Die nuwe geboorte—Hoe vind dit plaas?
JESUS het nie net die belangrikheid, die oorsaak en die doel van die nuwe geboorte met Nikodemus bespreek nie, maar ook die wyse waarop die nuwe geboorte plaasvind. Jesus het gesê: “Tensy iemand uit water en gees gebore word, kan hy nie in die koninkryk van God ingaan nie” (Johannes 3:5). ’n Persoon word dus deur middel van water en gees weer gebore. Maar waarna verwys die uitdrukking “water en gees”?
“Water en gees”—Wat is dit?
As ’n Joodse godsdiensgeleerde was Nikodemus ongetwyfeld bekend met die manier waarop die Hebreeuse Geskrifte die term “gees van God” gebruik—God se werkende krag, wat ’n uitwerking op mense kan hê sodat hulle spesiale dade kan verrig (Genesis 41:38; Eksodus 31:3; 1 Samuel 10:6). Toe Jesus dus die woord “gees” gebruik het, sou Nikodemus verstaan het dat hy na die heilige gees, die werkende krag van God, verwys.
Wat van Jesus se verwysing na water? Kyk na die gebeurtenisse wat net voor en na die gesprek met Nikodemus opgeteken is. Dit toon dat Johannes die Doper sowel as Jesus se dissipels mense in water gedoop het (Johannes 1:19, 31; 3:22; 4:1-3). Hierdie gebruik het algemeen bekend geword in Jerusalem. Daarom sou Nikodemus, toe Jesus van water gepraat het, besef het dat Jesus nie na water oor die algemeen verwys nie, maar na waterdoop.a
Gedoop “met heilige gees”
As om ‘uit water gebore te word’ met waterdoop verband hou, wat beteken dit dan om ‘uit gees gebore te word’? Voor Nikodemus se gesprek met Jesus het Johannes die Doper gesê dat nie net water nie, maar ook gees by doop ’n rol sou speel. Hy het gesê: “Ek het julle met water gedoop, maar hy [Jesus] sal julle met heilige gees doop” (Markus 1:7, 8). Die Evangelieskrywer Markus beskryf die eerste keer toe so ’n doop plaasgevind het. Hy skryf: “Jesus het in die loop van daardie dae van Nasaret in Galilea af gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop. En onmiddellik toe hy uit die water opkom, het hy gesien hoe die hemele oopgaan en die gees, soos ’n duif, op hom neerdaal” (Markus 1:9, 10). Toe Jesus in die Jordaan ondergedompel is, is hy met water gedoop. Die oomblik toe hy die heilige gees uit die hemel ontvang het, is hy met heilige gees gedoop.
Ongeveer drie jaar ná sy doop het Jesus sy dissipels verseker: “Nie baie dae hierna nie sal julle in heilige gees gedoop word” (Handelinge 1:5). Wanneer het dit gebeur?
Op Pinksterdag in die jaar 33 G.J. was daar omtrent 120 van Jesus se dissipels in ’n huis in Jerusalem bymekaar. “Skielik het daar ’n gedruis uit die hemel gekom soos dié van ’n voortstuwende, stywe bries, en dit het die hele huis gevul waarin hulle gesit het. En tonge soos van vuur het vir hulle sigbaar geword . . . , en hulle is almal met heilige gees vervul” (Handelinge 2:1-4). Op daardie selfde dag is ander in Jerusalem aangespoor om in water gedoop te word. Die apostel Petrus het vir ’n skare gesê: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word tot vergifnis van julle sondes, en julle sal die heilige gees as vrye gawe ontvang.” Wat was die reaksie? “Dié wat sy woord van harte aangeneem het, is . . . gedoop, en op daardie dag is omtrent drieduisend siele bygevoeg.”—Handelinge 2:38, 41.
’n Tweeledige proses
Wat toon hierdie voorbeelde van doop omtrent die nuwe geboorte? Dit toon dat die nuwe geboorte deur middel van ’n tweedelige proses plaasvind. Let op dat Jesus eers met water gedoop is. Daarna het hy die heilige gees ontvang. Net so is die vroeë dissipels eers in water gedoop (sommige deur Johannes die Doper), en toe het hulle die heilige gees ontvang (Johannes 1:26-36). Die 3 000 bekeerlinge is eweneens eers in water gedoop, en daarna het hulle die heilige gees ontvang.
Hoe moet ons verwag sal die nuwe geboorte in ons dag plaasvind, in die lig van die dope wat op Pinkster 33 G.J. plaasgevind het? Op dieselfde manier as in die geval van Jesus se apostels en die vroeë dissipels. Eerstens moet ’n persoon berou hê oor sy sondes, ’n verkeerde weg verlaat, sy lewe aan Jehovah toewy om hom te aanbid en te dien en sy toewyding deur middel van waterdoop bekend maak. Dan, as God hom kies om as ’n heerser in Sy Koninkryk te dien, word hy met heilige gees gesalf. Die eerste deel van hierdie tweeledige proses (doop met water) hang van die persoon af; die tweede deel (doop met gees) word deur God teweeggebring. Wanneer ’n persoon al twee dope ondergaan het, het hy die nuwe geboorte ondervind.
Maar waarom het Jesus in sy gesprek met Nikodemus die uitdrukking “uit water en gees gebore” gebruik? Om te beklemtoon dat dié wat met water en gees gedoop word, ’n merkwaardige verandering sou ondergaan. Die volgende artikel bespreek hierdie aspek van die nuwe geboorte.
[Voetnoot]
a Op soortgelyke wyse het die apostel Petrus een keer by ’n doop gesê: “Kan enigeen water verbied?”—Handelinge 10:47.
[Prent op bladsy 9]
Johannes het berouvolle Israeliete met water gedoop