LEWENSVERHAAL
Die voltydse bediening—Die seëninge wat dit vir my meegebring het
Wanneer ek terugdink aan die 65 jaar wat ek in die voltydse bediening was, kan ek werklik sê dat my lewe vol aangename dae was. Dit beteken nie dat daar nie hartseer dae en dae van ontmoediging was nie (Ps. 34:12; 94:19). Maar oor die algemeen was my lewe baie lonend en sinvol!
EK HET op 7 September 1950 by die Brooklynse Bethel begin dien. Op daardie stadium het die Bethelgesin bestaan uit 355 broers en susters van verskillende nasionaliteite wat tussen die ouderdomme van 19 en 80 was. Baie van hulle was gesalfde Christene.
HOE EK JEHOVAH BEGIN DIEN HET
By my doop, toe ek 10 was
Ek het by my ma geleer om ons “gelukkige God” te dien (1 Tim. 1:11). Sy het Jehovah begin dien toe ek ’n jong seun was. Ek is op 1 Julie 1939, op tienjarige ouderdom, by ’n sonebyeenkoms (wat nou ’n kringbyeenkoms genoem word) in Columbus, Nebraska, VSA, gedoop. Sowat honderd van ons het by ’n gehuurde saal bymekaargekom om te luister na ’n opname van die toespraak “Fascism or Freedom”, wat deur Joseph Rutherford gehou is. Halfpad deur die toespraak het ’n oproerige skare buite die klein saal saamgedrom. Hulle het ingestorm, ons vergadering opgebreek en ons uit die dorp uitgedryf. Toe het ons bymekaargekom op ’n broer se plaas wat nie ver uit die dorp was nie en na die res van die program geluister. Soos jy jou kan indink, het ek nooit my doopdag vergeet nie!
My ma het haar verantwoordelikheid pligsgetrou nagekom om my in die waarheid groot te maak. Hoewel my pa ’n goeie man en ’n goeie pa was, het hy min belangstelling in godsdiens of in my geestelike welsyn getoon. My ma en ander Getuies in die Omaha-gemeente het my die aanmoediging gegee wat ek so nodig gehad het.
EK BETREE DIE VOLTYDSE DIENS
Toe ek amper klaar was met hoërskool, moes ek besluit wat ek met my lewe gaan doen. Gedurende elke somervakansie het ek en ander van my ouderdom vakansiepionierdiens gedoen (wat nou hulppionierdiens genoem word).
Twee jong, ongetroude broers wat kort tevore aan die sewende klas van die Gileadskool gegradueer het—John Chimiklis en Ted Jaracz—is as reisende opsieners in ons gebied aangestel. Ek was verbaas om uit te vind dat hulle maar net in hulle vroeë 20’s was. Ek was 18 en was amper klaar met hoërskool. Ek kan nog onthou toe broer Chimiklis my gevra het wat ek met my lewe gaan doen. Toe ek vir hom gesê het, het hy my aangespoor: “Ja, betree onmiddellik die voltydse bediening. Jy weet nooit watter seëninge dit vir jou sal meebring nie.” Daardie raad, asook die goeie voorbeeld van hierdie broers, het ’n diep indruk op my gemaak. Ek het dus in 1948 begin pionier, nadat ek met hoërskool klaargemaak het.
HOE EK BETHEL TOE GEKOM HET
In Julie 1950 het ek en my ouers die internasionale byeenkoms by die Yankee-stadion in die stad New York bygewoon. By die byeenkoms het ek die vergadering bygewoon vir diegene wat in Betheldiens belangstel. Ek het ’n brief ingegee waarin ek gesê het dat ek graag daar sal wil dien.
Hoewel my pa nie daarteen gekant was dat ek pionier terwyl ek by hulle woon nie, wou hy gehad het dat ek ’n redelike bedrag vir kos en verblyf moes bydra. Toe ek op ’n dag vroeg in Augustus op pad uit was om werk te gaan soek, het ek eers in ons posbus gekyk. Daar was ’n brief vir my van Brooklyn. Dit was onderteken deur Nathan H. Knorr, wat geskryf het: “Ons het jou Bethelaansoek ontvang. Jy stem natuurlik in om by Bethel te bly totdat die Here jou wegneem. Ek wil dus hê dat jy op 7 September 1950 by Bethel, 124 Columbia Heights, Brooklyn, New York, moet aanmeld.”
Toe my pa daardie dag van die werk af gekom het, het ek vir hom gesê dat ek werk gevind het. Hy het gesê: “Dis goed, waar gaan jy werk?” Ek het geantwoord: “By Brooklynse Bethel, teen $10,00 ’n maand.” Hy was ’n bietjie geskok, maar hy het gesê dat ek ’n sukses daarvan moet probeer maak as dit is wat ek wil doen. Nie lank daarna nie is hy gedoop by die byeenkoms wat in 1953 by die Yankee-stadion gehou is!
Met my pioniermaat, Alfred Nussrallah
Ek was bly dat my pioniermaat, Alfred Nussrallah, op dieselfde tyd Bethel toe genooi is, en ons het saam soontoe gereis. Hy het later getrou, en hy en sy vrou, Joan, het Gilead bygewoon, daarna as sendelinge in Libanon gaan dien en toe na die Verenigde State teruggekeer en die reisende werk gedoen.
BETHELTOEWYSINGS
My eerste toewysing by Bethel was in die Boekbindery waar ek boeke aanmekaargewerk het. Die eerste publikasie waaraan ek gewerk het, was die boek Wat het godsdiens vir die mensdom gedoen? Nadat ek sowat agt maande by die boekbindery gewerk het, het ek ’n toewysing in die Diensafdeling ontvang waar ek onder die leiding van broer Thomas J. Sullivan gewerk het. Ek het dit geniet om saam met hom te werk en om baat te vind by die geestelike wysheid en insig wat hy oor die jare in die organisasie verkry het.
Nadat ek amper drie jaar in die Diensafdeling gewerk het, het Max Larson, die fabrieksopsiener, vir my gesê dat broer Knorr my wil sien. Ek het gewonder of ek iets verkeerds gedoen het. Ek was verlig toe broer Knorr my gevra het of ek beplan om Bethel in die afsienbare toekoms te verlaat. Hy het iemand nodig gehad om tydelik in sy afdeling te werk en wou sien of ek die toewysing kon behartig. Ek het gesê dat ek nie van plan is om Bethel te verlaat nie. Op die ou end het ek die voorreg gehad om die volgende 20 jaar saam met hom te werk.
Ek het al dikwels gesê dat ek nooit sou kon betaal het vir die opleiding wat ek ontvang het terwyl ek saam met broer Sullivan en Knorr gewerk het nie, sowel as ander broers by Bethel, soos Milton Henschel, Klaus Jensen, Max Larson, Hugo Riemer en Grant Suiter.a
Die broers saam met wie ek gedien het, was baie goed georganiseerd ten opsigte van die werk wat hulle vir die organisasie verrig het. Broer Knorr was ’n harde werker wat graag wou hê dat die Koninkrykswerk sover moontlik moes uitbrei. Diegene wat in sy afdeling gewerk het, het gevind dat dit maklik was om met hom te praat. Selfs as ons ’n ander beskouing van ’n saak gehad het, kon ons ons vryelik uitspreek en nog steeds sy vertroue hê.
Eenkeer het broer Knorr met my gepraat oor die belangrikheid daarvan om op klein dingetjies te let. Byvoorbeeld, hy het my vertel dat broer Rutherford, toe hy die fabrieksopsiener was, hom van tyd tot tyd gebel het en gesê het: “Broer Knorr, bring vir my ’n paar uitveërs saam wanneer jy etenstyd van die fabriek af kom. Ek het dit op my lessenaar nodig.” Broer Knorr het gesê dat hy dan onmiddellik na die voorraadkamer gegaan het, die uitveërs gaan haal het en dit in sy sak gesit het. Dan het hy dit etenstyd na broer Rutherford se kantoor geneem. Dit was so ’n klein dingetjie, maar dit was vir broer Rutherford van nut. Toe het broer Knorr vir my gesê: “Ek hou daarvan om skerp potlode op my lessenaar te hê. Maak asseblief seker dat dit elke oggend daar is.” Ek het jare lank seker gemaak dat sy potlode skerp is.
Broer Knorr het dikwels gepraat oor die belangrikheid daarvan om mooi te luister wanneer ons gevra word om ’n sekere taak uit te voer. Eenkeer het hy my duidelike instruksies gegee oor hoe om ’n sekere saak te hanteer, maar ek het nie mooi geluister nie. Gevolglik het ek hom in groot verleentheid gestel. Ek het baie sleg gevoel, en daarom het ek ’n kort brief geskryf waarin ek gesê het dat ek baie spyt is oor wat ek gedoen het en dat ek voel dat dit beter sal wees as ek in ’n ander afdeling gaan werk. Later daardie oggend het broer Knorr na my lessenaar toe gekom. “Robert”, het hy gesê, “ek het jou brief. Jy het ’n fout gemaak. Ek het met jou daaroor gepraat, en ek is seker dat jy in die toekoms versigtiger sal wees. Kom ons spring nou aan die werk.” Ek het sy liefdevolle benadering baie waardeer.
’N BEGEERTE OM TE TROU
Nadat ek agt jaar lank by Bethel gedien het, wou ek niks anders doen as om in Betheldiens te bly nie. Maar dit het verander. Ongeveer die tyd van die internasionale byeenkoms by die Yankee-stadion en die Polo-terrein in 1958 het ek weer vir Lorraine Brookes raakgeloop, ’n suster wat ek in 1955 ontmoet het toe sy in Montreal, Kanada, gepionier het. Ek was beïndruk met haar gesindheid teenoor die voltydse diens en haar bereidwilligheid om enige plek te gaan dien waar Jehovah se organisasie haar wou stuur. Dit was Lorraine se doelwit om die Gileadskool by te woon. In 1956, toe sy 22 was, is sy genooi om die 27ste klas by te woon. Nadat sy gegradueer het, is sy as ’n sendeling na Brasilië gestuur. Ek en Lorraine het in 1958 weer met mekaar in aanraking gekom, en sy het my huweliksaanbod aanvaar. Ons was van plan om die volgende jaar te trou en hopelik saam as sendelinge te dien.
Toe ek vir broer Knorr van my planne vertel het, het hy voorgestel dat ons drie jaar wag voordat ons trou en dat ons dan by die Brooklynse Bethel dien. As ’n paartjie destyds ná hulle troue by Bethel wou aanbly, moes een van hulle al ten minste tien jaar by Bethel gedien het, en die ander ten minste drie jaar. Lorraine het dus ingestem om twee jaar lank by die Bethel in Brasilië en een jaar by die Brooklynse Bethel te dien voordat ons trou.
Die enigste manier waarop ons gedurende die eerste twee jaar ná ons verlowing met mekaar in aanraking kon bly, was deur briewe te skryf. Dit was te duur om te bel, en destyds was daar nog nie e-pos nie! Toe ons op 16 September 1961 getrou het, was ons bevoorreg dat broer Knorr ons troutoespraak gehou het. Om daardie paar jaar te wag, het wel soos ’n lang tyd gevoel. Maar wanneer ons nou met baie tevredenheid en vreugde op meer as 50 jaar van die getroude lewe terugkyk, is ons dit eens dat dit beslis die moeite werd was!
Ons troudag. Van links: Nathan H. Knorr, Patricia Brookes (Lorraine se suster), Lorraine, ek, Curtis Johnson, Faye en Roy Wallen (my ouers)
DIENSVOORREGTE
In 1964 het ek die diensvoorreg ontvang om ander lande as ’n sone-opsiener te besoek. Op daardie stadium kon vrouens nie hulle mans op hierdie reise vergesel nie. In 1977 het dit verander, en vrouens het saam met hulle mans begin reis. Daardie jaar het ek en Lorraine saam met Grant en Edith Suiter takkantore besoek in Duitsland, Oostenryk, Griekeland, Siprus, Turkye en Israel. Altesaam het ek al sowat 70 lande regoor die wêreld besoek.
Op een van hierdie reise, toe ons Brasilië in 1980 besoek het, het ons by Belém aangedoen, ’n stad op die ewenaar waar Lorraine voorheen as ’n sendeling gedien het. Ons het ook die broers in Manaus besoek. By een toespraak wat in ’n stadion gehou is, het ’n groep saamgesit wat nie die gewone Brasiliaanse gebruik gevolg het dat vroue mekaar op die wang soen en broers mekaar die hand gee nie. Waarom nie?
Hulle was ons dierbare mede-Getuies van ’n melaatsekolonie wat diep in die Amasonereënwoud geleë is. Om veiligheidsredes het hulle direkte kontak met ander vermy. Maar hulle het beslis ons hart geraak, en ons sal nooit die vreugde op hulle gesigte vergeet nie! Hoe waar is die woorde van Jesaja tog: “My knegte sal met vreugde uitroep weens die goeie toestand van die hart.”—Jes. 65:14.
’N LONENDE EN SINVOLLE LEWE
Ek en Lorraine dink dikwels terug aan die meer as ses dekades van toegewyde diens wat ons aan Jehovah verrig het. Die seëninge wat ons ontvang het omdat ons toegelaat het dat Jehovah ons deur middel van sy organisasie rig, verskaf ons groot vreugde. Hoewel ek nie meer regoor die wêreld kan reis soos in vorige jare nie, kan ek nog my daaglikse werk as ’n helper van die Bestuursliggaam behartig, wat behels dat ek saam met die Koördineerderskomitee en Dienskomitee werk. Ek waardeer terdeë die voorreg om ’n klein aandeel daaraan te hê om die wêreldwye broederskap so te ondersteun. Dit verbaas ons steeds om die groot aantal jong mans en vroue te sien wat die voltydse diens betree het met die gesindheid van Jesaja, wat gesê het: “Hier is ek! Stuur my”! (Jes. 6:8). Hierdie skare sal dit sekerlik eens wees met ’n kringopsiener wat lank gelede vir my gesê het: “Betree onmiddellik die voltydse bediening. Jy weet nooit watter seëninge dit vir jou sal meebring nie.”
a Vir die lewensverhale van party van hierdie broers, sien die volgende nommers van The Watchtower: Thomas J. Sullivan (15 Augustus 1965); Klaus Jensen (15 Oktober 1969); Hugo Riemer (15 September 1964); asook van Die Wagtoring: Grant Suiter (15 November 1983) en Max Larson (1 September 1989).