Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 10/1 bl. 26-31
  • Ouers—Watter toekoms wil julle vir julle kinders hê?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouers—Watter toekoms wil julle vir julle kinders hê?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kies ’n goeie lewe
  • Voorbereiding vir die toekoms
  • Die koste daaraan verbonde om hoër onderwys na te streef
  • Watter alternatiewe is daar?
  • Hoe beskou Jehovah se Getuies opvoeding?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • Opvoeding met ’n doel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Is die Bybel teen geleerdheid gekant?
    Ontwaak!—1998
  • Aanvullende opleiding of nie?
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 10/1 bl. 26-31

Ouers—Watter toekoms wil julle vir julle kinders hê?

“Jong manne en ook maagde . . . Laat hulle die naam van Jehovah loof.”—PSALM 148:12, 13.

1. Oor watter dinge bekommer ouers hulle in verband met hulle kinders?

WATTER ouers kwel hulle nie oor die toekoms van hulle kinders nie? Vanaf die oomblik dat ’n baba gebore word—of selfs vroeër—begin die ouers hulle oor sy welsyn bekommer. Sal hy gesond wees? Sal hy normaal ontwikkel? Namate die kind ouer word, is daar bykomende bekommernisse. Ouers wil oor die algemeen net die beste vir hulle kinders hê.—1 Samuel 1:11, 27, 28; Psalm 127:3-5.

2. Waarom voel baie ouers vandag sterk daaroor dat hulle kinders ’n goeie lewe moet geniet wanneer hulle groot is?

2 Maar in vandag se wêreld is dit vir ouers ’n uitdaging om hulle kinders die beste te gee. Baie ouers het swaar tye deurgemaak—oorloë, politieke omwentelinge, ekonomiese ontberinge, fisiese of emosionele traumas, ensovoorts. Dit is natuurlik hulle hartgrondige begeerte dat hulle kinders nie dieselfde dinge moet ervaar nie. In welvarende lande sien ouers miskien hoe die seuns en dogters van hulle vriende en familielede vooruitgang maak in professionele loopbane en skynbaar suksesvolle lewens lei. Hulle voel dus verplig om alles in hulle vermoë te doen om te verseker dat hulle kinders ook ’n redelik gerieflike en veilige lewe—’n goeie lewe—sal kan geniet wanneer hulle groot is.—Prediker 3:13.

Kies ’n goeie lewe

3. Watter keuse het Christene gemaak?

3 As volgelinge van Jesus Christus het Christene gekies om hulle lewe aan Jehovah toe te wy. Hulle het Jesus se woorde ter harte geneem: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en dag vir dag sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Lukas 9:23; 14:27). Ja, ’n Christen se lewe behels selfopoffering. Maar dit is nie ’n lewe van ontbering en ellende nie. Inteendeel, dit is ’n gelukkige en bevredigende lewe—’n goeie lewe—want dit sluit in om te gee, en soos Jesus gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

4. Wat het Jesus sy volgelinge aangespoor om na te streef?

4 Die mense in Jesus se dag het onder baie moeilike omstandighede gelewe. Benewens die feit dat hulle ’n bestaan moes maak, moes hulle ook die hardvogtige heerskappy van die Romeine en die onderdrukkende las van die formalistiese godsdiensyweraars van destyds verduur (Matteus 23:2-4). Nietemin het baie wat van Jesus gehoor het, persoonlike strewes—selfs loopbane—gewillig prysgegee en sy volgelinge geword (Matteus 4:18-22; 9:9; Kolossense 4:14). Het daardie dissipels ’n risiko geneem en hulle toekoms op die spel geplaas? Let op Jesus se woorde: “Elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of landerye ter wille van my naam verlaat het, sal baie keer soveel ontvang en die ewige lewe beërf” (Matteus 19:29). Jesus het sy volgelinge verseker dat die hemelse Vader weet wat hulle nodig het. Hy het hulle dus aangespoor: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:31-33.

5. Hoe voel party ouers oor Jesus se versekering dat God vir sy knegte sal sorg?

5 Dinge is vandag nie baie anders nie. Jehovah weet wat ons nodig het, en diegene wat Koninkryksbelange eerste in hulle lewe stel, veral diegene wat die voltydse bediening nastreef, het dieselfde versekering dat hy vir hulle sal sorg (Maleagi 3:6, 16; 1 Petrus 5:7). Maar party ouers het gemengde gevoelens in hierdie opsig. Aan die een kant wil hulle sien dat hulle kinders vooruitgang maak in Jehovah se diens, miskien mettertyd die voltydse bediening betree. Aan die ander kant voel hulle, met die oog op die ekonomiese situasie en probleme om sekulêre werk te kry in vandag se wêreld, dat dit vir jongmense belangrik is om eers ’n goeie opvoeding te kry sodat hulle die nodige kwalifikasies vir ’n goeie werk sal hê of ten minste iets sal hê om op terug te val indien nodig. Vir sulke ouers beteken ’n goeie opvoeding dikwels hoër onderwys.

Voorbereiding vir die toekoms

6. Hoe word die uitdrukking “hoër onderwys” in hierdie artikel gebruik?

6 Die onderwysstelsel verskil van land tot land. In die Verenigde State bied openbare skole byvoorbeeld 12 jaar van basiese opvoeding. Daarna kan leerders kies om nog vier jaar of langer na ’n universiteit of kollege te gaan vir ’n baccalaureusgraad of nagraadse studies vir ’n loopbaan in die geneeskunde, regte, ingenieurswese, ensovoorts. Hierdie soort universiteitsopleiding is wat bedoel word met die uitdrukking “hoër onderwys” soos dit in hierdie artikel gebruik word. Daarenteen is daar tegniese en vakskole wat korttermynkursusse aanbied vir ’n sertifikaat of diploma in die een of ander ambag of diens.

7. Aan watter druk word leerders in hoërskole onderwerp?

7 Die tendens is vandag dat sekondêre of hoërskole hulle leerders vir hoër onderwys voorberei. Daarom spits die meeste hoërskole hulle toe op akademiese vakke wat die leerders in staat stel om goeie punte in universiteitstoelatingseksamens te behaal eerder as op kursusse wat die leerders vir die arbeidsmark sal toerus. Geweldige druk word vandag op hoërskoolleerders geplaas deur onderwysers, voorligters en skoolmaats om te mik vir toelating tot die beste universiteite, waar hulle hopelik die grade sal verwerf wat vir hulle die weg kan baan tot belowende en goed betaalde betrekkings.

8. Voor watter keuses kom Christenouers te staan?

8 Wat moet Christenouers dan doen? Hulle wil natuurlik hê dat hulle kinders goed moet doen op skool en die nodige vaardighede moet aanleer om hulleself in die toekoms te onderhou (Spreuke 22:29). Maar moet hulle eenvoudig toelaat dat hulle kinders meegesleep word deur die gees van wedywering om materiële vooruitgang te maak en suksesvol te wees? Watter soort doelwitte stel hulle vir hulle kinders, hetsy deur woord of deur hulle eie voorbeeld? Party ouers werk baie hard en spaar sodat hulle hulle kinders na instellings van hoër onderwys kan stuur wanneer die tyd daarvoor aanbreek. Ander is bereid om skuld aan te gaan om dit te doen. Maar die koste van so ’n besluit kan nie net in rande en sente bereken word nie. Watter koste is daaraan verbonde om vandag hoër onderwys na te streef?—Lukas 14:28-33.

Die koste daaraan verbonde om hoër onderwys na te streef

9. Wat kan oor die finansiële koste van vandag se hoër onderwys gesê word?

9 Wanneer ons aan koste dink, dink ons gewoonlik aan finansiële uitgawes. In party lande word hoër onderwys deur die staat geborg en hoef leerders wat daarvoor kwalifiseer, nie studiegeld te betaal nie. Maar op die meeste plekke is hoër onderwys duur en word dit steeds duurder. ’n Artikel op die meningsbladsy van die New York Times sê: “Daar is voorheen gemeen dat hoër onderwys die deur tot geleenthede is. Nou bevestig dit die kloof tussen dié wat het en dié wat minder het.” Met ander woorde, goeie hoër onderwys word vinnig die sfeer van die rykes en invloedrykes, wat hulle kinders stuur om dit te ontvang om te verseker dat ook hulle die rykes en invloedrykes van hierdie stelsel word. Moet Christenouers so ’n doelwit vir hulle kinders kies?—Filippense 3:7, 8; Jakobus 4:4.

10. Hoe hou hoër onderwys ten nouste verband met die bevordering van die teenswoordige stelsel?

10 Selfs waar hoër onderwys gratis is, is daar moontlik voorwaardes aan verbonde. Volgens ’n berig in The Wall Street Journal maak die regering van ’n land in Suidoos-Asië byvoorbeeld gebruik van ’n “piramide-skoolstruktuur wat die room onbeskaamd tot heel bo stoot”. “Heel bo” beteken uiteindelik toelating tot die wêreld se elite-instellings—Oxford en Cambridge in Engeland, die elite-universiteite van die Verenigde State en ander. Waarom voorsien die regering so ’n verreikende program? “Om die landsekonomie te bevorder”, sê die berig. Die onderwys is miskien feitlik gratis, maar die prys wat die studente betaal, is ’n lewe wat gewy word aan die bevordering van die teenswoordige stelsel. So ’n lewenswyse is weliswaar baie gesog in die wêreld, maar is dit wat Christenouers vir hulle kinders wil hê?—Johannes 15:19; 1 Johannes 2:15-17.

11. Wat toon berigte oor drankmisbruik en geslagsonsedelikheid onder universiteitstudente?

11 Dan is daar die milieu. Universiteits- en kollegekampusse is berug weens slegte gedrag—dwelm- en drankmisbruik, onsedelikheid, kullery, ontgroening en nog tallose soortgelyke dinge. Neem byvoorbeeld drankmisbruik. In ’n berig oor fuifdrinkery, dit wil sê drinkery met die uitsluitlike doel om dronk te word, sê die tydskrif New Scientist: “Omtrent 44 persent van [die universiteitstudente in die Verenigde State] neem ten minste een keer gedurende ’n normale tydperk van twee weke aan fuifdrinkery deel.” Dieselfde probleem is algemeen onder jongmense in Australië, Brittanje, Rusland en elders. Wat geslagsonsedelikheid betref, praat studente vandag van “bymekaarkom”, wat volgens ’n berig in Newsweek “ ’n eenmalige seksuele ervaring beskryf—enigiets van soen tot geslagsomgang—tussen kennisse wat geensins van plan is om later selfs met mekaar te praat nie”. Studies toon dat tussen 60 en 80 persent van die studente hulle aan hierdie soort gedrag skuldig maak. “As jy ’n normale universiteitstudent is”, sê een navorser, “dan doen jy dit.”—1 Korintiërs 5:11; 6:9, 10.

12. Aan watter druk word universiteitstudente blootgestel?

12 Benewens die slegte milieu is daar die druk van skoolwerk en eksamens. Studente moet natuurlik studeer en hulle huiswerk doen om die eksamens te slaag. Party moet dalk ook ten minste deeltyds werk terwyl hulle op universiteit is. Dit alles verg baie van hulle tyd en energie. Wat sal dan oor wees vir geestelike bedrywighede? Wat sal prysgegee word wanneer die druk toeneem? Sal Koninkryksbelange nog steeds eerste kom, of sal dit opsygeskuif word? (Matteus 6:33). Die Bybel spoor Christene aan: “Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae boos is” (Efesiërs 5:15, 16). Hoe jammer tog dat party die geloof verlaat het omdat hulle geswig het voor die eise wat aan hulle tyd en energie gestel word of omdat hulle op universiteit by onskriftuurlike gedrag betrokke geraak het!

13. Watter vrae moet Christenouers oorweeg?

13 Onsedelikheid, slegte gedrag en druk kom natuurlik nie net op die kollege- of universiteitskampus voor nie. Maar baie wêreldse jongmense beskou al hierdie dinge bloot as deel van die opleiding, en hulle dink niks daarvan nie. Behoort Christenouers hulle kinders willens en wetens vier jaar of miskien langer aan hierdie soort milieu bloot te stel? (Spreuke 22:3; 2 Timoteus 2:22). Kan die gevaar wat daaraan verbonde is, opweeg teen enige voordele wat die jongmense dalk sal ontvang? En bowenal, wat leer die jongmense oor dinge wat eerste in hulle lewe moet kom? (Filippense 1:10; 1 Tessalonisense 5:21).a Ouers moet hierdie vrae ernstig en biddend oorweeg, asook die gevaar wat dit inhou om hulle kinders na ’n universiteit in ’n ander stad of land te stuur.

Watter alternatiewe is daar?

14, 15. (a) Watter Bybelraad is vandag van toepassing ten spyte van die algemene mening? (b) Watter vrae kan jongmense hulle afvra?

14 Vandag is die algemene mening dat jongmense geen ander keuse as universiteitsopleiding het as hulle suksesvol wil wees nie. Maar in plaas van die algemene mening te volg, slaan Christene ag op die Bybel se vermaning: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Wat is God se wil vir sy volk, jonk en oud, gedurende hierdie laaste fase van die tyd van die einde? Paulus het Timoteus aangespoor: “Bly jy egter in alles nugter van verstand, ly kwaad, doen die werk van ’n evangeliedienaar, voer jou bediening ten volle uit.” Hierdie woorde is vandag beslis op ons almal van toepassing.—2 Timoteus 4:5.

15 Ons moenie meegesleep word deur die materialistiese gees van die wêreld nie, maar ons moet almal eerder ‘nugter van verstand bly’—deur op geestelike dinge toegespits te bly. As jy ’n jong persoon is, moet jy jou afvra: ‘Doen ek my bes om “my bediening uit te voer”, om ’n bekwame bedienaar van God se Woord te word? Watter planne het ek om my bediening “ten volle” uit te voer? Het ek dit oorweeg om die voltydse diens my loopbaan te maak?’ Dit is moeilike vrae, veral wanneer jy sien dat ander jongmense hulle aan selfsugtige strewes oorgee en ‘groot dinge soek’ wat hulle meen tot ’n blink toekoms sal lei (Jeremia 45:5). Christenouers voorsien hulle kinders dus wyslik van kleins af van die regte soort geestelike milieu en opleiding.—Spreuke 22:6; Prediker 12:1; 2 Timoteus 3:14, 15.

16. Hoe kan Christenouers hulle kinders wyslik van die regte soort geestelike milieu voorsien?

16 “My ma het ons assosiasie fyn dopgehou”, sê die oudste van drie seuns in ’n gesin waarvan die ma jare lank ’n voltydse bedienaar was. “Ons het nie met ons skoolmaats geassosieer nie, maar net met dié in die gemeente wat goeie geestelike gewoontes gehad het. Sy het ook gereeld persone in die voltydse diens—sendelinge, reisende opsieners, Betheliete en pioniers—na ons huis genooi vir assosiasie. Die ondervindinge wat hulle vertel het en die vreugde wat hulle uitgestraal het, het die begeerte na voltydse diens in ons harte laat posvat.” Watter vreugde is dit tog om vandag al drie seuns in die voltydse bediening te sien—een dien in Bethel, een het die Bedieningsopleidingskool bygewoon en een doen pionierdiens!

17. Watter leiding kan ouers aan kinders gee in hulle keuse van skoolvakke en beroepsdoelwitte? (Sien die venster op bladsy 29.)

17 Behalwe dat ouers ’n sterk geestelike milieu moet voorsien, moet hulle ook vir hulle kinders so vroeg moontlik gepaste leiding gee in hulle keuse van skoolvakke en beroepsdoelwitte. ’n Ander jong man wat nou in Bethel dien, sê: “Albei my ouers was voor en ná hulle troue in die pionierdiens en het hulle bes gedoen om die hele gesin met die pioniergees te besiel. Wanneer ons skoolvakke moes kies of besluite moes neem wat ons toekoms sou raak, het hulle ons altyd aangemoedig om ’n keuse te maak wat ons die beste geleentheid sou gee om deeltydse werk te vind en pionierdiens te doen.” In plaas van akademiese vakke te kies wat vir ’n universiteitsopleiding bedoel is, moet ouers en kinders kursusse oorweeg wat nuttig sal wees om ’n teokratiese loopbaan na te streef.b

18. Watter werksgeleenthede kan jongmense oorweeg?

18 Studies toon dat daar in baie lande ’n dringende behoefte is, nie aan mense met universiteitsgrade nie, maar aan mense wat ’n ambag beoefen en ’n diens lewer. USA Today berig dat “70% van die werkers in die komende dekades nie ’n universiteitsgraad van vier jaar nodig sal hê nie, maar eerder ’n kollegediploma of die een of ander tegniese sertifikaat”. Baie van hierdie instellings bied kort kursusse in kantoorvaardighede, motorherstelwerk, rekenaarherstelwerk, loodgieterswerk, haarkappery en ’n menigte ander ambagte. Is dit die soort werk wat ’n mens wil hê? Beslis! Dit is miskien nie so glansryk soos party sou wou hê nie, maar dit bied die middele en die aanpasbaarheid wat diegene nodig het wie se ware beroep diens aan Jehovah is.—2 Tessalonisense 3:8.

19. Wat is die sekerste manier om ’n lewe van vreugde en tevredenheid te geniet?

19 “Jong manne en ook maagde”, versoek die Bybel dringend, “laat hulle die naam van Jehovah loof, want sy naam alleen is onbereikbaar hoog. Sy waardigheid is oor aarde en hemel” (Psalm 148:12, 13). In vergelyking met die posisies en belonings wat die wêreld bied, is ’n loopbaan in voltydse diens aan Jehovah ongetwyfeld die sekerste manier om ’n lewe van vreugde en tevredenheid te geniet. Neem die Bybel se versekering ter harte: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—Spreuke 10:22.

[Voetnote]

a Vir ondervindinge van persone wat teokratiese opvoeding belangriker as universiteitsopleiding geag het, sien Die Wagtoring in Engels van 1 Mei 1982, bladsye 3-6; 15 April 1979, bladsye 5-10; Ontwaak! in Engels van 8 Junie 1978, bladsy 15, en 8 Augustus 1974, bladsye 3-7.

b Sien die Ontwaak! van 8 Oktober 1998, “Die soeke na ’n veilige lewe”, bladsye 4-6, en 8 Mei 1989, “Watter loopbaan moet ek kies?” bladsye 12-14.

Kan jy verduidelik?

• Waarin stel Christene hulle vertroue vir ’n veilige toekoms?

• Voor watter uitdagings kom Christenouers te staan met betrekking tot hulle kinders se toekoms?

• Wat moet in ag geneem word wanneer ’n mens die koste bereken wat daaraan verbonde is om hoër onderwys na te streef?

• Hoe kan ouers hulle kinders help om ’n loopbaan in Jehovah se diens na te streef?

[Venster op bladsy 29]

Wat is die nut van hoër onderwys?

Die meeste mense wat by ’n universiteit inskryf, sien daarna uit om ’n graad te verwerf wat vir hulle die weg sal baan tot goed betaalde en vaste betrekkings. Maar regeringsverslae toon dat net omtrent ’n kwart van diegene wat universiteit toe gaan, binne ses jaar ’n graad verwerf—’n droewige suksessyfer. Maar verseker selfs so ’n graad ’n goeie betrekking? Let op wat huidige navorsing en studies toon.

“Al gaan iemand na Harvard- of Duke-universiteit, beteken dit nie outomaties ’n beter werk of ’n hoër salaris nie. . . . Maatskappye weet nie veel omtrent die jong werksoekers nie. ’n Skitterende kwalifikasie (’n graad van ’n elite-universiteit) is dalk indrukwekkend. Maar daarna is dit belangriker wat mense kan of nie kan doen nie.”—Newsweek, 1 November 1999.

“Hoewel vandag se gemiddelde betrekking hoër vaardighede as in die verlede vereis . . . , is die vaardighede wat vir hierdie betrekkings vereis word, goeie hoërskoolvaardighede—wiskunde, lees en skryf op graadnege-vlak . . . , nie universiteitsvaardighede nie. . . . Leerders hoef nie universiteit toe te gaan om ’n goeie werk te kry nie, maar hulle moet wel hoërskoolvaardighede hê.”—American Educator, Lente 2004.

“Die meeste universiteite is baie uit voeling met die werklike wêreld wanneer dit kom by die voorbereiding van studente om werk te kry in die wêreld ná universiteit. Vakskole . . . is skielik gewilder. Hulle inskrywings het van 1996 tot 2000 met 48% toegeneem. . . . Intussen het daardie duur, tydrowende universiteitsgrade nog nutteloser as tevore geword.”—Time, 24 Januarie 2005.

“Skattings deur die Amerikaanse Departement van Arbeid vir 2005 skets die skrikwekkende scenario dat ten minste ’n derde van alle universiteitstudente wat ná vier jaar gradueer, nie werk sal vind wat met hulle graad ooreenstem nie.”—The Futurist, Julie/Augustus 2000.

In die lig van dit alles het al hoe meer opvoedkundiges vandag ernstige bedenkinge oor die nut van hoër onderwys. “Ons voed mense vir die verkeerde toekoms op”, sê die berig in The Futurist. Let in teenstelling hiermee op wat die Bybel van God sê: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel. Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see.”—Jesaja 48:17, 18.

[Prent op bladsy 26]

Hulle het persoonlike strewes prysgegee en Jesus gevolg

[Prent op bladsy 31]

Christenouers voorsien hulle kinders wyslik van kleins af van ’n sterk geestelike milieu

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel