Die waarheid oor sonde
KAN ’n siek man bewys dat hy nie ’n koors het nie deur die koorspen te breek? Natuurlik nie! En net omdat baie mense God se beskouing van sonde verwerp, beteken dit eweneens nie dat sonde nie bestaan nie. Sy Woord, die Bybel, het baie oor die onderwerp te sê. Presies wat sê dit oor sonde?
Almal skiet te kort
Sowat tweeduisend jaar gelede het die apostel Paulus sy frustrasie uitgespreek oor die feit dat ‘hy die goeie wat hy wil, nie doen nie, maar die slegte wat hy nie wil nie, beoefen’ (Romeine 7:19). As ons eerlik is, moet ons erken dat ons eie situasie dieselfde is. Dalk wil ons graag volgens die Tien Gebooie of volgens ’n ander gedragstandaard lewe, maar of ons nou daarvan hou of nie, ons almal skiet te kort. Dit is nie dat ons doelbewus besluit om ’n gedragsreël te verbreek nie, dit is net dat ons swak is. Wat is die verklaring hiervoor? Paulus self gee die antwoord: “As ek dan nou doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit bewerk nie, maar die sonde wat in my woon.”—Romeine 7:20.
Soos Paulus, word die ganse mensdom geteister deur inherente swakhede—’n bewys van ingebore sonde en onvolmaaktheid. “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God”, het die apostel gesê. Wat is die oorsaak van hierdie toestand? Paulus sê verder dat “deur een mens [Adam] die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het”.—Romeine 3:23; 5:12.
Hoewel baie die idee verwerp dat oortreding deur ons eerste ouers ons van God vervreem het en oorspronklike volmaaktheid laat verloor het, is dit inderdaad wat die Bybel leer. Jesus het getoon dat hy in die verslag van Adam en Eva glo deur uit die eerste hoofstukke van Genesis as ’n gesaghebbende bron aan te haal.—Genesis 1:27; 2:24; 5:2; Matteus 19:1-5.
Een van die hoofaspekte van die Bybel se boodskap is dat Jesus aarde toe gekom het om diegene wat geloof in hom beoefen, van hulle sondige toestand los te koop (Johannes 3:16). Ons lewensvooruitsigte vir die toekoms hang daarvan af dat ons die middel aanvaar waardeur Jehovah dankbare mense sal red uit ’n droewige situasie waaroor hulle geen beheer het nie. Maar as ons nie ’n duidelike begrip het van wat sonde vanuit God se standpunt is nie, kan ons nie die middel wat hy daargestel het om ons daarvan te red, waardeer nie.
Jesus se offerande, en waarom dit nodig was
Jehovah het die eerste mens die vooruitsig gegee om vir ewig te lewe. Slegs as Adam teen God in opstand sou kom, sou hy hierdie wonderlike vooruitsig verloor. Adam hét in opstand gekom, en toe hy dit gedoen het, het hy ’n sondaar geword (Genesis 2:15-17; 3:6). Adam het in stryd met God se wil opgetree, te kort geskiet aan volmaaktheid en sy verhouding met God geskend. Toe hy gesondig het deur die goddelike wet te verbreek, het hy begin sterf. Ongelukkig is al Adam se nakomelinge—ons inkluis—in sonde gebore, en gevolglik is dit ons lot om te sterf. Waarom?
Die rede is heel eenvoudig. Onvolmaakte ouers kan nie volmaakte kinders voortbring nie. Al Adam se nakomelinge is as sondaars gebore, en soos die apostel Paulus sê ‘is die loon wat die sonde betaal, die dood’ (Romeine 6:23). Die tweede helfte van daardie vers gee ons egter hoop: “Maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.” Met ander woorde, deur middel van Jesus se offerdood, is dit vir gehoorsame, dankbare mense moontlik om gereinig te word van die gevolge van Adam se sonde (Matteus 20:28; 1 Petrus 1:18, 19).a Hoe moet dit jou laat voel?
Christus se liefde “dring ons”
Die geïnspireerde apostel Paulus het God se antwoord op die vraag hierbo verstrek. Hy het geskryf: “Die liefde wat die Christus het, dring ons, omdat ons só geoordeel het, dat een mens vir almal gesterf het; . . . en hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Korintiërs 5:14, 15). As iemand besef dat Jesus se offerande hom van die gevolge van sonde kan bevry—en hy graag waardering vir daardie voorsiening wil toon—moet hy daarna streef om sy lewe in ooreenstemming met God se wense vir hom te lei. Dit sluit in dat hy ’n begrip verkry van wat God vereis, sy gewete volgens Bybelstandaarde oplei en dan in ooreenstemming daarmee lewe.—Johannes 17:3, 17.
Oortredings skaad ons verhouding met Jehovah God. Toe koning Dawid die erns besef het van die egbreuk wat hy met Batseba gepleeg het en die moord op haar man, het hy ongetwyfeld baie beskaamd gevoel. Maar wat hom die meeste bekommer het—en heel tereg—was dat sy sondes God aanstoot gegee het. Hy het berouvol teenoor Jehovah erken: “Teen u, u alleen, het ek gesondig, en wat sleg is in u oë, het ek gedoen” (Psalm 51:4). Toe Josef in die versoeking gekom het om egbreuk te pleeg, het sy gewete hom eweneens laat vra: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?”—Genesis 39:9.
Sonde beteken dus nie net dat ons sleg voel oor onsself omdat ons dalk aansien verloor het nie. Dit is nie net dat ons aan die openbare mening of aan die samelewing verantwoording moet doen omdat ons moontlik nie aan die een of ander ideaal voldoen het nie. As ons God se wette in verband met seks, eerlikheid, respek, aanbidding, ensovoorts oortree, skaad ons ons persoonlike verhouding met hom. As ons doelbewus sonde beoefen, word ons ’n vyand van God. Dit is ’n waarheid wat ernstige nadenke vereis.—1 Johannes 3:4, 8.
Wat het dus van sonde geword? In werklikheid niks nie. Mense het dit net ander name begin gee in die hoop dat dit minder ernstig sal lyk as wat dit is. Baie het hulle gewete afgestomp laat raak of dit geïgnoreer. Almal wat God se guns wil hê, moet hierdie neiging weerstaan. Soos ons gesien het, is die loon van die sonde nie net ’n gekwetste ego of verleentheid nie, maar die dood. Sonde is ’n saak van lewe of dood.
Die goeie nuus is dat vergifnis deur middel van die loskoopwaarde van Jesus se offerande moontlik is as ons opregte berou oor ons sondes toon en dit laat staan. “Gelukkig is dié wie se wettelose dade vergewe is en wie se sondes bedek is”, het Paulus geskryf. “Gelukkig is die mens wie se sonde Jehovah hom hoegenaamd nie sal toereken nie.”—Romeine 4:7, 8.
[Voetnoot]
a Vir ’n volledige verduideliking van hoe Jesus se offerdood die mag het om gehoorsame mense te red, sien Wat leer die Bybel werklik?, bladsye 47 tot 54, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prent op bladsy 10]
’n Teologiese U-draai
Vir die meeste Katolieke kerkgangers was die idee van limbus nog altyd ietwat duister. In onlangse dekades het dit geleidelik vervaag—in so ’n mate dat die idee nie meer in kategismusse verskyn nie. In 2007 het die Katolieke Kerk amptelik limbus se “doodsertifikaat” geteken in ’n dokument wat verwys het na “teologiese en liturgiese redes om te hoop dat babas wat sterf sonder dat hulle gedoop was, gered kan word en tot in ewige geluk gebring kan word”.—Internasionale Teologiese Kommissie.
Waarom hierdie verandering van standpunt, hierdie teologiese U-draai? Dit het die kerk in staat gestel om hom te bevry van wat volgens die Franse rubriekskrywer Henri Tincq “’n swaar erfenis was, wat van die Middeleeue tot die 20ste eeu verdedig is deur ’n manipulerende Kerk, wat maar te gretig was om die dreigement van limbus te gebruik om ouers aan te spoor om hulle kinders so gou as moontlik te laat doop”. Maar die einde van limbus laat ook ander kwessies ontstaan.
Tradisie of die Skrif? Geskiedkundig het geloof in limbus voortgespruit uit 12de-eeuse teologiese debatte wat met die vaevuur verband gehou het. Die Katolieke Kerk het geleer dat die siel ná die dood voortleef, en daarom moes hulle ’n plek vind vir die siele van kinders wat nie hemel toe kon gaan nie omdat hulle nie gedoop was nie, maar wat terselfdertyd nie die hel verdien het nie. So het die idee van limbus ontstaan.
Die Bybel leer egter nie dat die siel ná die dood voortleef nie. Dit sê eerder duidelik dat mensesiele nie onsterflik is nie, maar dat dié wat sondig, “uitgeroei” kan word en “moet sterwe” (Handelinge 3:23; Esegiël 18:4, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Aangesien die siel sterflik is, kan ’n plek soos limbus nie bestaan nie. Daarbenewens praat die Bybel van die dood as ’n toestand van onbewustheid, soortgelyk aan die slaap.—Prediker 9:5, 10; Johannes 11:11-14.
Die Bybel toon dat God die jong kinders van Christenouers as heilig beskou (1 Korintiërs 7:14). So ’n stelling sou sinloos wees as babas se redding van doop afgehang het.
Die leerstelling van limbus was waarlik ’n belediging vir God, omdat dit hom uitgebeeld het as ’n wrede tiran wat onskuldiges straf, eerder as die regverdige en liefdevolle Vader wat hy is (Deuteronomium 32:4; Matteus 5:45; 1 Johannes 4:8). Dit is dus geen wonder dat hierdie onskriftuurlike leerstelling nog altyd teen die gesonde verstand van opregte Christene ingedruis het nie!
[Prente op bladsy 9]
Om in ooreenstemming met God se Woord te lewe, lei tot ’n gesonde verhouding met God en mense