Deel skatte en vergroot rykdom
1 Baie mense se lewens draai vandag om die verkryging van materiële besittings—huise, goud, silwer, edelstene, ensovoorts. Maar vir Christene is die geestelike skatte wat in die Bybel gevind word waardevoller as al hierdie dinge. Geen bedrag geld kan ooit vergelyk word met kennis van God se voorneme en die vooruitsig op die ewige lewe nie! Waardering vir sulke kosbare waarhede wek by ons die begeerte om dit met ander te deel.—Vergelyk 1 Johannes 2:15-17.
2 Jehovah het sy volk van oorvloedige geestelike voedsel in die vorm van boeke en ander Bybelstudiehulpmiddele voorsien. Die kennis van God, die betekenis van profesieë, die wysheid om Bybelbeginsels in die alledaagse lewe toe te pas, en die betekenis van wêreldgebeure is net ’n paar van die talle skatte wat blootgelê is. Elke publikasie is waarlik ’n bron van geestelike waarheid. Hoe kan ons ons geestelike rykdom vergroot en hierdie skatte met ander deel?
GROTER RYKDOM
3 Maak gerus van die geleentheid gebruik om party van die ouer publikasies soos die Ware vrede en veiligeid- en Waarheid-boek te bestudeer of te hersien. Etlike jare het al verstryk vandat hulle verskyn het, en nuwer verkondigers het dalk nog nie die geleentheid gehad om hulle inhoud te bestudeer nie. Die inligting in hierdie boeke het die geloof van Jehovah se Getuies versterk en het tot ons geestelike groei bygedra (1 Kor. 1: 10). Skaf gerus sulke ouer publikasies vir jou eie teokratiese biblioteek aan indien jy dit nog nie gedoen het nie.
DEEL DIE SKATTE MET ANDER
4 Benewens die gewone aanbod sal ons ook ouer publikasies teen die spesiale bydrae aanbied. Die spesiale aanbod geld tot die einde van die jaar. Maak seker dat jy ’n goeie voorraad kry van die ouer publikasies in die verskillende tale wat in julle plaaslike asook ontoegekende gebied gepraat word, en hou hulle in jou velddienssak wanneer jy velddiens doen. Hierdie Godgegewe instrumente het reeds bewys hoe waardevol hulle is om baie mense te help om na die goeie nuus te luister. ’n Doelgerigte poging moet aangewend word om meer van hulle in die hande van belangstellendes te kry.
5 Goeie voorbereiding en aanpasbaarheid is sonder uitsondering nodig om die grootste sukses te behaal. Dit beteken dat jy ’n sekere boek goed genoeg moet ken om die aandag op spesifieke gedagtes te kan vestig. Ongeag watter publikasie gebruik word, ons sal Jehovah se seën geniet as ons die goeie nuus met opregtheid en vaste oortuiging aanbied.
6 Hoewel die wêreld al hoe meer klem lê op die verkryging van materiële dinge, sal ons steeds die Bybel waardeer as die bron van ware rykdom. Ons sal gedurende die res van hierdie jaar die geestelike skatte in ons ouer boeke met ander deel en sodoende hulle geestelike rykdom vergroot.