Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 2/15 bl. 3-5
  • Wonderwerke—Feit of fiksie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wonderwerke—Feit of fiksie?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat van nie-Christelike godsdienste?
  • Wat van die wonderwerke in die Christelike godsdiens?
  • Die Bybelse standpunt
  • Waarom belangstel in wonderwerke?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Die wonderwerke van Jesus—Wat kan jy daaruit leer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Kan jy aan die wonderwerke glo wat in die Bybel opgeteken is?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Die wonderwerke—Het hulle werklik plaasgevind?
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 2/15 bl. 3-5

Wonderwerke—Feit of fiksie?

DIE man se aandag is onmiddellik getrek deur die bufferplakker op ’n motor wat verbygery het: “Wonderwerke gebeur—Vra maar die engele.” Hoewel hy self godsdienstig was, was hy nie seker wat dit beteken het nie. Het dit beteken dat die bestuurder aan wonderwerke glo? Of het hy eerder grappenderwys probeer aandui dat hy nie aan wonderwerke of engele glo nie?

Jy sal moontlik belangstel in ’n opmerking van die Duitse skrywer Manfred Barthel: “Wonderwerk is ’n woord wat lesers onmiddellik in twee strydende kampe verdeel.” Diegene wat aan wonderwerke glo, is oortuig dat hulle plaasvind en moontlik dikwels plaasvind.a Daar word byvoorbeeld berig dat gelowiges in Griekeland gedurende die afgelope paar jaar beweer het dat wonderwerke omtrent een keer per maand plaasvind. Gevolglik het ’n biskop van die Grieks-Ortodokse Kerk hierdie waarskuwing gegee: “Die gelowige is geneig om God, Maria en die heiliges te vermenslik. Gelowiges moet dit nie te ver voer nie.”

In party ander lande is geloof in wonderwerke nie so algemeen nie. Volgens ’n Allensbach-meningspeiling wat in 2002 in Duitsland gepubliseer is, dink 71 persent van daardie land se burgers dat wonderwerke fiksie is, nie feitelik nie. Maar onder die minder as ’n derde wat wel aan wonderwerke glo, is drie vroue wat beweer dat hulle ’n boodskap van die Maagd Maria ontvang het. ’n Paar maande nadat Maria na bewering aan hulle verskyn het—saam met engele en ’n duif—het die Duitse koerant Westfalenpost berig: “Tot nou toe het sowat 50 000 pelgrims sowel as mense wat ’n genesing soek en nuuskieriges groot belangstelling getoon in die visioene wat die vroue gesien het.” ’n Verdere 10 000 sou na verwagting na die dorpie toe stroom om verdere verskynings te sien. Soortgelyke verskynings van die Maagd Maria het glo in 1858 in Lourdes, Frankryk, en in 1917 in Fátima, Portugal, plaasgevind.

Wat van nie-Christelike godsdienste?

Geloof in wonderwerke word in byna alle godsdienste aangetref. The Encyclopedia of Religion verduidelik dat die stigters van Boeddhisme, die Christelike geloof en Islam uiteenlopende beskouings oor wonderwerke gehad het, maar dit sê: “Die latere geskiedenis van hierdie godsdienste toon baie duidelik dat wonderwerke en verslae van wonderwerke ’n onafskeidbare deel van die mens se godsdienslewe is.” Hierdie naslaanwerk sê dat “die Boeddha self soms wonderwerke gedoen het”. Later, toe “Boeddhisme na China verskuif het, het die sendelinge daarvan dikwels gebruik gemaak van ’n vertoning van wonderdadige kragte”.

Nadat dit na verskeie van hierdie veronderstelde wonderwerke verwys het, kom die ensiklopedie tot hierdie gevolgtrekking: “’n Mens is moontlik nie bereid om al hierdie verhale oor wonderwerke wat deur godsdiensbiograwe vertel word, te aanvaar nie, maar hulle is ongetwyfeld voortgebring met die goeie bedoeling om die Boeddha te verheerlik, wat sy ywerige volgelinge sulke wonderdadige vermoëns kon gee.” Dieselfde gesaghebbende werk sê van Islam: “Die grootste deel van die Islamitiese gemeenskap het nog nooit opgehou om wonderwerke te verwag nie. Mohammed word in die oorleweringe (hadīths) uitgebeeld as iemand wat by baie geleenthede in die openbaar wonderwerke gedoen het. . . . Daar word geglo dat heiliges selfs ná hulle dood by hulle grafte wonderwerke ten behoewe van die getroues kan doen, en hulle tussenkoms word in alle opregtheid versoek.”

Wat van die wonderwerke in die Christelike godsdiens?

Baie mense wat die Christelike godsdiens aangeneem het, is verdeeld oor hierdie onderwerp. Party aanvaar die Bybelverslae oor die wonderwerke wat Jesus Christus of knegte van God in voor-Christelike tye gedoen het, as ’n feit. Maar baie stem saam met die Protestantse Hervormer Martin Luther. The Encyclopedia of Religion sê van hom: “Luther sowel as Calvyn het geskryf dat die tyd van wonderwerke verby is en dat daar nie meer verwag moet word dat wonderwerke sal gebeur nie.” Die Katolieke Kerk het vasgehou aan sy geloof in wonderwerke “sonder om dit intellektueel te probeer verdedig”, sê hierdie naslaanwerk. Maar “die akademiese Protestantse gemeenskap het tot die oortuiging gekom dat die beoefening van die Christelike geloof grotendeels ’n saak van sedelikheid was en dat nóg God nóg die geestelike wêreld op enige betekenisvolle wyse met mense in aanraking gekom of hulle beïnvloed het”.

Ander verklaarde Christene, waaronder party geestelikes, twyfel of die wonderwerke in die Bybel waar is. Neem byvoorbeeld die geval van die brandende bos wat in Eksodus 3:1-5 in die Bybel opgeteken is. Die boek What the Bible Really Says verduidelik dat ’n aantal Duitse teoloë dit nie as die letterlike verslag van ’n wonderwerk aanvaar nie. Hulle vertolk dit eerder as “’n simbool van Moses se innerlike stryd met die prikkelinge en brandende pyn van sy gewete”. Die boek voeg by: “Die vlamme kan ook gesien word as blomme wat in bloei gekom het in die sonlig van die goddelike teenwoordigheid.”

Jy vind so ’n verduideliking moontlik nie heeltemal bevredigend nie. Wat moet jy dan glo? Is dit realisties om te glo dat wonderwerke ooit plaasgevind het? En wat van hedendaagse wonderwerke? Aangesien ons nie die engele kan vra nie, wie kan ons vra?

Die Bybelse standpunt

Niemand kan ontken dat die Bybel berig dat God in vervloë tye soms ingegryp het om dade te verrig wat menslik onmoontlik was nie. Ons lees van hom: “U het u volk Israel uit Egipteland uitgelei, met tekens en met wonderwerke en met ’n sterk hand en met ’n uitgestrekte arm en met groot vreeswekkendheid” (Jeremia 32:21). Stel jou dit voor, die magtigste nasie van daardie tyd is op sy knieë gedwing deur tien plae wat deur God gestuur is, wat die dood van sy eersgeborenes ingesluit het. Beslis wonderwerke!—Eksodus, hoofstukke 7 tot 14.

Eeue later het die vier Evangelieskrywers sowat 35 wonderwerke beskryf wat deur Jesus gedoen is. Trouens, hulle woorde gee te kenne dat hy selfs meer bonatuurlike dade verrig het as waarvan hulle vertel. Is hierdie verslae op feite of fiksie gegrond?b—Matteus 9:35; Lukas 9:11.

As die Bybel is wat dit sê dit is—God se Woord van waarheid—dan het jy goeie rede om te glo aan die wonderwerke waarvan dit vertel. Die Bybel sê baie duidelik dat wonderwerke—wonderdadige genesings, opstandings, en so meer—in vervloë tye plaasgevind het, maar dit sê net so duidelik dat sulke wonderwerke nie meer plaasvind nie. (Sien die venster “Waarom sekere wonderwerke nie meer plaasvind nie” op bladsy 4.) Beteken dit dan dat selfs diegene wat die Bybel as feitelik aanvaar, glo dat geloof in hedendaagse wonderwerke ongegrond is? Laat die volgende artikel hierdie vraag beantwoord.

[Voetnote]

a Die betekenis van die woord “wonderwerke”, soos dit in hierdie artikel gebruik word, is volgens hierdie definisie in ’n Bybelwoordeboek: “Voorvalle in die stoflike wêreld wat alle bekende menslike of natuurkragte te bowe gaan en derhalwe aan ’n bonatuurlike mag toegeskryf word.”

b Jy kan getuienis van die Bybel se geloofwaardigheid ondersoek. Dit word uiteengesit in die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster op bladsy 4]

WAAROM SEKERE WONDERWERKE NIE MEER PLAASVIND NIE

Verskeie soorte wonderwerke word in die Bybel genoem (Eksodus 7:19-21; 1 Konings 17:1-7; 18:22-38; 2 Konings 5:1-14; Matteus 8:24-27; Lukas 17:11-19; Johannes 2:1-11; 9:1-7). Die doel van baie van hierdie wonderwerke was om Jesus as die Messias te identifiseer, en hulle het bewys dat hy God se steun geniet het. Jesus se vroeë volgelinge het wonderdadige gawes ontvang, soos om in tale te praat en geïnspireerde uitinge te verstaan (Handelinge 2:5-12; 1 Korintiërs 12:28-31). Sulke wonderdadige gawes was nuttig gedurende die vroeë dae van die Christengemeente. Hoe so?

Wel, kopieë van die Skrif was skaars. Gewoonlik het net die rykes boekrolle of boeke in enige vorm besit. In heidense lande was daar geen kennis van die Bybel of van die Outeur daarvan, Jehovah, nie. Die Christelike leer moes mondelings oorgedra word. Die wonderdadige gawes was nuttig om te wys dat God die Christengemeente gebruik het.

Maar Paulus het verduidelik dat hierdie gawes sou verbygaan wanneer hulle nie meer nodig was nie. “Of daar nou gawes van profesie is—hulle sal weggedoen word; of daar nou tale is—hulle sal ophou; of daar nou kennis is—dit sal weggedoen word. Want ons het gedeeltelike kennis en ons profeteer gedeeltelik; maar wanneer dit kom wat volkome is, sal wat gedeeltelik is, weggedoen word.”—1 Korintiërs 13:8-10.

Vandag het mense toegang tot Bybels, sowel as konkordansies en ensiklopedieë. Meer as sesmiljoen opgeleide Christene help ander om kennis van God op te doen wat op die Bybel gebaseer is. Wonderwerke is derhalwe nie meer nodig om van Jesus Christus as God se aangestelde Verlosser te getuig of om bewyse te voorsien dat Jehovah sy knegte steun nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel