3 Leer die waarheid oor Jesus
“God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” —Johannes 3:16.
WAT IS DIE UITDAGING? Party sal jou probeer wysmaak dat Jesus nie ’n werklike persoon was nie. Ander erken dat hy bestaan het, maar beweer dat hy net ’n gewone mens was wat lankal dood is.
HOE KAN JY DIE UITDAGING OORKOM? Volg die dissipel Natanael na.a Sy vriend Filippus het vir hom gesê dat hy dink dat hy die Messias—“Jesus, die seun van Josef, van Nasaret”—gevind het. Maar Natanael het nie sommer geglo wat Filippus gesê het nie. Trouens, hy het geantwoord: “Kan enigiets goeds uit Nasaret kom?” Hy het nietemin Filippus se uitnodiging aanvaar om self te “kom kyk” (Johannes 1:43-51). Jy sal ook daarby baat vind as jy self die bewyse aangaande Jesus ondersoek. Wat kan jy doen?
Ondersoek die geskiedkundige bewyse dat Jesus ’n werklike persoon was. Josefus en Tacitus was twee gerespekteerde geskiedskrywers wat in die eerste eeu gelewe het, en hulle was nie Christene nie. Hulle meld Jesus Christus as ’n geskiedkundige figuur. In ’n beskrywing van hoe die Romeinse keiser Nero die Christene vir die brand in Rome in 64 G.J. geblameer het, het Tacitus geskryf: “Nero het die skuld gepak op ’n klas wat gehaat is vir hulle aanstootlike dade en deur die volk Christene genoem is, en hy het hulle aan die wreedste soort marteling onderwerp. Christus, aan wie die naam [Christene] ontleen is, is tydens die bewind van Tiberius die doodstraf opgelê deur een van ons prokurators, Pontius Pilatus.”
Aangaande die verwysings wat eerste- en tweede-eeuse geskiedskrywers na Jesus en die vroeë Christene gemaak het, sê die Encyclopædia Britannica, 2002-uitgawe: “Hierdie onafhanklike verslae bewys dat selfs die teenstanders van die Christelike godsdiens in die ou tyd nooit getwyfel het dat Jesus ’n geskiedkundige persoon was nie. Dit is vir die eerste keer en op onvoldoende gronde aan die einde van die 18de, gedurende die 19de en aan die begin van die 20ste eeu betwis.” In 2002 het ’n hoofartikel in The Wall Street Journal gesê: “Die meeste geleerdes, met die uitsondering van ’n ateïs hier en daar, het Jesus van Nasaret reeds as ’n geskiedkundige persoon aanvaar.”
Beskou die bewyse dat Jesus opgewek is. Toe Jesus deur sy teenstanders in hegtenis geneem is, het sy intiemste metgeselle hom versaak, en sy vriend Petrus het uit vrees gesê dat hy hom nie ken nie (Matteus 26:55, 56, 69-75). Ná Jesus se inhegtenisname is sy volgelinge verstrooi (Matteus 26:31). Maar toe het sy dissipels skielik baie bedrywig geword. Petrus en Johannes het moedig hulle standpunt ingeneem voor die einste manne wat Jesus se dood bewerkstellig het. Jesus se dissipels was so aangevuur dat hulle sy leer dwarsdeur die Romeinse Ryk versprei het en verkies het om eerder te sterf as om hulle godsdiensoortuigings prys te gee.
Wat was een rede vir hierdie dramatiese verandering in gesindheid? Die apostel Paulus verduidelik dat Jesus uit die dood opgewek is en “aan Sefas [Petrus] verskyn het, toe aan die twaalf”. Paulus voeg by: “Daarna het hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn.” Die meeste van die ooggetuies het nog gelewe toe Paulus hierdie woorde geskryf het (1 Korintiërs 15:3-7). Die getuienis van een of twee ooggetuies kon dalk nog maklik deur skeptici verwerp word (Lukas 24:1-11). Maar die getuienis van meer as vyfhonderd ooggetuies het oortuigende bewys gelewer dat Jesus uit die dood opgewek is.
WAT IS DIE BELONING? Diegene wat geloof in Jesus stel en hom gehoorsaam, kan vergifnis van hulle sondes ontvang en ’n rein gewete behou (Markus 2:5-12; 1 Timoteus 1:19; 1 Petrus 3:16-22). As hulle sterf, belowe Jesus om hulle “op die laaste dag” op te wek.—Johannes 6:40.
Vir verdere inligting, sien hoofstuk 4, “Wie is Jesus Christus?” en hoofstuk 5, “Die losprys—God se grootste geskenk”, in die boek Wat leer die Bybel werklik?b
[Voetnote]
a Die Evangelieskrywers Matteus, Markus en Lukas verwys klaarblyklik na Natanael as Bartolomeus.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 7]
Ondersoek, soos Natanael, die bewyse in verband met Jesus