Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w18 Augustus bl. 23-27
  • Werk elke dag saam met Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Werk elke dag saam met Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HELP JOU FAMILIE EN MEDE-AANBIDDERS
  • WEES GASVRY
  • BIED AAN OM MET TEOKRATIESE PROJEKTE TE HELP
  • DOEN MEER IN JEHOVAH SE DIENS
  • Maniere om jou bediening uit te brei
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Dink aan diegene in die voltydse diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Heg groot waarde aan heilige diensvoorregte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
w18 Augustus bl. 23-27
Broers en susters besoek ’n bejaarde mede-aanbidder

Werk elke dag saam met Jehovah

“Ons is God se medewerkers.” — 1 KOR. 3:9.

LIED: 64, 111

HOE WERK JY SAAM MET JEHOVAH . . . 

  • deur jou familie en mede-aanbidders te help?

  • deur gasvry te wees?

  • deur as ’n vrywilliger te werk en deur meer in Jehovah se diens te doen?

1. Op watter maniere kan ons saam met Jehovah werk?

DIE Skepper wou hê dat volmaakte mense saam met hom moes werk om sy voornemens te vervul. Vandag is mense onvolmaak, maar getroue persone kan nog steeds elke dag saam met Jehovah werk. Ons word byvoorbeeld “God se medewerkers” wanneer ons die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en dissipels maak (1 Kor. 3:5-9). Dink net watter wonderlike voorreg ons het om saam met die almagtige Skepper te werk! Hy het ons gekies om deel te neem aan ’n werk wat vir hom baie belangrik is. Maar om te preek en dissipels te maak is nie die enigste manier waarop ons saam met Jehovah kan werk nie. In hierdie artikel gaan ons ander maniere bespreek waarop ons dit kan doen — deur ons familie en mede-aanbidders te help, deur gasvry te wees, deur as vrywilligers op teokratiese projekte te werk en deur meer in Jehovah se diens te doen. — Kol. 3:23.

2. Hoekom moet jy nie die dinge wat jy vir Jehovah doen, vergelyk met wat ander doen nie?

2 Terwyl ons hierdie artikel studeer, moet jy nie die dinge wat jy vir Jehovah kan doen, vergelyk met wat ander kan doen nie. Hou in gedagte dat niemand dieselfde is nie. Ons ouderdom, gesondheid, omstandighede en vermoëns verskil. Die apostel Paulus is geïnspireer om te sê: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.” — Gal. 6:4.

HELP JOU FAMILIE EN MEDE-AANBIDDERS

3. Hoekom kan ons sê dat elkeen wat vir sy familie sorg, saam met God werk?

3 Jehovah verwag van sy knegte om vir hulle familie te sorg. Byvoorbeeld, jy moet dalk werk om finansieel vir jou geliefdes te voorsien. Baie vrouens bly by die huis om vir hulle jong kinders te sorg. En party volwassenes moet dalk na hulle ouers omsien omdat hulle nie meer vir hulleself kan sorg nie. Ons moet hierdie dinge doen. God se Woord sê: “As iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Tim. 5:8). As jy sulke verantwoordelikhede het, het jy dalk nie soveel tyd vir teokratiese aktiwiteite as wat jy graag sou wou hê nie. Maar moenie mismoedig word nie! Dit maak Jehovah se hart baie bly wanneer jy vir jou gesin sorg. — 1 Kor. 10:31.

4. Hoe kan ouers wys dat hulle die Koninkryk eerste stel, en wat kan die resultate wees?

4 Christenouers werk saam met Jehovah deur hulle kinders te help om teokratiese doelwitte te stel. Baie wat dit gedoen het, het later gesien hoe hulle seuns en dogters Jehovah voltyds begin dien, soms in toewysings ver van die huis af. Party dien as sendelinge, ander pionier waar daar meer verkondigers nodig is, en party dien by Bethel. As gevolg van die afstand kan party families nie so gereeld by mekaar kuier as wat hulle graag wil nie. Maar ouers wat ’n selfopofferende gees het, moedig hulle kinders aan om in hulle toewysings te bly. Hoekom? Dit maak hulle baie bly om te weet dat hulle kinders die Koninkryk eerste stel (3 Joh. 4). Baie van hierdie ouers voel dalk soos Hanna, wat gesê het dat sy haar seun Samuel aan Jehovah “geleen” het. Dit is vir hulle ’n groot voorreg om op hierdie manier saam met Jehovah te werk. En daar is niks wat hulle gelukkiger maak nie. — 1 Sam. 1:28.

5. Op watter praktiese maniere kan jy ander in jou gemeente help? (Sien prent aan begin van artikel.)

5 Dalk het jy nie baie gesinsverantwoordelikhede op die oomblik nie. Kan jy miskien mede-aanbidders help wat siek of bejaard is? Of kan jy dalk diegene help wat vir hulle sorg? Kyk of daar iemand in jou gemeente is wat miskien hulp nodig het. Dalk is daar ’n Christensuster wat vir een van haar bejaarde ouers sorg. Kan jy die bejaarde ouer geselskap hou sodat die suster iets anders kan gaan doen? Of miskien kan jy ander help deur hulle na die vergaderinge te neem. Dalk kan jy saam met hulle winkels toe gaan of hulle neem om iemand in die hospitaal te besoek. Deur dit te doen, werk jy dalk saam met Jehovah om ’n gebed te beantwoord. — Lees 1 Korintiërs 10:24.

WEES GASVRY

6. Wat beteken dit om gasvry te wees?

6 God se medewerkers is bekend vir hulle gasvryheid. Die uitdrukking in die Christelike Griekse Geskrifte wat as “gasvryheid” vertaal word, beteken “goedheid teenoor vreemdelinge” (Heb. 13:2). Ons leer uit voorbeelde in God se Woord hoe om gasvry te wees (Gen. 18:1-5). Ons kan en moet ander help wanneer ons die geleentheid kry om dit te doen, of hulle nou “in die geloof aan ons verwant is” of nie. — Gal. 6:10.

7. Hoe kan dit ons help as ons gasvry is teenoor voltydse dienaars?

7 Kan jy saam met God werk deur gasvry te wees teenoor voltydse dienaars wat blyplek nodig het? (Lees 3 Johannes 5, 8.) Sulke gasvryheid kan tot “wedersydse aanmoediging” lei (Rom. 1:11, 12). Kyk hoe ’n broer met die naam Olaf aangemoedig is. Baie jare gelede, toe Olaf nog ’n kind was, het ’n ongetroude kringopsiener hulle gemeente besoek, maar niemand het vir hom blyplek gehad nie. Olaf het sy ouers, wat nie Getuies was nie, gevra of die kringopsiener by hulle huis kon bly. Hulle het ingestem, maar het gesê dat Olaf dan op die bank sou moes slaap. Dit is wat Olaf toe gedoen het, en hy was nie spyt nie. Olaf sê: “Dit was ’n wonderlike week! Ek en die kringopsiener het elke oggend vroeg opgestaan, saam ontbyt geëet en oor baie interessante onderwerpe gepraat.” Die aanmoediging wat hy gekry het, het gemaak dat hy in die voltydse diens wou wees. Olaf het die afgelope 40 jaar in verskillende plekke as ’n sendeling gedien.

8. Hoekom moet ons goeie dinge vir ander doen, selfs al lyk dit aan die begin asof dit nie waardeer word nie? Gee ’n voorbeeld.

8 Daar is verskillende maniere waarop jy goeie dinge kan doen vir mense wat jy nie ken nie, al waardeer hulle dit nie aan die begin nie. Kyk na die volgende voorbeeld. ’n Verkondiger in Spanje het die Bybel met Yesica, van Ecuador, studeer. Eendag, terwyl hulle besig was om hulle studie te hou, het sy gesien dat Yesica nie kon ophou huil nie. Sy het toe vir haar gevra hoekom sy huil. Yesica het vertel dat sy so arm was voordat sy Spanje toe getrek het dat sy eendag nie eers kos gehad het nie. Sy het net water gehad om vir haar dogtertjie te gee. Yesica het probeer om haar kind aan die slaap te maak terwyl sy tot God gebid het om haar te help. Kort daarna het twee Getuies haar besoek, maar Yesica was onvriendelik en het die tydskrif wat die susters vir haar gegee het, opgeskeur. Sy het gevra: “Is dit die kos wat julle wil hê my dogtertjie moet eet?” Die susters het haar probeer troos, maar niks het gehelp nie. Later het hulle ’n mandjie met kos voor haar deur gelos. Hulle goeie daad het Yesica diep geraak, en sy het sleg gevoel omdat sy nie geluister het toe God haar gebed beantwoord het nie. Maar nou was sy vasbeslote om Jehovah te dien. Hulle vrygewigheid het beslis ’n goeie uitwerking gehad! — Pred. 11:1, 6.

BIED AAN OM MET TEOKRATIESE PROJEKTE TE HELP

9, 10. (a) Watter geleenthede was daar in Bybeltye vir God se volk om hulle gewillig aan te bied? (b) Watter werk word vrywillig deur broers in die gemeente gedoen?

9 Daar was by verskillende geleenthede in die geskiedenis van eertydse Israel vrywilligers nodig (Eks. 36:2; 1 Kron. 29:5; Neh. 11:2). Vandag het jy ook baie geleenthede om jou tyd, materiële dinge en vaardighede gewillig aan te bied om jou broers en susters te help. As jy dit doen, sal dit jou baie gelukkig maak en sal jy baie seëninge kry.

10 God se Woord moedig mans in die gemeente aan om saam met Jehovah te werk deur daarna uit te reik om as bedieningsknegte en ouer manne te dien (1 Tim. 3:1, 8, 9; 1 Pet. 5:2, 3). Mans wat na sulke voorregte uitreik, doen dit omdat hulle ander op praktiese maniere asook geestelik wil help (Hand. 6:1-4). Het die ouer manne jou gevra of jy gewillig is om ’n saalwagter te wees? Of het hulle jou gevra om met die lektuur, gebiedskaarte, instandhouding van die saal, of dalk met iets anders te help? Diegene wat sulke werk in die gemeente doen, sal jou vertel dat hulle dit baie geniet om ander te help.

Twee susters werk saam op ’n teokratiese projek en word vriende

Wanneer jy as ’n vrywilliger op teokratiese projekte werk, is daar baie geleenthede om nuwe vriende te maak (Sien paragraaf 11)

11. Hoe het die vriende wat een suster by teokratiese projekte gemaak het, haar gehelp?

11 Diegene wat as vrywilligers op teokratiese projekte werk, maak gewoonlik nuwe vriende. Kyk na die voorbeeld van Margie, ’n suster wat al 18 jaar lank op Koninkryksaalbouprojekte werk. Oor die jare het sy ’n hele paar jonger susters onder haar vlerk geneem en gehelp om hulle op te lei. Sy het gevind dat dit ’n uitstekende manier is om mekaar geestelik aan te moedig (Rom. 1:12). Toe Margie deur moeilike tye in haar lewe gegaan het, het die goeie vriende wat sy op hierdie bouprojekte gemaak het, haar aangemoedig. Het jy al ooit aangebied om as ’n vrywilliger op sulke bouprojekte te werk? Kan jy aanbied om te help, al is jy nie vir iets spesifieks opgelei nie?

12. Wat kan jy doen om te help wanneer daar ’n ramp is?

12 Wanneer daar rampe is, kan God se knegte ook saam met hom werk deur hulle broers en susters op praktiese maniere te help. Byvoorbeeld, hulle help diegene wat deur ’n ramp geraak is deur geldelike bydraes te maak (Joh. 13:34, 35; Hand. 11:27-30). Nog ’n praktiese manier is deur te help met skoonmaak- en herstelwerk. Gabriela, ’n suster van Pole wie se huis amper heeltemal deur ’n vloed vernietig is, was baie bly toe broers van gemeentes in die omgewing haar kom help het. Sy sê: “Ek wil nie praat oor wat ek verloor het nie — dit was net materiële dinge. Ek wil julle eerder vertel hoeveel ek ontvang het. Hierdie ondervinding het my weer gewys dat dit ’n unieke voorreg en ’n bron van vreugde en geluk is om deel van die Christengemeente te wees.” Baie wat hulp ontvang het nadat daar ’n ramp was, voel ook soos Gabriela. En diegene wat saam met Jehovah werk om hierdie broers te help, voel ook gelukkig en baie tevrede. — Lees Handelinge 20:35; 2 Korintiërs 9:6, 7.

13. Hoe kan dit ons verhouding met Jehovah versterk wanneer ons ons gewillig aanbied? Gee ’n voorbeeld.

13 Stephanie en ander verkondigers het die voorreg gehad om saam met God te werk deur Getuies te help wat na die Verenigde State gevlug het. Hulle het hierdie gesinne wat moes vlug omdat daar oorlog in hulle land was, gehelp om blyplek en meubels te kry. Stephanie sê dat sy en die ander verkondigers diep geraak is toe hulle sien hoe bly hierdie broers was en hoeveel waardering hulle het vir die liefde wat hulle van hulle wêreldwye broederskap ontvang het. Sy sê ook: “Die families dink dat ons hulle gehelp het, maar eintlik het hulle ons baie meer gehelp. Die liefde, eenheid, geloof en vertroue op Jehovah wat ons onder die broers gesien het, het werklik ons liefde vir Jehovah versterk. En dit het ons waardering vergroot vir alles wat ons deur sy organisasie ontvang.”

DOEN MEER IN JEHOVAH SE DIENS

14, 15. (a) Watter gesindheid het die profeet Jesaja gehad? (b) Hoe kan Koninkryksverkondigers vandag Jesaja se gesindheid navolg?

14 Wil jy graag meer doen om saam met Jehovah te werk? Sal jy bereid wees om na ’n gebied te trek waar sy organisasie meer werkers nodig het? God se knegte hoef natuurlik nie ver weg te trek om Jehovah te dien nie. Maar party broers en susters kan dit wel doen omdat hulle omstandighede dit toelaat. Hulle het dieselfde gesindheid as die profeet Jesaja. Toe Jehovah gevra het: “Wie sal ek stuur, en wie sal vir ons gaan?” het Jesaja geantwoord: “Hier is ek! Stuur my” (Jes. 6:8). Laat jou omstandighede jou toe om te gaan dien waar daar hulp nodig is? Is dit iets wat jy graag wil doen? Op watter maniere kan jy help?

15 Toe Jesus gepraat het van die werk om te preek en dissipels te maak, het hy gesê: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matt. 9:37, 38). Kan jy gaan dien waar daar meer verkondigers nodig is, dalk as ’n pionier? Of kan jy iemand anders help om dit te doen? Baie broers en susters voel dat die beste manier om te wys dat jy vir God en jou naaste lief is, is om te gaan pionier in gebiede of plekke waar daar meer verkondigers nodig is. Kan jy aan ander maniere dink waarop jy meer in Jehovah se diens kan doen? Dit sal jou baie gelukkig maak as jy dit doen.

16, 17. Watter ander geleenthede is daar as jy graag meer wil doen in jou diens aan Jehovah?

16 Sal jy bereid wees om by Bethel te gaan dien of om te help met teokratiese bouprojekte? Dalk kan jy ’n tydelike werker wees of vir een of meer dae elke week uithelp. Die organisasie het altyd mense nodig wat bereid is om enige toewysing te aanvaar en wat Jehovah kan dien waar dit ook al nodig is. Dit sal dalk beteken dat hulle ’n werk moet doen wat heeltemal verskil van die werk waarin hulle opleiding en ondervinding het. Maar Jehovah waardeer dit wanneer persone gewillig is om opofferings te maak en te dien waar daar hulp nodig is. — Ps. 110:3.

17 Wil jy graag verder opgelei word sodat jy meer kan doen in jou diens aan Jehovah? Dalk kwalifiseer jy om die Skool vir Koninkrykspredikers by te woon. Hierdie skool gee opleiding aan broers en susters wat geestelik sterk en reeds in voltydse diens is sodat hulle meer vir Jehovah se organisasie kan doen. Diegene wat vir hierdie skool aansoek doen, moet bereid wees om enige toewysing te aanvaar wanneer hulle gradueer. Sal jy bereid wees om op hierdie manier meer in Jehovah se diens te doen? — 1 Kor. 9:23.

18. Wat is die voordele daarvan om elke dag saam met Jehovah te werk?

18 As Jehovah se knegte is ons vrygewig omdat ons eienskappe soos goedheid, goedhartigheid en liefde het. Ons wys elke dag dat ons vir ander mense omgee, en dit gee ons vreugde, vrede en geluk (Gal. 5:22, 23). Wanneer jy Jehovah se voorbeeld van vrygewigheid navolg en een van sy kosbare medewerkers is, kan jy gelukkig wees, maak nie saak wat jou omstandighede is nie! — Spr. 3:9, 10.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel