Bly kuis deur jou hart te bewaak
“Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”—SPREUKE 4:23.
1-3. (a) Hoe toon mense dikwels dat hulle nie waarde aan hulle kuisheid heg nie? Verduidelik. (b) Waarom is dit belangrik om die waarde van kuisheid te ondersoek?
DIE skildery het dalk outyds gelyk. Dit het moontlik nie gepas by die dekor van die huis nie. Hoe dit ook al sy, die eienaar wou dit klaarblyklik nie meer hê nie. Die skildery het op die ou end op ’n rommelverkoping beland, teen ’n prys van 29 Amerikaanse dollar. ’n Paar jaar later is daar egter uitgevind dat dit bykans ’n miljoen dollar werd is! Ja, in werklikheid was dit ’n seldsame meesterstuk. Stel jou voor hoe die vorige eienaar gevoel het, wat veels te min waarde aan hierdie skat geheg het!
2 Iets soortgelyks gebeur dikwels met kuisheid, ’n individu se sedelike reinheid, of vlekkeloosheid. Te veel mense heg vandag bitter min waarde aan hulle eie kuisheid. Party beskou dit as iets outyds, iets wat nie by ’n moderne lewenstyl pas nie. Hulle gee dit gevolglik sommer goedsmoeds prys. Party verruil hulle kuisheid vir ’n paar oomblikke van seksuele bevrediging. Ander offer dit op in die hoop dat hulle groter gewildheid sal verwerf onder hulle portuurs of by iemand van die teenoorgestelde geslag.—Spreuke 13:20.
3 Baie vind te laat uit hoe waardevol hulle kuisheid in werklikheid was. Dit is dikwels ’n tragiese verlies. Die nadraai van onsedelikheid kan, soos die Bybel dit stel, soos gif wees, “so bitter soos als” (Spreuke 5:3, 4). Hoe kan jy, met die oog op vandag se verdorwe sedelike klimaat, jou kuisheid koester en dit behou? Ons gaan kyk na drie verwante stappe wat ons kan neem.
Bewaak jou hart
4. Wat is die figuurlike hart, en waarom moet ons dit bewaak?
4 Die sleutel tot kuisheid is om jou hart te bewaak. Die Bybel sê: “Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Wat is “jou hart” waarna hier verwys word? Dit is nie die letterlike orgaan nie. Hierdie hart is figuurlik. Dit verwys na die persoon wat jy innerlik is, onder meer jou gedagtes, gevoelens en beweegredes. Die Bybel sê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag” (Deuteronomium 6:5). Jesus het dit die grootste gebod genoem (Markus 12:29, 30). Dit is duidelik dat hierdie hart van baie groot waarde vir ons is. Dit is die moeite werd om dit te bewaak.
5. Hoe kan die hart waardevol en terselfdertyd gevaarlik wees?
5 Maar die Bybel sê ook: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat” (Jeremia 17:9). Hoe kan die hart verraderlik—’n gevaar vir ons—wees? Wel, neem byvoorbeeld ’n motor: dit kan baie waardevol vir ’n mens wees, dit kan selfs ’n lewe red in ’n noodgeval. Maar as die bestuurder die motor nie beheer deur dit heeltyd in die regte rigting te stuur nie, kan daardie selfde motor maklik ’n dodelike wapen word. Net so sal ’n mens, as jy nie jou hart bewaak nie, aan elke innerlike begeerte en drang toegee, en jou lewe sal op rampspoed afstuur. God se Woord sê: “Hy wat op sy eie hart vertrou, is dwaas, maar hy wat in wysheid wandel, sal ontkom” (Spreuke 28:26). Ja, jy kan in wysheid wandel en aan rampspoed ontkom as jy God se Woord gebruik om jou te lei, soos jy ’n padkaart sal raadpleeg voordat jy op reis gaan.—Psalm 119:105.
6, 7. (a) Wat is heiligheid, en waarom is dit belangrik vir knegte van Jehovah? (b) Hoe weet ons dat onvolmaakte mense Jehovah se heiligheid kan weerspieël?
6 Ons hart sal nie van nature tot kuisheid geneig wees nie. Ons moet dit in daardie rigting stuur. Een manier waarop ons dit kan doen, is om na te dink oor hoe waardevol kuisheid werklik is. Hierdie eienskap is nou verbonde aan heiligheid, wat dui op reinheid, vlekkeloosheid, afgeskeidenheid van sonde. Heiligheid is ’n kosbare eienskap wat deel vorm van die wese van Jehovah God. Honderde Bybelverse verbind hierdie eienskap met Jehovah. Trouens, die Bybel sê: “Heiligheid behoort aan Jehovah” (Eksodus 28:36). Maar hoe raak hierdie verhewe eienskap ons as onvolmaakte mense?
7 In sy Woord sê Jehovah vir ons: “Julle moet heilig wees, want ek is heilig” (1 Petrus 1:16). Ja, ons kan Jehovah se heiligheid navolg; ons kan rein voor hom wees en kuis bly. Wanneer ons dus onrein, besoedelende dade vermy, streef ons na ’n verhewe, wonderlike voorreg—naamlik om ’n pragtige eienskap van die Allerhoogste God te weerspieël! (Efesiërs 5:1). Ons moenie dink dat dit buite ons bereik is nie, want Jehovah is ’n wyse en redelike Heer wat nooit meer van ons vereis as wat ons kan doen nie (Psalm 103:13, 14; Jakobus 3:17). Dit verg weliswaar inspanning om geestelik en sedelik kuis te bly. Maar die apostel Paulus het getoon dat “opregtheid en . . . kuisheid . . . die Christus toekom” (2 Korintiërs 11:3). Is ons dit nie aan Christus en sy Vader verskuldig om ons bes te doen om kuis te bly nie? Hulle het immers meer liefde aan ons betoon as wat ons ooit sal kan terugbetaal (Johannes 3:16; 15:13). Dit is vir ons ’n voorreg om ons dankbaarheid te toon deur ’n rein, sedelike lewe te lei. As ons kuisheid só beskou, sal dit vir ons iets kosbaars wees, en ons sal ons hart bewaak.
8. (a) Hoe kan ons ons figuurlike hart voed? (b) Wat kan ons gesprekke oor ons openbaar?
8 Ons bewaak ook ons hart deur die manier waarop ons ons geestelik voed. Ons moet gereeld heilsame geestelike voedsel in ons verstand en hart inneem en ons gedagtes gerig hou op die goeie nuus van God se Koninkryk (Kolossense 3:2). Selfs ons gesprekke moet toon dat dit vir ons belangrik is. As ons daarvoor bekend is dat ons oor vleeslike, onsedelike onderwerpe praat, openbaar dit iets oor die toestand van ons hart (Lukas 6:45). Laat ons eerder daarvoor bekend wees dat ons oor geestelike en opbouende dinge praat (Efesiërs 5:3). Om ons hart te bewaak, is daar ook ernstige gevare wat ons moet vermy. Kom ons bespreek twee hiervan.
Vlug vir die hoerery
9-11. (a) Waarom loop diegene wat die raad in 1 Korintiërs 6:18 ignoreer, groter gevaar om betrokke te raak by ernstige onsedelikheid? Lig toe. (b) Wat sal ons vermy as ons vlug vir die hoerery? (c) Watter goeie voorbeeld het die getroue man Job vir ons gestel?
9 Jehovah het die apostel Paulus geïnspireer om raad neer te skryf wat baie al gehelp het om hulle hart te bewaak en kuis te bly. Paulus het gesê: “Vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). Let daarop dat hy verder gegaan het as om bloot te sê: “Vermy hoerery.” Christene moet meer doen. Hulle moet wegvlug van sulke onsedelike dade, net soos hulle sal weghardloop van iets wat hulle lewe in gevaar stel. As ons hierdie raad ignoreer, loop ons groter gevaar om betrokke te raak by ernstige onsedelikheid en om God se guns te verloor.
10 Ter toeligting: ’n Moeder het haar seuntjie gebad en aangetrek vir ’n belangrike geleentheid. Hy vra of hy buite kan speel totdat die gesin vertrek, en sy stem in—op een voorwaarde. Sy sê: “Jy gaan nie naby die modderpoel daarbuite nie. As jy vol modder word, gaan jy les opsê.” Binne minute sien sy egter hoe haar seuntjie dit tot op die rand van die poel waag. Hy is nie vol modder nie—altans nog nie. Maar hy ignoreer haar waarskuwing om nie naby die modderpoel te gaan nie, en moeilikheid is sy voorland (Spreuke 22:15). Talle jongmense en volwassenes wat van beter behoort te weet, begaan ’n soortgelyke fout. Hoe so?
11 In hierdie tye waarin soveel mense toegee “aan skandelike geslagsdrifte”, het ’n hele industrie ontstaan wat om die bevordering van ongeoorloofde geslagsomgang draai (Romeine 1:26, 27). Die pornografieplaag woeker voort in tydskrifte, boeke, video’s en op die Internet. Diegene wat besluit om sulke beelde in hulle verstand in te neem, vlug beslis nie vir die hoerery nie. Hulle speel daarmee, waag dit al hoe nader aan die rand daarvan en verontagsaam die Bybel se waarskuwing. In plaas van hulle hart te bewaak, vergiftig hulle dit met helder beelde wat jare kan neem om te vervaag (Spreuke 6:27). Kom ons leer by getroue Job, wat ’n verbond—’n formele ooreenkoms—met sy oë gesluit het om hulle nie bloot te stel aan dinge wat hom net in die versoeking sou bring om kwaad te doen nie (Job 31:1). Dit is beslis ’n voorbeeld om na te volg!
12. Hoe kan Christenpaartjies tydens hulle hofmakery “vlug vir die hoerery”?
12 Dit is veral tydens hofmakery noodsaaklik om te “vlug vir die hoerery”. Hierdie tydperk moet vreugdevol wees, vol hoop en afwagting, maar sommige jong paartjies bederf dit deur met onsedelikheid te speel. Sodoende ontneem hulle mekaar van die beste grondslag vir ’n goeie huwelik—’n verhouding wat op onselfsugtige liefde, selfbeheersing en gehoorsaamheid aan Jehovah God gegrond is. Een Christenpaartjie het hulle tydens hulle hofmakery aan onsedelike gedrag skuldig gemaak. Ná hulle troue het die vrou erken dat haar gewete haar gekwel het en dat dit selfs die vreugde van haar troudag bederf het. Sy erken: “Ek het Jehovah al dikwels om vergifnis gevra, maar al het sewe jaar reeds verloop, pla my gewete my nog steeds.” Dit is belangrik dat diegene wat sulke sondes pleeg, die hulp van Christen- ouer manne vra (Jakobus 5:14, 15). Baie Christenpaartjies tree egter verstandig op en vermy hierdie gevare tydens hulle hofmakery (Spreuke 22:3). Hulle beperk hulle liefdesblyke teenoor mekaar. Hulle neem ’n chaperone saam en sorg dat hulle nie alleen op afgesonderde plekke is nie.
13. Waarom moet Christene dit vermy om iemand die hof te maak wat Jehovah nie dien nie?
13 Christene wat persone die hof maak wat Jehovah nie dien nie, kan voor groot probleme te staan kom. Hoe kan ’n mens byvoorbeeld ’n verhouding aanknoop met iemand wat Jehovah God nie liefhet nie? Dit is lewensbelangrik dat Christene hulle slegs verbind aan diegene wat Jehovah liefhet en sy standaarde van kuisheid respekteer. God se Woord sê vir ons: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie. Want watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis?”—2 Korintiërs 6:14.
14, 15. (a) Watter verkeerde beskouing het sommige oor die betekenis van “hoerery”? (b) Watter soort dade word as “hoerery” geklassifiseer, en hoe kan Christene “vlug vir die hoerery”?
14 Kennis is ook noodsaaklik. Ons kan nie vir die hoerery vlug, as ons nie werklik weet wat dit is nie. In vandag se wêreld het party ’n verkeerde idee gekry oor wat “hoerery” beteken. Hulle dink dat hulle hulle seksuele drange buite die huwelik kan bevredig, solank hulle net nie geslagsomgang het nie. Selfs sommige gerespekteerde gesondheidsinstansies wat die aantal ongewenste tienerswangerskappe probeer verminder, spoor jongmense aan om alternatiewe seksuele gebruike te beoefen wat nie tot swangerskap lei nie. Sulke raad is heeltemal misplaas. Om kuis te bly, beteken nie bloot dat ’n mens ’n buite-egtelike swangerskap vermy nie, en die werklike definisie van “hoerery” is nie so beperk nie.
15 Die Griekse woord por·neiʹa, wat met “hoerery” vertaal word, het ’n redelike breë betekenis. Dit verwys na geslagsomgang tussen persone wat nie met mekaar getroud is nie en dui op die misbruik van die geslagsorgane. Por·neiʹa sluit dade in soos orale seks, anale seks en die streling van ’n ander persoon se geslagsorgane—dade wat gewoonlik met bordele vereenselwig word. Mense wat dink dat sulke dade nie “hoerery” is nie, bedrieg hulleself en het in een van Satan se strikke beland (2 Timoteus 2:26). Wat meer is, om kuis te bly, beteken nie net dat ’n mens enige daad vermy wat as hoerery geklassifiseer word nie. Om te “vlug vir die hoerery”, beteken dat ons alle vorme van seksuele onreinheid en losbandige gedrag vermy wat die growwe sonde van por·neiʹa tot gevolg kan hê (Efesiërs 4:19). So bly ons kuis.
Vermy die gevare van flankeerdery
16. Wanneer is romantiese gedrag gepas, en watter skriftuurlike voorbeeld lig dit toe?
16 Flankeerdery is nog ’n gevaar waarteen ons moet waak as ons kuis wil bly. Party hou dalk vol dat flankeerdery onskuldige, onskadelike pret tussen lede van die teenoorgestelde geslag is. Daar is wel ’n tyd en ’n plek vir romantiese gedrag. Toe Isak en Rebekka ’n “aangename tyd” saam gehad het, was dit duidelik vir omstanders dat hulle nie bloot broer en suster was nie (Genesis 26:7-9). Maar hulle was man en vrou. Liefdesblyke tussen hulle was gepas. Flankeerdery is ’n heel ander saak.
17. Wat is flankeerdery, en hoe kan die probleem beheer word?
17 Flankeerdery kan so gedefinieer word: die betoning van romantiese belangstelling sonder om werklik van plan te wees om te trou. Mense is ingewikkelde wesens, en daarom is daar ongetwyfeld tallose maniere waarop hulle kan flankeer, waarvan party baie subtiel is (Spreuke 30:18, 19). Vaste reëls oor die saak is dus nie werklik die oplossing nie. Iets verhewener is eerder nodig—eerlike selfondersoek en die pligsgetroue toepassing van Bybelbeginsels.
18. Wat beweeg sommige om te flankeer, en waarom is flankeerdery skadelik?
18 As ons eerlik met onsself is, sal die meeste van ons waarskynlik moet erken dat ons gevlei voel wanneer ons agterkom dat iemand van die teenoorgestelde geslag ’n romantiese belangstelling in ons het. Dit is natuurlik. Maar flankeer ons om sulke belangstelling op te wek—net om ons ego so bietjie te streel of om so ’n reaksie by ’n ander persoon te laat ontstaan? Indien wel, het ons al gedink aan die pyn wat ons kan veroorsaak? Spreuke 13:12 sê byvoorbeeld: “’n Uitgestelde verwagting maak die hart siek.” As ons doelbewus met iemand flankeer, weet ons waarskynlik nie presies hoe daardie persoon voel nie. Hy of sy kan verwagtinge begin koester oor ’n hofmakery en uiteindelik selfs ’n huwelik. Die teleurstelling wat hierop volg, kan verpletterend wees (Spreuke 18:14). Dit is wreed om opsetlik met ander se gevoelens te speel.
19. Hoe kan flankeerdery Christenhuwelike in gevaar stel?
19 Dit is veral belangrik dat getroude mense teen flankeerdery waak. Om romantiese belangstelling in ’n getroude persoon te toon—of vir ’n getroude persoon om sulke belangstelling in iemand buite die huweliksband te toon—is verkeerd. Ongelukkig het party Christene verkeerdelik gedink dat hulle maar romantiese gevoelens kan koester vir iemand van die teenoorgestelde geslag wat nie hulle huweliksmaat is nie. Party maak hulle diepste gevoelens aan so ’n “vriend” bekend en onthul selfs vertroulike gedagtes wat hulle nie eers aan hulle maat meedeel nie. As gevolg hiervan het romantiese gevoelens tot emosionele afhanklikheid gelei wat ’n huwelik kan ondermyn en selfs kan vernietig. Getroude Christene moet Jesus se wyse waarskuwing oor egbreuk onthou—dit begin in die hart (Matteus 5:28). Laat ons derhalwe ons hart bewaak en situasies vermy wat sulke skadelike gevolge kan hê.
20. Hoe moet ons vasbeslote wees om ons kuisheid te beskou?
20 Dit is weliswaar nie maklik om kuis te bly in vandag se onsedelike wêreld nie. Maar onthou dat dit baie makliker is om kuis te bly as om jou kuisheid terug te kry as jy dit eers verloor het. Jehovah kan natuurlik “ryklik vergewe” en kan diegene reinig wat waarlik berouvol is oor hulle sondes (Jesaja 55:7). Maar Jehovah beskerm nie diegene wat hulle aan onsedelikheid skuldig maak teen die gevolge van hulle dade nie. Die gevolge kan jare lank, selfs lewenslank, voortduur (2 Samuel 12:9-12). Doen dus alles in jou vermoë om kuis te bly deur jou hart te bewaak. Beskou jou reinheid en kuisheid voor Jehovah God as ’n kosbare skat—en moet dit nooit prysgee nie!
Hoe sal jy antwoord?
• Wat is kuisheid, en waarom is dit so belangrik?
• Hoe kan ons ons hart bewaak?
• Wat behels dit om te vlug vir die hoerery?
• Waarom moet ons flankeerdery vermy?
[Prent op bladsy 11]
’n Motor kan gevaarlik wees as dit nie behoorlik gestuur word nie
[Prente op bladsy 12]
Wat kan gebeur as ons waarskuwings ignoreer?
[Prent op bladsy 13]
’n Kuis hofmakery lei tot vreugde en vereer God