Kom nader aan God
Jehovah heg groot waarde aan sagmoedigheid
TROTS, jaloesie, ambisie. Hierdie eienskappe is algemeen onder diegene wat in hierdie wêreld vooruitgang maak. Maar bring sulke karaktertrekke ons nader aan Jehovah God? Inteendeel, Jehovah heg groot waarde aan sagmoedigheid in sy aanbidders. Dit blyk duidelik uit die verslag in Numeri hoofstuk 12. Dit het afgespeel in die wildernis Sinai, ná Israel se verlossing uit Egipte.
Mirjam en Aäron, Moses se ouer broer en suster, “het teen Moses begin praat” (Vers 1). Pleks van met Moses te praat, het hulle teen hom gepraat en waarskynlik hulle klagtes in die kamp versprei. Mirjam, wat eerste gemeld word, het klaarblyklik die leiding geneem. Die eerste rede vir die murmurering was dat Moses met ’n Kussitiese vrou getrou het. Het Mirjam jaloers gedink dat hierdie ander vrou—wat boonop ’n nie-Israeliet was—haar in die skadu sou stel?
Die wortels van hulle klagtes het dieper gestrek. Mirjam en Aäron het bly sê: “Praat Jehovah net deur Moses alleen? Het hy nie ook deur ons gepraat nie?” (Vers 2). Was die werklike beweegrede vir die murmurering ’n begeerte na meer mag en erkenning?
In die verslag het Moses nie self op die klagtes gereageer nie. Hy het klaarblyklik die aanval stil verduur. Die geduld wat hy aan die dag gelê het, bevestig die Bybel se beskrywing van hom as “die sagmoedigste van al die mense” op aarde (Vers 3).a Moses het nie nodig gehad om hom te verdedig nie. Jehovah het geluister, en hy het vir Moses opgekom.
Jehovah het die murmurering as ’n persoonlike aanval beskou. Hy was immers die Een wat Moses aangestel het. God het die murmureerders bestraf en hulle daaraan herinner dat hy ’n unieke verhouding met Moses het: “Mond tot mond praat ek met hom.” Toe het Jehovah vir Mirjam en Aäron gevra: “Waarom het julle dan nie gevrees om teen . . . Moses te praat nie?” (Vers 8). Deur teen Moses te praat, het hulle in werklikheid teen God gepraat. Weens hierdie ernstige gebrek aan eerbied, het hulle hulle God se woede op die hals gehaal.
Mirjam, wat klaarblyklik die aanstigter was, is met melaatsheid getref. Aäron het Moses onmiddellik gesmeek om vir haar voorspraak te doen. Dink net—nou het Mirjam se welsyn afgehang van die persoon wat deur hulle te na gekom is! Moses het sagmoedig gedoen wat van hom gevra is. In hierdie verslag praat Moses vir die eerste keer wanneer hy ten behoewe van sy suster ernstig tot Jehovah bid. Mirjam is genees, maar sy moes die skande verduur om sewe dae lank onder kwarantyn te wees.
Hierdie verslag gee ons insig in die eienskappe waaraan Jehovah waarde heg en die karaktertrekke wat hy teëstaan. As ons nader aan God wil kom, moet ons daarna streef om enige spoor van trots, jaloesie en ambisie uit te wis wat ons dalk in onsself sien. Dit is die sagmoediges vir wie Jehovah lief is. Hy belowe: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11; Jakobus 4:6.
[Voetnoot]
a Sagmoedigheid is ’n sterk eienskap wat ’n persoon in staat stel om ongeregtigheid geduldig te verduur sonder om wraaksugtig te raak.