Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w11 3/1 bl. 10-11
  • Is God se Koninkryk ’n hartstoestand?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is God se Koninkryk ’n hartstoestand?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Heerskappy en oordeel
  • Ewige seëninge
  • ’n Koninkryk in hulle midde
  • ’n Koninkryk wat jou na aan die hart lê
  • Is die Koninkryk van God in jou hart?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wat God se Koninkryk vir jou kan beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wat Jesus ander oor God se Koninkryk geleer het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • God se koninkryk heers
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
w11 3/1 bl. 10-11

Is God se Koninkryk ’n hartstoestand?

“Die Koninkryk van God kom by wyse van ’n luisterende hart”, sê pous Benediktus XVI in sy boek Jesus of Nazareth. Vir party is dit presies wat God se Koninkryk is—’n verandering wat in ’n persoon plaasvind wanneer hy Jesus Christus aanneem en geloof ontwikkel. Is God se Koninkryk bloot ’n persoonlike transformasie, ’n koninkryk wat ‘net in jou hart’ is?

DIE Koninkryk het Jesus inderdaad na aan die hart gelê. Die Koninkryk was “die middelpunt van Jesus se predikingswerk”, erken pous Benediktus. Gedurende die grootste deel van sy betreklike kort bediening het Jesus die land deurkruis en “die goeie nuus van die koninkryk verkondig” (Matteus 4:23). Deur middel van sy onderrigting en die wonderwerke wat hy verrig het, het Jesus duidelik getoon dat die Koninkryk meer behels as dat ’n persoon God aanvaar en hom gehoorsaam. Dit behels heerskappy, oordeel en ewige seëninge.

Heerskappy en oordeel

By een geleentheid gedurende die laaste dae van Jesus se bediening het die moeder van Jesus se geliefde dissipels Jakobus en Johannes na Jesus toe gekom en gesê: “Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand” (Matteus 20:21). Dit is duidelik dat sy nie van iets in die hart van haar seuns gepraat het nie. Sy het verstaan dat die Koninkryk heerskappy saam met Jesus beteken het, en sy wou hê dat haar seuns ’n deel daaraan moet hê. Trouens, Jesus het sy 11 getroue apostels belowe dat hulle in sy Koninkryk sou wees waar hulle “op trone [sou] sit” en saam met hom sou “oordeel” (Lukas 22:30). Vir sy volgelinge sou Jesus se Koninkryk dus ’n ware heerskappy wees—’n administrasie, ’n regering.

Wat van mense oor die algemeen in Jesus se dag? Het hulle gedink dat die Koninkryk net ’n persoonlike transformasie is, of het hulle meer verwag? Wel, kort voor die Pasga van 33 HJ, toe Jesus op ’n hingsvul in Jerusalem ingery het, het die skare hom verwelkom en het party uitgeroep: “Red tog die Seun van Dawid!” (Matteus 21:9). Waarom het hulle dit uitgeroep? Hulle het ongetwyfeld besef dat Jesus die beloofde Messias is en dat God hom ’n ewige Koninkryk, “die troon van sy vader Dawid”, sou gee. Hulle het gesmag na die redding, vrede en geregtigheid wat die Koninkryk sou bring.—Lukas 1:32; Sagaria 9:9.

Ewige seëninge

Selfs mense wat blykbaar nie baie in Jesus se bediening belanggestel het nie, het kennis gehad oor een van sy leringe. By Jesus se teregstelling het ’n misdadiger wat langs hom aan ’n paal gehang is, by hom gepleit: “Jesus, dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Wat was Jesus se antwoord? “Jy sal saam met my in die Paradys wees”, het hy die sterwende man verseker.—Lukas 23:42, 43.

Daardie rower het klaarblyklik geglo dat Jesus, nadat hy opgewek is, in ’n Koninkryk sou ingaan of dit sou ontvang. Jesus sal nie net die gesag hê om die man—tesame met miljoene ander—op te wek en te hervorm nie, maar hy sal ook die begeerte hê om dit te doen. Ja, met die mag as Heerser in die geesteryk sal Jesus deur middel van die Koninkryk ewige seëninge aan die mensdom regoor die aarde bring.—Johannes 5:28, 29.

’n Koninkryk in hulle midde

Het Jesus dan nie gesê: “Die koninkryk van God is in julle midde” nie? Ja, hierdie woorde van Jesus word in Lukas 17:21 gevind. Trouens, party Bybelvertalings sê “die koninkryk van God is binne-in julle”, terwyl ander sê “is onder julle”. (Sien byvoorbeeld die Ou Afrikaanse Bybelvertaling en The New English Bible.) Wat het Jesus hiermee bedoel?

Die konteks toon dat Jesus hierdie woorde gerig het aan ’n vyandige Joodse godsdiensgroep wat die Fariseërs genoem is. Hulle het hulle eie verwagtinge aangaande die Messias en sy Koninkryk gehad. Volgens hulle sou die Messias “met die wolke van die hemel” as ’n glorieryke Koning kom om die Jode van die Romeine te verlos en om die koninkryk van Israel te herstel (Daniël 7:13, 14). Jesus het hulle egter op hulle fout gewys deur vir hulle te sê: “Die koninkryk van God kom nie met opvallende waarneembaarheid nie.” Toe het hy bygevoeg: “Kyk! die koninkryk van God is in julle midde.”—Lukas 17:20, 21.

Terwyl Jesus onderrig het en wonderwerke verrig het wat hom duidelik as die beloofde Koning van daardie Koninkryk geïdentifiseer het, het die Fariseërs, weens hulle onrein harte en gebrek aan ware geloof, eenvoudig vyandiger geword. Hulle het getwyfel aan Jesus se kwalifikasies en wat hy oor homself gesê het. Hy het dus die feite aan hulle voorgelê: Die Koninkryk, verteenwoordig deur die aangewese Koning daarvan, was ‘in hulle midde’. Hy het nie gevra dat hulle binne-in hulle kyk nie.a Jesus en sy dissipels het voor hulle gestaan. “Die koninkryk van God is hier by julle”, het hy gesê.—Lukas 17:21, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

’n Koninkryk wat jou na aan die hart lê

Hoewel God se Koninkryk nie in die harte van sondige mense is nie, moet dit iets wees wat ons na aan die hart lê. Deur sy onderrigting en sy kragtige werke het Jesus probeer om in sy toehoorders hartgrondige geloof op te bou in ’n regverdige administrasie wat ware vrede en veiligheid sal bring. Hy wou hê dat hulle geloof moet hê wat hulle lewe ten goede sou beïnvloed. Trouens, hy het hulle geleer om te bid: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Baie van Jesus se toehoorders is deur sy woorde geraak en het geloof ontwikkel wat hulle beweeg het om Jesus na te volg deur die seëninge van God se Koninkryk na te streef.

Wil jy graag hierdie soort geloof hê? Wat moet jy dan doen om sulke geloof op te bou? Dink aan die eerste deel van Jesus se bekende Bergpredikasie: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Matteus 5:3). Aanvaar gerus die uitnodiging om die Bybel te studeer saam met Jehovah se Getuies, wat hierdie tydskrif vir jou gebring het. Dan sal jy hoop hê, nie net op ’n persoonlike transformasie nie, maar op ’n regverdige heerskappy—’n Koninkryk wat vrede en veiligheid vir almal sal meebring.

[Voetnoot]

a Die voornaamwoord “julle” in die uitdrukking wat in party Bybelvertalings met “binne-in julle” vertaal word, is in die oorspronklike Grieks in die meervoud en verwys na die Fariseërs, met wie Jesus gepraat het. Jesus het sekerlik nie gepraat van die Fariseërs se persoonlike transformasie of hulle ontvanklike hartstoestand nie.

[Lokteks op bladsy 11]

Was God se Koninkryk in die hart van Jesus se hardkoppige en moorddadige teenstanders?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel