Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 7/1 bl. 10
  • ‘Hy is nie ver van elkeen van ons af nie’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Hy is nie ver van elkeen van ons af nie’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Soortgelyke materiaal
  • “Hy sal nader aan julle kom”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • “Kom nader aan God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • ‘Gaan voort om jou toe te lê op onderrigting’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Kan jy werklik ‘nader aan God kom’?
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 7/1 bl. 10

Kom nader aan God

‘Hy is nie ver van elkeen van ons af nie’

Handelinge 17:24-27

IN VERGELYKING met die ontsaglike heelal is mense inderdaad nietig. Miskien het jy al gewonder: ‘Is dit werklik vir blote mense moontlik om ’n hegte verhouding met God die Almagtige te hê?’ Dit sou slegs moontlik wees as God, wie se naam Jehovah is, wil hê dat ons na aan hom moet wees. Wil hy dit hê? Die gerusstellende antwoord kan gevind word in die apostel Paulus se treffende woorde aan die geleerde manne van Atene, soos opgeteken in Handelinge 17:24-27. Let op vier dinge wat Paulus van Jehovah sê.

Eerstens, Paulus sê dat God “die wêreld en alles daarin gemaak het” (Vers 24). Die prag en verskeidenheid wat die lewe so genotvol maak, is ’n bewys van ons Maker se bedagsaamheid en liefde (Romeine 1:20). Dit sal onsinnig wees om te dink dat so ’n God hom afsydig sou hou van diegene wat hy liefhet.

Tweedens, Jehovah “[gee] aan almal lewe en asem en alles” (Vers 25). Jehovah is die Onderhouer van die lewe (Psalm 36:9). Die lug, water en voedsel wat so noodsaaklik vir lewe is, is alles gawes van ons Skepper (Jakobus 1:17). Is dit redelik om te glo dat ons vrygewige God hom afsydig sou hou en ons sodoende die voorreg sou ontsê om te weet wie hy is en om nader aan hom te kom?

Derdens, God “het uit een mens elke nasie van die mense gemaak” (Vers 26). Jehovah is onpartydig en heeltemal vry van enige vorm van vooroordeel (Handelinge 10:34). Hoe dan anders? Hy het die “een mens”, Adam, geskep, van wie alle nasies en rasse afstam. God “se wil . . . is dat alle soorte mense gered moet word” (1 Timoteus 2:4). Ons het almal dus die geleentheid om nader aan hom te kom, ongeag ons velkleur, nasionaliteit of etniese agtergrond.

Laastens, Paulus noem ’n uiters gerusstellende feit: Jehovah is “nie ver van elkeen van ons af . . . nie” (Vers 27). Al is Jehovah hoog verhewe, is hy altyd bereikbaar vir dié wat opreg begeer om na aan hom te wees. Sy Woord verseker ons dat hy nie ver nie, maar “naby almal [is] wat hom aanroep”.—Psalm 145:18.

Dit is duidelik uit Paulus se woorde dat God wil hê dat ons na aan hom moet wees. Maar hy skenk so ’n intieme verhouding net aan diegene wat gewillig is om na hom te “soek” en te “tas”, verduidelik Paulus (Vers 27). ’n Naslaanwerk vir Bybelvertalers sê dat “albei werkwoorde blykbaar dui op ’n bereikbare moontlikheid . . . of ’n bereikbare wens”. Ter toeligting: Jy tas dalk in ’n donker maar bekende vertrek rond na die ligskakelaar of die deur, maar jy weet dat jy dit sal vind. As ons opreg na God soek en na hom tas, kan ons eweneens seker wees dat ons pogings beloon sal word. Ons sal ‘hom werklik vind’, verseker Paulus ons.—Vers 27.

Wil jy graag na aan God wees? Indien jy in geloof na God begin “soek” en na hom “tas”, sal jy nie teleurgestel word nie. Dit is nie moeilik om Jehovah te vind nie, want ‘hy is nie ver van elkeen van ons af nie’.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel