Wat maak die lewe die moeite werd?
“Vrees die ware God en onderhou sy gebooie.”—PRED. 12:13.
1, 2. Hoe kan ons baat vind by ’n bespreking van die boek Prediker?
STEL jou ’n man voor wat blykbaar alles het. Hy is ’n beroemde staatsman, een van die rykste mense op die aarde en die wysste man van sy tyd. Maar ten spyte van alles wat hy bereik het, vra hy hom nog steeds as ’t ware af: ‘Wat maak die lewe die moeite werd?’
2 So ’n man het werklik bestaan—omtrent drieduisend jaar gelede. Sy naam was Salomo, en in die boek Prediker vind ons sy beskrywing van sy soeke na bevrediging (Pred. 1:13). Ons kan baie uit Salomo se ondervinding leer. Ja, die wysheid wat in die boek Prediker gevind word, kan ons help om doelwitte te stel wat ons lewe werklik sinvol sal maak.
“’n Gejaag na wind”
3. Watter nugtere feit oor menselewe moet ons almal onder die oë sien?
3 Salomo verduidelik dat God ’n oorvloed pragtige dinge op die aarde geskep het—’n onuitputlike en verbasende bron van interessante en wonderlike dinge wat ons voortdurend geniet. Maar ons kan skaars begin om God se skepping te ondersoek, want ons lewe is te kort (Pred. 3:11; 8:17). Soos die Bybel sê, is ons dae min en gaan hulle vinnig verby (Job 14:1, 2; Pred. 6:12). Hierdie nugtere feit moet ons beweeg om ons lewe wyslik te gebruik. Dit is nie maklik nie, aangesien Satan se wêreld ons kan beïnvloed om die verkeerde rigting in te slaan.
4. (a) Wat impliseer die woord “nietigheid”? (b) Watter strewes in die lewe gaan ons bespreek?
4 Salomo gebruik die woord “nietigheid” tot 30 keer in Prediker om die gevaar te beklemtoon dat ons ons lewe kan verkwis. Die Hebreeuse woord wat met “nietigheid” vertaal word, verwys na iets wat leeg, vergeefs, sinloos, van geen nut of blywende waarde is nie (Pred. 1:2, 3). Salomo gebruik partykeer die woord “nietigheid” as ’n parallel vir “’n gejaag na wind” (Pred. 1:14; 2:11). Enige poging om die wind te vang, is natuurlik vergeefs. Enigiemand wat dit probeer doen, gryp eintlik na niks. Om onwyse doelwitte na te jaag, sal net so frustrerend wees. Die lewe in hierdie teenswoordige stelsel is te kort om dit te verkwis op strewes wat ons met leë hande laat. Om ons dus te help om nie daardie fout te maak nie, kan ons kyk na ’n paar voorbeelde wat Salomo gee van algemene strewes in die lewe. Eerstens sal ons kyk na die najaging van genot en besittings. Daarna sal ons die waarde van werk bespreek.
Sal die najaging van genot ons gelukkig maak?
5. Waar het Salomo na bevrediging gesoek?
5 Salomo het, soos baie mense van vandag, bevrediging probeer vind deur ’n lewe van genot na te jaag. Hy vertel: “Ek het my hart nie teruggehou van enige soort blydskap nie” (Pred. 2:10). Waar het hy na genot gesoek? Volgens Prediker hoofstuk 2 het hy, binne die perke van selfbeheersing, ‘sy vlees met wyn vrolik gemaak’ en het hy dinge gedoen soos om tuine aan te lê, paleise te ontwerp, na musiek te luister en goeie voedsel te geniet.
6. (a) Waarom is dit nie verkeerd om van die goeie dinge in die lewe te geniet nie? (b) Watter balans is nodig wanneer dit by ontspanning kom?
6 Veroordeel die Bybel dit om ’n gesellige tyd saam met vriende te geniet? Glad nie. Salomo sê byvoorbeeld dat ’n maaltyd in ’n ontspanne atmosfeer ná ’n dag se harde werk ’n gawe van God is. (Lees Prediker 2:24; 3:12, 13.) Wat meer is, Jehovah self nooi jongmense uit om ‘hulle te verbly en hulle hart aan hulle te laat goed doen’, maar op ’n verantwoordelike manier (Pred. 11:9). Ons het ontspanning en heilsame vermaak nodig. (Vergelyk Markus 6:31.) Maar ontspanning moenie die hoofdoel in ons lewe word nie. Ontspanning moet eerder soos die nagereg aan die einde van ’n ete wees, nie die hoofgereg nie. Ongeag hoe baie jy van soet nageregte hou, jy sal saamstem dat jy gou moeg sal word daarvoor as jy niks anders eet nie en dat dit nie veel voedingswaarde sal bied nie. Net so het Salomo gevind dat ’n lewe wat om genot draai, “’n gejaag na wind” is.—Pred. 2:10, 11.
7. Waarom moet ons ons ontspanning versigtig kies?
7 Daarbenewens is nie alle vorme van ontspanning heilsaam nie. Baie is uit en uit skadelik—geestelik sowel as sedelik. Hoeveel miljoene het nie al hulle lewe in ellende gedompel net omdat hulle ‘’n bietjie pret wou hê’ en dwelms gebruik het, te veel gedrink het of gedobbel het nie? Jehovah waarsku ons liefdevol dat ons die gevolge sal moet dra as ons ons hart of ons oë toelaat om ons na skadelike dinge te lei.—Gal. 6:7.
8. Waarom is dit wys om oor ons lewensweg na te dink?
8 Verder sal ’n ongebalanseerde najaging van genot ons verhinder om gepaste aandag aan belangriker sake te skenk. Onthou dat die lewe vinnig verbygaan en dat daar geen waarborg is dat ons in ons kort lewe altyd goeie gesondheid en geen probleme sal hê nie. Daarom sal ons, soos Salomo verder gesê het, dalk meer daarby baat vind om ’n begrafnis by te woon—veral dié van ’n lojale Christenbroer of -suster—as om na ’n “huis van blydskap” te gaan. (Lees Prediker 7:2, 4.) Waarom? Terwyl ons na die begrafnistoespraak luister en nadink oor die lewensweg van die getroue kneg van Jehovah wat gesterf het, kan dit ons beweeg om ons eie lewensweg te ondersoek. Gevolglik kan ons tot die slotsom kom dat ons ons doelwitte moet aanpas om die res van ons lewe wyslik te gebruik.—Pred. 12:1.
Sal materiële besittings ons bevrediging verskaf?
9. Wat het Salomo aangaande rykdom uitgevind?
9 Salomo was een van die rykste mense op die aarde toe hy Prediker geskryf het (2 Kron. 9:22). Hy kon enigiets bekostig wat hy wou hê. “Niks wat my oë gevra het, het ek hulle ontsê nie”, het hy geskryf (Pred. 2:10). Hy het nietemin uitgevind dat besittings op sigself nie bevrediging verskaf nie. “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie”, was die slotsom waartoe hy gekom het.—Pred. 5:10.
10. Wat lei tot ware bevrediging en ware rykdom?
10 Ten spyte van die kortstondige waarde van besittings kan rykdom steeds ’n sterk aantrekkingskrag uitoefen. In ’n onlangse opname in die Verenigde State het 75 persent van alle eerstejaarstudente gesê dat hulle vernaamste doelwit in die lewe is om “baie ryk” te wees. Sal hulle werklik gelukkig wees selfs al bereik hulle hulle doelwit? Nie noodwendig nie. Navorsers het opgemerk dat dit in werklikheid geluk en bevrediging teëwerk wanneer daar klem op materialisme gelê word. Salomo het reeds lank gelede dieselfde gevolgtrekking gemaak. Hy het geskryf: “Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en eiendom eie aan konings . . . En kyk! alles was nietigheid en ’n gejaag na wind” (Pred. 2:8, 11).a As ons daarenteen ons lewe gebruik om Jehovah heelhartig te dien en sodoende sy seën ontvang, sal ons ware rykdom verkry.—Lees Spreuke 10:22.
Watter soort werk verskaf ware bevrediging?
11. Wat toon die Skrif oor die waarde van werk?
11 Jesus het gesê: “My Vader het tot nou toe aangehou werk, en ek hou aan werk” (Joh. 5:17). Daar bestaan geen twyfel dat Jehovah en Jesus bevrediging uit werk put nie. Die Bybel toon dat Jehovah tevrede was met sy skeppingswerk wanneer dit sê: “God [het] alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed” (Gen. 1:31). Die engele het “begin juig” toe hulle alles gesien het wat God gedoen het (Job 38:4-7). Salomo het eweneens die waarde van sinvolle werk besef.—Pred. 3:13.
12, 13. (a) Hoe beskryf twee persone die bevrediging wat hulle uit eerlike werk put? (b) Wat kan sekulêre werk soms frustrerend maak?
12 Baie mense besef die waarde van eerlike werk. Byvoorbeeld, José, ’n suksesvolle kunstenaar, sê: “Wanneer jy daarin slaag om die prent in jou gedagtes op ’n doek te skilder, voel jy asof jy ’n hoë berg oorwin het.” Miguel,b ’n sakeman, sê: “Werk verskaf bevrediging omdat dit jou in staat stel om vir jou gesin te sorg. Dit kan jou ook ’n gevoel van voldoening gee.”
13 Baie betrekkings is egter eentonig en bied min geleenthede om skeppend te wees. Partykeer is die werksplek ’n bron van frustrasie en vind daar selfs onregte plaas. Soos Salomo sê, kan die luiaard—dalk weens sy konneksies met mense in gesagsposisies—die loon van die vlytige werker ontvang (Pred. 2:21). Ander faktore kan ook tot teleurstelling lei. Wat aanvanklik na ’n wonderlike sakegeleentheid gelyk het, kan weens ’n ekonomiese insinking of onvoorsiene gebeurtenisse op ’n mislukking uitloop. (Lees Prediker 9:11.) Dikwels word die persoon wat swoeg om sukses te behaal, verbitterd en gefrustreerd omdat hy besef dat hy “hard bly werk [het] vir die wind”.—Pred. 5:16.
14. Watter werk verskaf altyd ware bevrediging?
14 Is daar enige soort werk wat nooit tot teleurstelling lei nie? José, die kunstenaar wat vroeër genoem is, sê: “Met verloop van tyd kan skilderye verlore raak of vernietig word. Dit is nie die geval met die geestelike dinge wat ons voortbring nie. Deur Jehovah te gehoorsaam en die goeie nuus te verkondig, het ek iets blywends help bou—pragtige godvresende Christene. Dit is van onskatbare waarde” (1 Kor. 3:9-11). Miguel sê eweneens dat hy veel meer bevrediging uit die verkondiging van die Koninkryksboodskap put as uit sy sekulêre werk. “Niks kan die vreugde vervang wat jy ervaar wanneer jy iemand van ’n skriftuurlike waarheid vertel en besef dat dit daardie persoon se hart geraak het nie”, sê hy.
“Stuur jou brood uit”
15. Wat maak die lewe werklik die moeite werd?
15 Ten slotte, wat maak die lewe werklik die moeite werd? Ons ervaar ware bevrediging wanneer ons ons kort tydjie in hierdie stelsel van dinge gebruik om goed te doen en Jehovah te behaag. Ons kan ’n hegte verhouding met God opbou, ons kan geestelike waardes aan ons kinders oordra, ons kan ander help om Jehovah te leer ken en ons kan blywende vriendskappe met ons broers en susters smee (Gal. 6:10). Al hierdie strewes het blywende waarde en bring seëninge mee vir diegene wat dit bereik. Salomo het ’n baie interessante vergelyking gebruik om die waarde van goeie dade te beskryf. Hy het gesê: “Stuur jou brood uit op die oppervlak van die waters, want na verloop van baie dae sal jy dit weer vind” (Pred. 11:1). Jesus het sy dissipels aangespoor: “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee” (Luk. 6:38). Wat meer is, Jehovah belowe om diegene te beloon wat aan ander goed doen.—Spr. 19:17; lees Hebreërs 6:10.
16. Wat is die beste tyd om ons lewensweg te beplan?
16 Die Bybel spoor ons aan om terwyl ons nog jonk is, wyse besluite te neem oor hoe ons ons lewe gaan gebruik. Sodoende kan ons frustrasie in latere jare vermy (Pred. 12:1). Hoe jammer sal dit tog wees as ons die beste jare van ons lewe verkwis deur aanloklikhede in die wêreld na te jaag en dan uitvind dat dit net so leeg soos die wind is!
17. Wat sal jou help om die beste lewenswyse te kies?
17 Soos enige liefdevolle vader wil Jehovah hê dat jy die lewe moet geniet, goed moet doen en onnodige hartseer moet vermy (Pred. 11:9, 10). Wat sal jou help om dit te doen? Stel geestelike doelwitte en span jou dan in om dit te bereik. Byna 20 jaar gelede moes Javier tussen ’n belowende mediese loopbaan en die voltydse bediening kies. “Hoewel ’n dokter se werk bevredigend kan wees, kon niks met die vreugde vergelyk wat ek ervaar het toe ek etlike mense gehelp het om die waarheid te leer ken nie”, sê hy. “Die voltydse diens het my in staat gestel om die lewe ten volle te geniet. Al waaroor ek spyt is, is dat ek nie vroeër begin het nie.”
18. Waarom was Jesus se lewe op die aarde beslis die moeite werd?
18 Wat is dan die waardevolste ding wat ons moet nastreef? Die boek Prediker sê: “’n Naam is beter as goeie olie, en die sterfdag as die dag dat iemand gebore word” (Pred. 7:1). Niks lig dit beter toe as die lewe van Jesus nie. Hy het ongetwyfeld ’n uitstekende naam by Jehovah gemaak. Toe Jesus getrou gesterf het, het hy sy Vader se soewereiniteit geregverdig en die losprysoffer voorsien, wat die weg vir ons redding gebaan het (Matt. 20:28). Gedurende sy kort tydjie op die aarde het Jesus die volmaakte voorbeeld gestel—een wat ons probeer navolg—van ’n lewe wat werklik die moeite werd is.—1 Kor. 11:1; 1 Pet. 2:21.
19. Watter wyse raad het Salomo gegee?
19 Ons kan ook ’n goeie naam by God maak. ’n Goeie reputasie in Jehovah se oë is vir ons baie waardevoller as rykdom. (Lees Matteus 6:19-21.) Ons kan elke dag maniere vind om dinge te doen wat goed is in Jehovah se oë en wat ons lewe sal verryk. Byvoorbeeld, ons kan die goeie nuus aan ander verkondig, ons huwelik en ons gesin versterk en ons geestelikheid verdiep deur persoonlike studie te doen en vergaderinge by te woon (Pred. 11:6; Heb. 13:16). Wil jy graag ’n lewe geniet wat werklik die moeite werd is? Indien wel, hou aan om Salomo se raad te volg: “Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—Pred. 12:13.
[Voetnote]
a Salomo het ’n basiese jaarlikse inkomste van 666 talente (meer as 22 000 kilogram) goud gehad.—2 Kron. 9:13.
b Naam is verander.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat moet ons beweeg om ernstig na te dink oor ons doelwitte in die lewe?
• Hoe moet ons die najaging van genot en besittings beskou?
• Watter soort werk sal blywende bevrediging verskaf?
• Watter waardevolle ding moet ons nastreef?
[Prent op bladsy 23]
Watter plek moet ontspanning in ons lewe hê?
[Prent op bladsy 24]
Wat maak die predikingswerk waarlik bevredigend?