Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 10/1 bl. 25-27
  • Visvangs op die See van Galilea

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Visvangs op die See van Galilea
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die las van belasting
  • Vissermanne in die Evangelies
  • Wees vissers van mense
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die lewe in Bybeltye—Die Visserman
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Vier dissipels sal vissers van mense wees
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Vissers van mense in wêreldomvattende waters
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 10/1 bl. 25-27

Visvangs op die See van Galilea

HOE was die lewe in die eerste eeu vir ’n visserman op die See van Galilea? Die antwoord werp lig op baie van die verslae in die Evangelies, soos dié wat in die vorige artikel bespreek is.

Hierdie “see” is in werklikheid ’n varswatermeer wat omtrent 21 kilometer lank en ongeveer 12 kilometer breed is. Vissermanne benut hierdie visryke waters al eeue lank. By Jerusalem se Vispoort was daar klaarblyklik ’n vismark (Nehemia 3:3). Van die vis wat hier verkoop is, het van die See van Galilea gekom.

Die apostel Petrus was afkomstig van ’n dorp aan die See van Galilea met die naam Betsaida, wat moontlik “Huis van die visserman” beteken. Nog ’n dorp aan die meer was Magadan, of Magdala, die plek waarheen Jesus sy dissipels geneem het nadat hy op die water geloop het (Matteus 15:39). Volgens een skrywer kan die Griekse naam van hierdie dorp vertaal word met “Dorp van verwerkte vis”. Hierdie dorp was bekend vir sy groot visfabrieke, waar vis wat plaaslik gevang is, gedroog en gesout is—of gepekel is om ’n sous te maak wat gepreserveer is in erdekruike wat amforas genoem is. Hierdie produkte is verpak en verskeep, waarskynlik na alle dele van Israel en selfs verder.

In die Galilea van Jesus se dag was die vang, verwerking en bemarking van vis dus ’n groot bedryf. ’n Mens kan maklik aanneem dat dit vir baie mense in die gebied ekonomiese voordele ingehou het. Maar dit was nie noodwendig die geval nie. Visvang “was nie die ‘vrye onderneming’ wat hedendaagse lesers van die Nuwe Testament hulle dalk voorstel nie”, sê een geleerde. Dit was deel van “’n staatsbeheerde onderneming wat die elite bevoordeel het”.

Herodes Antipas het oor Galilea regeer as die distriksheerser, of viervors, wat deur Rome aangestel is. As sodanig het hy sy gebied se paaie, hawens en natuurlike hulpbronne, soos myne, woude, landbou en die visbedryf, beheer. Hierdie hulpbronne was vir Herodes ’n groot bron van belastinginkomste. Ons het nie breedvoerige inligting oor die beleid wat gevolg is om belasting in eerste-eeuse Galilea in te vorder nie. Maar dit lyk asof Herodes se algemene benadering nie juis anders was as dié van Hellenistiese heersers of dié van die Romeine in hulle ander oostelike provinsies nie. Baie van die wins wat die gebied se ekonomiese bedrywighede en die benutting van sy natuurlike hulpbronne opgelewer het, het dalk eerder na die elite gegaan as na die gewone mense, wat die meeste van die werk gedoen het.

Die las van belasting

In Jesus se dag het die beste grond in Galilea aan die vorstehuis behoort en is dit in groot landgoedere verdeel, wat Herodes Antipas as geskenke uitgedeel het aan sy hoë edelmanne en ander begunstigdes. Herodes se onderdane moes die geld voorsien om die ontsaglike onkoste te dek van sy weelderige lewenstyl, sy ambisieuse bouprojekte, sy oordadige administrasie en al sy skenkings aan vriende en stede. Die gewone mense het blykbaar gebuk gegaan onder die swaar las van belasting, tolgeld en heffings wat hulle opgelê is.

Herodes het ’n algehele monopolie gehad op die benutting van binnelandse waterbronne. Visvang sou dus óf as deel van ’n grootskaalse vorstelike onderneming bedryf word óf deur diegene aan wie afsonderlike landgoedere geskenk is. In gebiede onder regstreekse vorstelike administrasie het tollenaars of hoofbelastinggaarders—welgestelde persone wat gebie het op die reg om belasting in te vorder—die gesag gehad om kontrakte met vissermanne op te stel wat aan hulle visvangregte verleen het. Aangesien Matteus se belastingkantoor in Kapernaum was—’n belangrike vissersentrum aan die See van Galilea—meen party kommentators dat hy moontlik vir hierdie hoofbelastinggaarders gewerk het as ’n plaaslike “opsteller van kontrakte vir vorstelike visvangregte”.a

Getuienis uit die eerste en tweede eeu VHJ toon dat belasting in Palestina dikwels “in goedere” eerder as in kontant betaal is. Party beroepsvissermanne het dus sowat 25 tot 40 persent van hulle vangs betaal in ruil vir die reg om vis te vang. Eertydse dokumente toon dat visvang in ten minste party gebiede onder Romeinse bestuur ’n Staatsmonopolie gebly het waaroor inspekteurs toesig gehou het. In Pisidië het ’n soort visserspolisie seker gemaak dat niemand sonder toestemming visvang nie en dat vissermanne hulle vangs net verkoop aan gemagtigde middelmanne, of groothandelaars, wie se bedrywighede ook aan Staatstoesig en belasting onderhewig was.

Volgens een ontleder het al hierdie beheermaatreëls en belasting uiteindelik beteken dat “die koning of eienaar van ’n landgoed ’n groot wins gemaak het, terwyl die vissermanne baie min gemaak het”. Die winste van dié wat in ander sektore van die ekonomie werksaam was, is eweneens deur swaar belasting beperk. Belasting was nog nooit gewild onder diegene wat dit moet betaal nie. Maar die algemene vyandigheid teenoor belastinggaarders wat in die Evangelieverslae aan die lig kom, is ongetwyfeld vergroot deur die groot oneerlikheid en gierigheid van manne wat ryk geword het deur alles wat hulle kon van die gewone mense af te pers.—Lukas 3:13; 19:2, 8.

Vissermanne in die Evangelies

Die Evangelies toon dat Simon Petrus nie alleen in sy vissersonderneming was nie. Petrus se “maats in die ander boot” het hom kom help om ’n wonderdadige visvangs op te trek (Lukas 5:3-7). Geleerdes verduidelik dat “vissermanne ‘vennootskappe’ kon aangaan . . . om vir visvangkontrakte of -regte te tender”. Dit was moontlik hoe die seuns van Sebedeus, Petrus, Andreas en hulle maats magtiging gekry het om hulle vissersonderneming te bedryf.

Die Skrif sê nie spesifiek of hierdie Galilese vissermanne die bote en toerusting wat hulle gebruik het, besit het nie. Party meen dat dit wel die geval was. Trouens, daar word gesê dat Jesus in een van die bote, “dié van Simon”, geklim het (Lukas 5:3). Maar ’n artikel wat spesifiek oor die onderwerp handel, noem dat “dit ten minste moontlik is dat die bote eintlik aan die tussenhandelaars behoort het en deur die vennootskap gebruik is”. Hoe dit ook al sy, die Skrif sê dat Jakobus en Johannes hulle nette heelgemaak het. Vissermanne sou waarskynlik ook moes onderhandel om hulle vangs te verkoop en, wanneer nodig, dagwerkers moes huur.

Die bedrywighede van eerste-eeuse Galilese vissermanne het dus meer behels as wat ’n mens sou dink. Hulle ondernemings was deel van ’n komplekse stelsel van ekonomiese verhoudinge. As ’n mens dit in gedagte hou, verleen dit dieper betekenis aan die Evangelieverslae en Jesus se woorde oor visvang en vissermanne. Wat meer is, hierdie inligting help ons ook om te verstaan hoeveel geloof Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes aan die dag gelê het. Hulle het ’n bestaan gemaak uit visvang. Ongeag wat hulle presiese finansiële posisie was toe Jesus hulle geroep het, hulle het geredelik die bedryf waarmee hulle vertroud was—en wat ’n betroubare bron van inkomste was—verlaat om “vissers van mense” te word.—Matteus 4:19.

[Voetnoot]

a Die apostel Petrus het blykbaar van Betsaida na Kapernaum getrek, waar hy saam met sy broer, Andreas, en die seuns van Sebedeus by ’n vissersonderneming betrokke was. Jesus het ook ’n ruk lank in Kapernaum gewoon.—Matteus 4:13-16.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Hoele-meer

Betsaida

Kapernaum

Magadan

See van Galilea

Jerusalem

Dooie See

[Erkenning]

Todd Bolen/Bible Places.com

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Todd Bolen/Bible Places.com

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel