Kom nader aan God
Wanneer “’n gebroke en verbryselde hart” vergifnis soek
ONS sondig almal dikwels. Ongeag hoe jammer ons is, wonder ons dalk: ‘Hoor God my opregte gebede van berou? Sal hy my vergewe?’ Die Bybel leer hierdie vertroostende waarheid: Hoewel Jehovah nooit sonde goedkeur nie, is hy bereid om ’n berouvolle sondaar te vergewe. Hierdie waarheid word duidelik getoon in die geval van koning Dawid van eertydse Israel, volgens 2 Samuel hoofstuk 12.
Stel jou die toneel voor. Dawid het hom aan ernstige sondes skuldig gemaak. Hy het met Batseba egbreuk gepleeg, en toe pogings om die sonde weg te steek, misluk het, het hy gereël dat haar man doodgemaak word. Dawid het toe stilgebly oor sy sondes en ’n paar maande lank die skyn van onskuld behou. Maar Jehovah het toegekyk. Hy het Dawid se sondes gesien. Hy het egter ook gesien dat Dawid nog steeds berou kon toon (Spreuke 17:3). Wat sou Jehovah doen?
Jehovah stuur die profeet Natan na Dawid toe (vers 1). Onder leiding van die heilige gees nader Natan die koning op taktvolle wyse, in die wete dat hy sy woorde versigtig moet kies. Hoe kan hy die sluier van selfbedrog lig en Dawid laat besef hoe ernstig sy sondes is?
Om te verhoed dat Dawid homself probeer verontskuldig, vertel Natan hom ’n storie wat beslis die hart van ’n voormalige herder sal bereik. Dit handel oor twee mans, een ryk en een arm. Die ryk man “het ’n baie groot aantal skape en beeste gehad”, maar die arm man het niks gehad nie, “behalwe een ooilam”. Die ryk man het ’n besoeker gekry en wou ’n ete voorberei. In plaas daarvan om een van sy eie skape te gebruik, het hy die arm man se enigste lam gevat. Dawid dink klaarblyklik dat die storie waar is en roep woedend uit: “Die man wat dit doen, verdien om te sterf!” Waarom? “Omdat hy nie medelye gehad het nie”, verduidelik Dawid.a—Verse 2-6.
Natan se gelykenis het die beoogde doel bereik. Dawid het as ’t ware homself veroordeel. Natan sê nou reguit vir hom: “U is die man!” (vers 7). Aangesien Natan namens God praat, is dit duidelik dat Dawid se dade Jehovah persoonlik raak. Deur God se wette te verbreek, het Dawid ’n gebrek aan respek vir die Wetgewer getoon. “Jy [het] my verag”, sê God (vers 10). Hierdie snydende bestrawwing tref Dawid diep in die hart, en hy bely: “Ek het teen Jehovah gesondig.” Natan verseker Dawid dat Jehovah hom vergewe, maar Dawid sal met die gevolge van sy dade moet saamleef.—Verse 13, 14.
Nadat sy sonde blootgelê is, het Dawid ’n lied geskryf wat nou Psalm 51 is. Daarin het Dawid sy hart uitgestort en die diepte van sy berou geopenbaar. Deur sy sondes het Dawid Jehovah verag. Maar nadat die berouvolle koning ervaar het hoe wonderlik God se vergifnis is, kon hy vir Jehovah sê: “’n Gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie” (Psalm 51:17). Daar is min woorde wat meer gerusstellend kan wees vir ’n berouvolle sondaar wat Jehovah se barmhartigheid soek.
[Voetnoot]
a Om ’n lam vir ’n besoeker voor te berei, was ’n gebaar van gasvryheid. Maar om ’n lam te steel, was ’n misdaad, waarvoor die oortreder viervoudig moes vergoed (Eksodus 22:1). Uit Dawid se oogpunt het die ryk man genadeloos opgetree deur die lam te vat. Hy het die arm man sodoende ontneem van ’n dier wat vir sy gesin melk en wol kon voorsien het en selfs die begin van ’n kudde skape kon gewees het.