbly jou in die “lig”
  • Waak teen valse verwagtinge
  • God se wet—’n bron van lewe
  • “Iemand wat op teregwysing ag gee, is skerpsinnig”
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Verkry wysheid en aanvaar dissipline
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Bybelboek nommer 20—Spreuke
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Wandel op ‘die pad van regskapenheid’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 9/15 bl. 21-25

“Die wet van die wyse”—’n Bron van lewe

“O DIE diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!” het die apostel Paulus uitgeroep (Romeine 11:33). En die getroue aartsvader Job het gesê: “[Jehovah God] is wys van hart” (Job 9:4). Ja, die Skepper van hemel en aarde is weergaloos in wysheid. Wat kan gesê word van die wet, of die geskrewe Woord, van so ’n Skepper?

Die psalmis het gesing: “Die wet van Jehovah is volmaak; dit bring die siel terug. Die herinnering van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys. Die bevele van Jehovah is reg; hulle maak die hart bly; die gebod van Jehovah is rein; dit laat die oë straal” (Psalm 19:7, 8). Koning Salomo van eertydse Israel het inderdaad die waarheid van hierdie woorde besef! Hy het gesê: “Die wet van die wyse is ’n bron van lewe, om ’n mens van die strikke van die dood af te keer” (Spreuke 13:14). In die voorgaande 13 verse van Spreuke hoofstuk 13 het Salomo getoon hoe die raad in God se Woord ons kan help om ons lewensgehalte te verbeter en nie ons lewe in gevaar te stel nie.

Wees gewillig om te leer

“’n Seun is wys waar daar ’n vader se dissipline is, maar die spotter is iemand wat geen bestrawwing gehoor het nie”, sê Spreuke 13:1. ’n Vader se dissipline kan matig of streng wees. Hierdie dissipline kan eers die vorm van opleiding aanneem, en as dít verwerp word, kan dit uiteindelik na straf oorgaan. ’n Wyse seun sal sy vader se dissipline aanvaar.

“Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet”, sê die Bybel, en “hy gesel elkeen wat hy as ’n seun aanneem” (Hebreërs 12:6). Een manier waarop ons hemelse Vader ons dissiplineer, is deur sy geskrewe Woord, die Bybel. Wanneer ons die Bybel met ontsag lees en toepas wat ons daarin leer, word ons in werklikheid deur sy Woord gedissiplineer. Dit is tot ons voordeel, want alles wat Jehovah sê, is nuttig vir ons.—Jesaja 48:17.

Dissipline kan ook die vorm aanneem van teregwysing deur ’n medegelowige wat besorg is oor ons geestelike welsyn. Enige nuttige raad wat in ooreenstemming met God se Woord is, moet nie as raad van daardie persoon af beskou word nie, maar as raad wat van die groot Bron van waarheid af kom. Dit sal wys wees as ons dit aanvaar as iets wat van Jehovah af kom. Wanneer ons dít doen en toelaat dat dit ons denke vorm, ons begrip van die Skrif verbeter en ons weë verander, vind ons baat by die dissipline. Dieselfde geld vir die raad wat ons tydens Christelike vergaderinge en uit Bybelpublikasies ontvang. Om gehoor te gee aan wat sulke geskrewe of gesproke woorde ons leer, is ’n uitstekende vorm van selfdissipline.

Die spotter daarenteen gee nie gehoor aan dissipline nie. “Omdat hy dink dat hy van beter weet”, sê een naslaanwerk, “is hy nie gewillig om te leer nie.” Hy reageer nie eens op bestrawwing—’n strenger vorm van dissipline—nie. Maar kan hy ooit die Vader se dissipline verkeerd bewys? Jehovah was nog nooit verkeerd nie, en hy sal ook nooit wees nie. Deur dissipline te verwerp, maak die spotter homself net belaglik. Met ’n paar goed gekose woorde toon Salomo op pragtige wyse hoe voordelig dit is as ons gewillig is om te leer!

Beheers jou tong!

Die koning van Israel vergelyk die mond met ’n vrugdraende boom om te toon hoe belangrik dit is dat God se Woord ons rig in ons spraak. Hy sê: “Van die vrug van sy mond sal ’n man die goeie eet, maar die siel [“sielsbegeerte”, voetnoot in NW] van dié wat verraderlik handel, is geweld” (Spreuke 13:2). Die vrug wat die mond voortbring, is woorde. En iemand maai wat hy met sy woorde gesaai het. “As sy woorde goed bedoel is en daarop gerig is om vriendelike verhoudings met sy medemens op te bou”, sê een geleerde, “sal hy die goeie eet; hy sal ’n gelukkige, vreedsame lewe lei.” Dinge verloop anders vir die verraderlike persoon. Hy wil geweld pleeg en ander leed aandoen. Geweld is wat hy beplan, en geweld is wat hy maai. Die strikke van die dood wag op sy drumpel.

“Wie sy mond bewaak, behou sy siel”, sê Salomo verder. “Wie sy lippe wyd oopmaak—vir hom sal daar ondergang wees” (Spreuke 13:3). ’n Geskende reputasie, gekrenkte gevoelens, gespanne verhoudings en selfs fisiese leed is alles moontlike gevolge van ondeurdagte, dwase praatjies. Lippe wat wyd oopgemaak word, kan ook God se onguns meebring, want hy hou elkeen aanspreeklik vir sy woorde (Matteus 12:36, 37). Ja, as ons ons mond streng bewaak, sal dit ons van ondergang red. Maar hoe kan ons leer om ons mond te bewaak?

’n Eenvoudige manier is om nie te veel te praat nie. “In die oorvloed van woorde ontbreek die oortreding nie”, sê die Bybel (Spreuke 10:19). Nog ’n manier is om te dink voor ’n mens praat. Die geïnspireerde skrywer sê: “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke” (Spreuke 12:18). As iemand nie dink voordat hy praat nie, kan hy homself en sy luisteraars seermaak. Daarom gee die Bybel ons hierdie praktiese raad: “Die hart van die regverdige dink na sodat hy kan antwoord.”—Spreuke 15:28.

Wees vlytig

“Die luiaard toon dat hy begerig is”, sê Salomo, “maar sy siel het niks. Die siel van die vlytiges sal egter vet gemaak word” (Spreuke 13:4). “Die punt [van hierdie spreuk] is dat blote begeerte van nul en gener waarde is”, sê een naslaanwerk, en dat dit “werk is wat tel. Lui mense is slagoffers van die begeertes . . . wat hulle oorheers, en hulle het absoluut niks om daarvoor te wys nie.” Maar die siel, of die begeerte, van die vlytige word bevredig—vet gemaak.

Wat kan gesê word van diegene wat huiwer om hulle aan Jehovah toe te wy omdat hulle verantwoordelikheid wil vermy? Hulle toon dalk dat dit hulle begeerte is om in God se nuwe wêreld te lewe. Maar is hulle bereid om iets daaromtrent te doen? ’n Vereiste vir diegene wat “uit die groot verdrukking kom”, is dat hulle geloof in Jesus se losprysoffer beoefen het, hulle aan Jehovah toegewy en hulle toewyding deur waterdoop gesimboliseer het.—Openbaring 7:14, 15.

Dink ook aan wat dit behels om ’n opsienersamp in die gemeente na te streef. Die begeerte om hierdie voortreflike werk te doen, is beslis prysenswaardig en word in die Skrif aangemoedig (1 Timoteus 3:1). Maar om net begerig te wees, is nie genoeg nie. Iemand wat vir hierdie werk wil kwalifiseer, moet die nodige eienskappe en vermoëns aankweek. Dit verg ywerige inspanning.

Regverdigheid—’n beskerming

’n Regverdige persoon kweek godvrugtige eienskappe aan en praat die waarheid. Hy besef dat dit in stryd met Jehovah se wet is om leuens te vertel (Spreuke 6:16-19; Kolossense 3:9). In dié verband sê Salomo: “’n Valse woord is iets wat die regverdige haat, maar die goddeloses tree skandelik op en bring oneer oor hulleself” (Spreuke 13:5). Die regverdige vermy nie net leuens nie; hy haat dit in werklikheid. Hy weet dat leuens, ongeag hoe onskuldig dit dalk lyk, goeie menseverhoudings kan vernietig. Wat meer is, dit skend die geloofwaardigheid van die persoon wat leuens vertel. Die goddelose tree skandelik op deur leuens te vertel of deur ander dinge te doen, en sodoende bring hy oneer oor homself.

Om te toon hoe voordelig dit is om te doen wat reg is in God se oë, sê die wyse koning: “Regverdigheid bewaar die een wat onskadelik is op sy weg, maar goddeloosheid laat die sondaar te gronde gaan” (Spreuke 13:6). Regverdigheid beskerm iemand soos ’n vesting, terwyl goddeloosheid hom skade berokken.

Moenie voorgee nie

Die koning van Israel toon sy kennis van die mensenatuur deur te sê: “Daar is een wat voorgee dat hy ryk is, en tog het hy hoegenaamd niks; daar is een wat voorgee dat hy arm is, en tog het hy talle waardevolle dinge” (Spreuke 13:7). Die uiterlike is soms bedrieglik. Party arm mense gee dalk voor dat hulle ryk is—miskien om ’n spoggerige vertoon te maak, om die indruk te gee dat hulle suksesvol is of om eenvoudig verleentheid te vermy. ’n Ryk persoon gee moontlik voor dat hy arm is, bloot om sy rykdom geheim te hou.

Dit is nie goed om ’n valse vertoon te maak of te verberg wat ons het nie. As ons min op geldelike gebied het, kan dit ons en ons gesin van lewensbenodigdhede beroof as ons geld aan luukseartikels bestee net om die indruk te skep dat ons ryk is. En as iemand voorgee dat hy arm is terwyl hy eintlik ryk is, kan dit hom inhalig laat word, wat hom die waardigheid en geluk sal ontneem wat vrygewigheid meebring (Handelinge 20:35). Eerlikheid lei tot ’n beter lewe.

Hou begeertes eenvoudig

“Die losprys vir ’n man se siel is sy rykdom”, sê Salomo, “maar die arme het geen bestrawwing gehoor nie” (Spreuke 13:8). Watter les bevat hierdie wyse spreuk?

Dit het voordele om ryk te wees, maar rykdom is nie altyd ’n seën nie. In die moeilike tye waarin ons lewe, loop die rykes en hulle gesinne dikwels gevaar dat iemand hulle sal ontvoer en ’n losprys sal eis. Soms kan ’n ryk man ’n losprys betaal om homself of ’n gesinslid vry te koop. Maar dit gebeur dikwels dat die ontvoerde doodgemaak word. Dit is ’n gevaar wat altyd bo die kop van die ryke hang.

Die arm man het glad nie daardie bekommernis nie. Hoewel hy nie die talle geriewe en materiële dinge van die ryke het nie, is dit baie onwaarskynlik dat hy die slagoffer van ontvoerders sal word. Dit is een van die voordele as ons ons begeertes eenvoudig hou en nie ons tyd en energie daaraan bestee om rykdom na te jaag nie.—2 Timoteus 2:4.

Verbly jou in die “lig”

Salomo gaan voort om te toon dat dit tot ons voordeel is om dinge op Jehovah se manier te doen. “Die lig van die regverdiges sal bly wees”, sê hy, “maar die lamp van die goddeloses—dit sal uitgedoof word.”—Spreuke 13:9.

Die lamp is ’n simbool van dit waarop ons staatmaak om ons lewenspad te verlig. ‘God se woord is ’n lamp vir die voet van die regverdige en ’n lig vir sy pad’ (Psalm 119:105). Dit bevat die Skepper se onuitputlike kennis en wysheid. Hoe meer ons ons begrip van God se wil en voorneme verbeter, hoe helderder word die geestelike lig waardeur ons gelei word. Wat ’n groot bron van vreugde is dit tog! Waarom sou ons dan ons aandag laat aftrek deur wêreldse wysheid of deur “sogenaamde ‘kennis’”?—1 Timoteus 6:20; 1 Korintiërs 1:20; Kolossense 2:8.

Wat die goddelose betref, dit lyk dalk of sy lamp helder skyn en of hy voorspoedig is, maar sy lamp sal uitgedoof word. Hy sal in die donker beland, waar sy voet beslis sal struikel. Wat meer is, “daar sal geen toekoms [vir hom] wees” nie.—Spreuke 24:20.

Wat moet ons egter doen as ons nie seker is hoe ons in ’n bepaalde situasie moet optree nie? Sê nou ons is nie seker of ons die gesag het om op te tree nie? Spreuke 13:10 waarsku: “Deur vermetelheid veroorsaak ’n mens net ’n stryd.” Dit is vermetel om sonder kennis of die nodige gesag op te tree, en sal gewis tot wrywing lei. Sal dit nie beter wees om ander te vra wat kennis en onderskeidingsvermoë het nie? “By dié wat saam beraadslaag, is wysheid”, sê die wyse koning.

Waak teen valse verwagtinge

Geld kan nuttig wees. Dit is beter om voldoende fondse te hê as om baie eenvoudig of in armoede te lewe (Prediker 7:11, 12). Maar die skynbare voordele van rykdom wat op onwettige maniere verkry word, kan bedrieglik wees. Salomo waarsku: “Waardevolle dinge wat uit nietigheid voortspruit, word minder, maar wie met die hand bymekaarmaak, laat dit toeneem.”—Spreuke 13:11.

Dink byvoorbeeld aan die aantrekkingskrag van dobbelary. ’n Dobbelaar spandeer dalk sy swaar verdiende inkomste in die hoop om baie geld te wen. Maar hoe dikwels word dit tog ten koste van sy gesin gedoen! En wat gebeur as die dobbelaar wen? Aangesien hy die geld so maklik gekry het, heg hy moontlik nie veel waarde daaraan nie. Daarbenewens het hy dalk net nie die vermoë om die geld wat hy gewen het, wyslik te gebruik nie. Sal sy rykdom nie heel waarskynlik so vinnig verdwyn as wat hy dit bekom het nie? Daarenteen raak rykdom wat stelselmatig verkry word—’n bietjie op ’n slag deur harde werk te doen—stadigaan meer en kan dit nuttig aangewend word.

“’n Uitgestelde verwagting maak die hart siek”, sê Salomo, “maar wat begeer word, is ’n boom van die lewe wanneer dit wel kom” (Spreuke 13:12). Onvervulde verwagtinge lei gewoonlik tot teleurstelling wat die hart siek maak. Dit gebeur in die daaglikse lewe. Maar dit is nie die geval met die verwagtinge wat stewig gegrond is op God se Woord nie. Ons kan ten volle vertrou dat dit vervul sal word. Selfs oënskynlike vertragings sal waarskynlik nie teleurstellend wees nie.

Ons weet byvoorbeeld dat God se nuwe wêreld op hande is (2 Petrus 3:13). Ons sien gretig en met blydskap uit na die vervulling van God se beloftes. En terwyl ons die wagtyd gebruik om besig te bly “in die werk van die Here”, om medegelowiges aan te moedig en om ’n hegter verhouding met Jehovah op te bou, maak dit beslis nie ‘die hart siek nie’, maar vul ons eerder met vreugde (1 Korintiërs 15:58; Hebreërs 10:24, 25; Jakobus 4:8). Wanneer ons die vervulling van ’n langverwagte begeerte sien, is dit ’n boom van die lewe—waarlik bemoedigend en verkwikkend.

God se wet—’n bron van lewe

Spreuke 13:13 illustreer hoe belangrik gehoorsaamheid aan God is en sê: “Hy wat die woord verag het, van hom sal ’n skuldenaarspand geneem word; maar wie die gebod vrees, sal beloon word.” As ’n skuldenaar ’n woord verag deur nie ’n lening terug te betaal nie, sal hy verbeur wat hy as pand gegee het. Net so ook sal ons verlies ly as ons versuim om God se gebooie te gehoorsaam. Watter soort verlies?

“Die wet van die wyse is ’n bron van lewe, om ’n mens van die strikke van die dood af te keer” (Spreuke 13:14). As ons sonder die wet van die alwyse God, Jehovah, lewe, ontneem dit ons die leiding wat ons kan help om ’n beter en langer lewe te geniet. Wat ’n ontsaglike verlies sal dit tog nie wees nie! Die verstandige weg is dus om noukeurig aandag te skenk aan God se Woord en toe te laat dat dit ons denke, spraak en dade beïnvloed.—2 Korintiërs 10:5; Kolossense 1:10.

[Prente op bladsy 23]

Om aan skriftuurlike raad gehoor te gee, is ’n uitstekende vorm van selfdissipline

[Prent op bladsy 24, 25]

“Die hart van die regverdige dink na sodat hy kan antwoord”

[Prente op bladsy 24, 25]

As ons besig bly “in die werk van die Here”, vul dit ons met vreugde

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel