Volharding tydens beproewinge strek Jehovah tot eer
“As julle, wanneer julle goed doen en ly, dit verduur, is dit iets welgevalligs by God.”—1 PETRUS 2:20.
1. Watter vraag ontstaan, aangesien ware Christene graag hulle toewyding wil naleef?
CHRISTENE is toegewy aan Jehovah en wil graag sy wil doen. Om hulle toewyding na te leef, doen hulle hulle bes om die voetstappe van hulle Voorbeeld, Jesus Christus, te volg en van die waarheid te getuig (Matteus 16:24; Johannes 18:37; 1 Petrus 2:21). Maar Jesus en ander getroues het hulle lewe afgelê en as martelare vir hulle geloof gesterf. Beteken dit dat alle Christene kan verwag om vir hulle geloof te sterf?
2. Hoe beskou Christene beproewinge en lyding?
2 As Christene word ons aangespoor om tot die dood getrou te bly, nie noodwendig om vir ons geloof te sterf nie (2 Timoteus 4:7; Openbaring 2:10). Dit beteken dat ons bereid is om te ly—en indien nodig te sterf—vir ons geloof, maar ons verlustig ons nie in die gedagte nie. Ons skep geen behae in lyding nie, en pyn of vernedering is nie vir ons aangenaam nie. Maar aangesien ons beproewinge en vervolging te wagte kan wees, moet ons goed nadink oor hoe ons gaan optree wanneer dit wel oor ons kom.
Getrou tydens beproewing
3. Watter Bybelse voorbeelde kan jy meld wat toon hoe ’n mens tydens vervolging kan optree? (Sien die venster “Hoe hulle tydens vervolging opgetree het”, op die volgende bladsy.)
3 In die Bybel vind ons baie verslae wat toon hoe knegte van God in die verlede gereageer het toe hulle voor lewensgevaarlike situasies te staan gekom het. Die verskillende maniere waarop hulle gereageer het, voorsien riglyne vir hedendaagse Christene as hulle ooit voor soortgelyke beproewinge te staan sou kom. Beskou die verslae in die venster “Hoe hulle tydens vervolging opgetree het”, en kyk wat jy daaruit kan leer.
4. Hoe het Jesus en ander getroue knegte gereageer toe hulle beproewinge deurgemaak het?
4 Hoewel Jesus en ander getroue knegte van God, na gelang van die omstandighede, verskillend op vervolging gereageer het, is dit duidelik dat hulle hulle lewe nie onnodig in gevaar gestel het nie. Wanneer hulle in gevaarlike situasies verkeer het, was hulle moedig, dog versigtig (Matteus 10:16, 23). Hulle doelwit was om die predikingswerk te bevorder en hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf. Hulle reaksie in verskillende situasies voorsien voorbeelde vir Christene wat vandag voor beproewinge en vervolging te staan kom.
5. Watter vervolging het in die 1960’s in Malawi uitgebreek, en hoe het die Getuies daar gereageer?
5 In hedendaagse tye het Jehovah se volk dikwels verskriklike ontberinge en verliese gely weens oorloë, verbooie of direkte vervolging. In die 1960’s is Jehovah se Getuies in Malawi byvoorbeeld wreed vervolg. Hulle Koninkryksale, huise, kosvoorraad en besighede—feitlik alles wat hulle besit het—is vernietig. Hulle is geslaan en het ander angswekkende ondervindinge deurgemaak. Hoe het die broers gereageer? Duisende moes uit hulle dorpies vlug. Baie het skuiling in die bos gevind, terwyl ander ’n tydelike heenkome in die naburige Mosambiek gevind het. Talle getroues het hulle lewe verloor; ander het weer verkies om uit die gevaargebied te vlug, wat moontlik ’n redelike besluit onder daardie omstandighede was. Sodoende het die broers die presedent gevolg wat Jesus en Paulus gestel het.
6. Wat het die Getuies in Malawi, ten spyte van wrede vervolging, nie nagelaat om te doen nie?
6 Al moes die broers in Malawi wegtrek of in die bos wegkruip, het hulle teokratiese riglyne gevra en gevolg, en hulle het hulle Christelike bedrywighede na die beste van hulle vermoë ondergronds voortgesit. Die gevolg? Net voor die verbod in 1967 het hulle ’n hoogtepunt van 18 519 Koninkryksverkondigers bereik. Al was die verbod nog van krag en het baie na Mosambiek gevlug, het hulle teen 1972 ’n nuwe hoogtepunt van 23 398 verkondigers gerapporteer. Hulle het elke maand ’n gemiddelde van meer as 16 uur in die bediening deurgebring. Hulle dade het Jehovah ongetwyfeld tot eer gestrek, en Jehovah se seën het gedurende daardie uiters moeilike tyd op hierdie getroue broers gerus.a
7, 8. Om watter redes verkies party om nie te vlug nie, al veroorsaak teenstand probleme vir hulle?
7 Aan die ander kant besluit party broers dalk om nie te vlug uit ’n land waar teenstand probleme veroorsaak nie, al kan hulle dit ook doen. Om weg te trek, sal moontlik party probleme oplos, maar dit sal waarskynlik ander probleme skep. Sal hulle byvoorbeeld noue omgang met die Christenbroederskap kan behou en nie geestelik afgesonder wees nie? Sal hulle by hulle geestelike roetine kan bly terwyl hulle sukkel om weer hulle voete te vind, dalk in ’n welvarender land of een wat meer geleenthede vir materiële voorspoed bied?—1 Timoteus 6:9.
8 Ander verkies om nie weg te trek nie omdat hulle besorg is oor die geestelike welsyn van hulle broers. Hulle verkies om te bly en die situasie te verduur sodat hulle met die predikingswerk in hulle tuisgebied kan voortgaan en hulle medeaanbidders kan aanmoedig (Filippense 1:14). Weens hierdie besluit kon party selfs help om regsoorwinnings in hulle land te behaal.b
9. Watter faktore moet iemand oorweeg voordat hy besluit of hy sal bly of wegtrek tydens vervolging?
9 Om te bly of weg te trek—dit is beslis ’n persoonlike besluit. Sulke besluite moet natuurlik eers geneem word nadat ons Jehovah biddend om sy leiding gevra het. Ons moet egter, ongeag watter keuse ons maak, die apostel Paulus se woorde in gedagte hou: “Elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee” (Romeine 14:12). Wat Jehovah van elkeen van sy knegte verwag, soos vroeër gemeld is, is dat hulle onder alle omstandighede getrou bly. Party van sy knegte het vandag met beproewinge en vervolging te kampe; ander sal dit dalk later ondervind. Almal sal op die een of ander manier beproef word, en niemand moet verwag dat hy dit gaan vryspring nie (Johannes 15:19, 20). As toegewyde knegte van Jehovah kan ons nie die universele geskil oor die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit vermy nie.—Esegiël 38:23; Matteus 6:9, 10.
“Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie”
10. Watter belangrike presedent het Jesus en die apostels vir ons gestel oor hoe ons op druk en teenstand moet reageer?
10 Nog ’n belangrike beginsel wat ons kan leer uit die manier waarop Jesus en die apostels onder druk gereageer het, is om nooit ons vervolgers met gelyke munt terug te betaal nie. Nêrens in die Bybel vind ons enige aanduiding dat Jesus of sy volgelinge die een of ander versetbeweging georganiseer het of geweld gebruik het om teen hulle vervolgers te veg nie. Inteendeel, die apostel Paulus het Christene gemaan: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’” Wat meer is, “moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin”.—Romeine 12:17-21; Psalm 37:1-4; Spreuke 20:22.
11. Wat sê ’n geskiedskrywer oor die vroeë Christene se gesindheid teenoor die Staat?
11 Die vroeë Christene het daardie raad ter harte geneem. In sy boek The Early Church and the World beskryf die geskiedskrywer Cecil J. Cadoux die Christene se gesindheid teenoor die Staat gedurende die tydperk 30-70 G.J. Hy skryf: “Ons het geen regstreekse bewyse dat die Christene van hierdie tydperk ooit enige poging aangewend het om hulle met geweld teen vervolging te verset nie. Die verste wat hulle in hierdie opsig gaan, is om met ’n vurige veroordeling teen hulle heersers uit te vaar of om hulle te uitoorlê deur te vlug. Maar die gewone reaksie van Christene op vervolging het niks verder gestrek nie as ’n kalm maar besliste weiering om daardie bevele van die regering te gehoorsaam wat volgens hulle met gehoorsaamheid aan Christus gebots het.”
12. Waarom is dit beter om lyding te verduur as om met gelyke munt terug te betaal?
12 Is so ’n oënskynlik passiewe handelswyse werklik prakties? Sal mense wat so reageer nie ’n maklike prooi wees vir dié wat vasbeslote is om hulle uit te wis nie? Sal dit nie wys wees om jou te verdedig nie? Uit ’n menslike oogpunt kan dit so lyk. Maar as knegte van Jehovah is ons vol vertroue dat dit die beste is om Jehovah se leiding in alle sake te volg. Ons hou Petrus se woorde in gedagte: “As julle, wanneer julle goed doen en ly, dit verduur, is dit iets welgevalligs by God” (1 Petrus 2:20). Ons is vol vertroue dat Jehovah heeltemal bewus is van die situasie en nie sal toelaat dat sake vir altyd so voortduur nie. Hoe kan ons daarvan seker wees? Jehovah het vir sy volk wat in ballingskap in Babilon was, gesê: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel” (Sagaria 2:8). Hoe lank sal enigiemand toelaat dat daar aan sy oogappel geraak word? Jehovah sal op die regte tyd verligting bring. Daaroor bestaan geen twyfel nie.—2 Tessalonisense 1:5-8.
13. Waarom het Jesus hom nie teëgesit toe sy vyande hom in hegtenis wou neem nie?
13 In hierdie verband kan ons na Jesus as ons voorbeeld kyk. Toe hy sy vyande toegelaat het om hom in die tuin van Getsemane in hegtenis te neem, was dit nie omdat hy hom nie kon verdedig nie. Trouens, hy het vir sy dissipels gesê: “Dink [julle] dat ek nie ’n beroep op my Vader kan doen om op hierdie oomblik meer as twaalf legioene engele aan my beskikbaar te stel nie? Hoe sou die Skrif dan vervul word dat dit so moet plaasvind?” (Matteus 26:53, 54). Die uitvoering van Jehovah se wil was vir Jesus van die allergrootste belang, selfs al het dit beteken dat hy moes ly. Hy het volle vertroue gehad in die woorde van die profetiese psalm van Dawid: “U sal my siel nie in Sjeool laat nie. U sal nie toelaat dat hy wat teenoor u lojaal is, die kuil sien nie” (Psalm 16:10). Jare later het die apostel Paulus van Jesus gesê: “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en het hy aan die regterhand van die troon van God gaan sit.”—Hebreërs 12:2.
Die vreugde om Jehovah se naam te heilig
14. Wat was die vreugde wat Jesus deur al sy beproewinge heen onderskraag het?
14 Wat was die vreugde wat Jesus deur die kwaaiste beproewing denkbaar onderskraag het? Van al Jehovah se knegte was Jesus, God se geliefde Seun, beslis Satan se vernaamste teiken. Deur sy onkreukbaarheid tydens beproewing te handhaaf, sou Jesus dus die kragtigste antwoord voorsien op die uittarting wat Satan teen Jehovah gerig het (Spreuke 27:11). Stel jou net Jesus se vreugde en tevredenheid voor toe hy opgewek is. Hoe gelukkig moes hy tog gewees het toe hy besef dat hy die rol vervul het wat hy as ’n volmaakte man moes speel in die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die heiliging van Sy naam! En om “aan die regterhand van die troon van God” te sit, is ongetwyfeld vir Jesus ’n wonderlike eer en die grootste bron van vreugde.—Psalm 110:1, 2; 1 Timoteus 6:15, 16.
15, 16. Watter verskriklike vervolging het die Getuies in Sachsenhausen verduur, en wat het hulle die krag gegee om dit te doen?
15 Dit is ook vir Christene ’n vreugde om deel te hê aan die heiliging van Jehovah se naam deur in navolging van Jesus tydens beproewinge en vervolging te volhard. ’n Voorbeeld hiervan is die ondervinding van die Getuies wat in die berugte Sachsenhausen-konsentrasiekamp gely en die moordende doodsmars aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog oorleef het. Gedurende die mars het duisende gevangenes weens blootstelling, siekte of honger gesterf of het die SS-wagte hulle koelbloedig tereggestel langs die pad. Die Getuies, al 230 van hulle, het dit oorleef deur bymekaar te bly en mekaar te help, al het dit hulle eie lewe in gevaar gestel.
16 Wat het hierdie Getuies die krag gegee om te volhard tydens sulke verskriklike vervolging? Toe hulle veiligheid bereik, het hulle hulle vreugde en dankbaarheid teenoor Jehovah uitgedruk in ’n dokument met die titel “Die resolusie van 230 Getuies van Jehovah uit ses nasies, wat byeen is in ’n woud naby Schwerin in Mecklenburg”. Daarin het hulle gesê: “’n Lang, moeilike tydperk van beproewing is agter die rug en dié wat bewaar is, wat as ’t ware uit die vuuroond geruk is, het nie eens die reuk van die vuur aan hulle nie. (Sien Daniël 3:27.) Inteendeel, hulle is vol sterkte en krag van Jehovah en wag gretig op nuwe bevele van die Koning om Teokratiese belange te bevorder.”c
17. Voor watter beproewinge kom God se volk vandag te staan?
17 Soos daardie 230 getroues word ons geloof dalk ook getoets, al het ons nog nie “tot bloedens toe weerstand gebied nie” (Hebreërs 12:4). Beproewing kan egter verskillende vorme aanneem. Dit kan bespotting deur klasmaats wees of portuurdruk om ons aan onsedelikheid of ander oortredings skuldig te maak. Ook ons besluit om ons van bloed te onthou of om net in die Here te trou of om in ’n verdeelde huisgesin kinders in die geloof op te voed, kan soms tot hewige druk en beproewinge lei.—Handelinge 15:29; 1 Korintiërs 7:39; Efesiërs 6:4; 1 Petrus 3:1, 2.
18. Watter versekering het ons dat ons selfs tydens die moeilikste beproewinge kan volhard?
18 Maar ongeag watter beproewing oor ons kom, ons weet dat ons ly omdat ons Jehovah en sy Koninkryk eerste stel, en ons beskou dit as ’n groot voorreg en vreugde om dit te doen. Petrus se gerusstellende woorde gee ons moed: “As julle vir die naam van Christus gesmaad word, is julle gelukkig, omdat die gees van heerlikheid, ja, die gees van God, op julle rus” (1 Petrus 4:14). Jehovah se gees gee ons die krag om selfs die moeilikste beproewinge te verduur, alles tot sy lof en eer.—2 Korintiërs 4:7; Efesiërs 3:16; Filippense 4:13.
[Voetnote]
a Die gebeure van die 1960’s was maar net die begin van ’n reeks vlae van wrede en moorddadige vervolging wat die Getuies in Malawi bykans drie dekades lank moes verduur. Sien die 1999 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 171-212, vir ’n volledige verslag hieroor.
b Sien die artikel “Hooggeregshof bevestig ware aanbidding in ‘die land Ararat’”, in Die Wagtoring van 1 April 2003, bladsye 11-14.
c Sien die 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 208-9, vir die volledige resolusie. Die lewensverhaal van iemand wat die mars oorleef het, het in Die Wagtoring van 1 Januarie 1998, bladsye 25-9, verskyn.
Kan jy verduidelik?
• Hoe beskou Christene lyding en vervolging?
• Wat kan ons leer uit die manier waarop Jesus en ander getroues tydens beproewinge gereageer het?
• Waarom is dit wys om nie met gelyke munt terug te betaal wanneer ons vervolg word nie?
• Watter vreugde het Jesus tydens sy beproewinge onderskraag, en wat kan ons hieruit leer?
[Venster/Prente op bladsy 15]
Hoe hulle tydens vervolging opgetree het
• Voordat Herodes se soldate in Betlehem aangekom het om al die seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak, het ’n engel Josef en Maria gewaarsku, en hulle het met die kindjie Jesus na Egipte gevlug.—Matteus 2:13-16.
• Verskeie kere gedurende Jesus se bediening het sy vyande hom probeer doodmaak weens die kragtige getuienis wat hy gegee het. Jesus het hulle elke keer ontglip.—Matteus 21:45, 46; Lukas 4:28-30; Johannes 8:57-59.
• Toe soldate en beamptes na die tuin van Getsemane gekom het om Jesus in hegtenis te neem, het hy hom openlik geïdentifiseer en twee keer vir hulle gesê: “Dit is ek.” Hy het selfs gekeer dat sy volgelinge enige weerstand bied en toegelaat dat die skare hom wegneem.—Johannes 18:3-12.
• In Jerusalem is Petrus en ander in hegtenis geneem, geslaan en beveel om op te hou om oor Jesus te spreek. Maar nadat hulle vrygelaat is, het hulle “weggegaan, . . . en hulle het elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak”.—Handelinge 5:40-42.
• Toe Saulus, wat later die apostel Paulus geword het, gehoor het dat die Jode in Damaskus ’n komplot gesmee het om hom om die lewe te bring, het die broers hom in ’n mandjie gesit en hom in die nag deur ’n opening in die stadsmuur laat sak, en hy het ontsnap.—Handelinge 9:22-25.
• Jare later het Paulus verkies om hom op die keiser te beroep, al het goewerneur Festus sowel as koning Agrippa gevind dat hy niks gedoen het “wat die dood of boeie verdien nie”.—Handelinge 25:10-12, 24-27; 26:30-32.
[Prente op bladsy 16, 17]
Al is duisende getroue Getuies in Malawi gedwing om weens wrede vervolging te vlug, het hulle vreugdevol voortgegaan met hulle Koninkryksdiens
[Prente op bladsy 17]
Die vreugde om Jehovah se naam te heilig, het hierdie getroues tydens die Nazi-doodsmars en in konsentrasiekampe onderskraag
[Erkenning]
Doodsmars: KZ-Gedenkstätte Dachau, courtesy of the USHMM Photo Archives
[Prente op bladsy 18]
Beproewinge en druk kan verskeie vorme aanneem