Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 12/15 bl. 12-16
  • Waardeer Jesus se unieke rol in God se voorneme

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waardeer Jesus se unieke rol in God se voorneme
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die enigverwekte Seun”
  • “Die Woord”
  • “Die Amen”
  • “Die middelaar van ’n nuwe verbond”
  • “Hoëpriester”
  • Die voorspelde “saad”
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die Een van wie al die profete getuig het
    Aanbid die enigste ware God
  • Groter seëninge deur middel van die nuwe verbond
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Sal jy baat vind by God se verbonde?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 12/15 bl. 12-16

Waardeer Jesus se unieke rol in God se voorneme

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.”—JOH. 14:6.

1, 2. Waarom moet ons daarin belangstel om Jesus se unieke rol in God se voorneme te ondersoek?

DEUR die eeue heen het baie mense daarna gestreef om bo ander uit te blink, maar min het daarin geslaag. Nog minder kan tereg beweer dat hulle in belangrike opsigte uniek is. Maar Jesus Christus, die Seun van God, is in baie opsigte uniek.

2 Waarom moet Jesus se unieke rol vir ons van belang wees? Omdat dit ons verhouding met ons hemelse Vader, Jehovah, raak! Jesus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Joh. 14:6; 17:3). Kom ons ondersoek ’n paar van die opsigte waarin Jesus uniek is. Dit sal ons waardering vir sy rol in God se voorneme vergroot.

“Die enigverwekte Seun”

3, 4. (a) Waarom kan ons sê dat Jesus uniek is in sy rol as die enigverwekte Seun? (b) Hoe was Jesus se rol in die skepping uniek?

3 Jesus is nie net “’n seun van God” nie. Dit is hoe Satan na Jesus verwys het terwyl hy hom versoek het (Matt. 4:3, 6). Jesus word tereg “die enigverwekte Seun van God” genoem (Joh. 3:16, 18). Die Griekse woord wat met “enigverwekte” vertaal word, word gedefinieer as “enig in sy soort, enigste”, “die enigste lid van ’n familie of soort” of “uniek”. Jehovah het honderdmiljoene geesseuns. In watter sin is Jesus dan die enigste “van ’n familie of soort”?

4 Jesus is uniek in die sin dat hy die enigste regstreekse skepping van sy Vader is. Hy is die eersgebore Seun. Trouens, hy is “die eersgeborene van die hele skepping” (Kol. 1:15). Hy is “die begin van die skepping deur God” (Op. 3:14). Die enigverwekte Seun se rol in die skepping is ook uniek. Hy was nie die Skepper, of Voortbringer, van die skepping nie. Maar Jehovah het hom as die instrument, of middel, gebruik om alle ander dinge te skep. (Lees Johannes 1:3.) Die apostel Paulus het geskryf: “Daar [is] in werklikheid vir ons een God, die Vader, uit wie alles is, en ons vir hom; en daar is een Here, Jesus Christus, deur wie alles is, en ons deur hom.”—1 Kor. 8:6.

5. Hoe beklemtoon die Skrif Jesus se uniekheid?

5 Jesus se uniekheid behels egter veel meer. Die Skrif ken baie titels of benamings aan hom toe wat sy unieke rol in God se voorneme beklemtoon. Kom ons ondersoek nou nog vyf hiervan soos dit in die Christelike Griekse Geskrifte op Jesus toegepas word.a

“Die Woord”

6. Waarom is dit gepas dat Jesus “die Woord” genoem word?

6 Lees Johannes 1:14. Waarom word Jesus “die Woord”, of Logos, genoem? Hierdie titel toon watter funksie hy vervul sedert ander intelligente skepsele in aansyn gekom het. Jehovah het sy Seun gebruik om inligting en instruksies aan ander geesseuns oor te dra, net soos God ook hierdie Seun gebruik het om Sy boodskap aan mense op aarde oor te dra. Die feit dat Jesus die Woord, of God se Woordvoerder, is, word bevestig deur Christus se woorde aan sy Joodse toehoorders: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het. As iemand Sy wil wil doen, sal hy aangaande die leer weet of dit van God kom en of ek uit myself spreek” (Joh. 7:16, 17). Jesus dra, selfs ná sy terugkeer tot hemelse heerlikheid, nog steeds die titel “Die Woord van God”.—Op. 19:11, 13, 16.

7. Hoe kan ons die nederigheid navolg wat Jesus in sy rol as “die Woord” openbaar?

7 Dink net aan wat hierdie titel impliseer. Hoewel Jesus die wysste van al Jehovah se skepsele is, maak hy nie staat op sy eie wysheid nie. Hy spreek wat sy Vader hom beveel. Hy vestig altyd die aandag eerder op Jehovah as op homself (Joh. 12:50). Wat ’n wonderlike voorbeeld vir ons om na te volg! Ons het ook die kosbare voorreg ontvang om “goeie nuus van goeie dinge bekend [te] maak” (Rom. 10:15). Waardering vir Jesus se voorbeeld van nederigheid moet ons beweeg om nooit uit onsself te spreek nie. Wanneer ons die lewensreddende boodskap in die Skrif oordra, wil ons nie “verder gaan as die dinge wat geskrywe staan” nie.—1 Kor. 4:6.

“Die Amen”

8, 9. (a) Wat beteken die woord “amen”, en waarom word Jesus “die Amen” genoem? (b) Hoe het Jesus sy rol as “die Amen” vervul?

8 Lees Openbaring 3:14. Waarom word Jesus “die Amen” genoem? Die woord wat met “amen” vertaal word, is ’n transliterasie van ’n Hebreeuse woord wat “laat dit so wees” of “beslis” beteken. Die Hebreeuse grondwoord waarvan dit afgelei is, beteken om “getrou” of “betroubaar te wees”. Hierdie selfde woord word gebruik om Jehovah se getrouheid te beskryf (Deut. 7:9; Jes. 49:7). In watter opsig is Jesus dan uniek wanneer daar na hom verwys word as “die Amen”? Let op die antwoord in 2 Korintiërs 1:19, 20: “Die Seun van God, Christus Jesus, wat . . . onder julle verkondig is, . . . het nie Ja en tog Nee geword nie, maar Ja het in sy geval Ja geword. Want ongeag hoeveel beloftes van God daar is, hulle het deur middel van hom Ja geword. Daarom word die ‘Amen’ ook deur middel van hom gesê, tot heerlikheid van God.”

9 Jesus is “die Amen” op al God se beloftes. Sy onberispelike lewensweg op aarde, met inbegrip van sy offerdood, het die vervulling van al die beloftes van Jehovah God bevestig en moontlik gemaak. Deur getrou te bly, het Jesus ook Satan se bewering, wat in die boek Job opgeteken is, naamlik dat God se knegte Hom tydens ontbering, lyding en beproewing sou verloën, vals bewys (Job 1:6-12; 2:2-7). Van al God se skepsele kon die eersgebore Seun die oortuigendste antwoord op hierdie aantyging gee. Daarbenewens het Jesus die beste bewyse voorsien ter ondersteuning van sy Vader se kant in die groter geskil oor die regmatigheid van Jehovah se universele soewereiniteit.

10. Hoe kan ons Jesus in sy unieke rol as “die Amen” navolg?

10 Hoe kan ons Jesus in sy unieke rol as “die Amen” navolg? Deur getrou te bly aan Jehovah en sy universele soewereiniteit te ondersteun. As ons dit doen, sal ons positief reageer op die versoek in Spreuke 27:11: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.”

“Die middelaar van ’n nuwe verbond”

11, 12. In watter opsig is Jesus se rol as Middelaar uniek?

11 Lees 1 Timoteus 2:5, 6. Jesus is die “een middelaar tussen God en die mense”. Hy is “die middelaar van ’n nuwe verbond” (Heb. 9:15; 12:24). Moses word egter ook ’n middelaar genoem—die middelaar van die Wetsverbond (Gal. 3:19). In watter opsig is Jesus se rol as Middelaar dan uniek?

12 Die woord in die oorspronklike taal wat met “middelaar” vertaal word, is ’n regsterm. Dit verwys na Jesus as ’n wetlike Middelaar (of, in sekere sin, ’n prokureur) van die nuwe verbond wat die geboorte van ’n nuwe nasie, “die Israel van God”, moontlik gemaak het (Gal. 6:16). Hierdie nasie bestaan uit geesgesalfde Christene, wat ’n hemelse “koninklike priesterdom” uitmaak (1 Pet. 2:9; Eks. 19:6). Die Wetsverbond, met Moses as middelaar, kon nie so ’n nasie voortbring nie.

13. Wat behels Jesus se rol as Middelaar?

13 Wat behels Jesus se rol as Middelaar? Wel, Jehovah wend die waarde van Jesus se bloed aan ten behoewe van diegene wat in die nuwe verbond ingebring word. Sodoende skryf Jehovah wettiglik regverdigheid aan hulle toe (Rom. 3:24; Heb. 9:15). God kan hulle dan in die nuwe verbond inbring met die vooruitsig om hemelse koning-priesters te word! As hulle Middelaar help Jesus hulle om ’n rein posisie voor God te behou.—Heb. 2:16.

14. Waarom moet alle Christene, ongeag watter hoop hulle het, Jesus se rol as Middelaar opreg waardeer?

14 Wat van diegene wat nie in die nuwe verbond is nie, dié wat hoop om vir ewig op die aarde, nie in die hemel nie, te lewe? Hoewel hulle nie deelgenote in die nuwe verbond is nie, is hulle bevoordeeldes daarvan. Hulle ontvang vergifnis van hulle sondes en word regverdig verklaar as God se vriende (Jak. 2:23; 1 Joh. 2:1, 2). Hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het, elkeen van ons het goeie rede om Jesus se rol as die Middelaar van die nuwe verbond te waardeer.

“Hoëpriester”

15. Hoe verskil Jesus se rol as Hoëpriester van dié van alle ander manne wat as hoëpriesters gedien het?

15 Baie manne het in die verlede as hoëpriesters gedien, maar Jesus se rol as Hoëpriester is waarlik uniek. Hoe so? Paulus verduidelik: “Hy hoef nie elke dag, soos daardie hoëpriesters, offerandes te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie (want dit het hy eens en vir altyd gedoen toe hy homself geoffer het); want die Wet stel mense wat met swakheid belas is as hoëpriesters aan, maar die woord van die geswore eed wat ná die Wet gekom het, stel ’n Seun aan, wat vir ewig tot volmaaktheid gebring is.”—Heb. 7:27, 28.b

16. Waarom is Jesus se offerande waarlik uniek?

16 Jesus was ’n volmaakte man, die presiese gelyke van Adam voordat hy gesondig het (1 Kor. 15:45). As sodanig was Jesus die enigste mens wat in ’n posisie was om ’n volmaakte, volkome offerande te bring—die soort offerande wat nie herhaaldelik gebring hoef te word nie. Onder die Mosaïese Wet is daar daagliks offerandes gebring. Al hierdie offerandes en priesterlike dienste was egter net ’n skaduwee van wat Jesus tot stand sou bring (Heb. 8:5; 10:1). Wat doeltreffendheid en permanentheid betref, is Jesus se amp as Hoëpriester dus uniek.

17. Waarom moet ons waardering hê vir Jesus se rol as ons Hoëpriester, en hoe kan ons dit toon?

17 Ons het Jesus se dienste as Hoëpriester nodig om ons te help om ’n regverdige posisie voor God te geniet. En wat ’n wonderlike Hoëpriester het ons tog! “Ons het as ’n hoëpriester nie iemand wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie”, het Paulus geskryf, “maar iemand wat in alle opsigte soos ons op die proef gestel is, maar sonder sonde” (Heb. 4:15). Waardering hiervoor behoort ons werklik te beweeg om ‘nie langer vir onsself te lewe nie, maar vir hom wat vir ons gesterf het’.—2 Kor. 5:14, 15; Luk. 9:23.

Die voorspelde “saad”

18. Watter profesie is uitgespreek nadat Adam gesondig het, en wat is later aangaande hierdie profesie bekend gemaak?

18 In Eden, toe dit gelyk het asof die mensdom alles verloor het—’n rein posisie voor God, die ewige lewe, geluk en die Paradys—het Jehovah God ’n Verlosser voorspel. Daar is na hom verwys as die “saad” (Gen. 3:15). Hierdie ongeïdentifiseerde Saad het deur die eeue die tema van tallose Bybelprofesieë geword. Hy sou ’n afstammeling van Abraham, Isak en Jakob wees. Ook sou hy in die geslagslyn van koning Dawid kom.—Gen. 21:12; 22:16-18; 28:14; 2 Sam. 7:12-16.

19, 20. (a) Wie is die beloofde Saad? (b) Waarom kan daar gesê word dat die voorspelde saad nie net Jesus insluit nie?

19 Wie was hierdie beloofde Saad? Die antwoord op hierdie vraag kan in Galasiërs 3:16 gevind word. (Lees.) Maar later in dieselfde hoofstuk sê die apostel Paulus verder vir gesalfde Christene: “Wat meer is, as julle aan Christus behoort, is julle werklik Abraham se saad, erfgename met betrekking tot ’n belofte” (Gal. 3:29). Hoe is dit dat Christus die beloofde Saad is en dat ander tog ook ingesluit word?

20 Miljoene beweer dat hulle van Abraham afstam, en party doen hulle selfs voor as profete. Party godsdienste heg groot waarde aan die bewering dat hulle profete van Abraham afgestam het. Maar is hulle almal die beloofde Saad? Nee. Soos die apostel Paulus onder inspirasie toon, kan nie al Abraham se afstammelinge tereg beweer dat hulle die beloofde Saad is nie. Die nakomelinge van Abraham se ander seuns is nie gebruik om die mensdom te seën nie. Die saad wat hierdie seën sou meebring, sou slegs deur Isak kom (Heb. 11:18). Net een man, Jesus Christus, wie se afstamming van Abraham in die Bybel gedokumenteer is, is in werklikheid die primêre deel van die voorspelde saad.c Almal wat later die sekondêre deel van Abraham se saad geword het, is lede daarvan omdat hulle “aan Christus behoort”. Ja, Jesus se rol in die vervulling van hierdie profesie is waarlik uniek.

21. Wat beïndruk jou omtrent die manier waarop Jesus sy unieke rol in Jehovah se voorneme vervul het?

21 Wat het ons geleer uit hierdie kort hersiening van Jesus se unieke rol in Jehovah se voorneme? God se enigverwekte Seun was van sy skepping af waarlik uniek, enig in sy soort. Maar hierdie unieke Seun van God wat Jesus geword het, het nog altyd nederig gedien in ooreenstemming met die wil van sy Vader en het nooit heerlikheid vir homself gesoek nie (Joh. 5:41; 8:50). Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons wat vandag lewe! Mag ons, soos Jesus, ons dit ten doel stel om “alles tot heerlikheid van God [te doen]”.—1 Kor. 10:31.

[Voetnote]

a Party van hierdie titels verskyn met die Griekse bepaalde lidwoord, wat aandui dat die titel, soos een geleerde sê, “in sekere sin ‘in ’n afsonderlike klas’” is.

b Volgens een Bybelgeleerde dra die woord wat met “eens en vir altyd” vertaal word, ’n belangrike Bybelse begrip oor wat “dui op die sekerheid, die uniekheid of die merkwaardigheid van die dood van Christus”.

c Hoewel die Jode in die eerste eeu G.J. gedink het dat hulle, as Abraham se letterlike nageslag, of afstammelinge, die begunstigde volk sou wees, het hulle een persoon verwag wat as die Messias, of Christus, sou kom.—Joh. 1:25; 7:41, 42; 8:39-41.

Onthou jy?

• Wat het jy uit Jesus se titels of benamings omtrent sy unieke rol geleer? (Sien venster.)

• Hoe kan jy die voorbeeld van Jehovah se unieke Seun navolg?

[Venster/Prent op bladsy 15]

’n Paar titels wat Jesus se unieke rol in God se voorneme openbaar

◼ Die enigverwekte Seun (Joh. 1:3). Jesus is die enigste regstreekse skepping van sy Vader.

◼ Die Woord (Joh. 1:14). Jehovah gebruik sy Seun as ’n Woordvoerder om inligting en instruksies aan ander skepsele oor te dra.

◼ Die Amen (Op. 3:14). Jesus se onberispelike lewensweg op aarde, met inbegrip van sy offerdood, het die vervulling van Jehovah God se beloftes bevestig en moontlik gemaak.

◼ Die Middelaar van die nuwe verbond (1 Tim. 2:5, 6). As ’n wetlike Middelaar het Jesus die geboorte van ’n nuwe nasie moontlik gemaak, “die Israel van God”, wat bestaan uit Christene wat ’n hemelse “koninklike priesterdom” sal uitmaak.—Gal. 6:16; 1 Pet. 2:9.

◼ Die Hoëpriester (Heb. 7:27, 28). Jesus was die enigste mens wat in ’n posisie was om ’n volmaakte offerande te bring, ’n offerande wat nie herhaaldelik gebring hoef te word nie. Hy kan ons van sonde reinig en van die dodelike gevolge daarvan bevry.

◼ Die beloofde Saad (Gen. 3:15). Net een man, Jesus Christus, is die primêre deel van hierdie voorspelde saad. Almal wat later die sekondêre deel van Abraham se saad geword het, ‘behoort aan Christus’.—Gal. 3:29.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel