Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 7/1 bl. 19-21
  • Sewe stappe om by Bybellees baat te vind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sewe stappe om by Bybellees baat te vind
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Stap 1—Lees om die regte rede
  • Stap 2—Kies ’n betroubare vertaling
  • Stap 3—Bid
  • Stap 4—Lees daagliks
  • Stap 5—Wissel jou benadering af
  • Stap 6—Peins
  • Stap 7—Kry hulp om dit te verstaan
  • Vind baat by daaglikse Bybellees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Hoe jy die meeste uit jou Bybellees kan kry
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Lê jou daarop toe om beter te lees
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Behou ’n stewige greep op die Woord van God
    Aanbid die enigste ware God
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 7/1 bl. 19-21

Sewe stappe om by Bybellees baat te vind

“Die Bybel is nie net die topverkoper van alle tye nie, dit is elke jaar die topverkoper van die jaar.”—DIE TYDSKRIF TIME.

“Ek lees soms die Bybel, maar ek vind dit vreeslik vervelig.”—KEITH, ’N GEWILDE MUSIKANT VAN ENGELAND.

DIT is ironies dat baie mense ’n Bybel het, maar blykbaar nie veel daarby baat vind om dit te lees nie. Vir ander is wat hulle in die Bybel lees, egter kosbaar. ’n Vrou met die naam Nancy vertel byvoorbeeld: “Vandat ek vroeg elke oggend die Bybel lees en daaroor peins, voel ek gereed vir enigiets wat die dag mag oplewer. Hierdie roetine het meer vir my gedoen gedurende tye van depressie as enigiets wat ek oor die afgelope 35 jaar probeer het.”

Vind jy dit interessant dat sommige mense al deur die Bybel gehelp is, al het jý dit nog nooit gelees nie? As jy alreeds die Bybel lees, sal jy graag meer by jou Bybellees wil baat vind? Indien wel, probeer die sewe stappe wat in hierdie artikel uiteengesit word.

Stap 1—Lees om die regte rede

◼ Jy kan die Bybel lees bloot as pragtige letterkunde, uit pligsgevoel of met die idee dat jy dalk leiding in hierdie wêreld vol probleme sal vind. Jy sal egter die meeste daarby baat vind as dit jou doel is om die waarheid oor God te leer. Jy sal boonop ryk seëninge maai as dit jou beweegrede is om te sien hoe die Bybel se boodskap jou lewe kan beïnvloed.

Die Skrif beklemtoon hoe belangrik dit is om die Bybel om die regte rede te lees deur dit met ’n spieël te vergelyk: “As iemand ’n hoorder van die woord is, en nie ’n dader nie, is hy soos ’n mens wat sy natuurlike gesig in ’n spieël bekyk. Want hy bekyk homself en gaan dan weg en vergeet onmiddellik watter soort mens hy is. Maar hy wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen.”—Jakobus 1:23-25.

Die man in hierdie voorbeeld het na sy gesig in die spieël gekyk, maar nie sy voorkoms reggestel nie. Dalk het hy net vlugtig na homself gekyk of miskien het hy nie die begeerte gehad om enige veranderinge aan te bring nie. Net so sal ons min daarby baat vind as ons die Bybel net af en toe lees of as ons nie toepas wat ons lees nie. Ons kan daarenteen ware geluk verkry as ons diep in die Bybel kyk met die idee om “’n dader” te word deur toe te laat dat God se denke ons gedagtes en dade vorm.

Stap 2—Kies ’n betroubare vertaling

◼ Daar is moontlik talle Bybelvertalings in jou taal waaruit jy kan kies. Hoewel jy by enige vertaling van God se Woord kan baat vind, gebruik party vertalings verouderde of hoogdrawende taal wat dalk moeilik is om te verstaan (Handelinge 4:13). Sekere vertalings verander selfs die Bybel se suiwer boodskap deur op tradisies staat te maak. Soos ons byvoorbeeld in die eerste artikels van hierdie tydskrif gesien het, het party God se naam, Jehovah, vervang met titels soos “God” of “Here”. Wanneer jy dus ’n vertaling kies, moet jy een soek wat die Bybel akkuraat weergee in maklike taal wat jou sal aanspoor om dit te lees.

Miljoene lesers regoor die wêreld het gevind dat die Nuwe Wêreld-vertaling presies dit doen.a Neem die geval van ’n bejaarde man in Bulgarye. Hy het ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon en is ’n eksemplaar van die Nuwe Wêreld-vertaling gegee. Daarna het hy gesê: “Ek lees al jare lank die Bybel, maar ek het nog nooit ’n vertaling gelees wat makliker is om te verstaan en wat reg tot die hart spreek nie.”

Stap 3—Bid

◼ Jy kan die Bybel beter verstaan deur die Outeur daarvan vir sy hulp te vra, soos die psalmis wat gesê het: “Open my oë, sodat ek die wonderlike dinge uit u wet kan sien” (Psalm 119:18). Bid elke keer tot God wanneer jy die Skrif lees en vra hom om jou te help om sy Woord te verstaan. Jy kan ook jou dankbaarheid vir die Bybel uitspreek, want daarsonder sou ons God nie geken het nie.—Psalm 119:62.

Verhoor God sulke gebede om hulp? Kyk byvoorbeeld na wat met twee tienderjarige susters in Uruguay gebeur het. Hulle het nie verstaan wat die Bybel in Daniël 2:44 sê nie en het gebid dat God iemand stuur om hulle te help om dit te verstaan. Terwyl die meisies se Bybel nog oop was, het twee van Jehovah se Getuies na hulle deur toe gekom, die einste vers gelees waaroor die meisies gebid het en verduidelik dat dit beskryf hoe mensgemaakte regerings deur God se Koninkryk vervang sal word.b Die tienderjarige susters was oortuig daarvan dat God hulle gebed om hulp verhoor het.

Stap 4—Lees daagliks

◼ Een uitgewer het gesê dat “Bybelverkope die hoogte ingeskiet het” ná die terreuraanvalle op 11 September 2001 in die Verenigde State. Baie wend hulle slegs in tye van benoudheid tot God se Woord. Maar die Bybel spoor ons aan om dit elke dag te lees, want dit sê: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, en jy moet dag en nag op gedempte toon daarin lees, sodat jy sorgvuldig kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys handel.”—Josua 1:8.

Die waarde van gereelde Bybellees kan toegelig word deur ’n man wat ’n hartaanval gehad het en besluit om gesonder kos te eet. Sal so ’n dieet hom help as hy dit eers begin volg wanneer hy ’n skerp pyn in sy bors voel? Nee. Hy moet voortdurend ’n gesonde dieet handhaaf om die meeste voordeel daaruit te put. Net so sal daaglikse Bybellees jou help om “jou weg suksesvol [te] maak”.

Stap 5—Wissel jou benadering af

◼ Om die Bybel van Genesis tot Openbaring deur te lees, werk miskien goed, maar dalk sal jy ander benaderings verkwikkend vind. Hier is ’n paar wenke.

Bestudeer ’n karakter. Lees al die hoofstukke of boeke wat ’n spesifieke aanbidder van God bespreek, soos die volgende:

• Josef: Genesis 37-50.

• Rut: Rut 1-3.

• Jesus: Matteus 1-28; Markus 1-16; Lukas 1-24; Johannes 1-21.c

Konsentreer op ’n onderwerp. Lees die tekste wat daarmee verband hou. Doen byvoorbeeld navorsing oor die onderwerp van gebed en lees dan die Bybel se raad oor gebed, asook party van die talle gebede wat in die Bybel opgeteken is.d

Lees hardop. Jy kan grootliks daarby baat vind as jy die Bybel hardop lees (Openbaring 1:3). Julle kan selfs as ’n gesin hardop lees en beurte maak om paragrawe te lees of die karakters aan verskillende gesinslede toewys. Party geniet dit om na ’n opname van die Bybel te luister. “Ek het baie gesukkel om aan die gang te kom”, het een vrou gesê, “en daarom het ek begin deur na opnames van die Bybel te luister. Nou is die Bybel vir my opwindender as ’n goeie roman.”

Stap 6—Peins

◼ Die pas en afleidings van die moderne lewe maak dit moeilik om te peins. Maar net soos ons ons voedsel moet verteer om daardeur gevoed te word, moet ons peins oor wat ons in die Bybel lees om daarby baat te vind. Ons doen dit deur in ons gedagtes te hersien wat ons gelees het en deur ons vrae af te vra soos: ‘Wat het ek oor Jehovah God geleer? Hoe is dit op my van toepassing? Hoe kan ek dit gebruik om ander te help?’

Deur so daaroor te dink, laat ons toe dat die Bybel se boodskap ons hart raak en put ons groter vreugde daaruit om God se Woord te lees. Psalm 119:97 sê: “Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit.” Die psalmis het die Skrif die hele dag oordink deur daaroor te peins. Dit het hom gehelp om ’n diep liefde te ontwikkel vir wat hy geleer het.

Stap 7—Kry hulp om dit te verstaan

◼ God verwag nie dat ons sy Woord op ons eie ten volle moet verstaan nie. Selfs die Bybel erken dat dit “sommige dinge [bevat] wat moeilik is om te verstaan” (2 Petrus 3:16). Die boek Handelinge beskryf ’n Etiopiese amptenaar wat ’n deel van die Bybel wat hy gelees het, nie verstaan het nie. God het een van Sy knegte gestuur om hom te help, met die gevolg dat die Etiopiese man “sy reis met blydskap voortgesit” het.—Handelinge 8:26-39.

Jy kan ook meer by Bybellees baat vind as jy hulp kry om te verstaan wat jy lees. Kom gerus met Jehovah se Getuies in jou gemeenskap in aanraking of skryf na die adres op bladsy 4 van hierdie tydskrif vir ’n gratis tuisbybelstudie.

[Voetnote]

a Die Nuwe Wêreld-vertaling, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, is in sy geheel of gedeeltelik in 83 tale gedruk en is ook in 11 tale op die Internet beskikbaar by www.watchtower.org.

b Vir meer inligting oor God se Koninkryk en wat dit gaan doen, sien hoofstuk 8 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

c As Bybellees vir jou iets nuuts is, kan jy by die aksiebelaaide verslag van Jesus se bediening in die boek Markus begin.

d Die boek Wat leer die Bybel werklik? het baie mense gehelp om die Bybel volgens onderwerp te bestudeer. Hoofstuk 17, byvoorbeeld, bespreek wat die Skrif oor die onderwerp van gebed sê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel