Vrae van lesers
Deuteronomium 14:21 sê: “Julle mag geen dier eet wat doodgegaan het nie.” Weerspreek dit Levitikus 11:40, wat sê: “Hy wat iets van die dooie liggaam eet, moet sy klere was, en hy sal tot die aand toe onrein wees”?
Daar is geen teenstrydigheid tussen hierdie twee verse nie. Die eerste teks herhaal die bevel om nie ’n dier te eet wat dood aangetref is nie, miskien een wat deur wilde diere doodgemaak is (Eksodus 22:31; Levitikus 22:8). Die tweede teks verduidelik wat ’n Israeliet kon doen as hy daardie bevel oortree het, moontlik per ongeluk.
Die feit dat die Wet iets verbied het, het nie beteken dat die verbod nie soms verontagsaam sou word nie. Daar was byvoorbeeld wette teen diefstal, moord, die aflegging van valse getuienis, ensovoorts. Terselfdertyd was daar strafbepalings vir die oortreding van hierdie godgegewe wette. Hierdie strafbepalings het krag verleen aan die wette en getoon hoe ernstig dit is.
Iemand wat die bevel oortree het wat hom verbied het om die vleis te eet van ’n dier wat dood aangetref is, was onrein in Jehovah se oë en moes die gepaste reinigingsprosedure volg. As hy hom nie behoorlik gereinig het nie, sou hy moes “verantwoording doen vir sy oortreding”.—Levitikus 17:15, 16.