Jehovah sal sy lojales nie verlaat nie
“[Jehovah] sal sy lojales nie verlaat nie. Tot onbepaalde tyd sal hulle beslis bewaar word.”—PS. 37:28.
1, 2. (a) Watter verwikkelinge in die tiende eeu v.G.J. het die lojaliteit van God se knegte op die proef gestel? (b) In watter drie situasies het Jehovah sy lojales bewaar?
DIT is die tiende eeu v.G.J. en ’n tyd om besluite te neem. Burgeroorlog is naelskraap vermy deurdat Israel se rustelose noordelike stamme ’n mate van onafhanklikheid gegee is. Hulle pas aangestelde koning, Jerobeam, tree vinnig op om sy mag te versterk deur ’n nuwe Staatsgodsdiens te stig. Hy eis volkome getrouheid van sy onderdane. Wat sal getroue knegte van Jehovah doen? Sal hulle lojaal bly aan die God wat hulle aanbid? Duisende doen dit, en Jehovah beskerm hulle terwyl hulle hulle onkreukbaarheid handhaaf.—1 Kon. 12:1-33; 2 Kron. 11:13, 14.
2 Die lojaliteit van God se knegte word ook in ons dag op die proef gestel. “Bly nugter van verstand, wees waaksaam”, waarsku die Bybel. “Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind.” Kan ons hom met welslae “weerstaan . . . , vas in die geloof”? (1 Pet. 5:8, 9). Kom ons ondersoek sekere gebeure in verband met koning Jerobeam se inhuldiging in 997 v.G.J. en kyk wat ons daaruit kan leer. Jehovah se getroue knegte is gedurende daardie kritieke tye onderdruk. Hulle was ook blootgestel aan afvallige invloede terwyl hulle moeilike toewysings uitgevoer het. In nie een van hierdie situasies het Jehovah destyds sy lojales verlaat nie, en hy sal dit ook nie vandag doen nie.—Ps. 37:28.
Wanneer hulle onderdruk word
3. Waarom was die bewind van koning Dawid nie onderdrukkend nie?
3 Kom ons kyk eers na die omstandighede waaronder Jerobeam koning geword het. Spreuke 29:2 sê: “Wanneer ’n goddelose heers, sug die volk.” Die volk het nie onder die bewind van koning Dawid van eertydse Israel gesug nie. Dawid was nie volmaak nie, maar hy was lojaal aan God en het op hom vertrou. Dawid se heerskappy was nie onderdrukkend nie. Jehovah het ’n verbond met Dawid gesluit en gesê: “Jou huis en jou koninkryk sal beslis tot onbepaalde tyd voor jou bestendig wees; jou troon sal tot onbepaalde tyd stewig gevestig word.”—2 Sam. 7:16.
4. Waarvan het die seëninge wat gedurende Salomo se heerskappy geniet is, afgehang?
4 Die heerskappy van Dawid se seun Salomo was aanvanklik so vreedsaam en voorspoedig dat dit tereg die toekomstige Duisendjarige Heerskappy van Christus Jesus kon voorafskadu (Ps. 72:1, 17). Nie een van die 12 stamme van Israel het destyds rede gehad om in opstand te kom nie. Maar die seëninge wat Salomo en sy onderdane geniet het, was voorwaardelik. Jehovah het vir Salomo gesê: “As jy in my insettinge wandel en my regterlike beslissings uitvoer en al my gebooie onderhou deur daarin te wandel, dan sal ek beslis my woord teenoor jou gestand doen wat ek tot jou vader Dawid gespreek het; en ek sal inderdaad in die midde van die kinders van Israel woon, en ek sal my volk Israel nie verlaat nie.”—1 Kon. 6:11-13.
5, 6. Wat was die gevolg van Salomo se dislojaliteit teenoor God?
5 Op sy oudag het Salomo ontrou aan Jehovah geword en valse aanbidding begin beoefen (1 Kon. 11:4-6). Salomo het geleidelik opgehou om Jehovah se wette te gehoorsaam en het die volk al hoe meer onderdruk. Dit het so erg geword dat die volk ná sy dood by sy seun en opvolger, Rehabeam, oor hom gekla het en verligting gevra het (1 Kon. 12:4). Hoe het Jehovah gereageer toe Salomo ontrou geword het?
6 Die Bybel sê vir ons: “Jehovah het vertoornd geword op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van . . . die God van Israel, wat twee keer aan hom verskyn het.” Jehovah het vir Salomo gesê: “Omdat . . . jy my verbond en my insettinge wat ek jou beveel het, nie gehou het nie, sal ek vir seker die koninkryk van jou afskeur, en ek sal dit beslis aan jou kneg gee.”—1 Kon. 11:9-11.
7. Hoe het Jehovah vir sy lojales gesorg, al het hy Salomo verwerp?
7 Jehovah het toe die profeet Ahia gestuur om ’n verlosser te salf. Daardie verlosser was Jerobeam, ’n bekwame man wat in Salomo se regering gewerk het. Hoewel Jehovah lojaal gebly het aan die Koninkryksverbond wat hy met Dawid gesluit het, het Hy dit goedgekeur dat die heerskappy oor die 12 stamme verdeel word. Tien stamme sou aan Jerobeam gegee word; twee sou in die geslagslyn van Dawid bly, wat op daardie stadium deur koning Rehabeam verteenwoordig is (1 Kon. 11:29-37; 12:16, 17, 21). Jehovah het vir Jerobeam gesê: “As jy alles gehoorsaam wat ek jou beveel en jy in my weë wandel en doen wat reg is in my oë deur my insettinge en my gebooie te onderhou, net soos my kneg Dawid gedoen het, dan sal ek met jou wees, en ek sal vir jou ’n bestendige huis bou, net soos ek vir Dawid gebou het, en ek sal Israel aan jou gee” (1 Kon. 11:38). Jehovah het ten behoewe van sy volk opgetree en ’n manier voorsien om vir hulle verligting van onderdrukking te bring.
8. Watter beproewinge veroorsaak vandag onderdrukking vir God se volk?
8 Onderdrukking en onreg vier vandag hoogty. Prediker 8:9 sê dat “die mens oor die mens geheers het tot sy nadeel”. Gierige kommersialisme en verdorwe heerskappy kan tot slegte ekonomiese toestande lei. Regeringsleiers, leiers in die sakewêreld en godsdiensleiers stel dikwels ’n swak voorbeeld op sedelike gebied. Soos die regverdige Lot, is God se lojales vandag dus “baie ontsteld . . . oor die wettrotserende mense se oorgawe aan losbandige gedrag” (2 Pet. 2:7). En terwyl ons stilweg probeer om volgens goddelike standaarde te lewe, word ons dikwels die teiken van vervolging deur verwaande heersers.—2 Tim. 3:1-5, 12.
9. (a) Wat het Jehovah reeds gedoen om sy volk te verlos? (b) Waarom kan ons seker wees dat Jesus altyd lojaal aan God sal wees?
9 Ons kan egter seker wees van hierdie grondwaarheid: Jehovah sal sy lojales nie verlaat nie! Dink net aan die stappe wat hy reeds gedoen het om die wêreld se verdorwe heersers te vervang. God se Messiaanse Koninkryk in die hande van Christus Jesus is reeds opgerig. Jesus Christus heers al byna honderd jaar lank in die hemel. Hy sal binnekort volkome verligting bring vir dié wat God se naam vrees. (Lees Openbaring 11:15-18.) Jesus het hom alreeds tot in die dood lojaal aan God bewys. Hy sal nooit sy onderdane teleurstel soos Salomo gedoen het nie.—Heb. 7:26; 1 Pet. 2:6.
10. (a) Hoe kan ons toon dat ons God se Koninkryk waardeer? (b) Watter vertroue kan ons hê wanneer ons beproewinge ervaar?
10 God se Koninkryk is ’n werklike regering wat ’n einde aan alle onderdrukking sal maak. Ons trou behoort aan Jehovah God en sy reëling. Met volle vertroue in die Koninkryk verwerp ons die wêreld se goddeloosheid en streef ons goeie werke ywerig na (Tit. 2:12-14). Ons streef daarna om sonder vlek van hierdie wêreld te bly (2 Pet. 3:14). Ongeag watter beproewinge ons nou ervaar, ons kan die vertroue hê dat Jehovah ons teen geestelike skade sal beskerm. (Lees Psalm 97:10.) Verder verseker Psalm 116:15 ons: “Kosbaar in die oë van Jehovah is die dood van sy lojales.” Jehovah se knegte is so kosbaar vir hom dat hy nie sal toelaat dat hulle as ’n groep vergaan nie.
Terwyl hulle aan afvallige invloede blootgestel word
11. Hoe het Jerobeam dislojaal geword?
11 Koning Jerobeam se bewind kon vir God se volk ’n mate van verligting gebring het. Maar sy dade het eerder hulle lojaliteit teenoor God verder op die proef gestel. Jerobeam was nie tevrede met die eer en voorreg wat hy reeds ontvang het nie en het maniere begin soek om sy posisie te versterk. “As hierdie volk voortdurend opgaan om offerandes in die huis van Jehovah in Jerusalem te bring”, het hy geredeneer, “dan sal die hart van hierdie volk sekerlik terugkeer na hulle heer Rehabeam, die koning van Juda; en hulle sal my beslis doodmaak en terugkeer na Rehabeam, die koning van Juda.” Jerobeam het gevolglik ’n nuwe godsdiens ingestel wat om twee goue kalwers gedraai het. “Toe het hy die een in Bet-El geplaas, en die ander het hy in Dan gesit. En hierdie saak het ’n oorsaak van sonde geword, en die volk het voor die een begin uitgaan tot by Dan. En hy het ’n huis van die hoogtes begin maak en priesters aangestel uit die volk in die algemeen, wat nie van die seuns van Levi was nie.” Jerobeam het selfs sy eie dag uitgedink vir ‘’n fees vir die kinders van Israel’, en hy het “offers op die altaar gebring om offerrook te laat opgaan”.—1 Kon. 12:26-33.
12. Wat het God se lojales in die noordelike koninkryk gedoen toe Jerobeam kalfaanbidding in Israel ingestel het?
12 Wat sou God se lojales in die noordelike koninkryk nou doen? Soos hulle getroue voorvaders, het die Leviete wat in die stede gewoon het wat in die gebied van die noordelike koninkryk aan hulle gegee is, dadelik opgetree (Eks. 32:26-28; Num. 35:6-8; Deut. 33:8, 9). Hulle het hulle erfdele agtergelaat en met hulle gesinne suidwaarts getrek na Juda, waar hulle kon voortgaan om Jehovah sonder inmenging te aanbid (2 Kron. 11:13, 14). Ander Israeliete wat tydelik in Juda gewoon het, het besluit om permanent daar te bly in plaas van terug te gaan huis toe (2 Kron. 10:17). Jehovah het gesorg dat die weg na ware aanbidding oop bly sodat ander van die noordelike koninkryk in latere geslagte kalfaanbidding kon verlaat en na Juda kon terugkeer.—2 Kron. 15:9-15.
13. Hoe het afvallige invloede in hedendaagse tye God se volk op die proef gestel?
13 Afvalliges en hulle invloede bedreig vandag God se volk. Party heersers het hulle eie vorm van Staatsgodsdiens probeer instel en druk op hulle onderdane uitgeoefen om dit te aanvaar. Die Christendom se geestelikes en ander vermeteles het die geestelike priesterskap vir hulleself probeer toe-eien. Maar ons vind die werklike gesalfdes, wat “’n koninklike priesterdom” uitmaak, net onder ware Christene.—1 Pet. 2:9; Op. 14:1-5.
14. Hoe moet ons op afvallige denke reageer?
14 Soos die getroue Leviete in die tiende eeu v.G.J., word God se lojales vandag nie deur afvallige idees mislei nie. Gesalfdes en hulle Christenmetgeselle vermy en verwerp afvallige idees summier. (Lees Romeine 16:17.) Hoewel ons heeltemal bereid is om ons in sekulêre aangeleenthede aan regeringsowerhede te onderwerp en neutraal bly in wêreldse konflikte, behoort ons lojaliteit aan God se Koninkryk (Joh. 18:36; Rom. 13:1-8). Ons verwerp die valse bewerings van diegene wat sê dat hulle God dien en hom terselfdertyd deur hulle gedrag oneer aandoen.—Tit. 1:16.
15. Waarom verdien “die getroue en verstandige slaaf” ons lojaliteit?
15 Dink ook aan die feit dat Jehovah dit vir opregtes van hart moontlik gemaak het om in figuurlike sin uit die goddelose wêreld te trek na die geestelike paradys wat hy geskep het (2 Kor. 12:1-4). Met harte vol dankbaarheid bly ons na aan “die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee”. Christus het hierdie slaaf “oor al sy besittings” aangestel (Matt. 24:45-47). Al verstaan ons persoonlik nie ’n sekere standpunt van die slaafklas ten volle nie, is dit dus geen rede om dit te verwerp of terug te keer na Satan se wêreld nie. Lojaliteit sal ons eerder beweeg om nederigheid aan die dag te lê en op Jehovah te wag om sake op te klaar.
Terwyl hulle godgegewe toewysings uitvoer
16. Watter toewysing het ’n profeet van Juda ontvang?
16 Jehovah het Jerobeam veroordeel weens sy afvallige weë. Hy het ’n profeet van Juda die opdrag gegee om na Bet-El in die noorde te reis en voor Jerobeam te verskyn terwyl hy by sy altaar diens verrig. Die profeet moes ’n verpletterende oordeelsboodskap aan Jerobeam oordra. Dit was ongetwyfeld ’n moeilike toewysing.—1 Kon. 13:1-3.
17. Hoe het Jehovah sy boodskapper beskerm?
17 Jerobeam was woedend toe hy Jehovah se veroordeling hoor. Hy het sy hand na God se verteenwoordiger uitgesteek en vir die manne wat daar naby gestaan het, geskreeu: “Gryp hom!” Maar onmiddellik, voordat enigiemand iets kon doen, het die “hand verdor wat hy teen hom uitgesteek het, en hy kon dit nie na hom toe terugtrek nie. En die altaar is uitmekaar geskeur sodat die vetterige as van die altaar uitgestort is.” Jerobeam was verplig om die profeet te vra om die aangesig van Jehovah te versag en te bid dat die verdorde hand herstel word. Die profeet het dit gedoen, en die hand is genees. So het Jehovah sy boodskapper teen leed beskerm.—1 Kon. 13:4-6.
18. Hoe bewaar Jehovah ons terwyl ons onbevrees heilige diens aan hom verrig?
18 Terwyl ons lojaal aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deelneem, kom ons soms onvriendelike, of selfs vyandige, reaksies teë (Matt. 24:14; 28:19, 20). Maar ons moet nooit toelaat dat die vrees dat ons verwerp sal word, ons ywer vir die bediening laat verflou nie. Soos die profeet in Jerobeam se dag, wie se naam nie genoem word nie, het ons “die voorreg . . . om onbevrees heilige diens aan [Jehovah] te verrig met lojaliteit” (Luk. 1:74, 75).a Hoewel ons vandag nie wonderdadige ingryping verwag nie, bewaar en ondersteun Jehovah ons as sy Getuies nog steeds deur middel van sy heilige gees en die engele. (Lees Johannes 14:15-17; Openbaring 14:6.) God sal nooit diegene verlaat wat onbevrees voortgaan om sy woord te spreek nie.—Fil. 1:14, 28.
Jehovah sal sy lojales bewaar
19, 20. (a) Waarom kan ons seker wees dat Jehovah ons nooit sal verlaat nie? (b) Watter vrae sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Jehovah is ons lojale God (Op. 15:4; 16:5). Hy is “lojaal in al sy werke” (Ps. 145:17). En die Bybel verseker ons: “Hy sal die weg van sy lojales bewaak” (Spr. 2:8). Wanneer God se lojales met beproewinge of afvallige idees te kampe het of wanneer hulle ’n moeilike toewysing uitvoer, kan hulle seker wees van Jehovah se leiding en ondersteuning.
20 Ons moet elkeen nou hieroor nadink: Wat sal my help om my lojaliteit teenoor Jehovah te handhaaf ongeag voor watter beproewinge of versoekings ek te staan kom? Met ander woorde, hoe kan ek my lojaliteit teenoor God versterk?
[Voetnoot]
a Of die profeet voortgaan om Jehovah te gehoorsaam of nie en wat met hom gebeur, sal in die volgende artikel bespreek word.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe het Jehovah getoon dat hy sy lojales nie verlaat wanneer hulle onderdruk word nie?
• Hoe moet ons op afvalliges en hulle idees reageer?
• Hoe bewaar Jehovah sy lojales terwyl hulle aan die Christelike bediening deelneem?
[Kaart/Prent op bladsy 5]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
NOORDELIKE KONINKRYK (Jerobeam)
Dan
SIGEM
Bet-El
SUIDELIKE KONINKRYK (Rehabeam)
JERUSALEM
[Prent]
Jehovah het sy lojales nie verlaat toe Jerobeam kalfaanbidding ingestel het nie
[Prent op bladsy 3]
Die seëninge wat Salomo en sy onderdane geniet het, was voorwaardelik