Te veel kennis vir ons?
’n Sendelingegpaar het op ’n strand in Wes-Afrika gesit en na die silwer maan bokant hulle gekyk. “Hoeveel weet die mens van die maan, en hoeveel is daar om te weet?” het die man nadenkend gesê.
Sy vrou het geantwoord: “Stel jou voor dat ons die aarde so by ons kon sien verbybeweeg—hoeveel kennis is daar reeds op die aarde, en hoeveel meer is daar om te leer? En dink net! Die aarde wentel nie net om die son nie, maar ons hele sonnestelsel is aan die beweeg. Dit beteken dat ons waarskynlik nooit weer op hierdie presiese plek in die heelal sal wees nie. Eintlik weet ons net wat ons huidige posisie in verhouding tot bekende hemelliggame is. Ons het baie kennis oor party dinge, maar in sekere sin weet ons nie eers waar ons is nie!”
HIERDIE gedagtes roer ’n paar basiese waarhede aan. Dit lyk of daar soveel is om te leer. Elkeen van ons leer natuurlik elke dag nuwe dinge. Maar ongeag hoeveel ons leer, dit lyk of ons nie kan tred hou met al die dinge wat ons graag wil weet nie.
Benewens die vermoë om nuwe inligting in te neem, het die vermoë om inligting te bewaar, ook baie groter geword. Die gesamentlike geheue van die mensdom het as gevolg van die tegnologie ontsaglik groot geword. Rekenaarhardeskywe het nou so ’n groot geheuevermoë dat nuwe wiskundige terme uitgedink moes word om dit te beskryf. ’n Magdom inligting kan op ’n eenvoudige CD-ROM geberg word; die geheuevermoë daarvan word as 680 megagrepe of meer beskryf. ’n Standaard-DVD kan amper sewe keer soveel inligting bevat, en DVD’s met selfs ’n groter geheuevermoë word nou al beskikbaar gestel.
Die middele wat die mens vandag tot sy beskikking het om inligting oor te dra, gaan byna ons verstand te bowe. Rolperse druk koerante, tydskrifte en boeke teen ’n ongelooflike spoed. Iemand wat die Internet gebruik, kan met net ’n kliek toegang verkry tot ’n oneindige hoeveelheid inligting. Op hierdie en baie ander maniere word inligting vinniger versprei as wat enigeen dit kan inneem. Al hierdie inligting word soms met ’n see vergelyk, want dit is so groot dat ons as ’t ware moet leer om daarin te swem, maar ons moenie alles probeer indrink nie. Omdat so ’n ontsaglike hoeveelheid inligting beskikbaar is, moet ons noodgedwonge selektief wees.
Nog ’n rede waarom ons selektief moet wees, is omdat baie van die beskikbare inligting nie juis nuttig is nie. Trouens, van hierdie inligting is selfs ongewens, nie die moeite werd om van te weet nie. Onthou dat kennis na inligting verwys—hetsy dit goed of sleg, positief of negatief is. Om sake nog verwarrender te maak, is van die inligting wat deur baie as feite beskou word, eenvoudig nie akkuraat nie. Hoe dikwels het dit nie al gebeur dat die verklarings van selfs hooggeagte gesaghebbendes op die ou end verkeerd, of vals, was nie! Dink byvoorbeeld aan die stadskrywer van eertydse Efese, wat beslis deur die mense daar as ’n goed ingeligte amptenaar beskou is. Hy het dié bewering gemaak: “Watter mens is daar tog wat nie weet dat die stad van die Efesiërs die tempelbewaarder is van die groot Artemis en van die beeld wat uit die hemel geval het nie?” (Handelinge 19:35, 36). Hoewel dit skynbaar algemeen bekend was—volgens baie selfs onbetwisbaar—was dit nie waar dat die beeld uit die hemel geval het nie. Die Heilige Bybel waarsku Christene dus tereg om op hulle hoede te wees teen “sogenaamde ‘kennis’”.—1 Timoteus 6:20.
’n Dwingende rede om selektief te wees wanneer dit by kennis kom, is die feit dat ons huidige lewensduur so kort is. Ongeag hoe oud jy is, daar is ongetwyfeld baie dinge waarvan jy graag meer kennis wil inneem, maar jy besef dat jy eenvoudig nie lank genoeg sal lewe om dit te doen nie.
Sal hierdie basiese probleem ooit uit die weg geruim word? Is dit moontlik dat daar ’n soort kennis beskikbaar is wat die lewe aansienlik sal verleng, selfs vir ewig? Bestaan hierdie soort kennis dalk reeds? Indien wel, sal dit aan almal beskikbaar gestel word? Sal die dag ooit aanbreek wanneer alle kennis is wat ons verwag—die waarheid? Die sendelingegpaar wat vroeër genoem is, het bevredigende antwoorde op hierdie vrae gevind, en jy kan ook. Lees gerus die volgende artikel, wat jou sal vertel van die vooruitsig om vir ewig kennis in te neem.