Weduwees en wewenaars—Wat het hulle nodig? Hoe kan jy help?
Sonder om te dink, dek Jeanne die tafel in die dowwe lig van haar woonstelletjie se kombuis. Sy moet immers iets eet. Skielik val haar oog op die twee borde voor haar . . . en bars sy in trane uit. Sy het oudergewoonte die tafel vir twee mense gedek! Twee jaar het al verloop sedert haar dierbare man gesterf het.
IEMAND wat nog nie ’n maat aan die dood afgestaan het nie, kan eenvoudig nie verstaan watter intense pyn dit veroorsaak nie. Om die waarheid te sê, die menseverstand aanvaar hierdie verskriklike werklikheid net geleidelik. Beryl, 72, kon nie haar man se skielike dood aanvaar nie. “Dit het onwerklik gevoel”, sê sy. “Ek kon nie glo dat hy nie weer by die deur sou instap nie.”
Ná ’n amputasie “voel” mense soms nog steeds hulle ledemaat wat afgesit is. Op soortgelyke wyse “sien” bedroefde maats soms hulle geliefde in ’n skare, of hulle kom skielik agter dat hulle terloops iets gesê het vir iemand wat nie meer daar is nie!
Vriende en familie weet dikwels nie hoe om te reageer wanneer iemand sulke lyding deurmaak nie. Ken jy iemand wat ’n maat aan die dood afgestaan het? Hoe kan jy so iemand ondersteun? Wat moet jy weet sodat jy weduwees en wewenaars kan help om hulle droefheid te verwerk? Hoe kan jy die bedroefde help om geleidelik weer ’n lus vir die lewe te kry?
Dinge om te vermy
Vriende en familie voel dalk ontsteld weens die lyding wat hulle geliefde deurmaak en probeer met goeie bedoelings om die treurproses te verkort. Maar een navorser wat ’n opname onder 700 weduwees en wewenaars gedoen het, het geskryf: “Daar is geen ‘korrekte’ tydsduur vir die treurproses nie.” Moet dus nie die trane probeer keer nie, maar laat eerder genoeg tyd toe sodat die oorlewende maat uiting kan gee aan sy of haar droefheid.—Genesis 37:34, 35; Job 10:1.
Hoewel dit dalk gepas is dat jy help met formaliteite in verband met die begrafnisreëlings, moet jy nie aanneem dat jy volle beheer moet oorneem van alles wat met die begrafnis te doen het nie. Paul, ’n 49-jarige wewenaar, sê: “Ek dink dit is goed dat dié wat aangebied het om praktiese hulp te verleen, my nog steeds toegelaat het om beheer oor die reëlings te behou. Dit was vir my baie belangrik dat alles goed moet verloop by my vrou se gedenkdiens. Ek het gevoel dat dit die laaste ding is wat ek kan doen om eer aan haar te betoon.”
Natuurlik word enige hulp baie waardeer. Eileen, ’n 68-jarige weduwee, sê: “Dit was moeilik om die begrafnis te reël en die papierwerk te doen, want ek kon nie helder dink nie. Gelukkig het my seun en skoondogter my baie gehelp.”
Moet ook nie bang wees om oor die afgestorwe dierbare te praat nie. Beryl, wat vroeër genoem is, sê: “My vriende het my baie goed ondersteun. Maar ek het wel gevind dat baie dit vermy het om oor my man, John, te praat. Dit was asof hy nooit bestaan het nie, en dit het my ’n bietjie seergemaak.” Mettertyd wil weduwees en wewenaars dalk openlik oor hulle maat praat. Onthou jy ’n goedhartige daad of ’n snaakse staaltjie waarby die oorledene betrokke was? Bied dan aan om dit aan die oorlewende maat te vertel; moenie bang wees en terughou nie. As jy kan sien dat jou opmerking welkom sal wees, kan jy gerus sê wat jy omtrent hom waardeer het of wat jy omtrent haar mis. Dit kan treurende maats help besef dat ander in hulle smart deel.—Romeine 12:15.
Wanneer jy jou ondersteuning aanbied, moet jy nie die treurende met raad oorweldig nie. Moenie die bedroefde maat onder druk plaas om besluite oorhaastig te neem nie.a Gebruik eerder onderskeidingsvermoë en vra jou af: ‘Watter positiewe stappe kan ek doen om ’n vriend of ’n familielid deur een van die moeilikste oorgangstye in die lewe te help?’
Wat jy kan doen
In die dae onmiddellik ná die geliefde se dood sal die oorlewende huweliksmaat waarskynlik dankbaar wees om praktiese hulp te ontvang. Kan jy etes voorberei, verblyf aan besoekende familielede voorsien of die treurende geselskap hou?
Jy moet ook besef dat mans en vroue droefheid en eensaamheid dikwels op verskillende maniere verwerk. Byvoorbeeld, in party wêrelddele trou meer as die helfte van wewenaars binne 18 maande ná die dood van ’n huweliksmaat—iets wat selde onder weduwees gebeur. Waaraan kan die verskil toegeskryf word?
In teenstelling met wat baie dink, hertrou mans nie altyd bloot om hulle fisiese of seksuele behoeftes te bevredig nie. Dit is in werklikheid omdat mans geneig is om uitsluitlik hulle huweliksmaat in hulle vertroue te neem dat ’n man soms ná sy vrou se dood in volslae eensaamheid gedompel word. Aan die ander kant kan weduwees dikwels makliker emosionele ondersteuning vind, hoewel hulle soms deur die man se vriende vergeet word. Hierdie neiging onder wewenaars verduidelik tot ’n mate waarom baie ’n nuwe huwelik as die enigste uitweg uit hulle eensaamheid beskou—ten spyte van die gevaar dat hulle dalk te gou in ’n nuwe verhouding tree. Weduwees is dus moontlik beter toegerus om die pynlike eensaamheid te verwerk.
Hetsy jou vriend of familielid ’n man of ’n vrou is, wat kan jy doen om die las van eensaamheid te verlig? Helen, ’n 49-jarige weduwee, sê: “Baie het goeie bedoelings, maar hulle neem nie die inisiatief nie. Hulle sê dikwels: ‘Laat my weet as daar enigiets is wat ek kan doen.’ Maar ek het dit waardeer toe party net gesê het: ‘Ek gaan inkopies doen. Wil jy nie saamkom nie?’” Paul, wie se vrou aan kanker gesterf het, verduidelik waarom hy dit waardeer het wanneer hy êrens heen genooi is. “Soms”, sê hy, “voel jy nie lus vir mense of om oor jou situasie te praat nie. Maar ná ’n aand se geselskap voel jy stukke beter; jy voel nie so alleen nie. Jy weet dat mense werklik omgee, en dit maak dinge makliker.”b
Wanneer empatie baie waardeer word
Helen het gevind dat sy emosionele ondersteuning die nodigste gehad het nadat die meeste van haar familielede hulle daaglikse roetine hervat het. “Aan die begin is vriende en familie daar om jou te ondersteun”, sê sy, “maar dan keer hulle lewe weer terug tot die normale. Maar nie joune nie.” Aangesien ware vriende van hierdie werklikheid bewus is, sal hulle hulle beskikbaar stel en volgehoue ondersteuning verleen.
Dalk het ’n weduwee of ’n wewenaar veral tydens herdenkings geselskap nodig, soos op hulle huweliksherdenking of die dag waarop die huweliksmaat gesterf het. Eileen, wat vroeër gemeld is, sê dat haar volwasse seun die leemte vul wat sy ervaar op haar huweliksherdenking. “Elke jaar”, sê sy, “neem my seun Kevin my uit vir die dag. Ek eet middagete saam met hom, en dit is vir ons iets spesiaals tussen ma en seun.” Kan jy miskien ’n aantekening maak van hierdie tye wat uiters moeilik is vir ’n familielid of vriend wat ’n weduwee of wewenaar is? Jy kan dan reël dat jy of ander op so ’n moeilike dag saam met daardie persoon is.—Spreuke 17:17.
Party het gevind dat dié wat self ’n maat aan die dood afgestaan het, vertroosting kan bied. Annie, wat al agt jaar lank ’n weduwee is, sê die volgende oor haar assosiasie met ’n ander weduwee: “Haar vasberadenheid het ’n diep indruk op my gemaak en my aangemoedig om voort te gaan.”
Ja, nadat weduwees en wewenaars die vroeë stadiums van droefheid te bowe gekom het, kan hulle vir ander ’n bron van inspirasie en hoop word. Twee weduwees wat in die Bybel gemeld word, die jong vrou Rut en haar skoonmoeder, Naomi, het baat gevind by die ondersteuning wat hulle aan mekaar gegee het. Hierdie roerende verslag beskryf hoe die manier waarop hierdie vroue vir mekaar gesorg het, hulle gehelp het om droefheid te bowe te kom en die moeilike situasie waarvoor hulle te staan gekom het, die hoof te bied.—Rut 1:15-17; 3:1; 4:14, 15.
’n Tyd om gesond te maak
Om weer ’n voller lewe te begin lei, moet weduwees en wewenaars die regte balans vind—hulle moet die nagedagtenis van hulle geliefde bewaar, maar hulle moet ook na hulle eie huidige behoeftes omsien. Wyse koning Salomo het erken dat daar “’n tyd [is] om te huil”. Maar hy het ook gepraat van “’n tyd om gesond te maak”.—Prediker 3:3, 4.
Paul, wat hierbo genoem is, lig toe hoe moeilik dit is om nie in die verlede te lewe nie. “Ek en my vrou”, sê hy, “was soos twee jong bome wat inmekaargegroei het. Maar toe het een boom doodgegaan en is dit verwyder, wat die ander een misvormd laat lyk het. Dit het vreemd gevoel om op my eie te wees.” Weens lojaliteit aan ’n oorlede maat weier party om die verlede agter te laat. Ander dink dat hulle op die een of ander manier ontrou aan hulle maat sal wees as hulle enigiets geniet, en hulle weier dus om uit te gaan of om ander mense te ontmoet. Hoe kan ’n mens weduwees en wewenaars op ’n liefdevolle manier help om gesond te word—om met hulle lewe aan te gaan?
’n Eerste stap kan wees om die persoon te help om sy gevoelens uit te druk. Herbert, wat al ses jaar lank ’n wewenaar is, sê: “Ek waardeer regtig die tye wanneer besoekers net gesit en luister het terwyl ek gepraat het oor die verlede of oor iets wat ek op daardie stadium op die hart gehad het. Ek is seker dat ek nie altyd juis goeie geselskap was nie, maar ek het die empatie waardeer.” Paul is diep getref omdat ’n gebalanseerde vriend gereeld die inisiatief geneem het om hom te vra hoe dit met hom gaan. Paul sê: “Ek het sy opregte en vriendelike benadering waardeer en hom dikwels vertel hoe ek op daardie stadium gevoel het.”—Spreuke 18:24.
Deur te praat oor teenstrydige emosies soos spyt, skuldgevoelens of woede, doen die bedroefde ’n belangrike stap om sy of haar nuwe omstandighede te aanvaar. Toe koning Dawid sy hart uitgestort het voor die allerbeste vertroueling, Jehovah God, het dit hom die krag gegee om ‘op te staan’ en die droewige werklikheid van sy jong seun se dood te aanvaar.—2 Samuel 12:19-23.
Hoewel dit aanvanklik moeilik is, moet ’n bedroefde mettertyd weer ’n daaglikse roetine begin volg. Kan jy hom of haar by party van jou daaglikse bedrywighede insluit, soos om inkopies te doen of in die aand ’n entjie te gaan stap? Kan jy jou vriend vra om jou met die een of ander taak te help? Dit is nog ’n manier om mense uit hulle afsondering te kry. Kan sy byvoorbeeld na die kinders kyk of jou wys hoe om een van haar spesiale geregte te maak? Kan hy help om ’n paar dinge in en om die huis reg te maak? Sulke versoeke gee die persoon nie net iets stimulerends om te doen nie, maar verseker hom ook dat hy ’n doel in die lewe het.
Deur weer betrokke te raak by ander, kan ’n bedroefde sy lewenslus terugkry en dalk selfs nuwe doelwitte stel. Dit was die geval met Yonette, ’n 44-jarige weduwee en moeder. Sy sê: “Dit was so moeilik om weer ’n gereelde roetine te begin volg! Dit was regtig nie maklik om daaglikse take te verrig, na my geldsake om te sien en vir drie kinders te sorg nie.” Maar Yonette het mettertyd geleer hoe om haar sake te reël en beter met haar kinders te kommunikeer. Sy het ook geleer om die ondersteuning van goeie vriende te aanvaar.
“Die lewe bly ’n kosbare gawe”
Vriende en familie moet realisties wees as hulle doeltreffende hulp wil verleen. Die vooruitgang en hoop van die bedroefde kan maande, selfs jare, lank wissel tussen tye van redelike gemoedsrus en vlae van terneergedruktheid. Ja, die ‘plaag van sy of haar eie hart’ kan baie erg wees.—1 Konings 8:38, 39.
Dit is gedurende hierdie moeilike tye dat die oorlewende maat dalk ’n bietjie hulp nodig het sodat hy hom nie van die werklikheid afsny en hom afsonder nie. Sulke ondersteuning het al baie weduwees en wewenaars in staat gestel om nuwe rigting in hulle lewe te vind. Claude, ’n 60-jarige wewenaar wat nou ’n voltydse evangeliedienaar in Afrika is, sê: “Die lewe bly ’n kosbare gawe, selfs ná die pynlike ondervinding om ’n maat te verloor.”
Die lewe is nie dieselfde ná die dood van ’n maat nie. Nietemin kan dié wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, ander nog steeds op baie maniere help.—Prediker 11:7, 8.
[Voetnote]
a Sien die venster “Kosbare aandenkings of struikelblokke op die pad na herstel?” op bladsy 12.
b Vir verdere wenke oor hoe om praktiese hulp aan bedroefdes te gee, sien die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf, bladsye 20-25, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 11]
Ware vriende sal hulle beskikbaar stel en volgehoue ondersteuning verleen
[Venster/Prent op bladsy 12]
Kosbare aandenkings of struikelblokke op die pad na herstel?
“Ek het ’n klomp van my man se persoonlike besittings gehou”, sê Helen, wie se man net ’n paar jaar gelede gesterf het. “Ek vind dat hierdie dinge met verloop van tyd al hoe meer aangename herinneringe oproep. Ek wou nie dadelik van enigiets ontslae raak nie omdat gevoelens mettertyd soveel kan verander.”
In teenstelling hiermee sê Claude, wat sy vrou meer as vyf jaar gelede aan die dood afgestaan het: “Wat my betref, hoef ek nie haar persoonlike besittings om my te hê om haar nagedagtenis te laat voortleef nie. Ek dink dat dit my gehelp het om die werklikheid te aanvaar en dat dit die treurproses makliker gemaak het toe ek van haar persoonlike besittings ontslae geraak het.”
Die stellings hierbo toon hoe die besluite kan verskil oor wat om met die oorledene se besittings te doen. Verstandige vriende en familie sal dus nie hulle beskouing van hierdie saak op ander probeer afdwing nie.—Galasiërs 6:2, 5.
[Prente op bladsy 9]
Is daar spesifieke datums waarop jou hulp baie waardeer sal word?
[Prent op bladsy 9]
Onthou om hulle saam te nooi
[Prente op bladsy 10]
Sluit weduwees en wewenaars in by jou daaglikse bedrywighede of ontspanning