Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 1/1 bl. 18-21
  • Hy het rein aanbidding verdedig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hy het rein aanbidding verdedig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Lang stryd bereik ’n klimaks
  • Hulle het ‘op twee verskillende gedagtes gehink’—Hoe?
  • ’n Kritieke toets
  • Die antwoord
  • Hy het rein aanbidding verdedig
    Volg hulle geloof na
  • Elia verheerlik die ware God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ’n Toets op die berg Karmel
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Sal jy getrou wees soos Elia?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 1/1 bl. 18-21

Volg hulle geloof na

Hy het rein aanbidding verdedig

ELIA het uitgekyk oor die skare terwyl hulle teen die hange van die berg Karmel opgesukkel het. Selfs in die vroeë oggendlig was die armoede en ontbering wat hierdie mense geteister het, duidelik te sien. Die droogte van drie en ’n half jaar het sy merk op hulle gelaat.

Tussen hulle het die 450 profete van Baäl windmakerig geloop, vol trots en met ’n bittere haat vir Elia, Jehovah se profeet. Koningin Isebel het al baie knegte van Jehovah tereggestel, maar hierdie man het nog steeds vasgestaan teen Baälaanbidding. Maar hoe lank nog? Hierdie priesters het dalk geredeneer dat ’n enkele man nooit teen hulle almal sou kon staande bly nie (1 Konings 18:3, 19, 20). Koning Agab het ook gekom, in sy koninklike strydwa. Hy het ook niks van Elia gehou nie.

’n Onvergeetlike dag het voorgelê vir hierdie profeet wat rein aanbidding vingeralleen verdedig het. Terwyl Elia toegekyk het, is die weg berei vir een van die dramatiesste konfrontasies tussen goed en kwaad wat die wêreld ooit gesien het. Hoe het hy op hierdie dag gevoel? Hy was nie immuun teen vrees nie, want hy was “’n mens met gevoelens soos ons s’n” (Jakobus 5:17). Ons kan ten minste hiervan seker wees: Terwyl Elia omring was deur die ontroue volk, hulle afvallige koning en daardie moorddadige priesters, was hy alte bewus van hoe alleen hy werklik was.—1 Konings 18:22.

Maar wat het hierdie krisis oor Israel laat kom? En hoe raak hierdie verslag jou vandag? Die Bybel spoor ons aan om noukeurig te let op toegewyde knegte van God en om ‘hulle geloof na te volg’ (Hebreërs 13:7). Beskou nou Elia se voorbeeld.

’n Lang stryd bereik ’n klimaks

Gedurende die grootste deel van sy lewe het Elia hulpeloos toegekyk terwyl die beste aspek van sy vaderland en sy volk opsygestoot en vertrap word. Israel was in die greep van ’n lang stryd, ’n stryd tussen rein en valse godsdiens, tussen die aanbidding van Jehovah God en die afgodediens van die omliggende nasies. Hierdie stryd het in Elia se dag ’n besonder lelike wending geneem.

Koning Agab het getrou met Isebel, die dogter van die koning van Sidon. Isebel was vasbeslote om Baälaanbidding in die land van Israel te versprei en die aanbidding van Jehovah uit te wis. Agab het gou voor haar invloed geswig. Hy het ’n tempel en ’n altaar vir Baäl gebou en die leiding geneem in die aanbidding van hierdie heidense god. Hy het Jehovah ernstig aanstoot gegee.—1 Konings 16:30-33.a

Waarom was Baälaanbidding so aanstootlik? Dit het Israel verlei en baie van die ware God weggelok. Dit was ook ’n walglike en wrede godsdiens. Dit het manlike en vroulike tempelprostitusie, seksorgieë en selfs kinderoffers ingesluit. Jehovah het hierop gereageer deur Elia na Agab te stuur om ’n droogte aan te kondig wat sou voortduur totdat God se profeet die einde daarvan uitroep (1 Konings 17:1). Etlike jare het verloop voordat Elia hom aan Agab vertoon het en vir hom gesê het om die volk en die Baälprofete op die berg Karmel te laat vergader.

Maar wat beteken hierdie stryd vandag vir ons? Party meen dalk dat ’n verhaal oor Baälaanbidding vandag van geen belang is nie, aangesien ons nie tempels en altare vir Baäl om ons sien nie. Maar hierdie verslag is nie net ou geskiedenis nie (Romeine 15:4). Die woord “Baäl” beteken “eienaar” of “meester”. Jehovah het vir sy volk gesê dat hulle hom as hulle “baäl”, of eggenoot-eienaar, moet kies (Jesaja 54:5). Stem jy nie saam dat mense nog steeds ’n verskeidenheid ander meesters as God die Almagtige dien nie? Ja, of mense hulle lewe gebruik in die diens van geld, ’n loopbaan, ontspanning, seksuele genot of enige van die tallose gode wat in plaas van Jehovah aanbid word, hulle kies ’n meester (Matteus 6:24; Romeine 6:16). Die kragtigste elemente wat Baälaanbidding gekenmerk het, is dus vandag in sekere sin nog baie algemeen. Daardie eertydse stryd tussen Jehovah en Baäl kan ons help om ’n verstandige keuse te maak oor wie ons sal dien.

Hulle het ‘op twee verskillende gedagtes gehink’—Hoe?

Vanaf sy winderige kruin bied die berg Karmel ’n wye uitsig oor Israel—van die Kisonstroomvallei daar onder tot die Groot See (die Middellandse See) daar naby en tot by die Libanongebergte aan die verre noordelike horison.b Maar toe die son op hierdie kritieke dag opgegaan het, was die landskap in ’n ellendige toestand. ’n Sombere skaduwee het oor die eens vrugbare land gehang wat Jehovah aan die kinders van Abraham gegee het. Dit was nou ’n land wat deur die genadelose son verskroei is, verwoes deur die dwaasheid van God se eie volk! Terwyl hierdie volk saamgedrom het, het Elia na hulle toe gegaan en gesê: “Hoe lank sal julle op twee verskillende gedagtes hink? As Jehovah die ware God is, gaan volg hom; maar as dit Baäl is, gaan volg hom.”—1 Konings 18:21.

Wat het Elia bedoel met die uitdrukking “op twee verskillende gedagtes hink”? Wel, daardie volk het nie besef dat hulle moet kies tussen die aanbidding van Jehovah en die aanbidding van Baäl nie. Hulle het gedink dat hulle albei kan aanbid—dat hulle Baäl met hulle walglike rituele kan paai en Jehovah God nog steeds gunste kan vra. Hulle het miskien geredeneer dat Baäl hulle gewasse en kuddes sou seën, terwyl “Jehovah van die leërs” hulle in gevegte sou beskerm (1 Samuel 17:45). Hulle het ’n basiese waarheid vergeet—’n waarheid wat baie mense vandag nog steeds ontgaan—dat Jehovah sy aanbidding met niemand deel nie. Hy eis uitsluitlike toegewydheid en is dit waardig. Enige aanbidding wat aan hom gegee word en met ’n ander vorm van aanbidding vermeng word, is vir hom onaanvaarbaar, selfs aanstootlik!—Eksodus 20:5.

Daardie Israeliete het dus ‘gehink’ soos ’n man wat terselfdertyd twee paaie probeer volg. Baie mense maak vandag ’n soortgelyke fout deur toe te laat dat ander “baäls” deel van hulle lewe word en die aanbidding van God verdring! Elia se wekroep om op te hou hink, kan ons help om ons eie prioriteite en aanbidding weer in oënskou te neem.

’n Kritieke toets

Elia het toe ’n toets voorgestel. Dit was baie eenvoudig. Die Baälpriesters moes ’n altaar oprig en ’n offerande daarop sit; dan moes hulle tot hulle god bid om die vuur aan te steek. Elia sou dieselfde doen. Hy het gesê: “Die ware God wat deur vuur antwoord, is die ware God.” Elia het goed geweet wie die ware God is. Sy geloof was so sterk dat hy nie gehuiwer het om daardie Baälprofete dit eerste te laat doen nie. Hy het dit vir sy teenstanders in elke opsig maklik gemaak deur hulle die bul te laat kies wat hulle sou offer en Baäl eerste te laat aanroep.c—1 Konings 18:24, 25.

Ons lewe nie in ’n tyd van wonderwerke nie. Maar Jehovah het nie verander nie. Ons kan net soveel vertroue in hom hê as wat Elia gehad het. Wanneer ander byvoorbeeld nie saamstem met wat die Bybel leer nie, hoef ons nie bang te wees om hulle eerste hulle sê te laat sê nie. Soos Elia kan ons op die ware God vertrou om die saak op te los. Ons doen dit deur nie op onsself staat te maak nie, maar op sy geïnspireerde Woord, wat bedoel is “om dinge reg te stel”.—2 Timoteus 3:16.

Die Baälprofete het hulle offerande gereedgemaak en hulle god begin aanroep. “O Baäl, antwoord ons!” het hulle oor en oor uitgeroep. Hulle het aangehou terwyl minute en toe ure verstryk het. “Maar daar was geen stem nie, en niemand het geantwoord nie”, sê die Bybel. Op die middaguur het Elia die spot met hulle begin dryf en sarkasties gesê dat Baäl sekerlik te besig is om hulle te antwoord, dat hy sy behoefte in die gemakhuisie doen of dat hy slaap en iemand hom sal moet wakker maak. “Roep so hard soos julle kan”, het Elia daardie bedrieërs aangespoor. Dit is duidelik dat hy hierdie Baälaanbidding as ’n belaglike bedrogspul beskou het, en hy wou hê dat God se volk moet sien hoe vals dit is.—1 Konings 18:26, 27.

In reaksie hierop het die Baälpriesters selfs rasender geword en “so hard soos hulle kon [uitgeroep] en hulle volgens hulle gebruik met dolke en met lanse [gesny], totdat hulle die bloed op hulle laat uitvloei het”. Alles tevergeefs! “Daar [was] geen stem nie, en niemand het geantwoord nie, en daar is geen aandag geskenk nie” (1 Konings 18:28, 29). Ja, daar was geen Baäl nie. Hy was ’n versinsel van Satan om mense van Jehovah af weg te lok. Vandag, net soos destyds, lei dit tot teleurstelling, selfs skande, wanneer enige meester behalwe Jehovah gekies word.—Psalm 25:3; 115:4-8.

Die antwoord

Laat die middag was dit Elia se beurt. Hy het ’n altaar van Jehovah herstel wat afgebreek is, ongetwyfeld deur vyande van rein aanbidding. Hy het 12 klippe gebruik, wat miskien baie mense in die tienstammeryk van Israel daaraan herinner het dat die Wet wat aan al 12 stamme gegee is, nog steeds vir hulle bindend was. Toe het hy sy offerande daarop gesit en water, wat moontlik uit die Middellandse See daar naby verkry is, oor alles laat uitgooi. Hy het selfs ’n sloot om die altaar laat grawe en dit ook vol water gemaak. Net soos hy dit vir die Baälprofete in elke opsig maklik gemaak het, het hy dit vir Jehovah in elke opsig moeilik gemaak—so groot was sy vertroue in sy God.—1 Konings 18:30-35.

Toe alles gereed was, het Elia ’n gebed gedoen. Die gebed, wat treffend was in sy eenvoud, het getoon wat Elia se prioriteite was. Eerstens wou hy hê dat mense moet weet dat Jehovah, en nie hierdie Baäl nie, “God in Israel” is. Tweedens wou hy hê dat almal moet weet dat sy rol dié van Jehovah se kneg is; alle heerlikheid en eer het God toegekom. Laastens het hy getoon dat hy nog vir sy volk omgegee het, want hy was gretig om te sien dat Jehovah “hulle hart laat terugkeer” (1 Konings 18:36, 37). Ondanks al die ellende wat hulle deur hulle ontrouheid veroorsaak het, was Elia nog steeds lief vir hulle. Kan ons in ons gebede tot God soortgelyke besorgdheid oor God se naam toon, asook nederigheid en medelye teenoor ander wat hulp nodig het?

Voor Elia se gebed het die skare miskien gewonder of Jehovah net so ’n teleurstellende leuen sou wees soos wat Baäl was. Maar ná die gebed was daar nie tyd om te wonder nie. Die verslag sê: “Daarop het die vuur van Jehovah neergeval en die brandoffer en die stukke hout en die klippe en die stof verteer, en dit het die water opgelek wat in die sloot was” (1 Konings 18:38). Wat ’n skouspelagtige antwoord! En hoe het die volk gereageer?

“Jehovah is die ware God! Jehovah is die ware God!” het hulle almal sonder uitsondering uitgeroep (1 Konings 18:39). Uiteindelik het hulle gesien wat die waarheid is. Maar hulle het tot dusver nog geen geloof getoon nie. Om eerlik te wees, dit is nie juis ’n indrukwekkende blyk van geloof om te erken dat Jehovah die ware God is nadat ’n mens in antwoord op ’n gebed vuur uit die hemel sien neerval het nie. Elia het dus meer van hulle gevra. Hy het hulle gevra om te doen wat hulle baie jare vroeër al moes gedoen het—om die Wet van Jehovah te gehoorsaam. God se Wet het gesê dat valse profete en afgodedienaars doodgemaak moet word (Deuteronomium 13:5-9). Hierdie Baälpriesters was geswore vyande van Jehovah God wat sy voornemens opsetlik probeer dwarsboom het. Het hulle barmhartigheid verdien? Wel, watter barmhartigheid is bewys aan al daardie onskuldige kinders wat lewend verbrand is as offerandes aan Baäl? (Spreuke 21:13; Jeremia 19:5). Nee, hierdie manne het geen barmhartigheid verdien nie. Daarom het Elia beveel dat hulle tereggestel moet word, en hulle is toe ook tereggestel.—1 Konings 18:40.

Die uitkoms van hierdie toets op die berg Karmel word sterk afgekeur deur party hedendaagse kritici. Party is dalk bekommerd dat godsdiensyweraars dit sal gebruik om gewelddade van godsdiensonverdraagsaamheid te regverdig. En ongelukkig is daar vandag alte veel gewelddadige godsdiensfanatici. Maar Elia was nie ’n fanatikus nie. Hy het namens Jehovah opgetree in ’n regverdige teregstelling. Verder weet ware Christene dat hulle nie Elia se weg kan volg deur die swaard teen die goddeloses op te neem nie. Die standaard vir al Jesus se dissipels ná die koms van die Messias word in Christus se woorde aan Petrus gevind: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). Jehovah sal sy Seun gebruik om in die toekoms goddelike geregtigheid te volbring.

’n Ware Christen se verantwoordelikheid is om ’n lewe van geloof te lei (Johannes 3:16). Een manier waarop dit gedoen kan word, is om getroue manne soos Elia na te volg. Hy het Jehovah uitsluitlik aanbid en ander aangespoor om dit ook te doen. Hy het ’n godsdiens wat Satan gebruik het om mense van Jehovah af weg te lok, moedig as vals blootgelê. En hy het eerder op Jehovah vertrou om sake op te los as om op sy eie vermoëns staat te maak. Ja, Elia het rein aanbidding verdedig. Mag elkeen van ons sy geloof navolg!

[Voetnote]

a Vir meer inligting oor Elia se vroeëre handelinge met Agab, sien die artikel “Het jy geloof soos Elia s’n?” in Die Wagtoring van 1 April 1992.

b Karmel is gewoonlik geil en groen, aangesien vogtige winde van die see teen die hange waai en dikwels reën en baie dou bring. Omdat reën aan Baäl toegeskryf is, was hierdie berg blykbaar ’n belangrike plek vir Baälaanbidding. ’n Dorre Karmel was dus ’n ideale plek om Baälaanbidding as vals bloot te lê.

c Dit is interessant dat Elia vir hulle gesê het: “Julle mag nie vuur maak” om die offerande aan die brand te steek nie. Party geleerdes sê dat sulke afgodedienaars soms altare met ’n versteekte ruimte gebruik het sodat dit sou lyk asof ’n vuur op bonatuurlike wyse aangesteek is.

[Lokteks op bladsy 20]

Dit lei tot teleurstelling wanneer enige meester behalwe Jehovah gekies word

[Prent op bladsy 21]

“Jehovah is die ware God!”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel