Bou ’n sterk en gelukkige huwelik
“As Jehovah nie die huis bou nie, het die bouers tevergeefs hard daaraan gewerk.”—PS. 127:1a.
1-3. Voor watter uitdagings kom egpare te staan? (Sien prent aan begin van artikel.)
“AS JY jou werklik inspan en toon dat jy wil hê dat jou huwelik ’n sukses moet wees, kan jy Jehovah se seën geniet”, sê ’n man wat al 38 jaar lank gelukkig getroud is. Ja, ’n egpaar kan gelukkig wees en mekaar gedurende moeilike tye ondersteun.—Spr. 18:22.
2 Maar egpare sal wel ’n mate van “verdrukking in hulle vlees” ervaar (1 Kor. 7:28). Waarom? Aangesien selfs alledaagse probleme spanning in die huwelik kan veroorsaak. Seergemaakte gevoelens, misverstande en swak kommunikasie as gevolg van die onvolmaakte tong kan selfs in die gelukkigste huwelik uitdagings bied (Jak. 3:2, 5, 8). Baie egpare het ook ’n veeleisende werk en moet boonop na hulle kinders omsien. Stres en uitputting maak dit moeilik vir party egpare om tyd te maak om hulle huwelik te versterk. Hulle liefde en respek vir mekaar kan geleidelik ondermyn word deur finansiële probleme, gesondheidsprobleme of ander teëspoed. Wat meer is, die grondslag van ’n skynbaar sterk huwelik kan verswak word deur “die werke van die vlees”, soos seksuele onsedelikheid, losbandige gedrag, vyandskap, twis, jaloesie, vlae van toorn en rusies.—Gal. 5:19-21.
3 Om sake te vererger, word “die laaste dae” gekenmerk deur selfsugtige, slegte gesindhede wat soos gif vir ’n huwelik is (2 Tim. 3:1-4). En dan moet huwelike ook nog die volgehoue aanslae van ’n bose vyand weerstaan. Die apostel Petrus waarsku ons: “Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind.”—1 Pet. 5:8; Op. 12:12.
4. Hoe is dit moontlik om ’n sterk en gelukkige huwelik te hê?
4 ’n Man in Japan erken: “Ek het baie finansiële druk ondervind. En omdat ek nie werklik met my vrou gekommunikeer het nie, het dit ook op haar groot druk geplaas. Sy het onlangs ook ernstige gesondheidsprobleme gehad. Hierdie stres het soms veroorsaak dat ons stry.” Party uitdagings in ’n huwelik is onvermydelik, maar dit kan die hoof gebied word. Met Jehovah se hulp kan egpare ’n sterk en gelukkige huwelik hê. (Lees Psalm 127:1.) Kom ons bespreek vyf geestelike boublokke vir ’n sterk en blywende huwelik. Dan sal ons bespreek hoe liefde die messelklei kan wees wat hierdie boublokke saambind.
MAAK JEHOVAH DEEL VAN JULLE HUWELIK
5, 6. Hoe kan ’n man en vrou Jehovah deel van hulle huwelik maak?
5 Die hoeksteen van ’n sterk huwelik is lojaliteit en onderdanigheid aan die Insteller van die huwelik. (Lees Prediker 4:12.) ’n Man en vrou kan Jehovah deel van hulle huwelik maak deur Sy liefdevolle leiding te volg. Die Bybel sê aangaande God se eertydse volk: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop’, ingeval julle regs sou gaan of ingeval julle links sou gaan” (Jes. 30:20, 21). Vandag kan egpare Jehovah se woord “hoor” deur God se Woord saam te lees (Ps. 1:1-3). Hulle kan hulle huwelik verder versterk deur middel van ’n program vir Gesinsaanbidding wat genotvol sowel as geestelik verkwikkend is. En wanneer ’n egpaar elke dag saam bid, bou hulle ’n huwelik wat die aanslae van Satan se wêreld kan weerstaan.
Deur geestelike dinge saam te doen, bly egpare na aan God en na aan mekaar in ’n hegte en gelukkige verbintenis (Sien paragrawe 5, 6)
6 “Wanneer persoonlike probleme of misverstande ons vreugde gedemp het”, sê Gerhard in Duitsland, “het die raad in God se Woord ons gehelp om geduld aan te kweek en vergewensgesind te wees. Hierdie eienskappe is noodsaaklik vir ’n suksesvolle huwelik.” Wanneer egpare hulle inspan om God in hulle huwelik te hou deur geestelike dinge saam te doen, bly hulle na aan God en na aan mekaar in ’n hegte en gelukkige verbintenis.
MANS MOET HULLE HOOFSKAP LIEFDEVOL UITOEFEN
7. Hoe moet mans hulle hoofskap uitoefen?
7 Die manier waarop ’n man sy hoofskap uitoefen, kan grootliks help om ’n sterk en gelukkige huwelik te bou. Die Bybel sê dat “die Christus die hoof is van elke man; en die man is die hoof van die vrou” (1 Kor. 11:3). Hierdie woorde toon hoe mans hulle hoofskap moet uitoefen—net soos Christus sy gesag oor die man uitoefen. Jesus was nooit baasspelerig of hardvogtig nie, maar was altyd liefdevol, goedhartig, redelik, sagmoedig en nederig van hart.—Matt. 11:28-30.
8. Hoe kan ’n man sy vrou se liefde en respek wen?
8 Christenmans hoef nie herhaaldelik daarop aan te dring dat hulle vrouens hulle respekteer nie. Hulle gaan eerder voort “om ooreenkomstig kennis met hulle saam te woon [bedagsaam teenoor hulle te wees; hulle te verstaan, vtn. in NW]”. Hulle ‘ken eer aan hulle toe as ’n swakker vat, die vroulike’ (1 Pet. 3:7). In die openbaar en ook wanneer hulle alleen is, toon ’n man deur sy respekvolle woorde en bedagsame dade dat sy vrou vir hom kosbaar is (Spr. 31:28). As ’n man sy hoofskap op so ’n liefdevolle wyse uitoefen, sal hy sy vrou se liefde en respek wen en sal God die huwelik seën.
VROUENS MOET NEDERIGE ONDERDANIGHEID TOON
9. Hoe kan ’n vrou nederige onderdanigheid toon?
9 Onselfsugtige, beginselvaste liefde vir Jehovah help ons om ons onder sy magtige hand te verneder (1 Pet. 5:6). ’n Belangrike manier waarop ’n onderdanige vrou respek vir Jehovah se gesag toon, is om met haar man saam te werk en hom te ondersteun. Die Bybel sê: “Vrouens, wees onderdanig aan julle mans, soos dit betaamlik is in die Here” (Kol. 3:18). ’n Vrou sal natuurlik nie van al haar man se besluite hou nie. Maar as sy besluite nie in stryd is met God se wette nie, sal ’n onderdanige vrou bereid wees om toe te gee.—1 Pet. 3:1.
10. Waarom is liefdevolle onderdanigheid belangrik?
10 ’n Vrou beklee ’n eerbare posisie as haar man se “metgesel” (Mal. 2:14). Wanneer gesinsbesluite geneem moet word, voorsien sy waardevolle insette deur haar gedagtes en gevoelens op ’n respekvolle wyse uit te spreek, maar terselfdertyd onderdanig te bly. ’n Verstandige man sal aandagtig luister na wat sy vrou sê (Spr. 31:10-31). Liefdevolle onderdanigheid bevorder vreugde, vrede en eenheid in die gesin en dra by tot die egpaar se geluk omdat hulle weet dat hulle God behaag.—Ef. 5:22.
HOU AAN OM MEKAAR VRYELIK TE VERGEWE
11. Waarom is dit noodsaaklik om vergewensgesind te wees?
11 Vergewensgesindheid is een van die noodsaaklike boublokke van ’n blywende huwelik. Die huwelik word versterk wanneer ’n man en vrou aanhou “om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe” (Kol. 3:13). Maar wanneer ’n egpaar ou wrokke bly koester en dit dikwels as ammunisie gebruik, kan dit hulle verhouding ondermyn. Net soos krake ’n gebou kan verswak, kan wrokke en kwade gevoelens in ons hart wortelskiet en dit al hoe moeiliker maak om vergewensgesind te wees. Daarenteen word ’n sterk huweliksband gesmee wanneer ’n man en vrou mekaar vergewe, soos Jehovah hulle vergewe.—Miga 7:18, 19.
12. Hoe ‘bedek die liefde ’n menigte sondes’?
12 Ware liefde “hou nie boek van die kwaad nie”. Trouens, “die liefde bedek ’n menigte sondes”. (1 Kor. 13:4, 5; lees 1 Petrus 4:8.) Met ander woorde, die liefde plaas nie ’n beperking op die aantal sondes wat ons kan vergewe nie. Toe die apostel Petrus gevra het hoeveel keer hy iemand moet vergewe, het Jesus geantwoord: “Tot sewe-en-sewentig keer” (Matt. 18:21, 22). Hy het getoon dat daar feitlik geen beperking is op die aantal kere dat ’n Christen ander moet vergewe nie.—Spr. 10:12.a
13. Hoe kan ons ’n onvergewensgesinde gees teëwerk?
13 “As ’n egpaar mekaar nie wil vergewe nie,” sê Annette, “bou gegriefdheid en wantroue op, en dit is gif vir ’n huwelik. Vergewensgesindheid versterk die huweliksband en maak julle verhouding hegter.” Om ’n onvergewensgesinde gees teë te werk, moet ’n egpaar daarna streef om ’n dankbare en waarderende gesindheid te hê. Maak ’n gewoonte daarvan om jou huweliksmaat opreg te prys (Kol. 3:15). Vergewensgesindheid bring gemoedsrus, eenheid en God se seën mee.—Rom. 14:19.
PAS DIE GULDE REËL TOE
14, 15. Wat is die Gulde Reël, en hoe kan dit ’n huwelik versterk?
