Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w16 Desember bl. 3-7
  • Ek word “alles vir alle soorte mense”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek word “alles vir alle soorte mense”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • EK BEGIN JEHOVAH DIEN
  • ’N TOEWYSING IN DIE BUITELAND
  • TOEWYSINGS WAT VERDERE AANPASSINGS GEVERG HET
  • EK MAAK NOG STEEDS AANPASSINGS
  • Ek laat dinge agter om Christus te volg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Ek het dit geniet om oor Jehovah te leer en om ander van hom te leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Jehovah het my geleer om sy wil te doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Ons het God se onverdiende goedhartigheid op baie maniere ondervind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
w16 Desember bl. 3-7

LEWENSVERHAAL

Ek word “alles vir alle soorte mense”

Soos vertel deur Denton Hopkinson

Denton Hopkinson as ’n jong man

“As jy jou laat doop, verlaat ek jou!” In 1941 het my pa my ma met hierdie woorde gedreig. Sy het nogtans besluit om haar te laat doop as ’n simbool van haar toewyding aan Jehovah God. My pa het sy dreigement uitgevoer en my ma verlaat. Ek was toe maar net agt jaar oud.

EK HET reeds ’n rukkie tevore in Bybelwaarheid begin belangstel. My ma het Bybelpublikasies gehad, en ek het baie daarvan gehou, veral van die prente. My pa wou nie hê dat my ma met my moet praat oor wat sy geleer het nie. Maar ek was nuuskierig en het vrae gevra. Daarom het sy met my gestudeer wanneer my pa nie by die huis was nie. Gevolglik het ek besluit om my lewe aan Jehovah toe te wy. Ek is in 1943 in Blackpool, Engeland, gedoop toe ek tien was.

EK BEGIN JEHOVAH DIEN

Van toe af het ek en my ma gereeld saam velddiens gedoen. Ons het grammofone gebruik om die Bybelboodskap aan mense oor te dra. ’n Grammofoon was redelik groot en het omtrent 4,5 kilogram geweeg. Stel jou net voor hoe snaaks dit gelyk het wanneer ek, ’n jong seun, so ’n groot toestel rondgedra het!

Teen die tyd dat ek 14 jaar oud was, wou ek graag pionier. My ma het gesê dat ek eers moet praat met die kneg vir die broers (wat nou ’n kringopsiener genoem word). Hy het voorgestel dat ek eers ’n vaardigheid aanleer om my in die pionierdiens te onderhou. Ek het dit gedoen. Nadat ek twee jaar lank gewerk het, het ek weer met ’n kringopsiener oor pionierdiens gepraat. Hy het gesê: “Doen dit!”

Ek en my ma het dus in April 1949 van ons meubels ontslae geraak en ons huurhuis opgegee. Toe het ons getrek na Middleton, naby Manchester, waar ons begin pionier het. Vier maande later het ek ’n broer gevra om my pioniermaat te wees. Die takkantoor het voorgestel dat ons na ’n nuwe gemeente in Irlam trek. My ma het saam met ’n suster in ’n ander gemeente gepionier.

Al was ek net 17 jaar oud, moes ek en my pioniermaat die vergaderinge hou omdat daar nie juis bekwame broers in die nuwe gemeente was nie. Later is ek genooi om in die Buxton-gemeente te gaan dien, waar min verkondigers was en wat hulp nodig gehad het. Ek het die ondervinding wat ek in daardie vroeë jare opgedoen het, nog altyd beskou as opleiding vir toekomstige toewysings.

Denton Hopkinson en ander adverteer ’n openbare toespraak in 1953

Ek en ’n paar ander adverteer ’n openbare toespraak in Rochester, New York, 1953

In 1951 het ek aansoek gedoen om die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon. Maar in Desember 1952 is ek vir militêre diensplig opgeroep. Ek het vrystelling probeer verkry, aangesien ek ’n voltydse prediker was, maar die hof wou my nie as ’n prediker erken nie en het my tot ses maande tronkstraf gevonnis. Terwyl ek daar was, het ek ’n uitnodiging ontvang om die 22ste klas van Gilead by te woon. In Julie 1953 was ek dus op pad na New York op ’n stoomskip met die naam Georgic.

Toe ek in New York aangekom het, kon ek die Nuwewêreldgemeenskap-byeenkoms bywoon. Daarna het ek per trein vertrek na South Lansing, New York, waar die skool gehou is. Omdat ek kort tevore uit die tronk gekom het, het ek min geld gehad. Toe ek van die trein afgeklim het, is ek met ’n bus na South Lansing. Ek moes die busgeld van 25 sent by ’n medepassasier leen.

’N TOEWYSING IN DIE BUITELAND

Die Gileadskool het wonderlike opleiding voorsien om ons te help om “alles vir alle soorte mense” te word (1 Kor. 9:22). Drie van ons—ek, Paul Bruun en Raymond Leach—het die toewysing ontvang om in die Filippyne te gaan dien. Ons moes ’n paar maande vir ons visums wag; toe het ons op ’n skip geklim wat na Manila gevaar het via Rotterdam, die Middellandse See, die Suezkanaal, die Indiese Oseaan, Maleisië en Hongkong. Ons was 47 dae op see! Ons het Manila uiteindelik op 19 November 1954 bereik.

Denton Hopkinson en Raymond Leach op ’n skip in 1954

Ek en my sendelingmaat Raymond Leach het 47 dae per skip na die Filippyne gereis

Toe moes ons aanpas by nuwe mense, ’n nuwe land en selfs ’n nuwe taal. Maar ons drie het aanvanklik gedien in ’n gemeente in Quezon City, waar baie van die inwoners Engels gepraat het. Gevolglik kon ons ná ses maande bitter min Tagalog praat. Ons volgende toewysing sou ons help om hierdie probleem te oorkom.

Op ’n dag in Mei 1955 het ek en broer Leach ’n pakkie briewe in ons kamer gekry toe ons ná velddiens by die huis gekom het. Ons het uitgevind dat ons as kringopsieners aangestel word. Ek was net 22 jaar oud, maar hierdie toewysing het my die geleentheid gegee om op nuwe maniere “alles vir alle soorte mense” te word.

Denton Hopkinson hou ’n openbare toespraak

Ek hou ’n openbare toespraak by ’n kringbyeenkoms in die Bicol-taal

Byvoorbeeld, ek het my eerste openbare toespraak as kringopsiener in die buitelug voor ’n winkel gehou. Ek het gou geleer dat dit destyds die gebruik in die Filippyne was om openbare toesprake regtig in die openbaar te hou! Wanneer ek verskillende gemeentes in die kring besoek het, het ek toesprake gehou onder afdakke, op markpleine, voor munisipale sale, op basketbalbane, in parke en dikwels op straathoeke. Toe ek eenkeer in San Pablo was, het dit gereën en kon ek nie die toespraak op ’n openbare markplein hou nie. Ek het aan die verantwoordelike broers voorgestel dat ek die toespraak in die Koninkryksaal hou. Ná die vergadering het die broers my gevra of dit as ’n openbare vergadering beskou kan word, aangesien dit nie op ’n openbare plek gehou is nie!

Ek het altyd by die broers in hulle huise gebly. Al was die huise eenvoudig, was dit altyd skoon. My bed was dikwels ’n geweefde mat op ’n houtvloer. Daar was nie ’n privaat plek waar ’n mens kon was nie, en daarom moes ek leer om buite te was sonder om my te veel te ontbloot. Ek het per jeepney en bus gereis, en soms per boot wanneer ek na ander eilande gegaan het. Ek het al die jare nooit ’n kar besit nie.

Die veldbediening en besoeke aan gemeentes het my gehelp om Tagalog te leer praat. Ek het nooit ’n formele taalkursus gevolg nie, maar ek het geleer deur na broers in die veldbediening en by die vergaderinge te luister. Die broers wou my help om die taal te leer, en ek het hulle geduld en eerlike kommentare waardeer.

Met verloop van tyd het ek nuwe toewysings gekry, en ek moes elke keer aanpassings maak. In 1956, toe broer Nathan Knorr ons besoek het, moes ek optree as die skakelbeampte by die nasionale streekbyeenkoms. Ek het geen ondervinding gehad nie, maar ander was bereid om my te leer. Minder as ’n jaar later is nog ’n nasionale streekbyeenkoms gehou. Broer Frederick Franz van die wêreldhoofkwartier het ons toe besoek. Ek was die byeenkomsopsiener en het baie geleer by broer Franz se bereidwilligheid om by die mense aan te pas. Die plaaslike broers was baie bly toe hulle sien dat broer Franz die openbare toespraak in tradisionele Filippynse drag hou.

Ek moes verdere aanpassings maak toe ek as streekopsiener begin dien het. Destyds het ons die rolprent The Happiness of the New World Society gewys. Ons het dit byna altyd in die buitelug op openbare plekke gedoen. Soms was insekte ’n probleem. Die projektor se lig het hulle aangetrek en van hulle het in die projektor vasgesit. Dit was harde werk om die projektor agterna skoon te maak! Dit was nie maklik om hierdie vertonings te reël nie, maar dit was baie bevredigend om te sien hoe die mense reageer wanneer hulle besef dat Jehovah ’n internasionale organisasie het.

Katolieke priesters het soms druk op plaaslike owerhede uitgeoefen om nie permitte vir ons byeenkomste toe te staan nie. Of hulle het ons program probeer ontwrig deur kerkklokke te lui wanneer toesprake naby hulle kerke gehou is. Maar die werk het vooruitgegaan, en baie mense in hierdie gebiede is nou aanbidders van Jehovah.

TOEWYSINGS WAT VERDERE AANPASSINGS GEVERG HET

In 1959 het ek ’n brief ontvang wat my ingelig het dat ek toegewys is om by die takkantoor te dien. Hierdie toewysing het my weer eens baie geleer. Later is ek gevra om na ander lande te gaan om sonebesoeke te doen. Op een van hierdie besoeke het ek Janet Dumond, ’n sendelingsuster in Thailand, ontmoet. Ons het ’n ruk lank vir mekaar geskryf en is later getroud. Ons is al 51 jaar getroud en geniet dit om saam in die voltydse diens te wees.

Denton en Janet Hopkinson in die Filippyne

Saam met Janet op een van die baie eilande in die Filippyne

Ek het die voorreg gehad om Jehovah se volk al in 33 lande te besoek. Ek is baie dankbaar dat my vorige toewysings my geleer het om met soveel verskillende mense oor die weg te kom! Hierdie besoeke het my beskouing verruim en my gehelp om te sien dat Jehovah vir alle soorte mense lief is.—Hand. 10:34, 35.

Denton en Janet Hopkinson preek vir ’n vrou

Ons sorg dat ons gereeld aan die bediening deelneem

EK MAAK NOG STEEDS AANPASSINGS

Dit is wonderlik om saam met ons broers in die Filippyne te dien! Daar is nou omtrent tien keer meer verkondigers as toe ek hier begin dien het. Ek en Janet dien nog steeds by die Filippynse takkantoor in Quezon City. Ná meer as 60 jaar in hierdie buitelandse toewysing, moet ek nog steeds gereed wees om aanpassings te maak om te doen wat Jehovah vra. Onlangse veranderinge in die organisasie toon dat ons aanpasbaar moet bly in ons diens aan God.

Denton en Janet Hopkinson praat met ’n jong Getuie

Die toename in die getal Getuies maak ons baie vreugdevol

Ons het ons bes gedoen om Jehovah se leiding te volg, en daarom het ons ’n baie bevredigende lewe gehad. Ons het ook probeer om aanpassings te maak wanneer nodig en om ons broers na die beste van ons vermoë te dien. Ja, ons is vasbeslote om “alles vir alle soorte mense” te word so lank as wat Jehovah dit vereis.

Denton Hopkinson praat met ’n jong Betheliet by die Filippynse takkantoor

Ons dien nog steeds by die takkantoor in Quezon City

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel