Kom nader aan God
Kan enigiets ‘ons van God se liefde skei’?
WIE van ons het nie ’n behoefte aan liefde nie? Ja, ons floreer wanneer ons voel dat ons familie en vriende ons liefhet. Maar ongelukkig kan menseverhoudings baie broos en onseker wees. Geliefdes sal ons dalk seermaak, ons verlaat of ons selfs verstoot. Maar daar is iemand wie se liefde onfeilbaar is. Die liefde wat Jehovah God vir sy aanbidders het, word pragtig beskryf in Romeine 8:38, 39.
“Ek is daarvan oortuig”, sê die apostel Paulus. Oortuig waarvan? Dat niks ons “kan skei van God se liefde” nie. Paulus praat nie net vir homself nie maar ook vir “ons”—dit wil sê vir almal wat God lojaal dien. Om sy punt te beklemtoon, noem Paulus ’n paar dinge wat nie kan keer dat Jehovah se liefde sy toegewyde knegte bereik nie.
“Nie die dood of die lewe” nie. Jehovah se liefde vir sy knegte eindig nie wanneer hulle sterf nie. As ’n blyk van sy liefde bewaar God sulkes in sy geheue, en hy sal hulle tot lewe in die komende regverdige nuwe wêreld herstel (Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:3, 4). Intussen bly God se liefde vir sy lojale aanbidders onveranderd ongeag wat die lewe in hierdie stelsel van dinge oor hulle bring.
Nie “engele of regerings” nie. Mense kan deur magtige individue of owerhede beïnvloed word, maar Jehovah kan nie. Magtige geesskepsele, soos die engel wat Satan geword het, kan God nie oorhaal om op te hou om sy aanbidders lief te hê nie (Openbaring 12:10). Regerings, wat ware Christene dalk teëstaan, kan ook nie God se beskouing van sy knegte verander nie.—1 Korintiërs 4:13.
Nie “teenswoordige dinge of toekomstige dinge” nie. God se liefde neem nie met verloop van tyd af nie. Niks wat nou of in die toekoms met sy knegte kan gebeur, sal veroorsaak dat God ophou om hulle lief te hê nie.
Nie “magte” nie. Paulus het na dinge in die hemel en op die aarde verwys wat gesag het—“engele” en “regerings”—maar nou noem hy “magte”. Die Griekse woord wat hier gebruik word, het ’n breë betekenis. Wat ook al die presiese betekenis is, een ding is seker: Geen mag in die hemel of op die aarde kan keer dat Jehovah se liefde sy knegte bereik nie.
Nie “hoogte of diepte” nie. Jehovah het sy knegte lief ongeag die omstandighede waarin hulle verkeer.
Nie “enige ander skepping” nie. Met hierdie allesomvattende woorde sê Paulus dat absoluut niks lojale aanbidders van Jehovah se liefde kan skei nie.
In teenstelling met die liefde van die mens, wat kan verander of verflou, is God se liefde vir dié wat in geloof op hom vertrou, onveranderlik; dit is ewigdurend. Hierdie wete beweeg ons ongetwyfeld om nader aan Jehovah te kom en ons bes te probeer om ons liefde vir hom te bewys.