Ware leringe wat God behaag
OM DIE aarde se bewoners in staat te stel om te weet watter leringe waar is en God behaag, moet hy sy gedagtes aan mense openbaar. Hy moet daardie openbaring ook aan almal beskikbaar stel. Hoe anders sal die mensdom kan weet wat God goedkeur ten opsigte van leerstellings, aanbidding en gedrag? Het God sulke inligting voorsien? Indien wel, in watter vorm?
Kan enige mens met ’n lewensduur van ’n paar dekades persoonlik die hele mensdom bereik en as ’n kommunikasiekanaal van God dien? Nee. Maar ’n permanente geskrewe verslag kan wel. Sou dit dan nie gepas wees dat die openbaring van God in die vorm van ’n boek beskikbaar gestel word nie? ’n Ou boek wat verklaar dat dit deur God geïnspireer is, is die Bybel. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer”, sê een van sy skrywers (2 Timoteus 3:16). Kom ons beskou die Bybel van nader en kyk of dit die bron van ware leringe is.
Hoe oud?
Van die vername godsdiensboeke is die Bybel een van die heel oudstes. Die eerste dele daarvan is ongeveer 3 500 jaar gelede geskryf. Hierdie boek is in 98 G.J.a voltooi. Hoewel dit deur sowat 40 manne oor ’n tydperk van 1 600 jaar geskryf is, is die Bybel ’n harmonieuse versameling geskrifte. Dit is die geval omdat die werklike Outeur daarvan God is.
Die Bybel is die wyds verspreide en mees vertaalde boek in die hele geskiedenis. Ongeveer 60 miljoen eksemplare van die hele Bybel of dele daarvan word elke jaar versprei. Die volledige Bybel of dele daarvan is al in meer as 2 300 tale en dialekte vertaal. Meer as 90 persent van die mensdom het toegang tot die Bybel, of ten minste ’n deel daarvan, in hulle moedertaal. Hierdie boek breek nasionale grense, rasseverdeeldheid en etniese skeidsmure af.
Hoe saamgestel?
As jy ’n Bybel het, kan jy dit gerus oopmaak en kyk hoe dit saamgestel is.b Blaai eers na die inhoudsopgawe. Die meeste Bybels het een voorin, wat die naam van elke boek gee en die bladsynommer waar dit gevind kan word. Jy sal sien dat die Bybel eintlik ’n groot versameling afsonderlike boeke is, wat elkeen ’n unieke naam het. Die eerste boek is Genesis, en die laaste is Openbaring. Die boeke word in twee groepe verdeel. Die eerste 39 boeke word die Hebreeuse Geskrifte genoem, aangesien hulle meestal in Hebreeus geskryf is. Die laaste 27 boeke is in Grieks geskryf en maak die Griekse Geskrifte uit. Party mense verwys na hierdie twee dele as die Ou Testament en die Nuwe Testament.
Die boeke van die Bybel het hoofstukke en verse sodat ’n mens maklik daarna kan verwys. Wanneer tekste in hierdie tydskrif aangegee word, verwys die eerste nommer ná die naam van die Bybelboek na die hoofstuk in daardie boek, en die volgende nommer verwys na die vers. Byvoorbeeld, die teksverwysing “2 Timoteus 3:16” beteken die boek Tweede Timoteus, hoofstuk 3, vers 16. Kyk of jy daardie vers in die Bybel kan vind.
Stem jy nie saam dat die beste manier om met die Bybel vertroud te raak, is om dit gereeld te lees nie? Sommige het dit nuttig gevind om die Griekse Geskrifte eerste te lees deur met die boek Matteus te begin. As jy drie tot vyf hoofstukke per dag lees, kan jy die hele Bybel in ’n jaar deurlees. Maar hoe kan jy seker wees dat wat jy in die Bybel lees, werklik deur God geïnspireer is?
Kan jy die Bybel vertrou?
Moet ’n boek vir alle mense wat deur God geïnspireer is, nie tydlose raad vir die lewe bevat nie? Die Bybel weerspieël ’n begrip van die menslike natuur wat op elke geslag van die mensdom van toepassing is, en die beginsels daarin is vandag net so prakties soos toe dit aanvanklik neergeskryf is. Dit kan maklik gesien word in ’n bekende toespraak wat Jesus Christus, die Stigter van die Christelike geloof, gehou het. Dit is in Matteus hoofstukke 5 tot 7 opgeteken. Hierdie toespraak, wat bekend staan as die Bergpredikasie, toon nie net vir ons hoe om ware geluk te vind nie, maar ook hoe om geskille op te los, hoe om te bid, hoe om materiële behoeftes te beskou en veel meer. In hierdie toespraak, en in die res van die Bybel, vertel dit ons duidelik wat ons moet doen en wat ons moet vermy om God te behaag en ons lot in die lewe te verbeter.
Nog ’n rede waarom jy jou vertroue in die Bybel kan stel, is dat hierdie ou boek akkuraat is wanneer dit by wetenskaplike sake kom. Byvoorbeeld, toe die meeste mense geglo het dat die aarde plat is, het die Bybel gepraat van “die kring [of, sfeer] van die aarde” (Jesaja 40:22).c En meer as 3 000 jaar voordat die bekende wetenskaplike sir Isaac Newton verduidelik het dat die planete deur swaartekrag in die leë ruimte gehou word, het die Bybel in poëtiese taal gesê dat ‘die aarde aan niks hang’ nie (Job 26:7). Kyk ook na hierdie poëtiese beskrywing van die aarde se waterkringloop, wat sowat 3 000 jaar gelede neergeskryf is: “Al die strome vloei in die see in; tog is die see nooit vol nie. Na die plek vanwaar die strome kom, daarheen keer hulle weer terug” (Prediker 1:7, New International Version). Ja, die Skepper van die heelal is ook die Outeur van die Bybel.
Die geskiedkundige akkuraatheid van die Bybel stem ooreen met die feit dat dit deur God geïnspireer is. Gebeurtenisse wat in die Bybel beskryf word, is nie blote mites nie. Hulle hou verband met spesifieke datums, mense en plekke. Byvoorbeeld, Lukas 3:1 meld feite, want dit verwys na “die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius, toe Pontius Pilatus goewerneur van Judea was, en Herodes distriksheerser van Galilea”.
In teenstelling met eertydse geskiedkundiges wat byna altyd net die oorwinnings en deugde van heersers neergeskryf het, was die Bybelskrywers eerlik en het hulle selfs hulle eie foute openlik erken. Koning Dawid van Israel het byvoorbeeld bely: “Ek het grootliks gesondig deur wat ek gedoen het. . . . Ek het baie dwaas opgetree.” Daardie stelling is openhartig in die Bybel neergeskryf (2 Samuel 24:10). En die Bybelskrywer Moses het self die voorval opgeteken toe hy nie vertroue in die ware God getoon het nie.—Numeri 20:12.
Die Bybel bevat nog ’n kenmerk van goddelike inspirasie. Hierdie kenmerk is vervulde profesieë—geskiedenis wat vooruit geskryf is. Sommige daarvan is profesieë oor Jesus Christus. Meer as 700 jaar voor Jesus se geboorte het die Hebreeuse Geskrifte byvoorbeeld akkuraat voorspel dat hierdie Een wat beloof is, “in Betlehem in Judea” gebore sou word.—Matteus 2:1-6; Miga 5:2.
Kyk na nog ’n voorbeeld. In 2 Timoteus 3:1-5 sê die Bybel: “Daar [sal] in die laaste dae kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën.” Beskryf dit nie die gesindheid van die meeste mense van vandag nie? Hierdie woorde is in die jaar 65 G.J. opgeteken, meer as 1 900 jaar gelede!
Wat leer die Bybel ons?
Namate die Bybel se boodskap voor jou oë ontvou, sal jy kan sien dat dit ’n bron van hoër wysheid is. Dit voorsien bevredigende antwoorde op vrae soos: Wie is God? Is die Duiwel ’n werklike persoon? Wie is Jesus Christus? Waarom ly mense? Wat gebeur met ons wanneer ons sterf? Die antwoorde wat jy dalk by ander hoor, is so uiteenlopend soos die opvattings en gebruike van die mense wat dit gee. Maar die Bybel openbaar die waarheid oor hierdie en baie ander onderwerpe. Daarbenewens is die Bybel se riglyne oor gedrag en gesindhede teenoor ander mense en hoër owerhede onoortreflik.d
Wat toon die Bybel aangaande God se voorneme vir die aarde en die mensdom? Dit belowe: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:10, 11). “God self sal by [die mensdom] wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.
Die Bybel voorspel ook dat oorlog, misdaad, geweld en goddeloosheid binnekort tot ’n einde sal kom. Siekte, ouderdom en die dood sal daar nie meer wees nie. Die ewige lewe op ’n paradysaarde sal ’n werklikheid word. Watter wonderlike vooruitsigte is dit tog! En dit alles toon inderdaad God se liefde vir die mensdom!
Wat sal jy doen?
Die Bybel is ’n wonderlike gawe van die Skepper. Hoe moet jy op hierdie boek reageer? ’n Man met ’n Hindoe-agtergrond het geglo dat ’n openbaring van God so oud soos die beskawing self moet wees om die hele mensdom tot voordeel te strek. Toe hy uitvind dat dele van die Bybel ouer is as die oudste Hindoegeskrifte, die Vedas, het hy besluit om die Bybel te lees en die inhoud daarvan te ondersoek.e ’n Universiteitsprofessor in die Verenigde State het ook besef dat hy hierdie boek met die grootste verspreiding ter wêreld moet lees voordat hy ’n opinie daaroor vorm.
As jy die Bybel lees en toepas wat dit leer, sal dit vir jou ryk seëninge meebring. Die Bybel sê: “Gelukkig is die man . . . [wie se] behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon. En hy sal beslis word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees” (Psalm 1:1-3).f As jy die Bybel bestudeer en peins oor wat dit sê, sal dit vir jou geluk meebring omdat jou geestelike behoefte sodoende bevredig sal word (Matteus 5:3). Die Bybel sal vir jou wys hoe om ’n lonende lewe te lei en hoe om probleme met welslae die hoof te bied. Ja, “in die onderhouding [van God se wette in die Bybel] is ’n groot beloning” (Psalm 19:11). Wat meer is, as jy vertroue stel in God se beloftes, sal dit vir jou nou seëninge meebring en ’n helder hoop vir die toekoms gee.
Die Bybel spoor ons aan: “Ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort” (1 Petrus 2:2). ’n Kindjie het voeding nodig en dring daarop aan dat daardie behoefte bevredig word. Ons is eweneens afhanklik van kennis van God. ‘Ontwikkel dus ’n verlange’, of ’n sterk begeerte, na sy Woord. Die Bybel is ’n boek van ware leringe wat van God kom. Stel jou dit ten doel om dit gereeld te bestudeer. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou graag help om die grootste voordeel uit jou studie te trek. Jy word hartlik genooi om met hulle in aanraking te kom. Of jy kan aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf.
[Voetnote]
a G.J. staan vir “van die Gewone Jaartelling”, wat dikwels aangegee word as “AD”, vir Anno Domini (in die jaar van ons Here), of as n.C., wat staan vir “na Christus”. En v.G.J. beteken “voor die Gewone Jaartelling”.
b As jy nie ’n persoonlike eksemplaar van die Bybel het nie, sal Jehovah se Getuies graag een aan jou voorsien.
c Die woord in die oorspronklike taal wat in Jesaja 40:22 as “kring” vertaal word, kan ook as “sfeer” weergegee word. Sekere Bybelvertalings sê “die aardbol” (Douay Version) en “die ronde aarde”.—Moffatt.
d Hierdie onderwerpe word bespreek in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.
e Die vroegste gesange van die Vedas is glo byna 3 000 jaar gelede gekomponeer en mondelings oorgedra. “Die Veda is eers in die veertiende eeu n.C. neergeskryf”, sê P. K. Saratkumar in sy boek A History of India.
f Jehovah is die naam van die God van die Bybel. In baie Bybelvertalings kan dit in Psalm 83:18 gevind word.
[Prent op bladsy 7]
‘Ontwikkel ’n verlange’ na God se Woord. Bestudeer die Bybel gereeld
[Foto-erkenning op bladsy 5]
NASA photo