Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 12/15 bl. 4-8
  • Leer by Jesus se aardse familie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer by Jesus se aardse familie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Josef—’n regverdige man
  • Maria—’n onselfsugtige kneg van God
  • Jesus se broers—Verandering is moontlik
  • Hy het Goddelike leiding aanvaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Wat ons uit Maria se voorbeeld kan leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Hy het beskerm, voorsien en volhard
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Hy het beskerm, hy het voorsien, hy het volhard
    Volg hulle geloof na
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 12/15 bl. 4-8

Leer by Jesus se aardse familie

WAT weet jy van Jesus se naaste familie, diegene met wie hy die eerste 30 jaar van sy lewe op aarde, voor sy doop, deurgebring het? Wat vertel die Evangelieverslae ons? Wat kan ons leer deur sy familie van naderby te beskou? Jy kan by die antwoorde baat vind.

Was Jesus as ’t ware met ’n goue lepel in die mond gebore? Josef, sy pleegvader, was ’n timmerman. Dit was harde fisiese werk wat dikwels behels het dat bome vir timmerhout afgekap moes word. Toe Jesus se menseouers sowat 40 dae ná sy geboorte na Jerusalem toe gegaan het, het hulle ’n offerande gebring wat deur die Wet voorgeskryf is. Het hulle ’n ram saam met ’n tortelduif of ’n duif geoffer, soos die Wet bepaal het? Nee. Dit wil voorkom asof hulle nie sulke offers kon bekostig nie. Die Wet het egter voorsiening gemaak vir die armes. In ooreenstemming daarmee het Josef en Maria “’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe” geoffer. Die feit dat hulle die goedkoper diere gebring het, het getoon dat hulle ’n gesin met beperkte middele was.—Lukas 2:22-24; Levitikus 12:6, 8.

Jy kan sien dat Jesus Christus, die toekomstige Heerser van die ganse mensdom, gebore is onder nederige mense, onder diegene wat hard moes werk om die pot aan die kook te hou. Hy het ’n timmerman geword, net soos sy pleegvader (Matteus 13:55; Markus 6:3). “Hoewel [Jesus] ryk was” as ’n magtige geesskepsel in die hemel, sê die Bybel dat hy ter wille van ons “arm geword het”. Hy het ’n laer posisie as ’n mens aangeneem en in ’n familie van gewone mense grootgeword (2 Korintiërs 8:9; Filippense 2:5-9; Hebreërs 2:9). Jesus is nie in ’n welgestelde familie gebore nie, en dit sou sommige mense moontlik gehelp het om hulle met hom te vereenselwig. Hulle is nie deur sy status of posisie beïnvloed nie. Hulle kon hom beoordeel op grond van sy onderrigting, sy aantreklike eienskappe en sy wonderlike werke (Matteus 7:28, 29; 9:19-33; 11:28, 29). Die feit dat Jesus in ’n gewone familie gebore is, getuig van Jehovah God se wysheid.

Kom ons bespreek nou die lede van Jesus se familie en kyk wat ons by hulle kan leer.

Josef—’n regverdige man

Toe Josef uitvind dat sy verloofde swanger is nog “voordat hulle verenig is”, was hy ongetwyfeld verdeel tussen sy liefde vir Maria en sy weersin in iets wat na onsedelikheid kon gelyk het. Die hele situasie het oënskynlik inbreuk gemaak op sy reg as haar toekomstige man. In sy dag is ’n verloofde vrou soos ’n getroude vrou beskou. Nadat Josef die saak goed deurdink het, het hy besluit om in die geheim van Maria te skei sodat sy nie as ’n egbreekster gestenig sou word nie.—Matteus 1:18; Deuteronomium 22:23, 24.

Toe het ’n engel in ’n droom aan Josef verskyn en gesê: “Moenie bang wees om jou vrou Maria huis toe te neem nie, want wat in haar verwek is, is deur heilige gees. Sy sal geboorte gee aan ’n seun, en jy moet hom Jesus noem, want hy sal sy volk van hulle sondes red.” Nadat Josef daardie goddelike riglyne ontvang het, het hy daarvolgens opgetree en Maria huis toe geneem.—Matteus 1:20-24.

Met dié besluit het daardie regverdige en getroue man betrokke geraak by die vervulling van Jehovah se woorde deur die profeet Jesaja: “Kyk! Die jong vrou sal swanger word, en sy gee geboorte aan ’n seun, en sy sal hom beslis Immanuel noem” (Jesaja 7:14). Josef was ongetwyfeld ’n geestelike man wat die voorreg op prys gestel het om die pleegvader van die Messias te word, al sou Maria se eersgebore seun nie sy eie wees nie.

Josef het eers ná die geboorte van haar seun met Maria geslagsomgang gehad (Matteus 1:25). Vir die pasgetroude paartjie was dit sekerlik ’n uitdaging, maar hulle wou klaarblyklik nie hê dat daar enige misverstand moes bestaan oor wie die Vader van die baba was nie. Wat ’n wonderlike voorbeeld van selfbeheersing! Josef het geestelike waardes bo sy natuurlike begeertes gestel.

By vier geleenthede het engele aan Josef riglyne gegee oor die grootmaak van sy pleegseun. Drie keer was dit oor waar hy die seun moes grootmaak. Stipte gehoorsaamheid was lewensbelangrik vir die oorlewing van die kind. In elke geval het Josef onmiddellik opgetree en die jong kindjie eers na Egipte geneem en toe terug na Israel. Dit het die jong Jesus teen Herodes se slagting van die kindertjies beskerm. Josef se gehoorsaamheid het ook gelei tot die vervulling van profesieë aangaande die Messias.—Matteus 2:13-23.

Josef het Jesus ’n ambag geleer sodat hy vir homself kon sorg. Daarom het Jesus nie net as “die timmerman se seun” bekend gestaan nie, maar ook as “die timmerman” (Matteus 13:55; Markus 6:3). Die apostel Paulus het geskryf dat Jesus “in alle opsigte soos ons op die proef gestel is”. Dit sou natuurlik ook beteken het dat hy hard moes werk om die familie te help onderhou.—Hebreërs 4:15.

Laastens sien ons bewyse van Josef se toegewydheid aan ware aanbidding in die laaste episode waarin hy in die Christelike Griekse Geskrifte gemeld word. Josef het sy familie na Jerusalem geneem vir die Pasga. Hoewel daar slegs van mans verwag is om dit by te woon, was dit Josef se gewoonte om sy familie “van jaar tot jaar” na Jerusalem te neem. Hy het groot opofferings gemaak, want hulle moes sowat 100 kilometer van Nasaret na Jerusalem te voet aflê. Tydens die geleentheid waarvan die Skrif praat, het Jesus egter van die groep af weggeraak. Hulle het hom by die tempel gevind waar hy na die onderrigters van die Wet geluister en hulle uitgevra het. Hoewel hy maar net 12 jaar oud was, het Jesus groot wysheid en kennis van God se Woord geopenbaar. Uit hierdie voorval sien ons dat Jesus se ouers hom ongetwyfeld goed geleer het en hom as ’n geestelikgesinde seun grootgemaak het (Lukas 2:41-50). Josef het klaarblyklik die een of ander tyd hierna gesterf, aangesien daar in latere skriftuurlike verslae geen verdere melding van hom gemaak word nie.

Ja, Josef was ’n regverdige man wat goed na sy familie omgesien het, geestelik sowel as materieel. Stel jy, soos Josef, geestelike belange eerste in jou lewe wanneer jy onderskei wat God se wil vandag vir ons is? (1 Timoteus 2:4, 5). Gehoorsaam jy gewillig God se stem soos dit gehoor kan word wanneer ons die Woord van God lees, en toon jy sodoende onderdanigheid soos dié van Josef? Onderrig jy jou kinders sodat hulle betekenisvolle geestelike gesprekke met ander kan voer?

Maria—’n onselfsugtige kneg van God

Maria, Jesus se moeder, was ’n uitsonderlike kneg van God. Toe die engel Gabriël aankondig dat sy geboorte gaan gee, was sy verbaas. Sy was ’n maagd en het nog geen “gemeenskap met ’n man” gehad nie. Toe sy hoor dat die geboorte deur middel van die heilige gees sou plaasvind, het sy die boodskap nederig aanvaar en gesê: “Kyk! Jehovah se slavin! Mag dit met my gebeur volgens u verklaring” (Lukas 1:30-38). Sy het die geestelike voorreg so waardeer dat sy bereid was om enige ontbering te verduur wat haar besluit tot gevolg kon hê.

Ja, die opdrag wat sy aanvaar het, het haar hele lewe as ’n vrou verander. Toe sy vir haar reiniging na Jerusalem toe is, het ’n godvresende bejaarde man met die naam Simeon vir haar gesê: “Jou siel sal met ’n lang swaard deurboor word” (Lukas 2:25-35). Hy het klaarblyklik verwys na hoe Maria sou voel wanneer sy sien hoe Jesus deur baie verwerp en uiteindelik aan ’n folterpaal genael word.

Namate Jesus grootgeword het, het Maria gelet op die dinge wat in sy lewe gebeur, “terwyl sy in haar hart gevolgtrekkings gemaak het” (Lukas 2:19, 51). Soos Josef was sy ’n geestelike persoon en het sy die gebeure en woorde wat profesieë vervul het, in haar hart bewaar. Wat die engel Gabriël vir haar gesê het, het haar ongetwyfeld bygebly: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Lukas 1:32, 33). Ja, sy het die voorreg om die mensemoeder van die Messias te wees, ernstig opgeneem.

Maria se geestelikheid het weer duidelik na vore gekom toe sy Elisabet, ’n familielid van haar, besoek het wat ook wonderdadig swanger geraak het. Toe Maria haar sien, het sy Jehovah geloof en haar liefde vir die Woord van God geopenbaar. Sy het op Hanna se gebed gesinspeel wat in 1 Samuel hoofstuk 2 opgeteken is, en gedagtes uit ander boeke van die Hebreeuse Geskrifte ingesluit. Haar kennis van die Skrif het getoon dat sy bevoeg was om ’n toegewyde en godvresende moeder te wees. Sy sou met Josef saamwerk om haar seun geestelik op te voed.—Genesis 30:13; 1 Samuel 2:1-10; Maleagi 3:12; Lukas 1:46-55.

Maria het sterk geloof in haar seun as die Messias gehad, en dit het selfs ná Jesus se dood nie verswak nie. Kort ná sy opstanding was sy onder die getroue dissipels wat saam met die apostels bymekaargekom het om te bid (Handelinge 1:13, 14). Sy het getrou gebly ondanks die pyn wat sy deurgemaak het toe sy haar geliefde seun aan ’n folterpaal sien sterf het.

Hoe kan jy daarby baat vind deur van Maria se lewe te leer? Aanvaar jy die voorreg om God te dien ongeag die opofferinge wat daarby betrokke is? Besef jy hoe ernstig hierdie voorreg vandag is? Hou jy die dinge in gedagte wat Jesus voorspel het en vergelyk jy dit met wat vandag gebeur, ‘terwyl jy in jou hart gevolgtrekkings maak’? (Matteus, hoofstukke 24 en 25; Markus, hoofstuk 13; Lukas, hoofstuk 21). Volg jy Maria na deur goed vertroud te raak met die Woord van God en dit vryelik in jou gesprekke te gebruik? Sal jy jou geloof in Jesus handhaaf ondanks sielsangs wat jy dalk moet verduur omdat jy sy volgeling is?

Jesus se broers—Verandering is moontlik

Dit wil voorkom of Jesus se broers eers ná sy dood geloof in hom gestel het. Dit was waarskynlik geen toeval dat hulle nie teenwoordig was toe hy aan die folterpaal gesterf het en dat hy sy moeder aan die apostel Johannes moes toevertrou nie. Jesus se familielede het getoon dat hulle hom nie waardeer het nie, en hulle het selfs by een geleentheid gesê dat Jesus “van sy verstand af geraak” het (Markus 3:21). Aangesien Jesus ongelowige familielede gehad het, kan diegene wat vandag ongelowiges in hulle huisgesin het, vol vertroue wees dat Jesus verstaan hoe hulle voel wanneer familielede hulle oor hulle geloof spot.

Maar ná Jesus se opstanding het sy broers blykbaar geloof in hom begin beoefen. Hulle was in die groep wat voor Pinkster 33 G.J. in Jerusalem bymekaargekom het en vurig saam met die apostels gebid het (Handelinge 1:14). Dit is duidelik dat hulle halfbroer se opstanding hulle hartstoestand in so ’n mate verander het dat hulle sy dissipels geword het. Ons moet nooit moed opgee met familielede wat nie soos ons glo nie.

Jakobus, Jesus se halfbroer aan wie Hy persoonlik verskyn het, word in die Skrif uitgebeeld as iemand wat ’n uitsonderlike rol in die Christengemeente gespeel het. Hy het ’n goddelik geïnspireerde brief aan sy mede-Christene geskryf en hulle aangespoor om hulle geloof te behou (Handelinge 15:6-29; 1 Korintiërs 15:7; Galasiërs 1:18, 19; 2:9; Jakobus 1:1). Nog ’n halfbroer, Judas, het ’n geïnspireerde brief geskryf om medegelowiges aan te moedig om hard te stry vir die geloof (Judas 1). Dit is opmerkenswaardig dat nie Jakobus of Judas in hulle briewe die aandag op hulle vleeslike band met Jesus gevestig het om mede-Christene te oortuig nie. Wat ’n wonderlike les in beskeidenheid kan ons tog by hulle leer!

Wat is dus van die dinge wat ons by Jesus se familie leer? Beslis lesse in toegewydheid wat op die volgende maniere geopenbaar kan word: (1) Onderwerp jou getrou aan die geopenbaarde wil van God en wees bereid om al die beproewinge te verduur wat daarmee gepaardgaan. (2) Stel geestelike waardes eerste, al beteken dit dat jy opofferings moet maak. (3) Lei jou kinders op in ooreenstemming met die Skrif. (4) Moenie moed opgee met familielede wat nie soos jy glo nie. (5) Moenie spog oor enige verwantskap wat jy dalk met prominente mense in die Christengemeente het nie. Ja, om van Jesus se aardse familie te leer, bring ons nader aan hom en vergroot ons waardering vir die feit dat Jehovah ’n gewone familie gekies het om Jesus gedurende sy kinderjare op te voed.

[Prente op bladsy 4, 5]

Josef het Maria as sy vrou geneem en betrokke geraak by die vervulling van die Messiaanse profesieë

[Prente op bladsy 6]

Josef en Maria het hulle kinders geestelike waardes en die nut van harde werk geleer

[Prente op bladsy 7]

Hoewel Jesus se broers in ’n geestelike huisgesin grootgeword het, het hulle eers ná sy dood geloof in hom gestel

[Prente op bladsy 8]

Jesus se halfbroers Jakobus en Judas het mede-Christene aangemoedig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel