Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 6/1 bl. 24-28
  • Van donker kerkers na die switserse alpe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van donker kerkers na die switserse alpe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ontnugtering word vervang deur geloof
  • “Ek is nog maar net ’n seun”
  • Donker wolke van onverdraagsaamheid pak saam
  • In donker kerkers
  • Tyd vir belangrike besluite
  • Na die Switserse Alpe
  • Ons trek weer
  • God is my toevlug en sterkte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Ek wag geduldig op Jehovah van my jeug af
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • “Gee ons geloof wat nie sal kwyn”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Ons stryd om geestelik sterk te bly
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 6/1 bl. 24-28

Lewensverhaal

Van donker kerkers na die switserse alpe

SOOS VERTEL DEUR LOTHAR WALTHER

Nadat ek drie lange jare in die donker kerkers van Oos-Duitsland se Kommunistiese tronke deurgebring het, kon ek skaars wag om die wonderlike gevoel van vryheid en die hartlike assosiasie van my gesin te geniet.

EK WAS egter nie voorbereid op die verwarde uitdrukking op die gesig van my sesjarige seun Johannes nie. Gedurende die tweede helfte van sy lewe het hy sy pa nooit gesien nie. Vir hom was ek ’n volslae vreemdeling.

In teenstelling met my seun het ek die liefdevolle aandag van my ouers geniet. ’n Hartlike atmosfeer het geheers in ons huis in Chemnitz, Duitsland, waar ek in 1928 gebore is. My pa het geen geheim gemaak van sy ontevredenheid met godsdiens nie. Hy kon onthou dat “Christen”-soldate aan beide kante mekaar gedurende die Eerste Wêreldoorlog op 25 Desember ’n “Geseënde Kersfees” toegewens het en mekaar net die volgende dag weer begin doodmaak het. Vir hom was godsdiens die toppunt van huigelary.

Ontnugtering word vervang deur geloof

Gelukkig is ek daardie teleurstelling gespaar. Die Tweede Wêreldoorlog het geëindig toe ek 17 was, en ek het net-net diensplig vrygespring. Ek is nietemin gekwel deur verontrustende vrae soos: ‘Waarom al die bloedvergieting? Wie kan ek vertrou? Waar kan ek ware veiligheid vind?’ Oos-Duitsland, waar ons gewoon het, het onder Sowjetbeheer gekom. Die Kommunistiese ideale van geregtigheid, gelykheid, eenheid en vreedsame betrekkinge het byval gevind by mense wat moeg was van die verwoestende gevolge van oorlog. Weldra sou baie van hierdie opregte persone erg ontnugter word—dié keer nie deur godsdiens nie, maar deur die politiek.

Gedurende my soeke na betekenisvolle antwoorde het ’n tante van my, wat een van Jehovah se Getuies was, met my gepraat oor haar geloof. Sy het my ’n Bybelpublikasie gegee wat my—vir die eerste keer in my lewe—beweeg het om die hele hoofstuk 24 van Matteus te lees. Ek is diep beïndruk deur die redelike en oortuigende verduidelikings in die boek, wat ons tyd geïdentifiseer het as “die voleinding van die stelsel van dinge” en getoon het wat die hoofoorsaak van die mensdom se probleme is.—Matteus 24:3; Openbaring 12:9.

Ek het kort daarna nog publikasies van Jehovah se Getuies ontvang, en terwyl ek dit verslind het, het ek besef dat ek die waarheid gevind het waarna ek so naarstiglik gesoek het. Dit was opwindend om te leer dat Jesus Christus in 1914 in die hemel gekroon is en dat hy binnekort goddelose elemente uit die weg sal ruim om seëninge vir die gehoorsame mensdom te bring. Nog iets wat vir my wonderlik was, was ’n duidelike begrip van die losprysoffer. Dit het my gehelp om Jehovah God in hartgrondige gebed te nader en om vergifnis te vra. Ek is diep getref deur die hartlike uitnodiging in Jakobus 4:8: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”

Ondanks my groot geesdrif oor my nuutgevonde geloof wou my ouers en my suster aanvanklik nie aanvaar wat ek hulle vertel het nie. Dit het egter nie ’n demper op my begeerte geplaas om die Christelike vergaderinge by te woon wat naby Chemnitz deur ’n klein groepie Getuies gehou is nie. Tot my verbasing het my ouers en my suster saam met my na die eerste vergadering gegaan! Dit was in die winter van 1945/46. Later, toe ’n Bybelstudiegroep gevorm is in Harthau, waar ons gewoon het, het my familie die vergaderinge gereeld begin bywoon.

“Ek is nog maar net ’n seun”

Nadat ek belangrike Bybelwaarhede geleer het en gereeld met Jehovah se volk begin assosieer het, is ek beweeg om my lewe aan Jehovah toe te wy, en op 25 Mei 1946 is ek gedoop. Tot my groot vreugde het ook die res van my familie geestelike vordering gemaak, en mettertyd het hulle al drie getroue Getuies geword. My suster is nog steeds ’n bedrywige lid van een van die gemeentes in Chemnitz. My ma en pa het lojaal gedien tot hulle dood in 1965 en 1986 onderskeidelik.

Ses maande ná my doop het ek as ’n spesiale pionier begin dien. Dit was die begin van ’n lewe van diens ‘in gunstige tye en in moeilike tye’ (2 Timoteus 4:2). Kort voor lank het nuwe geleenthede vir diens hulle voorgedoen. Daar was ’n behoefte aan voltydse evangeliedienaars in ’n afgeleë gebied in die ooste van Duitsland. Ek en ’n ander broer het aansoek gedoen om daarheen gestuur te word, maar ek het gevoel dat ek nie ervare of volwasse genoeg is vir so ’n verantwoordelike taak nie. Aangesien ek maar net 18 was, het ek soos Jeremia gevoel: “Ag, . . . Jehovah! Kyk, ek weet nie hoe ek moet praat nie, want ek is nog maar net ’n seun” (Jeremia 1:6). Ondanks my bedenkinge het die verantwoordelike broers goedgunstiglik besluit om ons ’n kans te gee. Ons is dus na Belzig, ’n dorpie in die staat Brandenburg, gestuur.

Die predikingswerk in daardie gebied was ’n groot uitdaging, maar dit was waardevolle opleiding vir my. Mettertyd het ’n paar vooraanstaande sakevroue die Koninkryksboodskap aangeneem en Getuies van Jehovah geword. Hulle standpunt het egter gebots met die diepgewortelde tradisies en vrese van daardie klein plattelandse gemeenskap. Weens ons predikingswerk het Katolieke sowel as Protestantse geestelikes ons onversetlik teëgestaan en lasterlike beskuldigings teen ons gemaak. Maar omdat ons op Jehovah se leiding en beskerming vertrou het, kon ons ’n aantal belangstellendes help om die waarheid aan te neem.

Donker wolke van onverdraagsaamheid pak saam

Die jaar 1948 het seëninge sowel as onverwagte moeilikhede meegebring. Eers het ek ’n pioniertoewysing ontvang in Rudolstadt, Turinge. Daar het ek talle getroue broers en susters leer ken, en ek het dit geniet om met hulle te assosieer. Nog ’n besondere seën het in Julie daardie jaar gekom. Ek het met Erika Ullmann getrou, ’n lojale en bedrywige jong Christenvrou wat ek geken het vandat ek vergaderinge by die Chemnitz-gemeente begin bywoon het. Ons het saam in Harthau, my tuisdorp, begin pionier. Later kon Erika egter weens gesondheidsprobleme en ander redes nie voortgaan in die voltydse diens nie.

Dit was moeilike tye vir Jehovah se volk. Die Departement van Arbeid in Chemnitz het my voedselrantsoenkaartjie gekanselleer in ’n poging om my te dwing om met die predikingswerk op te hou en ’n voltydse sekulêre werk te kry. Verantwoordelike broers het my geval gebruik om wetlike erkenning in daardie staat te probeer verkry. Dit is geweier, en op 23 Junie 1950 is ek ’n boete of 30 dae tronkstraf opgelê. Ons het appèl aangeteken teen die uitspraak, maar die hoër hof het die appèl van die hand gewys, en ek is tronk toe gestuur.

Dit was net die begin van die teenstand en probleme wat later soos ’n storm om ons sou losbars. Skaars ’n maand later, in September 1950, het die Kommunistiese regering ons bedrywighede verbied nadat hulle in die media ’n smeerveldtog teen ons gevoer het. Weens ons vinnige groei en ons neutrale standpunt is ons gebrandmerk as ’n gevaarlike spioenasie-agentskap van die Weste, wat “twyfelagtige bedrywighede” onder die dekmantel van godsdiens uitvoer. Dieselfde dag dat die verbod uitgevaardig is, het my vrou by die huis geboorte gegee aan ons seun, Johannes, terwyl ek in die tronk was. Al het die vroedvrou hard probeer om hulle te keer, het die Staatsveiligheidsbeamptes by ons woonstel ingestorm en na bewyse gesoek om hulle aantygings te staaf. Hulle het natuurlik niks gevind nie. Later het ’n informant egter ons gemeente binnegedring. Dit het daartoe gelei dat al die verantwoordelike broers, ek inkluis, in Oktober 1953 in hegtenis geneem is.

In donker kerkers

Nadat ons skuldig bevind en vonnisse van drie tot ses jaar opgelê is, is ons geneem na die muwwe kerkers van Osterstein-kasteel, in Zwickau, waar etlike van ons broers reeds was. Ten spyte van die haglike toestande daar was dit ’n ware genot om met ryp broers te assosieer. Ons gebrek aan vryheid het nie ’n gebrek aan geestelike voedsel beteken nie. Hoewel Die Wagtoring deur die regime verag en verbied is, het hierdie tydskrif sy weg tot in die tronk en selfs tot in ons selle gevind! Hoe?

Party van die broers is gestuur om op die steenkoolmyne te werk, waar hulle Getuies van buite ontmoet het wat vir hulle die tydskrifte gegee het. Die broers het die tydskrifte dan stilletjies in die tronk ingebring en op uiters vindingryke maniere die broodnodige geestelike voedsel by die res van ons gekry. Dit was vir my ’n groot bron van blydskap en aanmoediging om Jehovah se sorg en leiding op hierdie wyse te ervaar!

Teen die einde van 1954 is ons na die berugte tronk in Torgau oorgeplaas. Die Getuies daar het ons verwelkom. Tot op daardie tydstip het hulle geestelik sterk gebly deur gedagtes te hersien wat hulle uit ouer nommers van Die Wagtoring kon onthou. Hoe het hulle tog nie gesmag na vars geestelike voedsel nie! Nou was dit ons plig om hulle te vertel van punte wat ons in Zwickau gestudeer het. Maar hoe kon ons dit doen terwyl ons streng verbied is om gedurende ons daaglikse wandelings met mekaar te praat? Wel, die broers het ons baie goeie wenke gegee oor hoe om te werk te gaan, en Jehovah se magtige hand van beskerming was oor ons. Dit het ons geleer hoe belangrik ywerige Bybelstudie en bepeinsing is terwyl ons die vryheid en geleentheid het om dit te doen.

Tyd vir belangrike besluite

Met Jehovah se hulp het ons standvastig gebly. Tot ons groot verbasing is ’n aantal van ons aan die einde van 1956 amnestie gegee. Dit is moeilik om ons blydskap te beskryf toe die hekke van die tronk oopgemaak is! Teen dié tyd was my seun ses jaar oud, en die vreugde om weer saam met my vrou te wees en te help om ons seun groot te maak, was onbeskryflik. Johannes het my ’n rukkie lank soos ’n vreemdeling behandel, maar daar het kort voor lank ’n hegte band tussen ons ontwikkel.

Jehovah se Getuies in Oos-Duitsland het voor ’n baie moeilike tyd te staan gekom. Toenemende vyandigheid teenoor ons Christelike bediening en ons neutrale standpunt het ’n lewe van voortdurende bedreigings vir ons beteken—’n lewe vol gevaar, angstigheid en vermoeienis. Ek en Erika het ons situasie dus noukeurig en biddend ondersoek, en ons het besluit om te trek sodat ons onder gunstiger toestande kon lewe en nie deur bekommernisse oorweldig word nie. Ons wou die vryheid hê om Jehovah te dien en om geestelike doelwitte na te streef.

In die lente van 1957 het die geleentheid hom voorgedoen om na Stuttgart, Wes-Duitsland, te trek. Die evangelisasiewerk was nie daar verbied nie, en ons kon vryelik met ons broers assosieer. Hulle liefdevolle ondersteuning was oorweldigend. Ons was sewe jaar in die gemeente in Hedelfingen. In dié jare het ons seun begin skoolgaan en goeie vordering gemaak. In September 1962 het ek die voorreg gehad om die Koninkryksbedieningskool in Wiesbaden by te woon. Daar is ek aangemoedig om met my gesin te trek na waar Duitssprekende Bybelonderrigters nodig was. Dit het sekere gebiede in Duitsland en Switserland ingesluit.

Na die Switserse Alpe

Ons het dus in 1963 na Switserland getrek. Ons is gevra om te werk saam met ’n klein gemeente in Brunnen, by die pragtige Vierwoudstedemeer, in die sentrale deel van die Switserse Alpe. Dit was vir ons soos ’n paradys. Ons moes gewoond raak aan die Duitse dialek wat daar gepraat word, asook die plaaslike lewenswyse en die denke van die mense. Nietemin het ons dit geniet om onder vredeliewende mense te werk en te getuig. Ons het 14 jaar in Brunnen deurgebring. Ons seun het daar grootgeword.

In 1977, toe ek amper 50 was, het ons ’n uitnodiging ontvang om in die Switserse Bethel in Thun te dien. Ons het dit as ’n onverwagte voorreg beskou en dit met groot waardering aanvaar. Ek en my vrou het nege jaar in Betheldiens deurgebring, wat ons onthou as ’n spesiale mylpaal in ons Christelike lewe en persoonlike geestelike ontwikkeling. Ons het dit ook geniet om die predikingswerk saam met die plaaslike verkondigers te doen in Thun en nabygeleë gebiede, waar ons altyd ’n uitsig gehad het op Jehovah se “wonderlike werke”, die majestueuse sneeubedekte berge van die Bernse Alpe.—Psalm 9:1.

Ons trek weer

Vroeg in 1986 het ons weer getrek. Ons is gevra om as spesiale pioniers te dien in ’n baie groot gebied wat toegewys is aan die Buchs-gemeente in die ooste van Switserland. Weer eens moes ons aan ’n ander lewenswyse gewoond raak. Maar ons begeerte om Jehovah te dien waar ons hulp die nodigste was, het ons beweeg om hierdie nuwe toewysing met sy seën aan te pak. Soms moes ek as waarnemende kringopsiener dien en gemeentes besoek en versterk. Agtien jaar het verloop, en ons het talle aangename ondervindinge gehad terwyl ons in hierdie gebied getuig het. Die gemeente in Buchs het gegroei, en ons geniet dit om in ’n pragtige Koninkryksaal te vergader, wat vyf jaar gelede toegewy is.

Jehovah het waarlik op ruimhartige wyse vir ons gesorg. Ons het die grootste deel van ons lewe in die voltydse bediening deurgebring, maar ons het nooit enigiets kortgekom nie. Ons het die vreugde en voldoening gesmaak om te sien hoe ons seun, sy vrou en hulle kinders, sowel as die kinders se gesinne, getrou in die weg van Jehovah wandel.

Wanneer ek terugkyk, voel ek dat ons Jehovah inderdaad ‘in gunstige tye en in moeilike tye’ gedien het. My begeerte om aan die Christelike bediening deel te neem, het my geneem van die donker kerkers van Kommunistiese tronke na die indrukwekkende berge van die Switserse Alpe. Ek en my gesin was nog nooit spyt oor ’n enkele oomblik daarvan nie.

[Venster op bladsy 28]

“Dubbele slagoffers” staan vas tydens vervolging

Onder die Duitse Demokratiese Republiek (DDR), wat ook as Oos-Duitsland bekend gestaan het, is Jehovah se Getuies die skyf van wrede onderdrukking gemaak. Verslae toon dat meer as 5 000 Getuies weens hulle Christelike bediening en neutraliteit na strafkampe en tronke gestuur is.—Jesaja 2:4.

Party van hulle is al as “dubbele slagoffers” beskryf. Sowat 325 van hulle was vroeër in Nazi-konsentrasiekampe en -tronke. Toe, in die 1950’s, is hulle vervolg en in tronke gegooi deur die Stasi, die Staatsveiligheidsdiens van die DDR. Selfs party van die tronke het dubbele diens gedoen—eers as Nazi-tronke en toe as Stasi-tronke.

Gedurende die eerste dekade van hewige vervolging, van 1950 tot 1961, het altesaam 60 Getuies—mans en vroue—in tronke gesterf weens mishandeling, ondervoeding, siekte en ouderdom. Twaalf Getuies is lewenslange tronkstraf opgelê wat later tot 15 jaar verminder is.

Vandag is daar in die voormalige Stasi-hoofkwartier in Berlyn ’n permanente uitstalling wat handel oor die 40 jaar waartydens Jehovah se Getuies in Oos-Duitsland amptelik vervolg is. Die foto’s en persoonlike verslae wat daar uitgestal word, lewer ’n stille getuienis van die moed en geestelike krag van hierdie Getuies wat getrou gebly het tydens vervolging.

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

OOS-DUITSLAND

Rudolstadt

Belzig

Torgau

Chemnitz

Zwickau

[Prent op bladsy 25]

Die Osterstein-kasteel in Zwickau

[Erkenning]

Fotosammlung des Stadtarchiv Zwickau, Deutschland

[Prent op bladsy 26]

Saam met my vrou, Erika

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel