Respekteer “wat God . . . onder een juk saamgevoeg het”
“Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.” — MARK. 10:9.
1, 2. Wat moet Hebreërs 13:4 ons beweeg om te doen?
IS DIT vir jou belangrik om Jehovah te eer? Beslis! Hy verdien jou eer, en hy belowe dat hy jou ook sal eer (1 Sam. 2:30; Spr. 3:9; Op. 4:11). Hy wil ook hê dat ons ander mense op ’n eervolle manier moet behandel, soos byvoorbeeld staatsamptenare (Rom. 12:10; 13:7). Maar daar is nog ’n deel van ons lewe waar dit baie belangrik is dat ons ander moet eer. Dit is in die huwelik.
2 Die apostel Paulus het geskryf: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging” (Heb. 13:4). Paulus het hierdie woorde nie sommer net gesê nie. In hierdie teks het hy Christene aangespoor om die huwelik te respekteer en dit as kosbaar te beskou. Is dit hoe jy oor die huwelik voel, en veral oor jou eie huwelik, as jy getroud is?
3. Watter belangrike raad het Jesus oor die huwelik gegee? (Sien prent aan begin van artikel.)
3 As jy die huwelik as kosbaar beskou, doen jy presies wat Jesus gedoen het. Toe die Fariseërs Jesus oor egskeiding uitgevra het, het hy hulle aandag gevestig op dit wat God oor die eerste huwelik gesê het: “Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word.” Jesus het bygevoeg: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.” — Lees Markus 10:2-12; Gen. 2:24.
4. Watter standaard het Jehovah vir huwelike gestel?
4 Jesus het dus saamgestem dat die huwelik van God af kom en het beklemtoon dat dit permanent moet wees. God het nie vir Adam en Eva gesê dat hulle later kon skei nie. Die standaard wat in die tuin van Eden vir die huwelik gestel is, was een man en een vrou, en dat “die twee” dan vir altyd getroud moes bly.
TYDELIKE VERANDERINGE IN DIE HUWELIK
5. Watter uitwerking het die dood op die huwelik?
5 Maar soos jy weet, het dinge verander nadat Adam gesondig het. Mense het nou gesterf, en dit het ’n uitwerking op die huwelik gehad. Dit is een van die dinge waaroor die apostel Paulus geskryf het waar hy gesê het dat Christene nie onder die Mosaïese Wet is nie. Hy het gewys dat die dood die einde van ’n huwelik is en dat die oorlewende maat weer kan trou. — Rom. 7:1-3.
6. Hoe het die Mosaïese Wet gewys hoe Jehovah oor die huwelik voel?
6 Die Wet wat God vir die nasie Israel gegee het, het besonderhede oor die huwelik bevat. Dit het toegelaat dat ’n man meer as een vrou kon hê, ’n gebruik wat bestaan het nog voordat God vir Israel die Wet gegee het. Maar die Wet het vroue en kinders teen slegte behandeling beskerm. Byvoorbeeld, as ’n Israeliet met ’n slavin getrou het en later met nog iemand getrou het, kon hy nie sy eerste vrou se kos, klere en huweliksvoorregte verminder nie. God het van hom verwag om haar te beskerm en vir haar te sorg (Eks. 21:9, 10). Ons is nie meer onder die Wet nie, maar dit wat in die Wet staan, wys dat die huwelik vir Jehovah belangrik is. Help dit jou nie ook om respek vir die huwelik te hê nie?
7, 8. (a) Watter voorsiening het die Wet volgens Deuteronomium 24:1 vir egskeiding gemaak? (b) Hoe voel Jehovah oor egskeiding?
7 Wat van egskeiding onder die Wet? God se groot respek vir die huwelik het nie verander nie; maar hy het ’n toegewing gemaak en mense toegelaat om te skei. (Lees Deuteronomium 24:1.) ’n Israeliet kon van sy vrou skei as “hy iets onwelvoegliks aan haar gevind het”. Die Wet het nie verduidelik wat met ‘onwelvoeglik’ bedoel word nie. Dit moes iets gewees het wat ernstig of skandelik was, en nie sommer net iets kleins nie (Deut. 23:14). Ongelukkig het baie Jode, teen die tyd wat Jesus op die aarde was, ‘op sommer enige grond van hulle vrou geskei’ (Matt. 19:3). Ons wil beslis nie soos hulle wees nie.
8 Die profeet Maleagi het gewys hoe God oor egskeiding voel. Dit was ’n tyd toe baie mans bedrieglik teenoor ‘die vrou van hulle jeug’ opgetree het; dalk om met ’n jonger, heidense vrou te trou. Ons kan sien hoe God daaroor gevoel het, want Maleagi het vir ons gesê dat ‘hy egskeiding haat’ (Mal. 2:14-16). Dit stem ooreen met wat God se Woord oor die eerste huwelik sê: “[’n Man] sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word” (Gen. 2:24). Jesus het net soos sy Vader oor die huwelik gevoel. Hy het gesê: “Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.” — Matt. 19:6.
DIE ENIGSTE REDE VIR EGSKEIDING
9. Hoe moet ons Jesus se woorde in Markus 10:11, 12 verstaan?
9 Iemand vra dalk: ‘Mag ’n Christen ooit skei en weer trou?’ Wel, Jesus het gesê hoe hy oor egskeiding voel: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander trou, pleeg egbreuk teen haar, en as ’n vrou, nadat sy van haar man geskei het, ooit weer met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk” (Mark. 10:11, 12; Luk. 16:18). Dit is duidelik dat Jesus groot respek vir die huwelik het en dat hy dit ook van ander verwag. ’n Man (of ’n vrou) wat die een of ander verskoning gebruik om van hulle getroue huweliksmaat te skei en dan met iemand anders trou, pleeg egbreuk. Hoekom? Omdat egskeiding op sy eie nie ’n huwelik beëindig nie. In God se oë is die twee nog steeds “een vlees”. Jesus het ook gesê dat ’n man wat van sy onskuldige vrou skei haar in ’n gevaarlike posisie plaas. Destyds het ’n geskeide vrou dalk gevoel dat sy nie anders kan as om weer te trou nie omdat sy finansiële sorg nodig sou hê. Dit sou dan daarop neerkom dat sy egbreuk pleeg.
10. Wanneer mag ’n Christen skei en is hy of sy vry om weer te trou?
10 Jesus het gewys wanneer dit toelaatbaar sou wees om te skei. Hy het gesê: “Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery [Grieks, por·neiʹa], en met ’n ander trou, egbreuk pleeg” (Matt. 19:9). Hy het dit ook tydens sy Bergpredikasie gesê (Matt. 5:31, 32). By al twee hierdie geleenthede het Jesus gepraat van “hoerery”. Daardie woord verwys na verskillende seksuele sondes buite die huwelik: egbreuk, prostitusie, seksuele omgang tussen mense wat nie met mekaar getroud is nie, homoseksualiteit en bestialiteit. Byvoorbeeld, as ’n getroude man seksuele sonde pleeg, kan sy vrou besluit of sy van hom wil skei of nie. As sy van hom skei, beëindig dit die huwelik in God se oë.
11. Hoekom besluit ’n Christen dalk om nie te skei nie al is daar skriftuurlike rede om te skei?
11 Dit is belangrik om te onthou dat Jesus nie gesê het dat ’n maat se seksuele sonde (por·neiʹa) tot ’n egskeiding moet lei nie. ’n Vrou kan byvoorbeeld besluit om met haar man getroud te bly al het hy seksueel gesondig. Sy is dalk nog lief vir hom en bereid om hom te vergewe en saam met hom aan hulle huwelik te werk. As sy skei en nie weer trou nie, sal sy natuurlik uitdagings hê. Wat van haar materiële en seksuele behoeftes? Wat van eensaamheid? Het hulle kinders? Sal ’n egskeiding dit moeiliker maak om hulle in die waarheid groot te maak? (1 Kor. 7:14). Ja, as die onskuldige maat skei, kan daar ernstige uitdagings wees.
12, 13. (a) Wat het in Hosea se huwelik gebeur? (b) Hoekom het Hosea vir Gomer teruggeneem, en wat leer dit ons vandag oor die huwelik?
12 Ons kan baie leer uit wat met die profeet Hosea gebeur het. God het vir Hosea gesê om vir hom ’n vrou (Gomer) te neem, wat “’n vrou van hoerery [sou word] en kinders van hoerery” sou hê. Gomer het “swanger geword en na verloop van tyd vir [Hosea] ’n seun gebaar” (Hos. 1:2, 3). Later het sy ’n dogter en ’n seun gehad wat albei waarskynlik buite-egtelike kinders was. Al het Gomer meer as een keer seksuele sonde gepleeg, het Hosea nie van haar geskei nie. Sy het Hosea op die ou end verlaat en ’n slavin geword. Tog het hy haar teruggekoop (Hos. 3:1, 2). Jehovah het Hosea gebruik om te wys hoe hy Israel keer op keer vergewe het wanneer hulle ontrou aan hom was. Wat kan ons hieruit leer?
13 As ’n Christen se maat seksuele sonde gepleeg het, sal die onskuldige Christen ’n besluit moet maak. Jesus het gesê dat die onskuldige maat ’n rede sal hê om te skei en dan vry sal wees om weer te trou. Maar die onskuldige maat het ook die keuse om sy of haar maat te vergewe. Dit sal nie verkeerd wees nie. Hosea het Gomer teruggeneem, en hy het vir haar gesê dat sy nie weer aan hom ontrou mag wees nie. Hosea het ’n ruk lank nie seksuele omgang met Gomer gehad nie (Hos. 3:3). Maar Hosea het later waarskynlik weer seksuele omgang met haar gehad. Hierdeur het hy gewys dat God bereid was om sy volk terug te neem en sy verhouding met hulle voort te sit (Hos. 1:11; 3:3-5). Hoe kan dit vandag met ’n huwelik vergelyk word? As ’n onskuldige maat besluit om nie te skei nie en seksuele omgang hervat, wys dit dat hy of sy hulle maat vergewe het (1 Kor. 7:3, 5). Daarna is daar nie meer ’n grondslag vir egskeiding nie. Hulle moet dan as ’n egpaar saamwerk om te wys dat hulle God se beskouing van die huwelik het.
RESPEKTEER DIE HUWELIK, SELFS WANNEER DAAR PROBLEME IS
14. Wat kan volgens 1 Korintiërs 7:10, 11 in ’n huwelik gebeur?
14 Net soos Jesus en Jehovah, moet alle Christene die huwelik eer, of respekteer. Maar omdat mense onvolmaak is, gebeur dit nie altyd nie (Rom. 7:18-23). Daarom moet ons nie verbaas wees dat party Christene in die eerste eeu probleme in hulle huwelik gehad het nie. Paulus het geskryf dat “’n vrou nie van haar man moet weggaan nie”; maar dit het soms tog gebeur. — Lees 1 Korintiërs 7:10, 11.
Wat kan egpare doen om hulle huwelik te red as hulle probleme het? (Sien paragraaf 15)
15, 16. (a) Wat moet die doel wees wanneer ’n egpaar probleme in hulle huwelik het, en waarom? (b) Hoe is dit van toepassing as een van die huweliksmaats Jehovah nie dien nie?
15 Paulus het nie die rede vir so ’n skeiding gegee nie. Die probleem was byvoorbeeld nie dat die man seksuele sonde gepleeg en die vrou ’n rede gehad het om van hom te skei en weer te trou nie. Paulus het geskryf dat ’n vrou wat van haar man weggegaan het, ‘ongetroud moes bly of haar weer met haar man moes versoen’. In God se oë was hulle dus nog getroud. In gevalle waar daar nie seksuele sonde betrokke was nie, het Paulus gesê dat dit ’n paartjie se doel moet wees om hulle met mekaar te versoen, watter probleme hulle ook al het. Hulle kan die gemeentelike ouer manne vra om hulle te help en vir hulle praktiese raad uit die Bybel te gee. Maar die ouer manne kies natuurlik nie kant nie.
16 As net een van die huweliksmaats ’n gelowige is en volgens God se standaarde wil lewe, sal dit dinge waarskynlik moeiliker maak. Sou dit dan ’n goeie verskoning wees om jou maat te verlaat as daar probleme is? Soos ons gesien het, wys die Bybel dat seksuele sonde ’n moontlike rede vir egskeiding is. Maar dit gee nie ’n lys van redes waarvoor paartjies mekaar kan verlaat nie. Paulus het geskryf: “Laat ’n vrou wat ’n ongelowige man het wat nietemin bereid is om met haar saam te woon, haar man nie verlaat nie” (1 Kor. 7:12, 13). Dit is vandag nog steeds so.
17, 18. Hoekom het party Christene by hulle huweliksmaat gebly, al was daar probleme?
17 Daar was natuurlik al gevalle waar ’n “ongelowige man” se optrede bewys het dat hy nie “bereid is om met haar saam te woon” nie. Hy raak dalk baie gewelddadig. Dit kan so erg wees dat sy voel dat haar gesondheid of lewe in gevaar is. Hy weier moontlik om vir haar en vir hulle gesin te sorg of stel dalk haar geestelikheid in groot gevaar. Wanneer dit gebeur, het party Christene besluit dat die maat nie ‘bereid is om saam te woon’ nie, maak nie saak wat hy sê nie. Hulle voel dan dat hulle nie anders kan as om die maat te verlaat nie. Maar ander Christene wat ook in sulke moeilike situasies is, het nie hulle maat verlaat nie; hulle het volhard en probeer om dinge te verbeter. Hoekom?
18 Al gaan ’n man en ’n vrou uitmekaar, is hulle nog steeds huweliksmaats. Wanneer hulle nie meer saam woon nie, kan daar uitdagings wees, soos ons vroeër gesien het. Die apostel Paulus het nog ’n rede gegee waarom hulle mekaar nie moet verlaat nie. Hy het geskryf: “Die ongelowige man is geheilig met betrekking tot sy vrou, en die ongelowige vrou is geheilig met betrekking tot die broer; anders sou julle kinders in werklikheid onrein wees, maar nou is hulle heilig” (1 Kor. 7:14). Talle lojale Christene bly by hulle ongelowige maat, al is dit soms vir hulle baie moeilik. Wanneer daardie maat ’n ware aanbidder word, is hulle veral bly dat hulle daardie opoffering gemaak het. — Lees 1 Korintiërs 7:16; 1 Pet. 3:1, 2.
19. Hoekom is daar soveel gelukkige huwelike in die Christengemeente?
19 Jesus het gepraat oor egskeiding, en die apostel Paulus het geïnspireerde raad gegee vir egpare wat besluit om uitmekaar te gaan. Hulle albei wil hê dat God se knegte die huwelik moet respekteer. Regoor die wêreld is die Christengemeente vandag vol suksesvolle huwelike. Daar is waarskynlik talle gelukkige paartjies in julle plaaslike gemeente; lojale broers wat lief is vir hulle vrou en liefdevolle vrouens wat hulle man respekteer. Hulle wys dat die huwelik eerbaar kan wees. Dit is vir ons ’n vreugde dat miljoene mense bewys hoe waar hierdie woorde van God is: “Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees word.” — Ef. 5:31, 33.