Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w19 Junie bl. 1-32
  • Help ander wat deur stresvolle tye gaan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Help ander wat deur stresvolle tye gaan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WEES GEDULDIG
  • BETOON MEDELYE
  • PRAAT VERTROOSTEND
  • Help weduwees om hulle beproewinge te verduur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • “Waar u gaan, sal ek gaan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • “Waar u gaan, sal ek gaan”
    Volg hulle geloof na
  • Rut en Naomi
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
w19 Junie bl. 1-32

STUDIEARTIKEL 26

Help ander wat deur stresvolle tye gaan

“Julle [moet] almal eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees.” – 1 PET. 3:8.

LIED 107 God se voorbeeld van liefde

IN HIERDIE ARTIKELa

1. Hoe kan ons ons liefdevolle Vader, Jehovah, navolg?

JEHOVAH is baie lief vir ons (Joh. 3:16). Ons wil ons liefdevolle Vader navolg. Daarom probeer ons “meegevoel [en] broederlike geneentheid en tere medelye” aan almal betoon, maar veral aan dié wat “in die geloof aan ons verwant is” (1 Pet. 3:8; Gal. 6:10). Wanneer lede van ons geestelike gesin deur stresvolle tye gaan, wil ons hulle help.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Almal wat deel van Jehovah se gesin wil wees, sal stresvolle situasies ondervind (Mark. 10:29, 30). Ons sal waarskynlik nog meer probleme moet verduur terwyl die einde van hierdie wêreld nader kom. Hoe kan ons mekaar help? Kom ons kyk wat ons kan leer uit die Bybelverslae oor Lot, Job en Naomi. Ons sal ook ’n paar van die uitdagings bespreek wat ons broers en susters vandag ondervind en hoe ons hulle kan help om hulle probleme te hanteer.

WEES GEDULDIG

3. Watter slegte besluit het Lot volgens 2 Petrus 2:7, 8 geneem, en wat was die gevolg?

3 Lot het ’n slegte besluit geneem toe hy gekies het om tussen die uiters onsedelike mense van Sodom te woon. (Lees 2 Petrus 2:7, 8.) Sodom was ’n florerende streek, maar Lot het ’n duur prys betaal omdat hy daarheen getrek het (Gen. 13:8-13; 14:12). Sy vrou het blykbaar so lief geword vir die stad of vir party van die mense wat daar gewoon het, dat sy ongehoorsaam was aan Jehovah. Sy het haar lewe verloor toe God vuur en swael op die streek laat reën het. En dink aan Lot se twee dogters. Hulle was verloof aan mans wat in Sodom gesterf het. Lot het sy huis, sy besittings en, die ergste van alles, sy vrou verloor (Gen. 19:12-14, 17, 26). Het Jehovah gedurende hierdie stresvolle tyd ongeduldig geword met Lot? Nee.

Engele lei Lot en sy gesin uit Sodom uit

Jehovah het medelye betoon deur engele te stuur om Lot en sy gesin te red (Sien paragraaf 4)

4. Hoe het Jehovah getoon dat hy geduldig is met Lot? (Sien prent op voorblad.)

4 Al het Lot gekies om in Sodom te woon, het Jehovah medelye betoon deur engele te stuur om hom en sy gesin te red. Maar Lot het nie die engele se dringende bevel om Sodom te verlaat dadelik gehoorsaam nie; hy het eerder “bly talm”. Die engele moes sy hand gryp en hom en sy gesin help om uit die stad te vlug (Gen. 19:15, 16). Toe het die engele vir hom gesê om na die bergstreek te hardloop. Maar in plaas daarvan om Jehovah te gehoorsaam, het Lot gevra of hy na ’n stad daar naby kon gaan (Gen. 19:17-20). Jehovah het geduldig geluister en Lot toegelaat om daarheen te gaan. Lot het later bang geword om daar te woon en het na die bergstreek getrek – die einste gebied waarheen Jehovah hom in die eerste plek wou stuur (Gen. 19:30). Hoe geduldig was Jehovah tog met Lot! Hoe kan ons Jehovah navolg?

5-6. Hoe kan ons 1 Tessalonisense 5:14 toepas terwyl ons God navolg?

5 Soos Lot, kan ’n lid van ons geestelike gesin slegte besluite neem en ernstige probleme vir homself veroorsaak. Wat sal ons doen as dit gebeur? Ons kom dalk in die versoeking om vir hom te sê dat hy maai wat hy gesaai het, en dit sou waar wees (Gal. 6:7). Maar ons kan iets beters doen. Ons kan Jehovah navolg in die manier hoe hy Lot gehelp het. Hoe?

6 Jehovah het die engele nie net gestuur om Lot te waarsku nie, maar ook om hom te help om die ramp vry te spring wat oor Sodom gekom het. Net so moet ons dalk ook ons broer waarsku as ons sien dat hy iets doen wat hom in die moeilikheid kan laat beland. Maar ons kan hom ook help. Selfs as hy nie die Bybel se raad dadelik toepas nie, moet ons geduldig wees. Wees soos die twee engele. Eerder as om moed op te gee en ons broer te vermy, moet ons na praktiese maniere soek om hom te help (1 Joh. 3:18). Ons moet dalk aanbied om hom in figuurlike sin aan die hand te neem en hom help om die goeie raad wat hy gekry het, toe te pas. – Lees 1 Tessalonisense 5:14.

7. Hoe kan ons die manier navolg waarop Jehovah Lot beskou het?

7 Jehovah kon op Lot se onvolmaakthede gefokus het. Maar later het hy eerder die apostel Petrus geïnspireer om te sê dat Lot ’n regverdige man was. Hoe bly is ons tog dat Jehovah ons foute vergewe! (Ps. 130:3). Kan ons die manier navolg waarop Jehovah Lot beskou het? As ons op ons broers en susters se goeie eienskappe fokus, sal ons geduldiger met hulle wees. En dan sal hulle waarskynlik meer geneig wees om ons hulp te aanvaar.

BETOON MEDELYE

8. Wat sal medelye ons beweeg om te doen?

8 Anders as Lot, het Job nie gely as gevolg van ’n slegte besluit wat hy geneem het nie. Tog het hy deur ’n baie moeilike tyd gegaan toe hy sy besittings verloor het, asook sy status in die gemeenskap en toe hy baie siek geword het. Nog erger, hy en sy vrou het al hulle kinders aan die dood afgestaan. Job is ook deur drie valse vriende beskuldig. Wat is een rede waarom Job se drie valse vertroosters nie medelye aan hom betoon het nie? Hulle het nie sy situasie ten volle probeer verstaan nie. As gevolg daarvan het hulle verkeerde gevolgtrekkings gemaak en Job sterk veroordeel. Hoe kan ons dit vermy om dieselfde fout te maak? Ons moet besef dat slegs Jehovah al die feite oor iemand se situasie het. Luister aandagtig na die persoon wat ly. Moenie net na sy woorde luister nie; probeer ook om sy pyn te voel. Slegs dan sal jy opregte medelye aan jou broer of suster kan betoon.

9. Wat sal medelye ons help om nie te doen nie, en hoekom?

9 Medelye sal ons help om nie skadelike skinderpraatjies oor ander se probleme te versprei nie. Iemand wat skinder, bou nie die gemeente op nie; hy breek dit af (Spr. 20:19; Rom. 14:19). Hy is nie liefdevol nie maar onbedagsaam, en sy woorde kan iemand seermaak wat reeds deur ’n moeilike tyd gaan (Spr. 12:18; Ef. 4:31, 32). Dit is soveel beter om na ’n persoon se goeie eienskappe te soek en te dink oor hoe ons hom of haar deur ’n moeilike tyd kan help!

’n Ouer man luister na ’n ontstelde broer wat dinge sê wat wilde praatjies is; later gaan stap die twee broers saam

Luister geduldig wanneer ’n medegelowige dinge sê wat “wilde praatjies” is, en bied vertroostende woorde op die regte tyd (Sien paragraaf 10-11)c

10. Wat leer ons uit die stelling in Job 6:2, 3?

10 Lees Job 6:2, 3. Job het soms dinge gesê wat “wilde praatjies” was. Maar later was hy spyt oor party van die dinge wat hy gesê het (Job 42:6). Soos Job, kan iemand wat vandag ’n stresvolle tyd deurmaak, dinge sê wat hy nie regtig bedoel nie en waaroor hy later spyt is. Wat moet ons doen? Ons moenie krities wees nie, ons moet eerder medelye betoon. Onthou dat Jehovah nooit wou hê dat enigeen van ons die probleme en stresvolle tye van vandag moes deurmaak nie. Daarom is dit te verstane as ’n getroue kneg van Jehovah praat sonder om te dink wanneer hy deur ’n baie moeilike tyd gaan. Selfs al sê hy dinge oor Jehovah of oor ons wat nie waar is nie, moet ons nie gou kwaad word vir hom of hom daarvoor veroordeel nie. – Spr. 19:11.

11. Hoe kan ouer manne Elihu navolg wanneer hulle raad gee?

11 Soms het iemand wat deur ’n stresvolle tyd gaan, ook raad of nuttige dissipline nodig (Gal. 6:1). Hoe kan ouer manne hierdie uitdaging hanteer? Dit sal goed wees as hulle Elihu navolg, wat met baie empatie na Job geluister het (Job 33:6, 7). Eers nadat Elihu Job se denke verstaan het, het hy Job raad gegee. Ouer manne wat Elihu se voorbeeld navolg, sal aandagtig na die persoon luister en sy situasie probeer verstaan. Dan sal hulle heel waarskynlik die hart van hulle luisteraar bereik wanneer hulle hom raad gee.

PRAAT VERTROOSTEND

12. Watter uitwerking het die dood van Naomi se man en twee seuns op haar gehad?

12 Naomi was ’n lojale vrou wat lief was vir Jehovah. Maar ná die dood van haar man en twee seuns wou sy haar naam verander van Naomi na “Mara”, wat “bitter” beteken (Rut 1:3, 5, 20, 21). Rut, Naomi se skoondogter, het by Naomi gebly toe sy deur moeilike tye gegaan het. Rut het nie net praktiese hulp voorsien nie, maar het ook vertroostend met Naomi gepraat. Rut het met eenvoudige en opregte woorde vir Naomi gesê hoe lief sy vir haar is en dat sy haar sal ondersteun. – Rut 1:16, 17.

13. Hoekom het dié wat ’n huweliksmaat aan die dood afgestaan het, ons ondersteuning nodig?

13 Wanneer ’n lid van ons geestelike gesin ’n huweliksmaat aan die dood afstaan, het hy of sy ons ondersteuning nodig. ’n Getroude paartjie kan vergelyk word met twee bome wat langs mekaar groei. Oor die jare raak die wortels inmekaargevleg. Wanneer een boom uit die grond gehaal word en doodgaan, kan dit ’n groot uitwerking op die ander boom hê. Net so kan iemand wat ’n huweliksmaat aan ons vyand, die dood, afstaan, vir ’n lang tyd sterk emosies ervaar. Paula,b wie se man skielik gesterf het, sê: “My lewe was onderstebo gekeer, en ek het magteloos gevoel. Ek het my beste vriend verloor. Ek het met my man oor alles gepraat. Hy het in my vreugdes gedeel en my in moeilike tye bygestaan. Hy het altyd na my geluister wanneer ek oor my probleme gepraat het. Dit het regtig gevoel asof die helfte van my weg is.”

’n Wewenaar word vertroos wanneer ’n paartjie vir hom foto’s wys van hom en sy vrou

Hoe kan ons dié ondersteun wat ’n huweliksmaat verloor het? (Sien paragraaf 14-15)d

14-15. Hoe kan ons iemand vertroos wie se huweliksmaat gesterf het?

14 Hoe kan ons iemand vertroos wie se huweliksmaat gesterf het? ’n Belangrike eerste stap is om met hom of haar te praat, al voel jy dalk ongemaklik of al weet jy nie wat om te sê nie. Paula, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek verstaan dat die dood mense ongemaklik laat voel. Hulle is bekommerd dat hulle dalk die verkeerde ding sal sê. Maar dit is beter wanneer iemand iets sê wat jou ongemaklik laat voel as wat hulle niks sê nie.” Iemand wat treur, verwag waarskynlik nie dat ons iets betekenisvols moet sê nie. Paula sê: “Ek het dit waardeer wanneer vriende net gesê het: ‘My innige simpatie.’”

15 William, wie se vrou ’n paar jaar gelede gesterf het, sê: “Ek waardeer dit wanneer ander stories oor my vrou vertel; dit gee my die versekering dat mense vir haar lief was en respek vir haar gehad het. Hierdie soort ondersteuning help my baie. Dit is so vertroostend, want my vrou was so kosbaar vir my en ’n groot deel van my lewe.” ’n Weduwee met die naam Bianca verduidelik: “Dit vertroos my wanneer ander saam met my bid en ’n teks of twee vir my lees. Dit help wanneer hulle oor my man praat en wanneer hulle na my luister wanneer ek oor hom praat.”

16. (a) Wat moet ons vir iemand doen wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het? (b) Watter verantwoordelikheid het ons volgens Jakobus 1:27?

16 Net soos Rut by die weduwee Naomi gebly het, moet ons aanhou om dié te ondersteun wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Paula, wat vroeër genoem is, sê: “Net nadat my man gesterf het, het ek baie ondersteuning gehad. Met verloop van tyd het mense se lewens weer na normaal teruggekeer. Maar my lewe het heeltemal verander. Dit help baie wanneer ander besef dat iemand wat treur, maande – selfs jare – nadat ’n geliefde gesterf het, nog steeds ondersteuning nodig het.” Elke persoon is natuurlik anders. Party pas dalk relatief vinnig aan by hulle nuwe omstandighede. Maar vir ander is dit elke keer ’n pynlike herinnering aan hulle verlies wanneer hulle iets doen wat hulle gewoonlik met hulle geliefde gedoen het. Elke persoon treur op ’n verskillende manier. Ons moet onthou dat Jehovah ons die voorreg en die verantwoordelikheid gee om om te sien na dié wat hulle huweliksmaat aan die dood afgestaan het. – Lees Jakobus 1:27.

17. Hoekom het persone wie se huweliksmaat hulle verlaat het, ondersteuning nodig?

17 Party mense moet baie angs en stres deurmaak wanneer hulle huweliksmaat hulle verlaat. Joyce, wie se man haar vir ’n ander vrou gelos het, sê: “Die pyn wat ek ondervind het as gevolg van die egskeiding was amper erger as wat dit sou wees as my man gesterf het. As hy gesterf het as gevolg van ’n ongeluk of ’n siekte, sou hy geen sê in die saak gehad het nie. Maar in hierdie geval het my man gekies om my te los. Ek het vernederd gevoel.”

18. Hoe kan ons dié help wat nie meer ’n huweliksmaat het nie?

18 Wanneer ons liefdevolle dingetjies doen vir dié wat nie meer ’n huweliksmaat het nie, verseker ons hulle van ons liefde. Hulle het nou meer as ooit goeie vriende nodig (Spr. 17:17). Hoe kan jy wys dat jy hulle vriend is? Jy kan hulle vir ’n klein ete oornooi. En jy kan aanbied om saam met hulle velddiens of iets ontspannends te doen. Of jy kan hulle nou en dan vir gesinsaanbidding oornooi. As jy dit doen, sal jy Jehovah gelukkig maak, want hy is “naby die gebrokenes van hart” en hy is “’n regter [of, beskermer] van weduwees”. – Ps. 34:18; 68:5.

19. Met 1 Petrus 3:8 in gedagte, wat is jy vasbeslote om te doen?

19 Wanneer God se Koninkryk binnekort oor die aarde regeer, sal alle “benoudhede vergete . . . wees”. Ons sien so uit na die tyd wanneer ‘die vorige dinge nie onthou sal word nie, en ook nie in die hart sal opkom nie’ (Jes. 65:16, 17). Laat ons, totdat daardie dag kom, mekaar ondersteun en deur ons woorde sowel as ons dade wys dat ons lief is vir almal in ons geestelike gesin. – Lees 1 Petrus 3:8.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat leer ons uit die manier waarop Jehovah Lot en Job gehelp het?

  • Wat leer ons uit Naomi se ondervinding?

  • Hoe kan ons dié ondersteun wat nie meer ’n huweliksmaat het nie?

LIED 111 Ons redes tot vreugde

a Lot, Job en Naomi het Jehovah lojaal gedien, maar hulle het nogtans stresvolle tye in hulle lewe deurgemaak. Hierdie artikel bespreek wat ons uit hulle ondervindinge kan leer. Dit bespreek ook waarom dit belangrik is dat ons geduldig moet wees, medelye moet betoon en vertroostend met ons broers en susters moet praat wanneer hulle deur moeilike tye gaan.

b Name in hierdie artikel is verander.

c BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Broer is baie ontsteld en sê dinge wat “wilde praatjies” is terwyl ’n ouer man geduldig luister. Later, wanneer die broer gekalmeer het, gee die ouer man hom liefdevolle raad.

d BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Jong getroude paartjie spandeer tyd met ’n broer wie se vrou onlangs gesterf het. Hulle praat oor die goeie tye wat hulle saam met haar gehad het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel