Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 5/15 bl. 8-9
  • “Laat die riviere hulle hande klap”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Laat die riviere hulle hande klap”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Soortgelyke materiaal
  • Waar die krisis ernstiger is
    Ontwaak!—1997
  • Wat sê die Bybel oor die wêreldwye waterkrisis?
    Nog onderwerpe
  • Wees dankbaar vir die reën
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die verhaal van twee riviere
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 5/15 bl. 8-9

Die prag van Jehovah se skepping

“Laat die riviere hulle hande klap”

AS JY na ’n landkaart kyk, sal jy op die meeste plekke lyne sien wat oor die verskillende landmassas kronkel. Hulle loop deur vlaktes, woestyne en graslande. Hulle vind hulle weg deur valleie, canyons en woude (Habakuk 3:9). Dit is riviere, ons planeet se lewensare. Hierdie waterstrome getuig van die wysheid en krag van die aarde se Skepper, Jehovah. Wanneer ons daarna kyk, voel ons soos die psalmis wat gesing het: “Laat die riviere hulle hande klap; laat die berge tesame met vreugde uitroep voor Jehovah.”—Psalm 98:8, 9.a

Riviere het nog altyd ’n belangrike rol in die mensegeskiedenis gespeel. Die Bybel praat van vier vername riviere, vertakkings van ’n rivier wat uit Eden gevloei het (Genesis 2:10-14). Een van die vroegste beskawings het ontstaan in die vrugbare valleie van die Tigris- en die Eufraatriviere in die Midde-Ooste. Groot beskawings kon ontwikkel weens die Hwang-rivier in China, die Ganges en die Indus in suidelike Asië en die Nyl in Egipte.

Dit is dus geen wonder dat die mens nog altyd die mag, die grootheid en die prag van riviere bewonder het nie. Die Nyl van Egipte is ongeveer 6 670 kilometer lank. Die grootste rivier is die Amasone in Suid-Amerika. Terwyl sommige riviere ontsagwekkend is, is ander weer baie mooi, soos die veel kleiner maar snelvloeiende Tone-rivier in Japan.

Wat laat ’n rivier vloei? Kortom, swaartekrag. Dit is swaartekrag wat water van ’n hoër na ’n laer ligging trek. Soms is die gevolg donderende watervalle. Die Bybel beskryf hierdie vertonings van krag en prag soos volg: “Die riviere het verhef, o Jehovah, die riviere het hulle gebruis verhef; die riviere hou aan om hulle gedreun te verhef.”—Psalm 93:3.

“Wie stuur die stortreën uit?” het Jehovah die godvresende man Job gevra (Job 38:25, Contemporary English Version). Ja, waar kom al die water vandaan? Die antwoord lê opgesluit in ’n ingewikkelde stelsel wat die waterkringloop genoem word. Weens energie van die son sowel as swaartekrag sirkuleer die aarde se water voortdurend. Nadat water verdamp, styg dit op in die atmosfeer. Later koel dit af en kondenseer dit om wolke te vorm. Mettertyd keer hierdie waterdamp terug na die aarde in die vorm van sneeu of reën. Baie van die water word in oseane, mere, riviere, gletsers, yslae in poolstreke en onder die grond aangetref.

Die Bybel sê aangaande hierdie merkwaardige kringloop: “Al die winterstrome gaan uit na die see; tog is die see nie vol nie. Na die plek waar die winterstrome uitgaan, daarheen keer hulle terug om uit te gaan” (Prediker 1:7). Net Jehovah, die God van oneindige wysheid en liefdevolle sorg, kon so ’n kringloop in werking gestel het. En wat vertel hierdie meesterlike ontwerp ons van die soort persoon wat God is? Dat hy ’n God van groot wysheid en liefdevolle sorg is.—Psalm 104:13-15, 24, 25; Spreuke 3:19, 20.

Ondanks die getal en grootte van riviere, bevat hulle baie min van die wêreld se varswater. Nietemin is hulle onontbeerlik vir lewe. “Sonder toegang tot en ’n mate van beheer oor water, sou menselewe op sy eenvoudigste en in sy mees komplekse vorm onmoontlik wees”, sê die boek Water. “Die geskiedenis van die mens se reaksie op daardie feit is grotendeels die geskiedenis van die beskawing.”

Duisende jare lank al les riviere die mens se dors en voorsien dit water vir sy tuine. Die vrugbare grond langs baie riviere is ideaal vir die verbouing van gewasse. Let op hoe hierdie gedagte na vore kom in ’n seën wat oor Jehovah se knegte uitgespreek is: “Hoe mooi is jou tente, o Jakob, jou wonings, o Israel! Soos stroomvalleie het hulle hulle ver uitgestrek, soos tuine by die rivier. Soos aalwynplante wat Jehovah geplant het, soos seders by die waters” (Numeri 24:5, 6). Riviere help ook om dierelewe te onderhou, soos die eende en die jakkals op hierdie foto’s. Trouens, hoe meer ons omtrent riviere leer, hoe meer rede vind ons om Jehovah te dank.

[Voetnoot]

a Sien die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2004, Mei/Junie.

[Venster/Prent op bladsy 8]

Die Iguaçú-waterval, op die grens tussen Argentinië en Brasilië, is een van die breedste watervalle. Dit strek oor meer as drie kilometer van kant tot kant. Dit is geleë in ’n ongerepte tropiese woud en bestaan uit omtrent 300 kleiner watervalle. Gedurende die reënseisoen stort daar bykans 10 000 kubieke meter water elke sekonde oor hierdie watervalle.

[Prent op bladsy 9]

Tone-rivier, Japan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel