Laat Jehovah se Getuies huwelike verbrokkel?
“AS EEN huweliksmaat van godsdiens verander, sal die huwelik verbrokkel.” Dit is wat baie mense sê. Hierdie waarskuwing word soms gerig aan ’n huweliksmaat wat besluit om een van Jehovah se Getuies te word. Maar is hierdie bewering altyd waar?
Wanneer ’n getroude persoon in godsdiens begin belangstel of lank gehuldigde godsdiensbeskouings begin verander, is dit te verstane dat dit ’n skok vir die huweliksmaat kan wees. Dit kan kommer, teleurstelling en selfs gegriefdheid veroorsaak.
Dit is dikwels die vrou wat eerste voel dat sy van godsdiens moet verander. Watter uitwerking kan dit op julle huwelik hê as jou vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer? As jy ’n vrou is wat met Jehovah se Getuies assosieer, wat kan jy doen om enige kommer wat jou man ervaar, te verlig?
Vanuit ’n man se oogpunt
Mark, wat in Australië woon, was al 12 jaar lank getroud toe sy vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. “Ek was gelukkig getroud en het ’n bevredigende loopbaan gehad”, sê Mark. “Die lewe was goed. Toe het my vrou besluit om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Dit het skielik gevoel of my lewenswyse bedreig word. Ek was eers net verontrus oor my vrou se nuwe belangstelling in die Bybel, maar toe sy vir my sê dat sy besluit het om as een van Jehovah se Getuies gedoop te word, het ek baie bekommerd geraak.”
Mark het begin wonder of sy vrou se nuwe geloof die einde van sy huwelik sou beteken. Hy het dit oorweeg om haar Bybelstudie stop te sit en haar te belet om enige kontak met die Getuies te hê. Mark het egter nie impulsief opgetree nie, maar het eerder tyd laat verloop. Wat het met sy huwelik gebeur?
“Gelukkig”, sê Mark, “is ons huwelik nou selfs sterker as tevore. Dit het bly verbeter sedert my vrou 15 jaar gelede as een van Jehovah se Getuies gedoop is.” Wat het tot die sukses van die huwelik bygedra? “Wanneer ek terugdink”, sê Mark, “is dit hoofsaaklik te danke aan die feit dat my vrou die goeie raad in die Bybel toepas. Sy het my nog altyd met respek probeer behandel.”
Raad van suksesvolle vrouens
As jy ’n vrou is wat met Jehovah se Getuies assosieer, wat kan jy doen en sê om enige kommer wat jou man ervaar, te help verlig? Beskou die kommentare van hierdie vrouens uit verskillende wêrelddele.
Sakiko, Japan: “Ek is al 31 jaar lank getroud en het drie kinders. Ek is die afgelope 22 jaar een van Jehovah se Getuies. Dit is soms moeilik omdat my man nie aan dieselfde geloof as ek behoort nie. Maar ek span my in om die Bybel se raad toe te pas om ‘gou [te] wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word’ (Jakobus 1:19). Ek probeer om bedagsaam te wees teenoor my man en te doen wat hy vra wanneer dit nie met Bybelbeginsels bots nie. Dit het gehelp om ’n sukses van ons huwelik te maak.”
Nadezjda, Rusland: “Ek is al 28 jaar lank getroud en is die afgelope 16 jaar ’n gedoopte Getuie. Voordat ek die Bybel bestudeer het, het ek nie gedink dat my man die hoof van die gesin behoort te wees nie. Ek het daarvan gehou om baie besluite self te neem. Maar ek het mettertyd gevind dat die toepassing van Bybelbeginsels tot die vrede en geluk van ons gesin bydra (1 Korintiërs 11:3). Dit het geleidelik vir my makliker geword om onderdanig te wees, en my man het hierdie veranderinge in my opgemerk.”
Marli, Brasilië: “Ek het twee kinders en is al 21 jaar lank getroud. Sestien jaar gelede is ek as ’n Getuie gedoop. Ek het geleer dat Jehovah God wil hê dat egpare bymekaar moet bly en nie uitmekaar moet gaan nie. Ek probeer dus om ’n goeie vrou te wees, om te praat en op te tree op ’n wyse wat Jehovah en my man gelukkig maak.”
Larisa, Rusland: “Toe ek omtrent 19 jaar gelede een van Jehovah se Getuies geword het, het ek besef dat dit van die allergrootste belang is om veranderinge in my lewe aan te bring. My man kan sien dat die Bybel my ten goede beïnvloed—dat dit my help om hom meer te waardeer. Ons het aanvanklik gestry oor hoe om die kinders groot te maak, maar ons het hierdie meningsverskille uit die weg geruim. My man laat ons kinders toe om godsdiensvergaderinge saam met my by te woon omdat hy besef dat hulle slegs dinge geleer word wat hulle tot voordeel strek.”
Valquíria, Brasilië: “Ek het een kind en is al 19 jaar lank getroud. Dertien jaar gelede het ek een van Jehovah se Getuies geword. Aanvanklik wou my man nie hê dat ek aan die openbare predikingswerk moet deelneem nie. Maar ek het geleer om hom op ’n sagmoedige manier gerus te stel en hom te help sien dat die Bybel ’n positiewe uitwerking op my persoonlikheid het. My man het mettertyd begin verstaan hoe belangrik dit vir my is om aan die predikingswerk deel te neem. Vandag ondersteun hy my ten volle in my geestelike bedrywighede. Wanneer ek Bybelstudies buite die stad moet hou, neem hy my selfs met sy motor soontoe en wag hy geduldig buite totdat ek klaar is.”
’n Krag ten goede
As jou huweliksmaat met Jehovah se Getuies assosieer, hoef jy nie bang te wees dat dit julle huwelik sal laat verbrokkel nie. Soos baie mans en vrouens in alle wêrelddele gevind het, is die Bybel ’n krag ten goede in ’n huwelik.
’n Man wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, het eerlik erken: “Ek was aanvanklik bekommerd toe my vrou een van Jehovah se Getuies geword het, maar nou voel ek dat dit alles die moeite werd was.” ’n Ander man het van sy vrou gesê: “My vrou se getrouheid, vasbeslotenheid en integriteit het my groot bewondering vir Jehovah se Getuies gegee. Haar godsdiensoortuigings het ons huwelik grootliks tot voordeel gestrek. Ons maak toegewings aan mekaar en beskou ons huwelik as ’n lewenslange verbintenis.”
[Venster/Prent op bladsy 13]
Hoe beskou Jehovah se Getuies die huwelik?
Jehovah se Getuies beskou die Bybel as God se geïnspireerde Woord. Hulle neem dus ernstig op wat dit oor die huwelik sê. Let op die Bybel se antwoord op die volgende vrae:
▪ Spoor Jehovah se Getuies hulle lede aan om ’n huweliksmaat te verlaat wat nie ’n Getuie is nie? Nee. Die apostel Paulus het geskryf: “As enige broer ’n ongelowige vrou het en sy nietemin bereid is om met hom saam te woon, laat hy haar dan nie verlaat nie; en laat ’n vrou wat ’n ongelowige man het wat nietemin bereid is om met haar saam te woon, haar man nie verlaat nie” (1 Korintiërs 7:12, 13). Jehovah se Getuies gehoorsaam hierdie gebod.
▪ Word ’n vrou wat een van Jehovah se Getuies is, aangespoor om haar man se wense te ignoreer as hy nie aan dieselfde geloof behoort nie? Nee. Die apostel Petrus het geskryf: “Julle, vrouens, [moet] onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek.”—1 Petrus 3:1, 2.
▪ Leer Jehovah se Getuies dat ’n man absolute gesag het? Nee. Die apostel Paulus het gesê: “Ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man; en die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). ’n Christenvrou sal haar man as die hoof van die gesin respekteer. Maar ’n man het nie absolute gesag nie. Hy is aanspreeklik teenoor God en Christus. As ’n man sy vrou beveel om iets te doen wat in stryd is met God se wet, sal ’n Christenvrou dus “eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”.—Handelinge 5:29.
▪ Leer Jehovah se Getuies dat egskeiding verbode is? Nee. Jesus Christus het gesê: “Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery [geslagsonsedelikheid], en met ’n ander trou, egbreuk pleeg” (Matteus 19:9). Jehovah se Getuies bly dus by Jesus se beskouing dat egbreuk gronde vir egskeiding voorsien. Maar hulle glo ook vas dat huwelike nie om onbenullige redes ontbind moet word nie. Hulle spoor hulle lede aan om by Jesus se woorde te bly: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees. . . . Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Matteus 19:5, 6.