Kom nader aan God
Hy neem ons beperkings in ag
“EK HET werklik hard probeer, maar ek het nooit gevoel dat dit genoeg is nie.” Dit is wat een vrou gesê het van haar pogings om God te behaag. Aanvaar Jehovah God dit wanneer sy aanbidders hulle bes doen? Neem hy hulle vermoëns en omstandighede in ag? Om hierdie vrae te beantwoord, sal dit nuttig wees om te sien wat die Mosaïese Wet oor sekere offerandes sê, soos opgeteken in Levitikus 5:2-11.
Onder die Wet het God verskeie offerandes, of offers, as versoening vir sondes vereis. In die gevalle wat in hierdie Skrifgedeelte gemeld word, het die persoon onopsetlik of onnadenkend gesondig (Verse 2-4). Wanneer hy daarvan te wete gekom het, moes hy sy sonde bely en ’n skuldoffer bring—“’n ooilam of ’n jong bokooi” (Verse 5, 6). Maar gestel hy was arm en het nie ’n lam of ’n bok gehad om te offer nie. Het die Wet vereis dat hy ’n dier moes leen en sodoende in die skuld beland? Moes hy werk totdat hy een kon bekostig en die versoening vir sy sondes dus uitstel?
Die Wet het Jehovah se tere besorgdheid weerspieël en gesê: “As hy egter nie ’n skaap kan bekostig nie, dan moet hy as sy skuldoffer vir die sonde wat hy gepleeg het, twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan Jehovah bring” (Vers 7). Die frase ‘as hy nie kan bekostig nie’ kan ook weergegee word met “as dit buite sy bereik is”. As ’n Israeliet te arm was om ’n skaap te bekostig, het iets wat wel binne sy bereik was—twee tortelduiwe of twee duiwe—God net soveel behaag.
Sê nou die persoon het nie eens die middele vir die twee voëls gehad nie? “Dan moet hy as sy offer vir die sonde wat hy gepleeg het, ’n tiende van ’n efa [agt of nege koppies] fynmeel as ’n sondoffer bring”, het die Wet gesê (Vers 11). Jehovah het besluit om ’n uitsondering te maak vir diegene wat baie arm was, en het toegelaat dat hulle ’n bloedlose sondoffer bring.a In Israel het armoede niemand die seën van versoening of die voorreg om vrede met God te maak, ontsê nie.
Wat leer ons omtrent Jehovah uit die wet oor skuldoffers? Hy is ’n liefdevolle, simpatieke God wat die beperkings van sy aanbidders in ag neem (Psalm 103:14). Hy wil hê dat ons nader aan hom moet kom en ’n goeie verhouding met hom moet aankweek, al het ons moeilike omstandighede soos gevorderde ouderdom, swak gesondheid en gesins- of ander verpligtinge. Ons kan vertroosting put uit die wete dat Jehovah God daarin behae skep wanneer ons alles binne ons bereik doen.
[Voetnoot]
a Die versoeningswaarde van ’n offerdier was in sy bloed, wat in God se oë heilig was (Levitikus 17:11). Het dit beteken dat die offerandes van meel wat die armes gebring het, waardeloos was? Nee. Jehovah het ongetwyfeld waarde geheg aan die nederige, gewillige gees agter sulke offerandes. Daarbenewens is die sondes van die hele nasie—insluitende die armes—deur die bloed bedek van die diere wat jaarliks op die Versoendag aan God geoffer is.—Levitikus 16:29, 30.