14 Jy hou ongetwyfeld daarvan om met waardigheid en respek behandel te word. Jy waardeer dit wanneer jou mening erken word en jou gevoelens in ag geneem word. Maar het jy al iemand hoor sê: “Ek gaan hom ’n smakie van sy eie medisyne gee”? Hoewel ’n mens soms kan verstaan dat iemand so voel, sê die Bybel vir ons: “Moenie sê nie: ‘Net soos hy aan my gedoen het, so gaan ek aan hom doen’” (Spr. 24:29). Trouens, Jesus het aanbeveel dat ons moeilike situasies op ’n positiewer manier hanteer. Hierdie gedragsreël is so welbekend dat dit dikwels die Gulde Reël genoem word: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen” (Luk. 6:31). Jesus het bedoel dat ons mense moet behandel soos ons behandel wil word en nie kwaad met kwaad moet vergeld nie. Wanneer dit kom by die huwelik, beteken dit dat ons in die verhouding moet insit wat ons hoop om daaruit te kry.
15 Egpare versterk hulle verhouding wanneer hulle ingestel is op hulle maat se gevoelens. “Ons probeer die Gulde Reël toepas”, sê ’n man in Suid-Afrika. “Soms raak ons wel ontsteld, maar ons doen ons bes om mekaar te behandel soos ons behandel wil word—met respek en waardigheid.”
16. Wat moet huweliksmaats nie aan mekaar doen nie?
16 Moenie jou maat se swakhede blootlê of hamer op sy gewoontes wat jou irriteer nie—nie eens as ’n grap nie. Onthou dat die huwelik nie ’n kompetisie is om uit te vind wie die sterkste is, wie die hardste kan skreeu of wie die bitsigste aanmerking kan maak nie. Ons almal het weliswaar foute, en soms ontstel ons ander. Maar niks kan ooit regverdig dat ’n man of vrou sarkastiese en vernederende aanmerkings maak, of nog erger, mekaar rondstamp of slaan nie.—Lees Spreuke 17:27; 31:26.
17. Hoe kan mans die Gulde Reël volg?
17 Mans wat hulle vrouens afknou of slaan, word in party kulture as manlik beskou, maar die Bybel sê: “Hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man, en hy wat sy gees beheers, as die een wat ’n stad inneem” (Spr. 16:32). Dit verg baie sedelike krag om die grootste mens wat nog gelewe het, Jesus Christus, na te volg en om jou gees te beheers. ’n Man wat sy vrou aan mondelinge of fisiese mishandeling onderwerp, is allesbehalwe manlik, en hy sal sy verhouding met Jehovah verloor. Die psalmis Dawid, wat self ’n sterk en moedige man was, het gesê: “Wees ontsteld, maar moenie sondig nie. Sê wat julle te sê het in julle hart, op julle bed, en bly stil.”—Ps. 4:4.
‘BEKLEE JULLE MET LIEFDE’
18. Waarom is dit belangrik om aan te hou om liefde aan te kweek?
18 Lees 1 Korintiërs 13:4-7. Liefde is die belangrikste eienskap in ’n huwelik. “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kol. 3:12, 14). Selfopofferende, Christelike liefde is die messelklei wat die boublokke van ’n sterk huwelik saambind. Dit maak die huwelik onbreekbaar ten spyte van irriterende persoonlikheidsgebreke, ernstige gesondheidsprobleme, angswekkende finansiële krisisse en probleme met skoonouers.
19, 20. (a) Hoe kan egpare daarin slaag om ’n sterk en gelukkige huwelik te bou? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
19 Dit verg weliswaar liefdevolle en lojale toegewydheid en ywerige inspanning om ’n huwelik te laat slaag. Maar in plaas van die huwelik te verlaat wanneer probleme ontstaan, moet huweliksmaats vasbeslote wees om hulle verhouding op te bou—eerder as om dit net aan die gang te hou. Christenegpare wat toegewy is aan Jehovah en aan mekaar, word deur hulle liefde vir God en vir mekaar beweeg om hulle probleme op te los, want “die liefde faal nooit nie”.—1 Kor. 13:8; Matt. 19:5, 6; Heb. 13:4.
20 Dit is ’n baie groot uitdaging om ’n sterk en gelukkige huwelik te bou in die “kritieke tye” waarin ons lewe (2 Tim. 3:1). Maar met Jehovah se hulp is dit moontlik. Egpare het egter ook met die wêreld se wydverspreide sedelike verval te kampe. Die volgende artikel sal bespreek wat ’n man en vrou kan doen om die geestelike verdedigingstelsel van hulle huwelik te versterk.
a Hoewel egpare probeer om vergewensgesind te wees en hulle probleme op te los, toon die Bybel dat ’n onskuldige maat die reg het om te besluit om ’n owerspelige maat te vergewe of om van hom of haar te skei (Matt. 19:9). Sien die artikel “Die Bybelse beskouing: Egbreuk—Moet dit vergewe word of nie?” in die Ontwaak! van 8 Augustus 1995.