Ware leringe—Waar kan jy dit vind?
’N MAN in Tibet draai ’n bidwiel, ’n trommel waaraan daar geskrewe gebede is. Hy glo dat sy versoeke met elke draai van die wiel herhaal word. In ’n ruim huis in Indië word ’n kamertjie opsygesit vir poeja—aanbidding waarin daar moontlik offers van wierook, blomme en ander dinge aan beelde van verskeie gode en godinne gebring word. Duisende kilometer daarvandaan, in Italië, kniel ’n vrou in ’n ryk versierde kerk voor ’n beeld van Maria, die moeder van Jesus, en bid sy terwyl sy ’n rosekrans vashou.
Dalk het jy al self die invloed van godsdiens op mense se lewens gesien. “Godsdiens . . . was en is steeds die lewensbloed van gemeenskappe oor die hele wêreld”, sê die boek The World’s Religions—Understanding the Living Faiths. In die boek God—A Brief History sê die skrywer John Bowker: “Daar was nog geen mensegemeenskap waarin God nie ’n rol gespeel het nie, gewoonlik ’n beherende en skeppende rol. Dit is selfs die geval met gemeenskappe wat doelbewus sekulêr probeer wees.”
Ja, godsdiens het die lewens van miljoene mense beïnvloed. Is dit nie kragtige bewys dat die mens ’n geestelike behoefte en hunkering het nie? In sy boek The Undiscovered Self verwys die beroemde sielkundige dr. Carl G. Jung na die behoefte om ’n hoër mag te aanbid en sê hy dat “bewyse daarvan deur die hele mensegeskiedenis heen gesien kan word”.
Nogtans is daar baie mense wat nie geloof in God bely of enige belangstelling in godsdiens toon nie. Sommige wat twyfel of ontken dat God bestaan, doen dit hoofsaaklik omdat die godsdienste waarmee hulle bekend is, versuim het om hulle geestelike behoefte te bevredig. Godsdiens is al gedefinieer as “toegewydheid aan die een of ander beginsel; streng getrouheid; gewetensgetrouheid; vroom geneentheid of gehegtheid”. Volgens hierdie definisie openbaar byna alle mense die een of ander vorm van godsdienstige toegewydheid in hulle lewe. Dit sluit selfs ateïste in.
Gedurende die duisende jare van die mensegeskiedenis het die mens se pogings om sy geestelike behoefte te bevredig, hom in baie rigtings gelei. Die gevolg is die geweldige verskeidenheid godsdiensbeskouings wat regoor die wêreld gevind word. Hoewel byna alle godsdienste geloof in ’n hoër mag bevorder, het hulle byvoorbeeld verskillende idees oor wie of wat dit is. Die meeste gelowe beklemtoon ook die belangrikheid van redding of bevryding. Maar hulle leringe verskil ten opsigte van wat redding is en hoe dit verkry word. Hoe kan ons ware leringe wat God behaag, onder die groot verskeidenheid opvattings identifiseer?