Lewensverhaal
Hoewel ek swak is, is ek sterk
SOOS VERTEL DEUR LEOPOLD ENGLEITNER
Die SS-offisier het sy pistool uitgepluk, dit teen my kop gehou en gevra: “Is jy gereed om te sterf? Ek gaan die sneller trek, want daar is regtig geen salf aan jou te smeer nie.” “Ek is gereed”, het ek gesê en my stem kalm probeer hou. Ek het my op die ergste voorberei, my oë toegemaak en gewag dat hy die sneller trek, maar niks het gebeur nie. “Jy’s selfs te onnosel om te sterf!” het hy geskreeu en die vuurwapen laat sak. Hoe het ek in so ’n verskriklike situasie beland?
EK IS op 23 Julie 1905 gebore in die dorp Aigen-Voglhub, wat in die Oostenrykse Alpe geleë is. Ek was die oudste seun van ’n saagmeulwerker en ’n plaaslike boer se dogter. My ouers was arm maar hardwerkend. Ek het my vroeë jare in Bad Ischl, naby Salzburg, tussen skilderagtige mere en asemrowende berge deurgebring.
As kind het ek dikwels oor die onregte van die lewe nagedink, nie net omdat ons gesin arm was nie, maar ook omdat ek aan aangebore ruggraatverkromming gely het. Die rugpyn wat deur hierdie toestand veroorsaak is, het dit vir my feitlik onmoontlik gemaak om regop te staan. Op skool is ek nie toegelaat om aan gimnastiek deel te neem nie, en daarom het my klasmaats my gespot.
Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog, kort voordat ek 14 geword het, het ek besluit dat dit tyd was om werk te soek omdat ek nie meer in armoede wou leef nie. Die honger het gedurig aan my geknaag, en ek is verswak deur koorsaanvalle as gevolg van die Spaanse griep, wat miljoene mense na die graf gestuur het. “Van watter nut kan iemand in jou toestand tog vir ons wees?” was die reaksie van die meeste boere wanneer ek werk gevra het. Maar een goedhartige boer het my wel gehuur.
Beïndruk deur God se liefde
Hoewel my ma ’n vroom Katoliek was, het ek selde kerk toe gegaan, hoofsaaklik omdat my pa liberale beskouings oor die saak gehad het. Wat my gekwel het, was die aanbidding van beelde, wat so ’n algemene gebruik in die Rooms-Katolieke Kerk is.
Eendag in Oktober 1931 het ’n vriend my gevra om saam met hom te gaan na ’n godsdiensvergadering van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Hulle het my Bybelse antwoorde gegee op belangrike vrae soos: Keur God die aanbidding van beelde goed? (Eksodus 20:4, 5). Is daar ’n brandende hel? (Prediker 9:5). Sal die dooies opgewek word?—Johannes 5:28, 29.
Wat my die meeste beïndruk het, is die feit dat God nie die mens se wrede oorloë goedkeur nie, al word daar gesê dat dit in Sy naam gevoer word. Ek het geleer dat ‘God liefde is’ en dat hy ’n verhewe naam het, Jehovah (1 Johannes 4:8; Psalm 83:18). Ek was verheug om uit te vind dat mense deur middel van Jehovah se Koninkryk vir ewig in geluk in ’n aardwye paradys sal kan lewe. Ek het ook geleer dat party onvolmaakte mense wat deur God geroep is, die wonderlike vooruitsig het om saam met Jesus in God se hemelse Koninkryk te heers. Ek was bereid om alles op te offer ter wille van daardie Koninkryk. In Mei 1932 is ek dus gedoop en het ek een van Jehovah se Getuies geword. Daardie stap het moed geverg, want in Oostenryk, wat destyds streng Katoliek was, het daar godsdiensonverdraagsaamheid geheers.
Ek verduur minagting en teenstand
My ouers was baie ontsteld toe ek uit die kerk bedank, en die priester het die nuus dadelik van die preekstoel af versprei. Van ons bure het op die grond voor my gespoeg om hulle minagting te toon. Maar ek was vasbeslote om ’n voltydse bedienaar te word en het in Januarie 1934 pionierdiens begin doen.
Die politieke situasie het al hoe meer gespanne geword omdat die Nazi-party se invloed in ons provinsie baie toegeneem het. Terwyl ek in die Ennsvallei in Stiermarke pionierdiens gedoen het, was die polisie kort op my hakke, en ek moes ‘versigtig soos ’n slang’ wees (Matteus 10:16). Van 1934 tot 1938 het ek elke dag vervolging verduur. Hoewel ek werkloos was, is ek werkloosheidsvergoeding geweier, en as gevolg van my predikingswerk is ek ’n hele paar kort en vier langer tronkvonnisse opgelê.
Hitler se troepe neem Oostenryk in
In Maart 1938 het Hitler se troepe Oostenryk ingeneem. Binne ’n paar dae is meer as 90 000 mense—ongeveer 2 persent van die volwasse bevolking—in hegtenis geneem en na tronke en konsentrasiekampe gestuur op aanklag dat hulle die Nazi-bewind teëstaan. Jehovah se Getuies was in ’n mate voorbereid op wat hulle te wagte kon wees. In die somer van 1937 het ’n hele paar broers van my tuisgemeente 350 kilometer ver op fietse na Praag gery om ’n internasionale byeenkoms by te woon. Daar het hulle gehoor van die gruweldade wat teen ons medegelowiges in Duitsland gepleeg is. Nou was dit blykbaar ons beurt.
Van die dag af dat Hitler se troepe Oostenryk binnegeval het, moes Jehovah se Getuies noodgedwonge hulle vergaderinge in die geheim hou en hulle predikingsbedrywighede ondergronds voortsit. Hoewel Bybellektuur oor die Switserse grens gesmokkel is, was daar nie genoeg vir almal nie. Daarom het mede-Christene in Wene in die geheim lektuur vervaardig. Ek het dikwels as ’n koerier gedien en lektuur by Getuies afgelewer.
Na ’n konsentrasiekamp
Op 4 April 1939 is ek en drie mede-Christene deur die Gestapo in hegtenis geneem terwyl ons die Herdenking van Christus se dood in Bad Ischl gevier het. Ons is per motor na die Staatspolisie se hoofkwartier in Linz geneem. Dit was die heel eerste keer dat ek in ’n motor gery het, maar ek was te bekommerd om dit te geniet. In Linz is ek aan ’n aantal folterende ondervragings onderwerp, maar ek het nie my geloof verloën nie. Vyf maande later het ek in Opper-Oostenryk voor die regter verskyn wat die voorlopige ondersoek waargeneem het. Die strafsaak teen my is onverwags teruggetrek; maar dit was nie die einde van my beproewinge nie. Intussen is die ander drie na konsentrasiekampe gestuur, waar hulle getrou gesterf het.
Ek was nog steeds in aanhouding, en op 5 Oktober 1939 is ek in kennis gestel dat ek na die Buchenwald-konsentrasiekamp in Duitsland geneem sou word. ’n Spesiale trein het by die Linz-stasie vir die gevangenes gewag. Die goederewaens het selle vir twee mense gehad. Die man wat saam met my in die sel was, was niemand anders nie as die voormalige goewerneur van Opper-Oostenryk, dr. Heinrich Gleissner.
Ek het ’n interessante gesprek met dr. Gleissner gehad. Hy het opreg in my verknorsing belanggestel, en dit het hom ontstel dat Jehovah se Getuies selfs gedurende sy ampstermyn voor tallose regsprobleme in sy provinsie te staan gekom het. Hy het vol spyt gesê: “Mnr. Engleitner, ek kan nie die onreg herstel nie, maar ek wil verskoning vra. Dit lyk of ons regering ’n regsdwaling begaan het. As julle ooit enige hulp nodig het, sal ek met graagte doen wat ek kan.” Ons het mekaar ná die oorlog weer gesien. Hy het my gehelp om ’n staatspensioen vir Nazi-slagoffers te kry.
“Ek gaan jou skiet”
Op 9 Oktober 1939 het ek by die Buchenwald-konsentrasiekamp aangekom. Kort daarna het die tronkbewaarder gehoor dat daar ’n Getuie onder die nuwelinge is, en ek het sy teiken geword. Hy het my genadeloos geslaan. Toe hy later besef dat hy my nie sover kon kry om my geloof te verloën nie, het hy gesê: “Ek gaan jou skiet, Engleitner. Maar voordat ek dit doen, gaan ek jou ’n afskeidskaartjie aan jou ouers laat skryf.” Ek het gedink aan woorde van vertroosting wat ek aan my ouers kon skryf, maar elke keer wanneer ek geskryf het, het hy my regterelmboog gestamp sodat ek gekrabbel het. Hy het smadend gesê: “So ’n idioot! Hy kan nie eers twee reguit reëls skryf nie. Maar dit keer hom nie om die Bybel te lees nie, né?”
Daarna het die bewaarder sy pistool uitgepluk, dit teen my kop gehou en gesê dat hy die sneller gaan trek, soos ek aan die begin van hierdie verhaal vertel het. Toe het hy my in ’n klein, oorvol sel gesit. Ek moes die hele nag deur staan. Maar ek sou in elk geval nie kon slaap nie, want my hele liggaam was seer. “Dis regtig nie die moeite werd om vir die een of ander simpele godsdiens te sterf nie!” was die enigste “vertroosting” wat my selmaats my gebied het. Dr. Gleissner was in die sel langsaan. Hy het gehoor wat gebeur het en het nadenkend gesê: “Die vervolging van Christene steek al weer sy lelike kop uit!”
In die somer van 1940 is al die gevangenes beveel om op ’n Sondag vir werk in die steengroef aan te meld, al het ons gewoonlik Sondae vry gehad. Dit was ’n vergeldingsmaatreël vir party gevangenes se “wangedrag”. Ons is beveel om groot klippe van die steengroef af na die kamp te dra. Twee gevangenes het ’n groot klip op my rug probeer sit, en ek het byna inmekaargesak onder die gewig. Maar Arthur Rödl, die gevreesde Lagerführer (kamphoof), het my onverwags te hulp gekom. Toe hy sien hoe pynlik dit vir my was om die klip te dra, het hy vir my gesê: “Jy sal nooit by die kamp uitkom met daardie klip op jou rug nie! Sit dit dadelik neer!” Dit was ’n bevel wat ek met graagte gehoorsaam het. Toe het Rödl na ’n baie kleiner klip gewys en gesê: “Tel daardie een op en neem dit kamp toe. Dis makliker om te dra!” Daarna het hy na ons toesighouer gedraai en beveel: “Laat die Bybelstudente teruggaan na hulle barakke. Hulle het genoeg gewerk vir een dag!”
Aan die einde van elke werksdag het ek dit altyd geniet om met my geestelike gesin om te gaan. Ons het reëlings getref om geestelike voedsel te versprei. ’n Broer het gewoonlik ’n Bybelvers op ’n stukkie papier geskryf en dit dan vir die ander gegee. ’n Bybel is ook in die kamp ingesmokkel. Dit is uitmekaargehaal en in afsonderlike boeke verdeel. Die boek Job is drie maande lank aan my toevertrou. Ek het dit in my sokkies weggesteek. Die verhaal van Job het my gehelp om standvastig te bly.
Op 7 Maart 1941 is ek uiteindelik saam met ’n groot konvooi na die Niederhagen-konsentrasiekamp oorgeplaas. My toestand het elke dag versleg. Eendag is ek en twee broers beveel om gereedskap in kratte te pak. Nadat ons dit gedoen het, het ons saam met ’n ander groep gevangenes na die barakke toe teruggegaan. ’n SS-soldaat het gesien dat ek agterraak. Hy het so woedend geword dat hy my sonder waarskuwing wreed van agter af geskop en my ernstig beseer het. Die pyn was ondraaglik, maar ek het ondanks die pyn die volgende dag gaan werk.
Onverwagte vrylating
In April 1943 is die Niederhagen-kamp uiteindelik ontruim. Daarna is ek na die uitwissingskamp by Ravensbrück oorgeplaas. In Junie 1943 is ek toe onverwags die geleentheid gebied om uit die konsentrasiekamp vrygelaat te word. Hierdie keer het my vrylating nie daarvan afgehang dat ek my geloof verloën nie. Ek moes net instem om vir die res van my lewe as ’n dwangarbeider op ’n plaas te werk. Ek was bereid om dit te doen om van die gruwels van die kamp af weg te kom. Ek het vir ’n laaste ondersoek na die kampdokter toe gegaan. Die dokter was verbaas om my te sien. “Jy’s sowaar nog steeds een van Jehovah se Getuies!” het hy uitgeroep. “Dis reg, Dokter”, het ek geantwoord. “Wel, dan kan ek nie sien waarom ons jou moet vrylaat nie. Aan die ander kant sal dit ’n groot verligting wees om van ’n ellendeling soos jy ontslae te raak.”
Dit was nie ’n oordrywing nie. Ek was in ’n ellendige toestand. My vel was gedeeltelik deur luise opgeëet, ek was as gevolg van slae doof in die een oor en my hele liggaam was vol swere. Ná 46 maande van ontberings, eindelose honger en dwangarbeid het ek net 28 kilogram geweeg. In daardie toestand is ek op 15 Julie 1943 uit Ravensbrück vrygelaat.
Ek is onbewaak per trein na my tuisdorp teruggestuur en het my by die Gestapohoofkwartier in Linz aangemeld. Die Gestapo-offisier het my vrylatingsdokumente vir my gegee en my gewaarsku: “As jy dink dat ons jou vrylaat sodat jy met jou ondergrondse bedrywighede kan voortgaan, maak jy ’n groot fout! Die hemel behoed jou as ons jou ooit vang preek.”
Ek was uiteindelik by die huis! My ma het niks in my kamer verander vandat ek op 4 April 1939 vir die eerste keer in hegtenis geneem is nie. Selfs my Bybel het oop op my bedkassie gelê! Ek het op my knieë gegaan en ’n hartgrondige dankgebed gedoen.
Ek moes kort daarna op ’n bergplaas gaan werk. Die boer, ’n jeugvriend, het my selfs ’n klein salaris betaal, al was hy nie verplig om dit te doen nie. Voor die oorlog het hierdie vriend my toestemming gegee om Bybellektuur op sy plaas weg te steek. Ek was bly dat ek daardie klein voorraad lektuur goed kon gebruik om geestelike krag te kry. Al my behoeftes is bevredig, en ek was vasbeslote om tot die einde van die oorlog op die plaas te bly.
Ek kruip in die berge weg
Maar daardie stil dae van vryheid was van korte duur. In die middel van Augustus 1943 is ek beveel om vir ’n mediese ondersoek by ’n militêre dokter aan te meld. Eers het hy my ongeskik vir krygsdiens verklaar weens my rugprobleem. Maar ’n week later het dieselfde dokter sy bevindings verander na: “Geskik vir krygsdiens in die gevegslinies.” Die leër kon my ’n ruk lank nie in die hande kry nie, maar op 17 April 1945, kort voor die einde van die oorlog, het hulle my uiteindelik opgespoor. Ek is vir diens in die gevegslinies opgeroep.
Met ’n bietjie kos, klere en ’n Bybel het ek in die nabygeleë berge gaan skuiling soek. In die begin kon ek buite slaap, maar die weer het versleg en 500 millimeter sneeu het geval. Ek het papnat geword. Ek het uiteindelik by ’n berghut uitgekom wat byna 1 200 meter bo seespieël was. Bibberend het ek ’n vuur in die kaggel gemaak sodat ek kon warm word en my klere kon droogmaak. Ek was so uitgeput dat ek op ’n bank voor die kaggel aan die slaap geraak het. Nie lank daarna nie het ek van hewige pyn wakker geskrik. Ek was aan die brand! Ek het op die grond rondgerol om die vlamme te blus. My rug was die ene blase.
Hoewel dit baie gevaarlik was, het ek voor dagbreek na die bergplaas toe teruggesluip, maar die boer se vrou was so bang dat sy my weggestuur het. Sy het gesê dat ’n mensejag aan die gang was om my te vind. Ek het dus na my ouers toe gegaan. Selfs my ouers het eers gehuiwer om my in te neem, maar hulle het my uiteindelik in die hooisolder laat slaap, en my ma het my wonde versorg. Ná twee dae was my ouers egter so onrustig dat ek besluit het dat dit die beste sal wees om weer in die berge weg te kruip.
Op 5 Mei 1945 het ’n harde geraas my wakker gemaak. Ek het vliegtuie van die Geallieerdes laag sien vlieg. Op daardie oomblik het ek geweet dat Hitler se bewind omvergewerp is! Jehovah se gees het my versterk om ’n ongelooflike beproewing te verduur. Ek het die waarheid ondervind van die woorde wat opgeteken is in Psalm 55:22, wat my aan die begin van my beproewinge so vertroos het. Ek het ‘my las op Jehovah gewerp’, en hoewel ek fisies swak was, het hy my onderskraag terwyl ek deur “die vallei van diep skaduwee” gewandel het.—Psalm 23:4.
Jehovah se krag “word in swakheid tot volmaaktheid gebring”
Ná die oorlog het die lewe stadigaan weer normaal geword. In die begin het ek as ’n arbeider op my vriend se bergplaas gewerk. Eers nadat die Amerikaanse besettingsleër in April 1946 ingegryp het, is ek vrygestel van die verpligting om vir die res van my lewe as ’n dwangarbeider op ’n plaas te werk.
Ná die oorlog het Christenbroers in Bad Ischl en die omliggende gebied gereeld vergaderinge begin hou. Hulle het die predikingswerk met hernieude ywer begin doen. Ek is werk as ’n nagwag in ’n fabriek aangebied en kon dus aanhou om pionierdiens te doen. Ek het my uiteindelik in die St. Wolfgang-gebied gevestig, en in 1949 is ek getroud met Theresia Kurz, wat ’n dogter uit ’n vorige huwelik gehad het. Ons was 32 jaar lank saam totdat my geliefde vrou in 1981 oorlede is. Ek het haar meer as sewe jaar lank versorg.
Ná Theresia se dood het ek weer pionierdiens begin doen, en dit het my gehelp om oor die groot verlies te kom. Ek dien op die oomblik as ’n pionier en ’n ouer man in ons gemeente in Bad Ischl. Aangesien ek aan ’n rystoel gekluister is, praat ek met mense oor die Koninkrykshoop en bied ek vir hulle Bybellektuur aan in die Bad Ischl-park of voor my huis. Die goeie Bybelbesprekings wat ek het, is vir my ’n bron van groot vreugde.
Wanneer ek terugkyk, kan ek getuig dat die verskriklike ondervindings wat ek moes verduur, my nie verbitterd gemaak het nie. Ek het natuurlik soms terneergedruk gevoel as gevolg van die beproewinge. Maar my hegte verhouding met Jehovah God het my gehelp om deur daardie negatiewe tye te kom. Die Here se woorde aan Paulus: “My krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring”, was ook in my lewe waar. Ek is nou byna 100 jaar oud en kan soos die apostel Paulus sê: “[Ek] skep . . . behae in swakhede, in beledigings, in gevalle van nood, in vervolginge en moeilikhede, ter wille van Christus. Want wanneer ek swak is, dan is ek sterk.”—2 Korintiërs 12:9, 10.
[Prente op bladsy 25]
Deur die Gestapo in hegtenis geneem, April 1939
Gestapodokument met aanklagte, Mei 1939
[Erkenning]
Albei foto’s: Privatarchiv; B. Rammerstorfer
[Prent op bladsy 26]
Nabygeleë berge het skuilplek gebied
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Foto Hofer, Bad Ischl, Austria