‘Maak jou weg suksesvol’—Hoe?
“SUKSES”—’n treffende woord! Sommige mense het die korporatiewe leer geklim en het groot sukses behaal deur ryk te word en vir hulle ’n naam te maak. Ander het van sukses gedroom, maar hulle pogings het heeltemal misluk.
Sukses hang grotendeels af van wat jy die middelpunt van jou lewe maak. Twee ander belangrike faktore is hoe jy jou tyd en energie gebruik en of jy inisiatief aan die dag lê.
Baie Christene het gevind dat ’n volle aandeel aan die bediening hulle groot tevredenheid verskaf. Om die voltydse diens as ’n loopbaan te hê, het jonk en oud gehelp om suksesvol te wees. Tog voel sommige dat die bediening ietwat vervelig is en gee hulle dit ’n minder belangrike plek in hulle lewe terwyl hulle ander doelwitte nastreef. Waarom gebeur dit soms? Wat kan jy doen sodat jy nie die dinge wat werklik waardevol is, uit die oog verloor nie? En hoe kan jy “jou weg suksesvol maak”?—Jos. 1:8.
Buitemuurse bedrywighede en stokperdjies
Jong Christene moet die regte balans handhaaf tussen hulle diens aan die ware God en ander bedrywighede. Diegene wat dit doen, sal sukses in die lewe behaal en verdien om hartlik geprys te word.
Party jong Christene raak egter baie betrokke by buitemuurse bedrywighede en stokperdjies. Hierdie bedrywighede is dalk nie op sigself afkeurenswaardig nie. Maar jong Christene moet hulle afvra: ‘Hoeveel van my tyd sal hierdie bedrywighede in beslag neem? Met watter soort mense sal ek assosieer? Aan watter soort gees word ek blootgestel wanneer ek aan hierdie bedrywighede deelneem? En wat sal moontlik die middelpunt van my lewe word?’ Jy besef heel moontlik dat ’n mens so behep kan raak met hierdie bedrywighede dat jy min tyd of energie oor het om ’n verhouding met God te handhaaf. Jy kan dus sien waarom dit belangrik is om prioriteite te stel.—Ef. 5:15-17.
Beskou die geval van Wiktor.a Hy vertel: “Toe ek 12 was, het ek by ’n vlugbalklub aangesluit. Met verloop van tyd het ek baie pryse en toekennings gewen. Ek het die geleentheid gehad om ’n ster te word.” Wiktor het hom mettertyd begin bekommer oor die uitwerking wat sy najaging van die sport op sy geestelikheid het. Eendag het hy aan die slaap geraak terwyl hy die Bybel probeer lees het. En hy het besef dat hy min vreugde uit die veldbediening put. “Die sport het my van my energie beroof, en ek het gou besef dat dit my ook van my geestelike ywer beroof. Ek het geweet dat ek nie alles doen wat ek kan nie.”
Naskoolse opleiding?
’n Christen het ’n skriftuurlike verpligting om vir sy gesin te sorg, en dit sluit in dat hy in hulle materiële behoeftes voorsien (1 Tim. 5:8). Maar vereis dit werklik ’n kollegediploma of ’n universiteitsgraad?
Dit sal goed wees om te dink aan watter uitwerking naskoolse opleiding op jou verhouding met Jehovah kan hê. Kom ons lig dit toe met ’n skriftuurlike voorbeeld.
Barug was die profeet Jeremia se sekretaris. Op ’n stadium het Barug ambisieus geword in plaas daarvan om te fokus op die voorregte wat hy in sy diens aan Jehovah gehad het. Jehovah het dit gesien en hom deur Jeremia gewaarsku: “Jy hou aan om vir jou groot dinge te soek. Moet dit nie aanhou soek nie.”—Jer. 45:5.
Wat was die “groot dinge” wat Barug aanhou soek het? Hy het dalk in die versoeking gekom om vir hom ’n naam in die Joodse stelsel van dinge te maak. Of die groot dinge kon materiële voorspoed gewees het. Hoe dit ook al sy, hy het die belangriker dinge, dié wat geestelike waarde het, uit die oog verloor (Fil. 1:10). Maar dit is duidelik dat Barug na Jehovah se waarskuwing deur Jeremia geluister het en sodoende sy siel as buit gekry het.—Jer. 43:6.
Wat kan ons uit hierdie verslag leer? Die raad wat Barug ontvang het, toon dat daar iets geskort het. Hy het vir hom groot dinge gesoek. As jy jou kan onderhou, is dit dan werklik nodig om tyd, geld en inspanning aan verdere opleiding te wy net om jou eie ideale of dié van jou ouers of ander familielede te verwesenlik?
Kyk na die geval van Grzegorz, ’n rekenaarprogrammeerder. Hy is deur sy kollegas oorreed om ’n intensiewe kursus van bykomende gespesialiseerde opleiding te volg. Kort voor lank het hy geen tyd oorgehad vir geestelike bedrywighede nie. Hy vertel: “Ek het heeltyd gespanne gevoel. My gewete het my gepla omdat ek nie my geestelike doelwitte kon bereik nie.”
Te betrokke by sekulêre werk
God se Woord spoor ware Christene aan om hardwerkend te wees en om verantwoordelike werknemers en werkgewers te wees. Die apostel Paulus het geskryf: “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie” (Kol. 3:22, 23). Maar hoewel harde werk prysenswaardig is, is nog iets nodig—’n goeie verhouding met ons Skepper (Pred. 12:13). As ’n Christen te betrokke raak by sy sekulêre werk, kan geestelike strewes maklik vir hom minder belangrik word.
As ’n Christen te betrokke raak by sekulêre werk, kan dit hom beroof van die energie wat nodig is om sy geestelike balans te behou en sy gesin te help. Koning Salomo het gesê dat “’n dubbele hand vol harde werk” dikwels gepaardgaan met “’n gejaag na die wind”. As ’n Christen te betrokke is by ’n sekulêre loopbaan, kan hy op die ou end aan langdurige, ernstige stres ly. So iemand kan selfs so verslaaf raak aan sy loopbaan dat hy hom uitbrand. Kan hy, as dit gebeur, werklik ‘bly wees en die goeie sien vir al sy harde werk’? (Pred. 3:12, 13; 4:6). Nog belangriker, sal hy genoeg fisiese en emosionele energie oorhê om sy pligte in die gesin na te kom en om aan geestelike bedrywighede deel te neem?
Janusz, wat in Oos-Europa woon, het te betrokke geraak by sy tuiniersbesigheid. Hy vertel: “Wêreldse mense het my bewonder omdat ek baie inisiatief gehad het en elke toegewese taak kon voltooi. Maar my geestelikheid het daaronder gely, en ek het opgehou om velddiens te doen. Kort voor lank het ek ook opgehou om vergaderinge by te woon. Ek het so trots geword dat ek die raad van die ouer manne geïgnoreer het en my aan die gemeente onttrek het.”
Jy kan ’n sukses van jou lewe maak
Ons het drie gebiede bespreek waarby ’n Christen baie betrokke kan raak ten koste van sy geestelikheid. Is jy betrokke by enigeen daarvan? Dan kan die volgende vrae, tekste en kommentare jou help om vas te stel of jy werklik op die weg na sukses is.
Buitemuurse bedrywighede en stokperdjies: Hoe betrokke is jy by hierdie bedrywighede? Neem dit tyd in beslag wat jy voorheen aan geestelike strewes gewy het? Vind jy dat assosiasie met jou medegelowiges nie meer so aangenaam is nie? Indien wel, kan jy koning Dawid gerus navolg, wat Jehovah gesmeek het: “Maak aan my die weg bekend waarop ek moet wandel.”—Ps. 143:8.
’n Reisende opsiener het Wiktor, wat vroeër genoem is, gehelp. Die opsiener het vir hom gesê: “Jy praat baie geesdriftig oor jou vlugballoopbaan.” “Dit het my wakker geskud”, sê Wiktor. “Ek het besef dat ek te ver gegaan het. Ek het kort daarna opgehou om met wêreldse vriende by die klub te assosieer en het vriende in die gemeente gesoek.” Vandag dien Wiktor Jehovah ywerig in sy gemeente. Hy beveel aan: “Vra jou vriende, jou ouers of die gemeentelike ouer manne of hulle opgemerk het of jou skoolbedrywighede jou nader aan Jehovah laat kom en of dit jou van hom laat wegdryf.”
Waarom sê jy nie miskien vir die ouer manne in julle gemeente dat jy graag meer voorregte in jou diens aan God wil nastreef nie? Kan jy die bejaardes wat geselskap of hulp nodig het, ondersteun, miskien deur vir hulle inkopies of takies in hulle huis te doen? Dalk kan jy, ongeag jou ouderdom, aan die voltydse bediening deelneem en vir ander vertel wat die bron van jou vreugde is.
Naskoolse opleiding: Jesus het gewaarsku dat ’n mens nie ‘jou eie heerlikheid moet soek’ nie (Joh. 7:18). Het jy, ongeag wat jy besluit oor hoeveel sekulêre opleiding jy gaan verkry, ‘seker gemaak van die belangriker dinge’?—Fil. 1:9, 10.
Grzegorz, die rekenaarprogrammeerder, het veranderinge in sy lewe aangebring. Hy het gesê: “Ek het die ouer manne se raad ernstig opgeneem en my lewe vereenvoudig. Ek het besef dat ek nie nog sekulêre opleiding nodig het nie. Dit sou my net van tyd en energie beroof.” Grzegorz het meer betrokke geraak by gemeentelike bedrywighede. Hy het later gegradueer aan wat nou die Bybelskool vir Ongetroude Broers genoem word. Ja, hy ‘het die tyd uitgekoop’ om verdere goddelike opvoeding te verkry.—Ef. 5:16.
Sekulêre werk: Het jy so verdiep geraak in jou werk dat geestelike belange opsygeskuif word? Ruim jy genoeg tyd in om met jou gesin te kommunikeer? En verbeter jy die gehalte van jou toesprake in die gemeente? Voer jy opbouende gesprekke met ander? “Vrees die ware God en onderhou sy gebooie”, en jy sal Jehovah se ryk seën ontvang en ‘die goeie sien weens jou harde werk’.—Pred. 2:24; 12:13.
Janusz, wat vroeër gemeld is, het nie groot sukses in sy tuiniersbesigheid behaal nie; trouens, dit het misluk. Sonder enige inkomste en diep in die skuld het hy hom tot Jehovah gewend. Janusz het sy sake reggestel en dien nou as ’n gewone pionier en gemeentelike ouer man. Hy sê: “Wanneer ek met die noodsaaklike dinge tevrede is en terselfdertyd geestelik van myself gee, het ek gemoedsrus en ’n kalm hart.”—Fil. 4:6, 7.
Neem die tyd om jou beweegredes en prioriteite eerlik te beoordeel. Om Jehovah te dien, is die weg na lewenslange sukses. Maak dit die middelpunt van jou lewe.
Jy moet dalk aanpassings maak en selfs onnodige dinge uitskakel sodat jy seker kan maak wat “die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:2). Maar jy kan “jou weg suksesvol maak” deur hom heelhartig te dien.
[Voetnoot]
a Van die name is verander.
[Venster/Prent op bladsy 31]
Hoe kan jy jou weg suksesvol maak?
Daar is soveel dinge wat jou aandag kan aflei. Hoe kan jy dan voorkom dat jy die dinge wat werklik waardevol is, uit die oog verloor? Neem tyd om jou beweegredes en prioriteite te ondersoek deur oor die volgende vrae te peins:
BUITEMUURSE BEDRYWIGHEDE EN STOKPERDJIES
▪ Aan watter soort gesindhede word jy blootgestel wanneer jy aan hierdie bedrywighede deelneem?
▪ Hoeveel tyd neem dit in beslag?
▪ Kan dit die middelpunt van jou lewe word?
▪ Neem dit tyd in beslag wat jy voorheen aan geestelike bedrywighede gewy het?
▪ Met watter soort mense sal jy assosieer?
▪ Is dit vir jou aangenamer om met hulle te assosieer as met medegelowiges?
NASKOOLSE OPLEIDING
▪ As jy jou kan onderhou, is dit dan werklik nodig om tyd, geld en inspanning aan verdere opleiding te wy?
▪ Het jy werklik ’n kollegediploma of ’n universiteitsgraad nodig om jou te onderhou?
▪ Watter uitwerking sal dit op jou vergaderingbywoning hê?
▪ Het jy ‘seker gemaak van die belangriker dinge’?
▪ Moet jy jou vertroue opbou in Jehovah se vermoë om in jou behoeftes te voorsien?
SEKULÊRE WERK
▪ Laat jou keuse van werk jou toe om ‘bly te wees en die goeie te sien vir al jou harde werk’?
▪ Het jy genoeg fisiese en emosionele energie oor om jou pligte in die gesin na te kom en om aan geestelike bedrywighede deel te neem?
▪ Ruim jy genoeg tyd in om met jou gesin te kommunikeer?
▪ Het jy so verdiep geraak in jou werk dat geestelike sake opsygeskuif word?
▪ Het dit die gehalte van jou toesprake beïnvloed?
[Prent op bladsy 30]
Jehovah het Barug teen ambisie gewaarsku