Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 7/1 bl. 23-29
  • ’n Bevredigende lewe ondanks hartseer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Bevredigende lewe ondanks hartseer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gesonde lewe op die vlaktes
  • My ma se goeie voorbeeld
  • Ons begin met die predikingswerk
  • My begeerte—Betheldiens
  • Ek trou met Nathan Knorr
  • ’n Hardwerkende metgesel
  • Reise saam met Nathan
  • Siekte en aanmoedigende afskeidswoorde
  • My huwelik met Glenn Hyde
  • ’n Kosbare broederskap
  • Natan—’n Lojale voorstander van rein aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Betheldiens—Meer vrywilligers is nodig
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Kan dit die beste loopbaan vir jou wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ’n Ryk lewe in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 7/1 bl. 23-29

Lewensverhaal

’n Bevredigende lewe ondanks hartseer

SOOS VERTEL DEUR AUDREY HYDE

Wanneer ek terugkyk oor 63 jaar in die voltydse bediening—59 daarvan by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies—kan ek sê dat ek ’n bevredigende lewe geniet het. Dit was weliswaar verpletterend om te sien hoe my eerste man stadig weens kanker sterf en hoe my tweede man weens die verskriklike gevolge van Alzheimer se siekte ly. Maar laat ek julle vertel hoe ek ten spyte van hierdie teëspoed vreugdevol gebly het.

EK HET grootgeword op ’n plaas naby die dorpie Haxtun op die vlaktes van noordoostelike Colorado, naby die grens van Nebraska. Ek was die vyfde van Orille en Nina Mock se ses kinders. Russell, Wayne, Clara en Ardis is tussen 1913 en 1920 gebore, en ek het die volgende jaar die lewenslig gesien. Curtis is in 1925 gebore.

In 1913 het my ma ’n Bybelstudent geword, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Mettertyd het die res van ons gesin ook Bybelstudente geword.

’n Gesonde lewe op die vlaktes

My pa was ’n progressiewe boer. Ons het elektriese ligte in al ons geboue op die plaas gehad, iets wat in daardie dae baie seldsaam was. Ons het die produkte geniet wat eie aan plaaslewe is—eiers van ons hoenders, en melk, room en botter van ons koeie. Ons het perde gebruik om die landerye te bewerk en het aarbeie en aartappels geplant, sowel as koring en mielies.

My pa het geglo dat al sy kinders moet leer werk. Nog voordat ek op skool was, is ek geleer om op die landerye te werk. Ek onthou hoe ek somerdae in die warm son lang beddings in ons tuin moes omskoffel. ‘Sal ek ooit klaarkry?’ het ek gewonder. Die sweet het my afgetap, en bye het my gesteek. Soms het ek vir myself jammer gevoel omdat ander kinders nie so hard soos ons moes werk nie. Maar wanneer ek terugkyk op my kinderjare, is ek dankbaar dat ons geleer is om te werk.

Ons het almal ons take gehad. Ardis kon die koeie beter melk as ek; daarom was dit my werk om die perdestalle skoon te maak en die mis te verwyder. Maar ons het ook pret gehad en speletjies gespeel. Ek en Ardis het sagtebal vir ’n plaaslike span gespeel. Ek was een van die gooiers of het derde bof gespeel, en Ardis eerste bof.

Die helder naghemel was werklik pragtig op die prêrie. Die duisende sterre het my aan ons Skepper, Jehovah God, laat dink. Selfs as ’n kind het ek aan Psalm 147:4 gedink, wat sê: “Hy [Jehovah] bepaal die getal van die sterre; hy noem hulle almal by hulle name.” Op baie van hierdie helder aande het ons hond, Judge, by my gesit met sy kop op my skoot. Ek het smiddae dikwels op ons stoep gesit en die groen koringlande bewonder terwyl die wind daaroor gewaai en dit soos silwer in die sonlig laat lyk het.

My ma se goeie voorbeeld

My ma was ’n baie toegewyde vrou. My pa was altyd die hoof van die huis, en my ma het ons geleer om hom te respekteer. In 1939 het hy ook een van Jehovah se Getuies geword. Ons het geweet dat my pa ons liefhet, al het hy ons hard laat werk en ons nie opgepiep nie. Hy het dikwels in die winter die perde ingespan sodat ons op die slee kon ry. En hoe het ons tog nie die blink sneeu geniet nie!

Dit was egter my ma wat liefde vir God en respek vir die Bybel by ons ingeskerp het. Ons het geleer dat God se naam Jehovah is en dat hy die Bron van die lewe is (Psalm 36:9; 83:18). Ons het ook geleer dat hy ons van riglyne voorsien het, nie om ons pret te bederf nie, maar om ons te bevoordeel (Jesaja 48:17). My ma het ons altyd daarop gewys dat ons ’n spesiale werk het om te doen. Ons het geleer dat Jesus vir sy volgelinge gesê het: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.

Wanneer ek destyds ná skool by die huis gekom en my ma nie in die huis gekry het nie, het ek na haar gaan soek. Eenkeer, toe ek omtrent ses of sewe was, het ek haar in die skuur gekry. Skielik het dit baie hard begin reën. Ons was op die hooisolder, en ek het haar gevra of God nog ’n Vloed bring. Sy het my verseker dat God belowe het om nooit weer die aarde met ’n vloed te vernietig nie. Ek onthou ook hoe ons dikwels skuiling in die kelder moes soek omdat tornado’s redelik algemeen voorgekom het.

Nog voordat ek gebore is, het my ma al aan die predikingswerk deelgeneem. ’n Groep het in ons huis bymekaargekom, en hulle almal het die hoop gehad op hemelse lewe saam met Christus. Al was dit vir my ma ’n uitdaging om van huis tot huis te getuig, het haar liefde vir God haar in staat gestel om haar vrees te oorkom. Sy het getrou gebly tot die dag van haar dood, 24 November 1969, toe sy 84 jaar oud was. “Mamma gaan hemel toe en sal saam met diegene wees wat Mamma ken”, het ek in haar oor gefluister. Hoe bly was ek tog dat ek by daardie geleentheid by my ma kon wees en haar kon vertel van my vertroue in daardie hoop! Sy het saggies gesê: “Jy is so goed vir my.”

Ons begin met die predikingswerk

In 1939 het Russell ’n pionier geword, soos voltydse evangeliedienaars onder Jehovah se Getuies genoem word. Hy het tot 1944 in Oklahoma en Nebraska gepionier, waarna hy gevra is om te gaan dien by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies (wat Bethel genoem word), in Brooklyn, New York. Ek het op 20 September 1941 begin pionier en op verskeie plekke in Colorado, Kansas en Nebraska gedien. Daardie jare in die pionierdiens was gelukkige tye, nie net omdat ek ander kon help om van Jehovah te leer nie, maar ook omdat ek geleer het om op hom staat te maak.

Omstreeks die tyd toe Russell begin pionier het, was Wayne op kollege aan die ooskus, nadat hy ’n ruk lank sekulêr gewerk het. Later is hy na Bethel genooi. Hy het ’n tyd lank gedien by Kingdom Farm, naby Ithaca, New York. Daar het hulle voedsel verbou vir die klein gesin op die plaas sowel as die sowat 200 werkers by Brooklyn-Bethel. Wayne het tot sy dood in 1988 sy vaardighede en ondervinding in Jehovah se diens gebruik.

My suster Ardis het met James Kern getrou, en hulle het vyf kinders gehad. Sy is in 1997 oorlede. My ander suster, Clara, dien Jehovah tot vandag toe getrou, en ek gaan kuier nog steeds gedurende my vakansies vir haar by haar huis in Colorado. Ons jongste broer, Curtis, het in die middel-1940’s na Brooklyn-Bethel gegaan. Sy toewysing was om verskeie goedere en vars produkte met ’n vragmotor na en van Kingdom Farm te vervoer. Hy het nooit getrou nie en is in 1971 oorlede.

My begeerte—Betheldiens

My ouer broers is vroeër Bethel toe, en dit was my begeerte om ook daar te dien. Ek is seker dat ek as gevolg van hulle goeie voorbeeld daarheen genooi is. Dinge wat my ma vertel het oor die geskiedenis van God se organisasie en die feit dat ek self gesien het hoe Bybelprofesieë oor die laaste dae vervul word, het by my die begeerte gewek om by Bethel te dien. Ek het Jehovah in gebed belowe dat ek Bethel nooit sou verlaat as hy my daar laat dien nie, tensy ek na Christelike verpligtinge moes omsien.

Ek het op 20 Junie 1945 by Bethel aangekom en die toewysing ontvang om kamers skoon te maak. Ek moes elke dag 13 kamers skoonmaak, 26 beddens opmaak en ook gange, trappe en vensters skoonmaak. Dit was harde werk. Elke dag terwyl ek gewerk het, het ek vir myself bly sê: ‘Ja, jy is moeg, maar jy is by Bethel, die huis van God!’

Vroeg in my Betheldiens het iets gebeur waaroor ek baie verleë gevoel het. Omdat ek op die platteland grootgeword het, het ek glad nie geweet dat ’n klein hyser wat voorraad van een vloer na ’n ander vervoer, in Engels ’n dumbwaiter genoem word nie. Wel, eendag het iemand my by die werk gebel en gevra: “Stuur asseblief die dumbwaiter af.” Die persoon het die telefoon vinnig neergesit, en ek het nie geweet wat om te doen nie. Maar toe het ek onthou dat daar in die deel waar ek skoonmaak, ’n broer woon wat ’n kelner is. Ek het dus aan sy deur geklop en vir hom gesê: “Hulle soek jou onder in die kombuis.”

Ek trou met Nathan Knorr

Sedert die 1920’s moes Betheliete wat wou trou, Bethel verlaat en Koninkryksbelange elders bevorder. Maar in die vroeë 1950’s is etlike paartjies wat al lank by Bethel gedien het, toegelaat om te trou en aan te bly. Toe Nathan H. Knorr, wat op daardie tydstip toesig gehou het oor die wêreldwye Koninkrykswerk, dus belangstelling in my begin toon het, het ek gedink: ‘Wel, hier is iemand wat sal bly!’

Nathan het baie verantwoordelikhede gehad terwyl hy na die wêreldwye bedrywighede van Jehovah se Getuies omgesien het. Daarom was hy baie eerlik met my en het hy talle redes genoem waarom ek eers mooi moes dink voordat ek instem om met hom te trou. In daardie dae het hy baie gereis om takkantore van Jehovah se Getuies oral oor die wêreld te besoek, en hy was dikwels weke lank weg. Hy het dus verduidelik dat ons vir lang tydperke van mekaar geskei sou wees.

As ’n jong meisie het ek gedroom van ’n troue in die lente en ’n wittebrood op die Hawaii-eilande in die Stille Oseaan. Wel, ons is in die winter op 31 Januarie 1953 getroud en het ons wittebrood daardie Saterdagmiddag en Sondag in New Jersey deurgebring. Maandag was ons weer by die werk. Maar ’n week later het ons wel weggegaan vir ’n week lange wittebrood.

’n Hardwerkende metgesel

Nathan was 18 toe hy in 1923 Bethel toe gekom het. Hy het waardevolle opleiding ontvang van ouer broers soos Joseph F. Rutherford, wat oor die werk van die Getuies toesig gehou het, en die opsiener van die drukkery Robert J. Martin. Toe broer Martin in September 1932 oorlede is, het Nathan opsiener van die drukkery geword. Die volgende jaar het broer Rutherford Nathan saamgeneem toe hy takkantore van Jehovah se Getuies in Europa besoek het. In Januarie 1942, toe broer Rutherford oorlede is, is Nathan die verantwoordelikheid gegee om oor die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies toesig te hou.

Vooruitgang was vir Nathan baie belangrik, en daarom het hy altyd vir toekomstige groei beplan. Party het dit as onvanpas beskou omdat daar gemeen is dat die einde van hierdie stelsel van dinge baie naby is. Trouens, iemand wat na Nathan se planne gekyk het, het hom gevra: “Wat beteken dit, broer Knorr? Het jy dan nie geloof nie?” Hy het geantwoord: “Ja, ek het, maar as die einde nie so gou kom as wat ons verwag nie, sal ons gereed wees.”

Iets waaroor Nathan sterk gevoel het, was dat daar ’n skool vir sendelinge gestig moes word. Op 1 Februarie 1943 is ’n skool vir sendelinge dus begin op die groot plaas waar my broer Wayne toe gedien het. Hoewel die skool ’n intensiewe Bybelstudiekursus van ongeveer vyf maande behels het, het Nathan seker gemaak dat die studente ook ontspanning geniet. Gedurende vroeëre klasse het hy saam met die studente sagtebal gespeel, maar later het hy opgehou omdat hy bang was dat hy sou seerkry en hy dan nie die streekbyeenkomste in die somer sou kon bywoon nie. Hy het besluit om eerder ’n skeidsregter te wees. Die studente het dit geniet wanneer hy die reëls heeltemal geïgnoreer het ten gunste van die buitelandse studente wat gespeel het.

Reise saam met Nathan

Later het ek Nathan op sy buitelandse reise begin vergesel. Ek het dit geniet om ondervindinge uit te ruil met vrywilligers by die takkantore en met die sendelinge. Ek het eerstehands gesien hoe groot hulle liefde en toewyding is, en ek het meer geleer oor hulle roetine en die lewensomstandighede in die lande waar hulle gedien het. Oor die jare het ek briewe van waardering bly ontvang vir hierdie besoeke.

Wanneer ek terugkyk op ons reise, onthou ek talle ondervindinge. Toe ons byvoorbeeld Pole besoek het, het twee susters in my teenwoordigheid vir mekaar gefluister. Ek het hulle gevra: “Waarom fluister julle?” Hulle het verskoning gevra en verduidelik dat hulle daaraan gewoond was om te fluister toe die werk van Jehovah se Getuies in Pole verbied was en afluisterapparate in hulle huise versteek is.

Suster Adach is een van die vele Getuies wat tydens die verbod in Pole gedien het. Sy het krullerige hare gehad en ’n kuif wat oor haar voorkop gehang het. Eenkeer het sy haar kuif opgelig en vir my ’n diep litteken gewys, wat sy gekry het toe ’n vervolger haar geslaan het. Ek was geskok om die gevolge te sien van die wrede behandeling wat ons broers en susters moes verduur.

Naas Bethel is Hawaii my gunstelingplek. Ek onthou die streekbyeenkoms wat in 1957 daar in die stad Hilo gehou is. Dit was ’n besondere geleentheid, en veel meer het die byeenkoms bygewoon as net die plaaslike Getuies. Die burgemeester het Nathan ’n amptelike verwelkoming gegee. Baie het ons kom groet en blomkranse om ons gehang.

Nog ’n opwindende streekbyeenkoms is in 1955 in Neurenberg, Duitsland, gehou waar Hitler se paradeterrein vroeër was. Dit is goed bekend dat Hitler gesweer het dat hy Jehovah se volk in Duitsland sou uitwis, maar nou was hierdie stadion gevul met Jehovah se Getuies! Ek kon die trane nie keer nie. Die verhoog was kolossaal en het ’n indrukwekkende agterdoek met 144 groot pilare gehad. Ek was op die verhoog en kon oor die ontsaglike gehoor van meer as 107 000 uitkyk. Die laaste ry was so ver agtertoe dat ek dit beswaarlik kon sien.

Die onkreukbaarheid van die Duitse broers sowel as die krag wat hulle tydens hulle vervolging onder die Nazi-bewind van Jehovah ontvang het, was vir ons baie duidelik. Dit het ons eie vasbeslotenheid versterk om lojaal te wees en ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf. Nathan het die slottoespraak gehou, en aan die einde daarvan het hy vir die gehoor totsiens gewaai. Hulle het onmiddellik gereageer deur met hulle sakdoeke terug te waai. Dit het soos ’n pragtige veld vol blomme gelyk.

Ons besoek aan Portugal in Desember 1974 was ook onvergeetlik. Ons het die eerste vergadering bygewoon wat die Getuies in Lissabon gehou het nadat ons predikingswerk daar wetlik erken is. Ons werk was 50 jaar lank verbied! Hoewel daar toe net 14 000 Koninkryksverkondigers in die land was, het meer as 46 000 die twee vergaderinge bygewoon. Ek het trane in my oë gekry toe die broers gesê het: “Nou hoef ons nie meer weg te kruip nie. Ons is vry.”

Ek het nog altyd, vandat ek saam met Nathan gereis het tot vandag toe, informele getuieniswerk—op vliegtuie, in restaurante—en straatgetuieniswerk geniet. Ek het altyd lektuur by my sodat ek voorbereid is. Eenkeer toe ons gewag het vir ’n vliegtuig wat vertraag is, het ’n vrou my gevra waar ek werk. Dit het gelei tot ’n gesprek met haar en ander om ons wat geluister het. Betheldiens en my predikingsbedrywighede het my besig en baie gelukkig gehou.

Siekte en aanmoedigende afskeidswoorde

In 1976 het Nathan kanker ontwikkel, en ek, sowel as die personeel by Bethel, het hom bygestaan. Ten spyte van sy swak gesondheid het ons verskeie lede van takkantore van oor die hele wêreld wat vir opleiding in Brooklyn was, na ons kamer toe genooi. Ek onthou die besoeke van Don en Earlene Steele, Lloyd en Melba Barry, Douglas en Mary Guest, Martin en Gertrud Poetzinger, Pryce Hughes en talle ander. Hulle het ons dikwels ondervindinge uit hulle land vertel. Dit was veral die ondervindinge oor die standvastigheid van ons broers in lande waar ons werk verbied was, wat ’n indruk op my gemaak het.

Toe Nathan besef dat sy dood naby is, het hy my goeie raad gegee om my te help om as weduwee die mas op te kom. Hy het gesê: “Ons het ’n gelukkige huwelik gehad. Daar is baie mense wat dit nooit ervaar nie.” Iets wat ons huwelik gelukkig gemaak het, was Nathan se bedagsaamheid. Wanneer ons byvoorbeeld mense op ons reise ontmoet het, het hy vir my gesê: “Audrey, as ek hulle soms nie aan jou voorstel nie, is dit omdat ek nie hulle naam kan onthou nie.” Ek was so bly dat hy my dit vooraf gesê het.

Nathan het my herinner: “Ná die dood is ons hoop seker, en ons hoef nooit weer pyn deur te maak nie.” Toe het hy my aangespoor: “Kyk vorentoe, want dit is waar jou beloning is. Moenie in die verlede lewe nie—hoewel jy altyd jou herinneringe sal hê. Tyd sal help om jou smart te heel. Moenie verbitterd raak en jouself bejammer nie. Wees bly dat jy hierdie vreugdes en seëninge gehad het. Na ’n rukkie sal jy vind dat herinneringe jou vreugde verskaf. Herinneringe is God se gawe aan ons.” Hy het bygevoeg: “Bly besig—probeer jou lewe gebruik om iets vir ander te doen. Dit sal jou help om vreugde uit die lewe te put.” Uiteindelik, op 8 Junie 1977, het Nathan sy aardse loopbaan voltooi.

My huwelik met Glenn Hyde

Nathan het vir my gesê dat ek óf met my herinneringe in die verlede kon leef óf ’n nuwe lewe kon bou. Ek het dus in 1978, nadat ek na Watchtower Farms in Wallkill, New York, oorgeplaas is, met Glenn Hyde getrou, ’n baie aantreklike, stil en saggeaarde man. Voordat hy ’n Getuie geword het, het hy in die vloot gedien toe die Verenigde State in ’n oorlog met Japan gewikkel was.

Glenn was op ’n PT-boot (patrollie-torpedoboot) en het in die enjinkamer gewerk. Weens die geraas van die enjin het hy sy gehoor gedeeltelik verloor. Ná die oorlog het hy ’n brandweerman geword. As gevolg van sy ondervindinge tydens die oorlog het hy jare lank nagmerries gekry. Hy het Bybelwaarheid by sy sekretaresse geleer, wat informeel vir hom getuig het.

Later, in 1968, is Glenn na Bethel genooi om as ’n brandweerman in Brooklyn te dien. Toe Watchtower Farms ’n brandweerwa gekry het, is hy in 1975 daarheen oorgeplaas. Hy het later Alzheimer se siekte gekry. Ons was tien jaar getroud toe Glenn oorlede is.

Hoe sou ek dit hanteer? Die wyse raad wat Nathan my gegee het toe hy geweet het dat sy dood naby is, het my weer eens vertroos. Ek het die woorde wat hy vir my neergeskryf het oor hoe om as weduwee die mas op te kom, oor en oor gelees. Wanneer ander hulle huweliksmaat verloor, vertel ek hulle van Nathan se raad, en dit is ook vir hulle ’n vertroosting. Ja, dit is goed om vorentoe te kyk, soos hy my aangespoor het.

’n Kosbare broederskap

Dierbare vriende in die Bethelgesin het veral bygedra tot my gelukkige, bevredigende lewe. Ek dink in die besonder aan Esther Lopez, wat in 1944 aan die derde klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegradueer het. Sy het in Februarie 1950 na Brooklyn teruggekeer om te help met die vertaling van ons Bybellektuur in Spaans. Dikwels wanneer Nathan gereis het, het ek en sy baie tyd saam deurgebring. Sy is ook by Watchtower Farms. Sy is nou in haar middelnegentigerjare en word weens swak gesondheid in die siekeboeg versorg.

Van my naaste familie leef nog net Russell en Clara. Russell is al oor die 90 en dien getrou by Brooklyn-Bethel. Hy was onder die eerstes wat toegelaat is om by Bethel te bly nadat hy getroud is. Hy het in 1952 met ’n mede-Betheliet, Jean Larson, getrou. Jean se broer Max het in 1939 na Bethel gekom en Nathan in 1942 as opsiener van die drukkery opgevolg. Max het nog steeds baie verantwoordelikhede by Bethel, en hy help ook met die versorging van sy geliefde vrou, Helen, wat veelvuldige sklerose het.

Wanneer ek terugkyk oor 63 jaar in die voltydse diens van Jehovah, kan ek sê dat ek waarlik ’n bevredigende lewe gehad het. Bethel het my tuiste geword, en ek dien nog steeds hier met vreugde van hart. Die eer kom my ouers toe omdat hulle die belangrikheid van werk en die begeerte om Jehovah te dien, by ons ingeskerp het. Maar wat die lewe werklik bevredigend maak, is ons wonderlike broederskap en die hoop om saam met ons broers en susters op ’n paradysaarde te woon, terwyl ons ons Grootse Skepper, die enigste ware God, Jehovah, tot in alle ewigheid dien.

[Prent op bladsy 24]

My ouers op hulle troudag in Junie 1912

[Prent op bladsy 24]

Van links na regs: Russell, Wayne, Clara, Ardis, ek en Curtis, in 1927

[Prent op bladsy 25]

Ek staan tussen Frances en Barbara McNaught, in 1944 toe ek ’n pionier was

[Prent op bladsy 25]

By Bethel in 1951. Van links na regs: Ek, Esther Lopez en my skoonsuster Jean

[Prent op bladsy 26]

Saam met Nathan en sy ouers

[Prent op bladsy 26]

Saam met Nathan in 1955

[Prent op bladsy 27]

Saam met Nathan in Hawaii

[Prent op bladsy 29]

Saam met my tweede man Glenn

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel