Bied die Goeie Nuus Aan—Vir familielede en kennisse
1 Dit is heeltemal natuurlik dat ’n persoon wat die waarheid aanvaar dit gretig met ander wil deel, veral met familielede en vriende. Nadat Jesus Andreas genooi het om sy volgeling te word, het hy “vroeg die volgende oggend” sy broer Simon gevind en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind.” Filippus het eweneens sonder versuim sy vriend Natanael gevind en hom aangespoor om te “kom kyk”.—Joh. 1:42, 46, 47, kyk voetnoot in Rbi8 en Hand. 10:24.
2 Wat van jou? Soek jy geleenthede om met jou familielede en kennisse oor die waarheid te praat? Dalk het jy tot dusver gehuiwer uit vrees dat hulle die boodskap sal verwerp en anders teenoor jou sal voel. Moenie huiwer nie. Naasteliefde verg dat jy die waarheid vreugdevol en onbevrees moet spreek.
WAAROM? HOE?
3 Onthou dat alle mense wat Jehovah nie dien nie “vervreemd” van God is en gevolglik as ‘vyande’ beskou word. Hulle lewens staan op die spel (Kol. 1:21). Dit is Jehovah se innige begeerte dat alle mense die waarheid moet hoor en “tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). Ons het die ernstige verantwoordelikheid om almal te vertel wat die toekoms inhou.—Eseg. 33:7-9.
4 Moenie ontmoedig word as jou aanvanklike pogings min of geen resultate oplewer nie. In baie gevalle kom die gunstige reaksie eers nadat jy maande of jare lank probeer het. Jesus het gesê dat sy skape sy stem sou hoor. Maar ons hoef nie te verwag dat dit by die eerste geleentheid sal gebeur nie (Joh. 10:16). Hulle word dalk al jare lank deur hierdie ou wêreld vertrap en dit sal miskien ’n milde gebruik van die lawende olie van Bybelwaarheid kos voordat hulle reageer.
5 Filippense 2:15 toon dat ons “onberispelik en opreg [moet] wees, kinders van God sonder gebrek”, as ons wil “skyn soos ligte”. Ons familie en kennisse moet derhalwe kan sien dat die waarheid ’n groot verandering in ons lewe teweeggebring het. Die apostel Petrus het hierdie gedagte beklemtoon.—1 Pet. 2:12.
6 Dit sal egter meer as net ’n goeie voorbeeld kos voordat ons familielede beweeg sal word om Jehovah te dien. ’n Getuienis moet gelewer word (Rom. 10:14; Hand. 8:31). Weldeurdagte en netjiese briewe kan ’n doeltreffende manier wees om die goeie nuus met familielede te deel wat ver van jou af bly. Jou briewe moenie krities wees nie, maar positief, opbouend en vriendelik. Dit moet die vreugde en hoop weerspieël wat in jou hart is vandat jy die waarheid geleer het.
WEES POSITIEF
7 Party susters was bang dat hulle mans hulle erg sou teestaan en het om daardie rede nie vir hulle vertel wat hulle met betrekking tot die gemeente doen nie. Elkeen moet natuurlik persoonlik oor hierdie saak besluit. Ons moet egter nooit die waarde van innige gebed tot Jehovah oor die hoof sien wanneer ons ’n geleentheid voorsien om vir familielede en kennisse te getuig nie (Filip. 4:6; 1 Tim. 2:1). Kweek ’n positiewe gesindheid aan. Jehovah sal beslis jou opregte pogings seën om die goeie nuus met jou familie en kennisse te deel.