Maak dit saak hoe ons God aanbid?
“GODSDIENS is diep gewortel in die menslike natuur.” Dit is wat professor Alister Hardy in die boek The Spiritual Nature of Man sê. Die resultate van ’n onlangse opname ondersteun blykbaar hierdie gevolgtrekking. Daar is bevind dat ongeveer 86 persent van die wêreld se bevolking sê dat hulle aan die een of ander godsdiens behoort.
In die opname is daar ook bevind dat die gelowiges aan 19 vername godsdienste behoort en dat dié wat sê dat hulle Christene is, aan ’n verstommende 37 000 verskillende denominasies behoort. Laat dit jou nie wonder of al hierdie verskillende vorme van aanbidding vir God ewe aanneemlik is nie? Trouens, maak dit saak hoe ons hom aanbid?
Wanneer dit by hierdie lewensbelangrike saak kom, is dit duidelik dat ons nie bloot op ons persoonlike gevoelens of opinies kan staatmaak nie. Ons moet logieserwys uitvind wat God se beskouing van die saak is. Hiervoor moet ons God se Woord, die Bybel, raadpleeg. Waarom? Omdat Jesus Christus self in gebed tot God gesê het: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). En die getroue apostel Paulus het gesê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel.”—2 Timoteus 3:16.
Die Bybel toon dat nie alle aanbidding vir God aanneemlik is nie. Ons vind geskiedkundige voorbeelde van vorme van aanbidding wat God aanvaar het en wat hy verwerp het. Deur sulke voorbeelde noukeurig te ondersoek, kan ons uitvind wat ons moet doen en nie moet doen nie sodat ons aanbidding vir God aanneemlik is.
’n Eertydse voorbeeld
Deur die profeet Moses het Jehovah God vir die Israeliete ’n stel wette gegee wat hulle geleer het hoe om God op ’n aanneemlike wyse te aanbid. Wanneer die volk voldoen het aan die vereistes van daardie wette, wat dikwels die Mosaïese Wet genoem word, het God hulle as sy volk aanvaar en is hulle deur hom geseën (Eksodus 19:5, 6). Maar ondanks die feit dat God hulle op hierdie wyse begunstig het, het die nasie Israel nie by die vorm van aanbidding gebly wat vir hom aanneemlik was nie. Hulle het keer op keer Jehovah die rug toegekeer en die godsdiensgebruike van die inwoners van die land om hulle gevolg.
In die dae van die profete Esegiël en Jeremia in die sewende eeu v.G.J. het baie Israeliete God se Wet geïgnoreer en intiem met mense van die omliggende nasies begin omgaan. Deur hulle gebruike te volg en aan hulle feeste deel te neem, het die Israeliete ’n gemengde godsdiens beoefen. Baie van die Israeliete het gesê: “Laat ons soos die nasies word, soos die families van die lande, deur hout en klip te dien” (Esegiël 20:32; Jeremia 2:28). Hulle het beweer dat hulle Jehovah God aanbid, maar terselfdertyd het hulle “drekgode” vereer en selfs hulle seuns aan hulle geoffer.—Esegiël 23:37-39; Jeremia 19:3-5.
Argeoloë noem hierdie vorm van aanbidding godsdienssinkretisme, die gelyktydige aanbidding van verskillende gode. Of hulle noem dit eenvoudig volksgodsdiens. In ons pluralistiese samelewing voel baie mense vandag dat ons in alle dinge, insluitende godsdiens, ’n oop gemoed moet hê. Gevolglik voel hulle dat dit glad nie verkeerd is om God op enige manier wat hulle goeddink, te aanbid nie. Is dit werklik so? Moet ’n mens eenvoudig verdraagsaam en liberaal wees? Kyk na ’n paar kenmerke van die volksgodsdiens wat deur die ontroue Israeliete beoefen is, en let op waartoe daardie gebruike gelei het.
Israel se gemengde aanbidding
Die sentrums vir die Israeliete se gemengde aanbidding was “die hoogtes”, of plaaslike heiligdomme wat toegerus was met altare, reukwerkstaanders, heilige klippilare en heilige pale, blykbaar houtsimbole van Asjera, ’n Kanaänitiese vrugbaarheidsgodin. Daar was baie van hierdie sentrums in Juda. Tweede Konings 23:5, 8 praat van “hoogtes in die stede van Juda en die omgewing van Jerusalem . . . , van Geba [noordelike grens] af tot by Berseba [suidelike grens]”.
Op hierdie hoogtes het die Israeliete “vir Baäl, vir die son en vir die maan en vir die sterrebeelde van die diereriem en vir die hele leër van die hemel offerrook laat opgaan”. Hulle het huise vir “manlike tempelprostitute . . . in die huis van Jehovah” gehad en hulle kinders “vir Molog deur die vuur” as ’n offerande gebring.—2 Konings 23:4-10.
Argeoloë het honderde terracottabeeldjies in Jerusalem en Juda, meestal in die ruïnes van privaat wonings, gevind. Die meeste hiervan was afbeeldings van ’n kaal vrou met vergrote borste. Geleerdes assosieer hierdie beeldjies met die vrugbaarheidsgodinne Astoret en Asjera. Die beeldjies was vermoedelik “gelukbringers wat bevrugting en geboorte bevorder het”.
Hoe het die Israeliete hierdie plaaslike sentrums vir gemengde aanbidding beskou? Professor Ephraim Stern van die Hebreeuse Universiteit het gesê dat hierdie hoogtes waarskynlik “aan Jahweh [Jehovah] gewy” is. Inskripsies wat by argeologiese terreine gevind is, ondersteun blykbaar hierdie beskouing. Een lui byvoorbeeld: “Ek seën jou in die naam van Jahweh van Samaria en in die naam van sy asjera”, en ’n ander lui: “Ek seën jou in die naam van Jahweh van Teman en in die naam van sy asjera!”
Hierdie voorbeelde lig toe hoe die Israeliete ontrou was deur die rein aanbidding van Jehovah God met skandelike heidense gebruike te vermeng. Die gevolg was sedelike verval en geestelike duisternis. Hoe het God hierdie vorm van gemengde aanbidding beskou?
God se reaksie op gemengde aanbidding
God het deur sy profeet Esegiël sy verontwaardiging uitgespreek teenoor die Israeliete se verdorwe vorm van aanbidding en hulle ook veroordeel met die woorde: “In al julle woonplekke sal die stede verwoes en die hoogtes in puin gelê word, sodat hulle woes sal lê en julle altare in puin sal lê en stukkend sal wees en aan julle drekgode ’n einde gemaak sal word en julle reukwerkstaanders omgekap en julle werke uitgewis sal word” (Esegiël 6:6). Daar is geen twyfel nie dat sulke aanbidding heeltemal onaanvaarbaar was vir Jehovah en dat hy dit verwerp het.
Jehovah God het voorspel hoe die verwoesting sou plaasvind. “Ek [laat] . . . Nebukadresar, die koning van Babilon, my kneg, [haal] en ek sal hulle bring teen hierdie land en teen sy inwoners en teen al hierdie nasies rondom; en ek sal hulle aan vernietiging oorgee . . . En hierdie hele land sal ’n verwoeste plek word” (Jeremia 25:9-11). Hierdie woorde is bewaarheid toe die Babiloniërs in 607 v.G.J. teen Jerusalem opgetrek het en die stad en sy tempel heeltemal vernietig het.
Wat die vernietiging van Jerusalem betref, sê professor Stern, wat hierbo aangehaal is, dat die argeologiese oorblyfsels “’n duidelike weerspieëling van die Bybelse bronne is (2 Konings 25:8; 2 Kronieke 36:18-19) waarin die vernietiging, verbranding en ineenstorting van huise en mure beskryf word”. Hy sê verder: “Die argeologiese bewyse vir hierdie tydperk in Jerusalem se geskiedenis . . . is van die treffendste wat al by enige Bybelse terrein gevind is.”
Wat leer ons daaruit?
Die belangrikste les wat ons daaruit leer, is dat God nie aanbidding aanvaar wat Bybelse leringe met dogmas, tradisies of rituele van ander godsdienste probeer meng nie. Dit is duidelik dat die apostel Paulus hierdie les ter harte geneem het. Hy is as ’n Joodse Fariseër grootgemaak, opgevoed en opgelei in die wette van die sekte. Wat het hy gedoen toe hy uiteindelik geleer en aanvaar het dat Jesus die beloofde Messias is? “Die dinge wat vir my gewin was, dié het ek weens die Christus as verlies beskou”, het hy gesê. Hy het sy vorige weë verlaat en ’n toegewyde volgeling van Christus geword.—Filippense 3:5-7.
As ’n reisende sendeling was Paulus goed vertroud met die godsdiensgebruike en filosofiese besware van mense uit verskillende agtergronde. Gevolglik het hy aan die Christene in Korinte geskryf: “Watter deelgenootskap het lig met duisternis? En watter ooreenstemming is daar tussen Christus en Belial? Of watter aandeel het ’n getroue met ’n ongelowige? En watter ooreenkoms het God se tempel met afgode? . . . ‘Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak’; ‘en ek sal julle inneem.’”—2 Korintiërs 6:14-17.
In die wete dat dit wel vir God saak maak hoe ons hom aanbid, kan ons ons afvra: ‘Watter soort aanbidding keur God goed? Hoe kan ek nader aan God kom? En wat moet ek persoonlik doen om God op ’n aanneemlike manier te aanbid?’
Jehovah se Getuies sal jou graag help om antwoorde op hierdie en ander Bybelvrae te vind. Ons nooi jou om in aanraking te kom met die Getuies by die plaaslike Koninkryksaal of om aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf vir ’n gratis Bybelstudie op ’n tyd en plek wat vir jou geleë is.
[Prent op bladsy 10]
’n antieke heiligdom vir afgodediens, Tel-arad, Israel
[Erkenning]
Garo Nalbandian
[Prent op bladsy 10]
Astoretbeeldjies uit antieke judese huise
[Erkenning]
Photograph © Israel Museum, Jerusalem; courtesy of Israel Antiquities Authority