Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 11/15 bl. 8-12
  • Help diegene wat van die kudde afdwaal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Help diegene wat van die kudde afdwaal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie kan help?
  • ’n Gesamentlike poging
  • Hou aan om liefde aan hulle te betoon
  • “Ek sal self na my skape soek”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Ouere manne, neem julle herdersverantwoordelikhede ernstig op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Help hulle om sonder versuim terug te keer!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Herders, volg die grootste Herders na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 11/15 bl. 8-12

Help diegene wat van die kudde afdwaal

“Wees saam met my bly, want ek het my skaap gevind wat verlore was.”—LUK. 15:6.

1. Hoe het Jesus getoon dat hy ’n liefdevolle herder is?

JEHOVAH se enigverwekte Seun, Jesus Christus, word “die groot herder van die skape” genoem (Heb. 13:20). Die Skrif het sy koms voorspel en het getoon dat hy ’n unieke Herder was wat die “verlore skape” van Israel probeer vind het (Matt. 2:1-6; 15:24). En soos ’n letterlike herder moontlik sy lewe sou gee om sy skape te beskerm, het Jesus gesterf as ’n losprysoffer vir skaapgeaarde mense wat van sy offerande gebruik sou maak.—Joh. 10:11, 15; 1 Joh. 2:1, 2.

2. Wat het party Christene moontlik onbedrywig laat word?

2 Party wat blykbaar Jesus se offerande waardeer het en hulle aan God toegewy het, assosieer ongelukkig nie meer met die Christengemeente nie. Ontmoediging, gesondheidsprobleme of ander faktore het moontlik hulle ywer laat verflou en hulle onbedrywig laat word. Maar net as deel van God se kudde kan hulle die kalmte en geluk geniet waarvan Dawid in die 23ste Psalm gepraat het. Hy het byvoorbeeld gesing: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie” (Ps. 23:1). Niemand in God se kudde ontbreek enigiets in geestelike sin nie, maar dit is nie die gelukkige lot van skape wat afgedwaal het nie. Wie kan hulle help? Hoe kan hulp verleen word? Ja, wat kan gedoen word om hulle te help om na die kudde terug te keer?

Wie kan help?

3. Hoe het Jesus getoon wat nodig is om verlore skape van God se weiding te red?

3 Ywerige inspanning is nodig om verlore skape van God se weiding te red (Ps. 100:3). Jesus het dit toegelig toe hy gesê het: “As ’n sekere man honderd skape het en een van hulle dwaal af, sal hy nie die nege-en-negentig op die berge laat staan en die een wat afdwaal, gaan soek nie? En as hy hom vind, voorwaar, ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die nege-en-negentig wat nie afgedwaal het nie. Net so is dit vir my Vader wat in die hemel is, nie wenslik dat een van hierdie kleintjies vergaan nie” (Matt. 18:12-14). Wie kan skaapgeaardes help wat van die kudde afgedwaal het?

4, 5. Watter gesindheid moet ouer manne teenoor God se kudde hê?

4 As Christen- ouer manne skape wil help wat afgedwaal het, moet hulle in gedagte hou dat die kudde van God ’n gemeente van mense is wat aan Jehovah toegewy is—ja, kosbare ‘skape van God se weiding’ (Ps. 79:13). Hierdie dierbare skape het tere sorg nodig, en dit beteken dat liefdevolle herders persoonlike belangstelling in hulle moet toon. Vriendelike herdersbesoeke by hulle kan baie doeltreffend wees. Liefdevolle aanmoediging deur ’n herder kan hulle geestelik opbou en hulle begeerte vergroot om na die kudde terug te keer.—1 Kor. 8:1.

5 Herders van God se kudde het die verantwoordelikheid om na skape te soek wat afgedwaal het en om hulle dan te probeer help. Die apostel Paulus het Christen- ouer manne van eertydse Efese aan hulle verantwoordelikhede as herders herinner toe hy gesê het: “Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het” (Hand. 20:28). Die apostel Petrus het gesalfde ouer manne eweneens gemaan: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig; ook nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word.”—1 Pet. 5:1-3.

6. Waarom het God se skape veral vandag die sorg van herders nodig?

6 Christenherders moet “die goeie herder”, Jesus, navolg (Joh. 10:11). Hy was diep besorg oor God se skape en het beklemtoon hoe belangrik dit is om vir hulle te sorg toe hy vir Simon Petrus gesê het om ‘toesig te hou oor Sy skapies’. (Lees Johannes 21:15-17.) Die skape het veral vandag sulke sorg nodig, want die Duiwel het sy pogings verskerp om die onkreukbaarheid te ondermyn van diegene wat aan God toegewy is. Satan buit vleeslike swakhede uit en gebruik die wêreld in ’n poging om Jehovah se skape by sondige bedrywighede betrokke te laat raak (1 Joh. 2:15-17; 5:19). Onbedrywiges is besonder kwesbaar en het dus hulp nodig om die raad toe te pas om “deur gees te wandel” (Gal. 5:16-21, 25). Om hierdie skape te help, vereis biddende vertroue op God, die leiding van sy gees en die bekwame gebruik van sy Woord.—Spr. 3:5, 6; Luk. 11:13; Heb. 4:12.

7. Hoe belangrik is dit dat ouer manne as herders toesig hou oor skaapgeaardes onder hulle sorg?

7 ’n Herder in eertydse Israel het ’n lang staf met ’n krom nek, oftewel ’n herderstaf, gebruik om sy kudde te lei. Wanneer die skape by die kraal in- of uitgegaan het, het hulle ‘onder die herderstaf deurgegaan’ en kon hulle sodoende deur die herder getel word (Lev. 27:32; Miga 2:12; 7:14). ’n Christenherder moet eweneens die kudde van God onder sy sorg ken en ’n oog op hulle hou. (Vergelyk Spreuke 27:23.) Herderswerk is dus een van die belangrike sake wat deur die liggaam van ouer manne bespreek word. Dit sluit in dat reëlings getref word om skape te help wat afgedwaal het. Jehovah het gesê dat hy sy skape sou soek en hulle die nodige sorg sou gee (Eseg. 34:11). Dit behaag God dus wanneer ouer manne soortgelyke stappe doen om skape wat afgedwaal het, te probeer help om na die kudde terug te keer.

8. Hoe kan ouer manne persoonlike aandag aan die skape gee?

8 Wanneer ’n medegelowige fisies siek is, kan die besoek van ’n herder van God se kudde ’n bron van vreugde en aanmoediging wees. Dit kan ook die geval wees wanneer ’n geestelik siek skaap persoonlike aandag ontvang. Ouer manne kan tekste lees, ’n artikel hersien, glanspunte van ’n vergadering bespreek, saam met die onbedrywige bid, ensovoorts. Hulle kan meld dat gemeentelede verheug sal wees om hom weer by gemeentelike vergaderinge te sien (2 Kor. 1:3-7; Jak. 5:13-15). ’n Besoek, ’n telefoonoproep of ’n brief kan baie beteken! Wanneer ’n medelydende Christenherder persoonlike hulp verleen aan ’n skaap wat van die kudde afgedwaal het, kan dit ook sy vreugde vergroot.

’n Gesamentlike poging

9, 10. Waarom sal jy sê dat nie net die ouer manne besorg moet wees oor ’n skaap wat afgedwaal het nie?

9 Omdat ons in besige en kritieke tye lewe, merk ons dalk nie op dat ’n medegelowige van die gemeente wegdryf nie (Heb. 2:1). Maar Jehovah se skape is kosbaar in sy oë. Elkeen van hulle is waardevol, net soos elke lid, of deel, van die menseliggaam. Ons moet dus almal oor ons broers besorg wees en werklik sorg dra vir mekaar (1 Kor. 12:25). Is dit jou gesindheid?

10 Hoewel die ouer manne die leiding daarin neem om skape wat afgedwaal het, te soek en te help, is dit nie net Christenopsieners wat oor hierdie medegelowiges besorg moet wees nie. Ander kan met hierdie herders saamwerk. Ons kan en moet ons broers en susters wat hulp nodig het om na die kudde terug te keer, aanmoedig en geestelik help. Hoe kan hierdie hulp verleen word?

11, 12. Hoe kan jy dalk die voorreg hê om iemand te help wat geestelike hulp nodig het?

11 In party gevalle kan die ouer manne reël dat ervare Koninkryksverkondigers ’n persoonlike Bybelstudie hou met onbedrywiges wat sê dat hulle graag hulp wil hê. Die doel van hierdie pogings is om “die liefde wat [hulle] eers gehad het”, opnuut in hierdie persone aan te wakker (Op. 2:1, 4). Hierdie medegelowiges kan geestelik opgebou en versterk word deur inligting met hulle te bespreek wat hulle misgeloop het terwyl hulle weg was van die gemeente.

12 As die ouer manne jou vra om met ’n medegelowige te studeer wat geestelike hulp nodig het, moet jy bid dat Jehovah jou pogings rig en seën. Ja, “laat jou werke aan Jehovah oor en jou planne sal stewig bevestig word” (Spr. 16:3). Peins oor Bybeltekste en geloofversterkende punte wat jy kan bespreek met dié wat geestelike hulp nodig het. Dink na oor die apostel Paulus se uitstekende voorbeeld. (Lees Romeine 1:11, 12.) Paulus het verlang om Christene in Rome te sien om hulle die een of ander geestelike gawe mee te deel sodat hulle standvastig gemaak kon word. Hy het ook uitgesien na wedersydse aanmoediging. Moet ons nie dieselfde gesindheid hê wanneer ons skape probeer help wat van die kudde van God afgedwaal het nie?

13. Wat kan jy met ’n onbedrywige bespreek?

13 In jou besprekings kan jy vra: “Hoe het jy die waarheid geleer?” Help die onbedrywige om vreugdevolle tye te onthou deur hom aan te spoor om te praat oor aangename ondervindinge wat hy by die vergaderinge, in die predikingswerk en by byeenkomste gehad het. Praat oor die gelukkige tye wat julle moontlik saam in Jehovah se diens geniet het. Meld die vreugde wat dit jou verskaf om steeds nader aan Jehovah te kom (Jak. 4:8). Spreek jou waardering uit vir die manier waarop God vir ons as sy volk sorg—veral deur ons vertroosting en hoop in ons verdrukking te gee.—Rom. 15:4; 2 Kor. 1:3, 4.

14, 15. Aan watter vroeëre seëninge kan dit nuttig wees om onbedrywiges te herinner?

14 Dit sal heel waarskynlik nuttig wees om die onbedrywige te herinner aan party van die seëninge wat hy vroeër geniet het danksy noue omgang met die gemeente. Byvoorbeeld, daar was die seën om in kennis van God se Woord en voornemens toe te neem (Spr. 4:18). Toe hy ‘deur gees gewandel het’, was dit ongetwyfeld vir hom makliker om versoekings te weerstaan om te sondig (Gal. 5:22-26). Omdat hy as gevolg daarvan ’n rein gewete gehad het, het dit hom in staat gestel om Jehovah in gebed te nader en ‘die vrede van God wat alle denke te bowe gaan en wat ons harte en verstandelike vermoëns bewaak’, te geniet (Fil. 4:6, 7). Hou hierdie punte in gedagte, toon opregte belangstelling en doen alles in jou vermoë om jou geestelike broer of suster liefdevol aan te spoor om na die kudde terug te keer.—Lees Filippense 2:4.

