Het God ’n organisasie?
ORDE kan oral in God se skepping gesien word. Byvoorbeeld, ’n “eenvoudige” gissel is ’n wonder van organisasie. Dit het ongeveer dieselfde aantal dele as ’n Boeing 777-straalvliegtuig. Nogtans het al die komponente ’n vasgestelde plek en pas dit in ’n sfeer van slegs vyf mikrona in deursnee. In teenstelling met straalvliegtuie kan gisselle reproduseer. Wat ’n wonder van orde en organisasie!—1 Korintiërs 14:33.
Organisasie word nie net in die fisiese skepping gesien nie. Die Bybel toon dat die geesteryk ook hoogs georganiseerd is, in ooreenstemming met die Skepper se voorneme. In ’n visioen het die profeet Daniël ’n groot menigte engele in God se hemelse hof gesien: “Duisend duisende het hom bly dien, en tienduisend maal tienduisend het reg voor hom bly staan” (Daniël 7:9, 10). Stel jou voor watter organisasie nodig is sodat hierdie ontsaglike aantal engele—meer as honderdmiljoen—sal doen wat God beveel ten behoewe van sy knegte hier op die aarde!—Psalm 91:11.
Hoewel die Skepper, Jehovah God, die Opperorganiseerder is, is hy nie gevoelloos of wettiesgesind nie. Hy is eerder ’n liefdevolle, gelukkige God wat oor die welsyn van al sy skeppingswerke besorgd is (1 Timoteus 1:11; 1 Petrus 5:7). Dit kan duidelik gesien word in die manier waarop hy met die eertydse nasie Israel en die eerste-eeuse Christene gehandel het.
Eertydse Israel—’n goed georganiseerde nasie
Jehovah God het Moses gebruik om die Israeliete vir ware aanbidding te organiseer. Kyk maar net na die manier waarop die kamp georganiseer is gedurende hulle verblyf in die Sinaiwoestyn. Dinge sou ongetwyfeld chaoties gewees het as elke gesin toegelaat is om hulle tent op te slaan net waar hulle wou. Jehovah het vir die nasie presies gesê waar elke stam moes kamp opslaan (Numeri 2:1-34). Die Wet van Moses het ook duidelik omskrewe regulasies bevat in verband met gesondheid en higiëne—byvoorbeeld, oor hoe om van menslike ontlasting ontslae te raak.—Deuteronomium 23:12, 13.
Nadat die Israeliete in die Beloofde Land ingegaan het, was hulle in baie opsigte ’n hoogs georganiseerde nasie. Die nasie is verdeel in 12 stamme, wat elk ’n toegewese grondgebied gehad het. Die Wet wat Jehovah deur Moses aan die nasie gegee het, het elke aspek van hulle lewe geraak—aanbidding, die huwelik, gesinslewe, opvoeding, besigheid, dieet, boerdery, veeteelt, ensovoorts.b Hoewel party wette spesifiek en gedetailleerd was, was elkeen daarvan ’n blyk van Jehovah se sorg vir sy volk en het dit tot hulle geluk bygedra. Wanneer hulle hierdie liefdevolle reëlings gevolg het, het die Israeliete Jehovah se spesiale guns geniet.—Psalm 147:19, 20.
Hoewel Moses ’n begaafde leier was, het sukses nie soseer van sy leierskapsvaardighede afgehang nie, maar van sy lojaliteit aan God se organisasie. Hoe het Moses byvoorbeeld besluit watter roete hulle deur die woestyn moes volg? Jehovah het leiding voorsien deur middel van ’n wolkkolom in die dag en ’n vuurkolom in die nag (Eksodus 13:21, 22). Hoewel God mense gebruik het, was dit Jehovah self wat sy volk georganiseer en gelei het. Dit was ook die geval in die eerste eeu.
Die vroeë Christene was goed georganiseer
As gevolg van die apostels en dissipels se ywerige predikingswerk is Christengemeentes in die eerste eeu in baie dele van Asië en Europa gestig. Hoewel hierdie gemeentes oor ’n groot gebied versprei was, was hulle nie afgesonderde, onafhanklike groepe nie. Hulle was eerder goed georganiseer, en hulle het by die liefdevolle toesig van die apostels baat gevind. Byvoorbeeld, die apostel Paulus het Titus op Kreta agtergelaat “om alles daar te organiseer” (Titus 1:5, The Jerusalem Bible). En Paulus het aan die gemeente in Korinte geskryf dat party broers oor “organisatoriese vermoëns” beskik het, of “organiseerders” was (1 Korintiërs 12:28, The New Testament in Modern Speech; The Bible in Contemporary Language). Maar wie was verantwoordelik vir hierdie orde? Paulus het gesê dat God die gemeente “saamgestel”, of “georganiseer”, het.—1 Korintiërs 12:24; The Riverside New Testament.
Aangestelde opsieners in die Christengemeente was nie meesters oor hulle medegelowiges nie. Hulle was eerder “medewerkers” wat die leiding van God se gees gevolg het, en daar is van hulle verwag dat hulle “voorbeelde vir die kudde” moes wees (2 Korintiërs 1:24; 1 Petrus 5:2, 3). Die verrese Jesus Christus, nie net ’n mens of ’n groep onvolmaakte manne nie, is die “hoof van die gemeente”.—Efesiërs 5:23.
Toe die gemeente in Korinte dinge op ’n manier begin doen het wat radikaal verskil het van die manier waarop ander gemeentes sake hanteer het, het Paulus geskryf: “Wat? Het die woord van God miskien van julle uitgegaan, of het dit miskien net tot by julle gekom?” (1 Korintiërs 14:36). Paulus het hierdie retoriese vraag gebruik om hulle denke reg te stel en om hulle te help verstaan dat hulle nie onafhanklik moes optree nie. Gemeentes het gegroei en gefloreer wanneer hulle die leiding van die apostels gevolg het.—Handelinge 16:4, 5.
’n Blyk van God se liefde
Wat van vandag? Party huiwer dalk om by ’n godsdiensorganisasie aan te sluit. Maar die Bybel toon dat God nog altyd sy organisasie gebruik het om sy voorneme te volbring. Hy het sy aanbidders in eertydse Israel georganiseer, en hy het die vroeë Christene in hulle aanbidding georganiseer.
Is dit dan nie logies om te dink dat Jehovah God nog steeds sy volk lei, soos hy dit in die verlede gedoen het nie? Ja, die feit dat hy sy aanbidders organiseer en verenig, is ’n blyk van sy liefdevolle sorg vir hulle. Vandag gebruik Jehovah sy organisasie om sy voorneme met die mensdom te verwesenlik. Hoe kan sy organisasie geïdentifiseer word? Kyk na die volgende vereistes waaraan dit moet voldoen.
▪ Ware Christene is georganiseer om ’n werk uit te voer (Matteus 24:14; 1 Timoteus 2:3, 4). Jesus het sy volgelinge beveel om die goeie nuus van die Koninkryk aan al die nasies te verkondig, ’n taak wat onmoontlik sou wees sonder ’n internasionale organisasie. Ter toeligting, jy sou maklik op jou eie aan een persoon kos kon voorsien, maar as jy aan duisende, selfs miljoene, kos moes voorsien, sou jy ’n goed georganiseerde groep mense nodig hê wie se pogings gekoördineer word. Om hulle opdrag uit te voer, dien ware Christene “skouer aan skouer”, of “gee hulle mekaar hulle samewerking in [God se] diens” (Sefanja 3:9; Byington). Sou so ’n werk onder baie nasies, tale en rassegroepe moontlik wees sonder ’n verenigde organisasie? Die antwoord is voor die hand liggend.
▪ Ware Christene is georganiseer om mekaar te ondersteun en aan te moedig. ’n Bergklimmer wat op sy eie is, kan besluit waar hy wil klim, en hy hoef nie na minder ervare bergklimmers om te sien nie. Maar as hy ’n ongeluk het of in die moeilikheid beland, sal hy in ernstige gevaar verkeer omdat daar niemand is om hom te help nie. Dit is werklik onverstandig om jou af te sonder (Spreuke 18:1). Om Jesus se opdrag uit te voer, moet Christene mekaar help en ondersteun (Matteus 28:19, 20). Die Christengemeente voorsien lewensbelangrike Bybelonderrig, opleiding en aanmoediging sodat almal kan voortgaan en nie sal moed opgee nie. Waar sou ’n mens gaan om in Jehovah se weë onderrig te word as daar geen georganiseerde Christelike vergaderinge vir onderrigting en aanbidding was nie?—Hebreërs 10:24, 25.
▪ Ware Christene is georganiseer om God in eenheid te dien. Terwyl Jesus se skape na sy stem luister, word hulle “een kudde” onder sy leierskap (Johannes 10:16). Hulle is nie onder onafhanklike kerke en groepe verstrooi nie; en hulle is ook nie verdeeld oor leerstellige sake nie. Nee, hulle almal ‘praat eenstemmig’ (1 Korintiërs 1:10). Om in eenheid saam te woon, het ons orde nodig, en orde vereis organisasie. Slegs ’n verenigde broederskap kan God se seën hê.—Psalm 133:1, 3.
Opregte liefde vir God en liefde vir Bybelwaarheid het miljoene aangetrek tot ’n organisasie wat aan hierdie en ander vereistes in die Bybel voldoen. As ’n georganiseerde en verenigde groep mense, streef Jehovah se Getuies regoor die wêreld daarna om God se wil te doen. Hulle het vertroue in sy belofte: “Ek sal onder hulle woon en onder hulle wandel, en ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees” (2 Korintiërs 6:16). Jy kan ook hierdie wonderlike seëning geniet as jy Jehovah God saam met sy organisasie aanbid.
[Voetnote]
a ’n Mikron, of mikrometer, is een miljoenste van ’n meter.
b Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 214-220, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 13]
Die kamp van die Israeliete was goed georganiseer
[Prente op bladsye 14, 15]
Dit verg organisasie om die internasionale predikingswerk uit te voer
Deur-tot-deur-bediening
Noodleniging
Byeenkomste
Oprigting van plekke van aanbidding