Wanneer jy te na gekom word
DIE wraak is soet, word daar dikwels gesê. Dit is omdat dit net natuurlik is om kwaad te word wanneer ons te na gekom of op die een of ander manier seergemaak word. Ons ingebore sin van reg en verkeerd vereis dat ’n onreg reggestel word. Die vraag is: Hoe?
Daar is natuurlik verskillende grade van oortreding, wat wissel van iemand wat jou klap, stamp of beledig tot iemand wat jou uitskel, aanrand, beroof, ensovoorts. Hoe voel jy wanneer jy op die een of ander manier te na gekom word? Vandag is die reaksie van baie mense blykbaar: ‘Ek sal hulle laat boet vir wat hulle gedoen het!’
In die Verenigde State het ’n aantal junior hoërskoolleerders onderwysers valslik aangekla van mishandeling om wraak te neem op dié wat hulle gedissiplineer het. Die voorsitter van die Onderwysersunie in New Orleans, Brenda Mitchell, sê: “Sodra die aantyging gemaak is, is die onderwyser se reputasie geskend.” Selfs nadat die aantyging vals bewys is, bly die skade nog steeds.
In die arbeidsmag is daar al hoe meer ontevrede werknemers wat op hulle werkgewers probeer wraak neem deur belangrike inligting op die maatskappy se rekenaarnetwerk te beskadig of uit te wis. Ander steel geheime van die maatskappy en verkoop dit of gee dit aan ander. Nie net elektroniese lêers word gesteel nie, maar “tradisionele diefstal bly nog steeds die vernaamste manier waarop werkers wraak neem”, berig The New York Times. Om die bedreiging van wraak teë te werk, het baie maatskappye besluit om ’n sekuriteitsbeampte aan te stel wat ’n afgedankte persoon tot by sy lessenaar neem, daar wag totdat hy al sy goed ingepak het en hom dan van die perseel af vergesel.
In die meeste gevalle is dié wat wraak neem, mense wat na aan ons is—vriende, kennisse en gesinslede. Gekrenkte gevoelens omdat iemand iets onvriendeliks gesê of iets onbedagsaams gedoen het, kan dikwels daartoe lei dat mense kwaad met kwaad wil vergeld. As ’n vriend jou op ’n onvriendelike manier aanspreek, kap jy dadelik terug deur iets bitsigs te sê? As ’n gesinslid jou op die een of ander manier ontstel, beplan jy om hom in gelyke munt terug te betaal? Hoe maklik is dit tog om so op te tree wanneer die oortreder iemand na aan ons is!
Die dwaasheid daarvan om wraak te neem
Mense wat wil wraak neem, doen dit dikwels omdat hulle die emosionele pyn van ’n oortreding teen hulle wil verlig. Die Bybel sê byvoorbeeld dat die seuns van die Hebreeuse aartsvader Jakob “gekrenk gevoel en . . . baie kwaad geword” het toe hulle uitgevind het dat die Kanaäniet Sigem hulle suster Dina onteer het (Genesis 34:1-7). Om die onreg teen hulle suster te wreek, het twee van Jakob se seuns ’n komplot teen Sigem en sy huisgenote gesmee. Simon en Levi het ’n slinkse plan beraam om die Kanaänitiese stad binne te gaan en elke man, insluitende Sigem, dood te maak.—Genesis 34:13-27.
Het al hierdie bloedvergieting die probleem opgelos? Toe Jakob hoor wat sy seuns gedoen het, het hy hulle bestraf en gesê: “Julle het my ’n verstoteling gemaak deur my ’n stank vir die inwoners van die land te maak, . . . en hulle sal hulle beslis teen my versamel en my aanval, en ek sal verdelg word, ek en my huis” (Genesis 34:30). Ja, in plaas van die probleem op te los, het hulle wraaksugtige dade die teenoorgestelde uitwerking gehad; Jakob se familie moes nou op hulle hoede wees vir teenaanvalle deur woedende buurnasies. God het Jakob beveel om met sy familie uit die gebied na Bet-El te trek, waarskynlik om so ’n gevolg te vermy.—Genesis 35:1, 5.
Die gebeure wat met Dina se verkragting gepaardgegaan het, beklemtoon ’n belangrike les. Wraak lok dikwels nog wraaksugtige dade uit, en dit word ’n eindelose kringloop. Die Duitse gesegde is dus waar: Wraak word kort voor lank gewreek.
Die kringloop van pyn
Dit is verwoestend as ’n mens jou gedagtes en energie daarop toespits om iemand te straf wat jou te na gekom het. Die boek Forgiveness—How to Make Peace With Your Past and Get On With Your Life sê: “Woede vreet jou op. Dit mors tyd en energie wanneer jy tob oor jou pynlike ondervindinge van die verlede, in jou binneste die mense vervloek wat jou seergemaak het en planne beraam om hulle te laat boet.” Die Bybel beskryf dit duidelik: “Jaloesie is verrotting vir die gebeente.”—Spreuke 14:30.
Ja, hoe kan iemand vreugdevol wees as hy haat en vernietigende gevoelens in hom opkrop? Een kommentator het gesê: “As jy dink dat ‘die wraak soet is’, moet jy bietjie kyk na die gesigte van dié wat al jare lank daarmee saamlewe.”
Dink aan wat in soveel dele van die wêreld gebeur waar etniese en godsdiensspanning hoogty vier. Een slagting lei dikwels tot ’n ander, wat die eindelose kringloop van haat en dood eenvoudig aan die gang hou. Byvoorbeeld, toe ’n bom 18 jongmense in ’n terreuraanval gedood het, het ’n bedroefde vrou geskreeu: “Ons moet hulle duisend keer daarvoor laat boet!” Sodoende neem wreedheid net toe, en al hoe meer mense word by die konflik betrek.
“Oog vir oog”
Party verwys na die Bybel om hulle wraaksugtige gesindheid te regverdig. Hulle sê: “Praat die Bybel dan nie van ‘oog vir oog, tand vir tand’ nie?” (Levitikus 24:20). Dit kan dalk lyk asof die wet “oog vir oog” wraakneming bevorder. Maar in werklikheid het dit sinnelose wraaksugtige dade verhinder of beperk. Hoe so?
As ’n Israeliet ’n mede-Israeliet aangeval het en hom ’n oog laat verloor het, het die Wet voorsiening gemaak vir regverdige straf. Dit het egter nie beteken dat die slagoffer self die aanvaller of een van sy familielede kon straf nie. Die Wet het vereis dat hy die saak na die gepaste gesag—die aangestelde regters—neem om die saak behoorlik te skik. Die wete dat iemand wat hom moedswillig aan ’n misdaad of geweld teenoor iemand anders skuldig maak, op soortgelyke wyse gestraf kon word, het as ’n kragtige afskrikmiddel gedien. Maar dit het meer behels.
Voordat Jehovah God die bogenoemde wet in verband met vergelding genoem het, het hy deur middel van Moses vir die nasie Israel gesê: “Jy mag jou broer nie in jou hart haat nie. . . . Jy mag nie wraak neem of ’n wrok koester . . . nie” (Levitikus 19:17, 18). Ja, die idee van “oog vir oog, tand vir tand” moet in die konteks van die hele Wetsverbond gesien word, wat Jesus gesê het in twee gebooie opgesom kan word: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” en “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:37-40). Maar hoe moet ware Christene dan reageer wanneer hulle ’n onreg aangedoen word?
Volg die weg van vrede
Die Bybel beskryf Jehovah as “die God van vrede” en spoor sy aanbidders aan om ‘vrede te soek en dit na te streef’ (Hebreërs 13:20; 1 Petrus 3:11). Maar is so ’n handelswyse werklik prakties?
Gedurende Jesus se aardse bediening is daar op hom gespoeg, is hy gegesel en deur sy vyande vervolg, deur ’n intieme metgesel verraai en selfs deur sy eie volgelinge in die steek gelaat (Matteus 26:48-50; 27:27-31). Hoe het hy hierop gereageer? “Toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie”, het die apostel Petrus geskryf. “Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar hom bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel.”—1 Petrus 2:23.
Petrus het verduidelik: “Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Ja, Christene word aangemoedig om Jesus na te volg, insluitende sy reaksie toe hy onreg gely het. In hierdie verband het Jesus self in die Bergpredikasie gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is.”—Matteus 5:44, 45.
Hoe reageer diegene wat Christelike liefde openbaar wanneer hulle werklik of oënskynlik te na gekom word? Spreuke 19:11 sê: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn, en dit is mooi van hom om die oortreding oor te sien.” Hulle neem ook hierdie vermaning ter harte: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin” (Romeine 12:21). Wat ’n teenstelling is dit tog met die wraaksugtige gees wat vandag so algemeen is in die wêreld! Ware Christelike liefde kan ons help om die begeerte te onderdruk om in gelyke munt terug te betaal en sodoende ‘die oortreding oor te sien’, want die liefde “hou nie boek van die kwaad nie”.—1 Korintiërs 13:5.
Beteken dit dat ons dit maar net gedwee moet aanvaar wanneer ons die slagoffer van ’n misdaad is of op die een of ander manier bedreig word? Beslis nie! Toe Paulus gesê het: “Hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin”, het hy nie bedoel dat ’n Christen behep daarmee moet wees om ’n martelaar te wees nie. Inteendeel, as ons aangeval word, het ons beslis die reg om ons te verdedig. As jy of jou eiendom skade berokken word, kan jy besluit om die polisie te bel. Indien iemand by die werk of by die skool by die saak betrokke is, is daar sekulêre owerhede wat ons kan nader.—Romeine 13:3, 4.
Dit is nietemin goed om in gedagte te hou dat dit in hierdie stelsel van dinge baie moeilik kan wees om ware geregtigheid te vind. Trouens, baie het al hulle hele lewe lank daarna gesoek, maar is deur bitterheid en gegriefdheid verteer toe hulle verwagtings nie verwesenlik is nie.
Niks sal Satan gelukkiger maak as om te sien dat mense deur wraak en haat verdeel word nie (1 Johannes 3:7, 8). Hoeveel beter is dit tog om hierdie woorde in die Bybel in gedagte te hou: “Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah’” (Romeine 12:19). Deur sake in Jehovah se hande te laat, vermy ons baie pyn, woede en geweld.—Spreuke 3:3-6.
[Lokteks op bladsy 22]
“Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” en “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”
[Prente op bladsy 23]
Die liefde “hou nie boek van die kwaad nie”.—1 Korintiërs 13:5