15 Gestel jy is ’n ouer man wat ’n herdersbesoek doen. Jy kan moontlik ’n onbedrywige egpaar aanspoor om na te dink oor die tyd toe hulle die waarheid van God se Woord geleer het. Hoe wonderlik, redelik, bevredigend en geestelik bevrydend was die waarheid tog! (Joh. 8:32). Hoe het hulle harte tog nie geswel van dankbaarheid vir wat hulle oor Jehovah, sy liefde en sy wonderlike voornemens geleer het nie! (Vergelyk Lukas 24:32.) Herinner hulle aan die hegte verhouding met Jehovah en die wonderlike voorreg van gebed wat toegewyde Christene geniet. Spoor onbedrywiges ernstig aan om weer te reageer op “die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God”, Jehovah.—1 Tim. 1:11.

Hou aan om liefde aan hulle te betoon

16. Meld ’n voorbeeld om te toon dat pogings om geestelike hulp te verleen, werklik doeltreffend is.

16 Is die voorgaande wenke werklik doeltreffend? Ja. Byvoorbeeld, ’n jongmens wat ’n Koninkryksverkondiger geword het toe hy 12 jaar oud was, het op die ouderdom van 15 onbedrywig geraak. Hy het egter later weer bedrywig geword en is al meer as 30 jaar in die voltydse diens. Sy geestelike herstel was hoofsaaklik te danke aan die hulp wat ’n Christen- ouer man hom gegee het. Hoe het hy daardie geestelike hulp tog waardeer!

17, 18. Watter eienskappe sal jou help om hulp te verleen aan iemand wat van die kudde van God afgedwaal het?

17 Dit is liefde wat Christene beweeg om onbedrywiges te help om na die gemeente terug te keer. Jesus het van sy volgelinge gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34, 35). Ja, liefde is ’n kenmerk van ware Christene. Moet hierdie liefde dan nie betoon word aan gedoopte Christene wat moontlik onbedrywig geraak het nie? Beslis! Maar dit verg verskeie godvrugtige eienskappe om die nodige hulp te voorsien.

18 Watter eienskappe sal jy moontlik aan die dag moet lê as jy iemand wil help wat van die kudde van God afgedwaal het? Benewens liefde sal jy miskien medelye, goedhartigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid moet openbaar. Na gelang van omstandighede sal jy moontlik ook vergewensgesind moet wees. Paulus het geskryf: “Beklee julle dan, as God se uitverkorenes, heilig en gelief, met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—Kol. 3:12-14.

19. Waarom is dit die moeite werd om ’n poging aan te wend om skaapgeaardes te help om na die Christenkudde terug te keer?

19 Die volgende studieartikel in hierdie nommer sal redes bespreek waarom party van God se kudde afdwaal. Dit sal ook toon watter ontvangs diegene wat terugkeer, kan verwag. Terwyl jy daardie artikel bestudeer en nadink oor hierdie een, kan jy verseker wees dat enige poging wat jy aanwend in die hoop om skaapgeaardes te help om na die Christenkudde terug te keer, die moeite werd is. In die teenswoordige stelsel van dinge wy baie mense hulle hele lewe daaraan om rykdom te probeer vergaar, maar net een lewe is baie meer werd as al die geld in die wêreld. Jesus het dit beklemtoon in sy illustrasie van die verlore skaap (Matt. 18:12-14). Mag jy hierdie punt in gedagte hou terwyl jy ’n ernstige en dringende poging aanwend om Jehovah se dierbare skape wat afgedwaal het, te help om na die kudde terug te keer.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter verantwoordelikheid het Christenherders met betrekking tot skaapgeaardes wat van die kudde afgedwaal het?

• Hoe kan jy moontlik diegene help wat nie nou met die gemeente assosieer nie?

• Watter eienskappe kan jou help om hulp te verleen aan diegene wat van die kudde afgedwaal het?

[Prent op bladsy 10]

Christenherders probeer liefdevol om diegene te help wat van God se kudde afgedwaal het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel